Woke me up before you go-go

  • 13

Foto: Canva

Woorde het vreemde maniere om te ontaard in drake en smake wat mens dwars in die krop steek wanneer jy dit die minste verwag. Daar was ek byvoorbeeld ’n paar jaar of wat gelede ontstig dat ’n Amerikaner op ’n platform voorheen bekend as Twitter my die heel eerste keer uitkryt as “woke”.

Ek dog in my ontsteltenis, “die vermetelheid”, en “hoe durf hy”, maar self durf waag ek nie ’n antwoord nie, want ek weet nie heeltemal mooi wat “woke” beteken nie en besluit om hom te troef deur uit die argument weg te stap en verdwyn in ’n trotse, dog ongesiene, stilte, die eter in.

Nooit weer het ek van daardie Amerikaner gehoor nie, maar die woord “woke” het vinniger versprei as vigs in die jare tagtigs. Of miskien nie so vinnig nie, want dit kom al van die 1930’s uit African American Vernacular uit. Intussen het ek ’n beter idee van wat “woke” beteken, maar die konteks waarin die woord vandag gebruik word, is iets geheel en al anders.

In die begin het ek die woord meer en meer gehoor waar dit gebruik word om die ontwaking van mense vir die gedagte van gelyke regte vir almal te beskryf. Die rein gedagte dat dit nie saak maak wat jou velkleur en/of geslag of seksualiteit is nie, maar dat jy net soos alle ander mense eerstens as “mens” raakgesien word. Dat jy die minimum respek behoort te geniet wat alle mense mekaar behoort te gun in ’n beskaafde samelewing.

Ek gebruik die woorde “behoort” en “beskaafde”, want die respek waarvan ek praat, is nie ’n gegewe in die natuur nie. Dit is iets waarvoor die mensdom al vir duisende en duisende jare oor geslagte heen werk. Steeds is daardie eienskappe afwesig in heelwat dele van die samelewing vandag. Ek sou selfs argumenteer dat waar hierdie respek teenoor “die ander” ontbreek, dit juis dui op ’n stagnasie, of selfs ’n devolusie, in die sosiale ontwikkeling van daardie groep.

Vandag is dit so te sê net die regses, of liewer die verder-regses, die alt-right (of kom ons noem hulle die “fahreit” as ons onsself nog vry genoeg kan ag om nuwe woorde te mag skep) wat nog die woord “woke” gebruik. Die lefty liberals het opgehou om die woord te gebruik, want die fahreit het die woord in ’n vloekwoord omskep.

........
Hoe de hel het dit gebeur? “Woke”, wat eers iets cool en avant-garde was en die voorpunt van sosiale ontwikkeling uitgelig het, die baken van hoe ver ons as spesie gekom het, val nou as skelwoord uit die bekke van die sosiaal agtergeblewenes, die fahreit, die witter supremiste. Ek vra weer: Hoe de hel het dit gebeur?
........

Hoe de hel het dit gebeur? “Woke”, wat eers iets cool en avant-garde was en die voorpunt van sosiale ontwikkeling uitgelig het, die baken van hoe ver ons as spesie gekom het, val nou as skelwoord uit die bekke van die sosiaal agtergeblewenes, die fahreit, die witter supremiste. Ek vra weer: Hoe de hel het dit gebeur?

Laat my toe om ’n teorie te waag: Die Woord-Onteiening en Kulturele Appropriasie deur die Fahreit (WOKAF afgekort). Wokaf is, kortliks beskryf die “bait and switch”-tegniek toegepas in logiese argumente wanneer die feite nie aan jou kant is nie.

Wanneer jy nie kan argumenteer teen die gedagte van “ons behoort almal as gelyke mense gesien en gehanteer te word” nie, dan verander jy die argument na iets anders wat dit duidelik nie is nie om die debat wat jy besig is om te verloor só te vertroebel dat niemand meer weet wat aangaan nie.

Kyk byvoorbeeld na die onverstaanbare uitvaar teen die reënboogvlag. Vir my is die vlag ’n teken van verdraagsaamheid, en al die verskillende kleure saam dui op een ding: Daar is plek vir almal en alle soorte mense. Maar o vader, wat is die teenargumente wat ek hoor? Daardie vlag is die teken van Satan wat heeldag en -nag werk om jou en al jou kinders gay te draai.

Dis duidelik nie wat die vlag beteken nie, maar nou is die ware betekenis van die vlag ge-“bait and switch” en die debat is drie trappe terug die oude doos ingestuur. Hier moet dit meeding met ongegronde fascistiese vlak 1-gedagtes soos “Moenie gay wees nie, dis teen die wil van God.” (“God” sommer gou ook aangewend om onverdraagsaamheid te vestig as moraliteit.) So ’n rukkie terug was ons besig om te argumenteer vir verdraagsaamheid teenoor almal, en eensklaps het ons geland op gay wees is somehow verkeerd en gays is die onverdraagsame fasciste wat jou en jou kinders wil dwing om gay te wees. Hoe de hel het dit gebeur?

So met wokaf wen die onverdraagsame fahreit veld in opposisie teen menslike ontwikkeling. En dis nie net met die woord “woke” dat hierdie verskynsel die debatte vertroebel nie.

Neem byvoorbeeld die woord “liberaal”, wat vroeër ’n mooi woord was wat die vryheid van mense en die aanvaarding van almal en hulle idees behels het. Selfs Christene en alle mense wat gode aanhang, is welkom. Dis so ’n mooi konsep – “die aanvaarding van almal” – dat almal dit behoort te aanvaar.

Maar wat is die realiteit? ’n Liberaal is ’n heiden volgens die fahreiter. Die “vyand” wat hier is om goeie Christelike Afrikaanse waardes te kom vernietig: “Hulle” (die dônerse liberals) wil hê “ons” moet gelyk wees aan “almal” en al hulle waardes ook aanvaar? Almal? Soos in ook die gays, die transseksueles ook? Almal? Dis mos onaanvaarbaar! Wat het geword van moraliteit? Dis Adam en Eva soos God dit bestem het, nie Adam en Stefan soos Satan nou kom staan en inmeng nie. Weer eens land ons op “Moraliteit is gelyk aan die Bybel is gelyk aan straight.” Hoe de hel kry die fahreiter dit reg? Met wokaf, dis hoe.

Die wokaf van die woord “liberaal” kortliks visueel uitgebeeld lyk ongeveer so:

Liberaal = Sosialis = Marxis = Kommunis = Ateïs = Satanis.

Sien dit as oëverblindery of kulkuns in ses eenvoudige stappe. As jy begin met “liberaal”, wat beteken verdraagsaamheid teenoor almal, is dit nie te vergesog om te dink maar daardie tipe mens sal ook saamstem met die sosialistiese ideale dat om werklik om te gee vir almal se regte, moet samelewing neig na ’n sosialistiese tipe sisteem waar tegnies gesproke almal na omgesien moet word. Dis nie wat liberalisme beteken nie, maar dis nie ’n te vergesogte of groot sprong tussen idees nie.

........
Ek onthou hoe ons in die NG Kerk gebid het vir die mense agter die Ystergordyn en duim vasgehou het dat hulle die Bybels ontvang wat met moeite na hulle gesmokkel toe word. Jy weet, in die goeie ou dae.
........

Dan van sosialisme na kommunisme deur marxisme is ook maklik genoeg in ’n debat waar vandag nie almal in die samelewing in die eerste plek die verskille tussen die drie kan onderskei nie. Gou-gou glip die betekenis van die woord weg oor nog ’n grens al die pad tot by ateïsme, want almal van ons wat die jare tagtigs oorleef het, weet van die Rooi Gevaar wat gekom het om jou vryheid en jou godsdiens van jou te roof, en dis hoekom jy jouself terug na God moet rig en vir die NP (of dan ten minste die KP) moet stem om hierdie aanslag af te weer. Die konsep “kommunisme” het kultureel gelaai genoeg geraak dmv staatspropaganda om ook vir ons te beteken “antigodsdiens”. (Ek onthou hoe ons in die NG Kerk gebid het vir die mense agter die Ystergordyn en duim vasgehou het dat hulle die Bybels ontvang wat met moeite na hulle gesmokkel toe word. Jy weet, in die goeie ou dae.)

Dan is die laaste stappie moeilik om te begryp as jy ’n ateïs is, maar heelwat makliker as jy Christelik-Nasionaal is. Ek vermoed (ek gebruik die woord “vermoed”, want ek sal myself nie so identifiseer nie) vir laasgenoemde is die gedagte dat om die god van die Bybel te misken, eintlik die ergste daad is wat jy kan pleeg. Alle ander slegte misdade spruit uit daardie eerste godsverraaiing uit. Die argument is: God is goed, alles wat God ontken is sleg. Daarom is daar nie veel verskil tussen ateïs en satanis nie, dis beide die ontkenning van God en daarom basies dieselfde ding.

Dis dodgy logika om die minste te sê, want ons weet eintlik dat slegs die gelowiges werklik glo in Satan, en om ’n ongelowige as satanis te bestempel is beide oneerlik en vals. Maar dit word gedoen en dis ’n “onder-die-belt-hou” in die geveg, en selfs al sê die skeidsregter so, kan jy nie ’n hou wat geplant is, ont-plant nie. Die liberaal wat steier en juweelvashoudend kreun, is op die agtervoet in die geveg. Niemand onthou in die uitslag van die onregverdige voordeel wat uit die vals logika geput word nie. Die aanwending van retoriek het trefkrag, selfs al is dit ongeldig.

So word wokaf toegepas, en daar verloor die mensdom nog ’n mooi woord en ’n mooi konsep en die onverdraagsames wen veld, selfs al was die debat onbeslis.

........
Wat is die mense wat wokeness so aanval se sterkste argumente? Dat mense nie gelyk is nie en daarom nie gelyke regte behoort te geniet nie?
........

Noudat ons weet hoe wokaf werk, kom ons terugkyk na “woke” om te kyk wat werklik gebeur. Wat is die mense wat wokeness so aanval se sterkste argumente? Dat mense nie gelyk is nie en daarom nie gelyke regte behoort te geniet nie? Dis hoe die aanslag vir my voel, maar dis nie ’n lekker argument om te verdedig nie, so ek glo nie die antiwokers sal dit so stel nie. Dit voel vir my “wokeness” word as ’n valse vyand voorgehou om die fahreit se reg op rassisme, seksisme, dwepery en diskriminasie te beskerm.

Wat is die hoofargument teen wokism soos dit wel in die openbaar geformuleer word? Dit lei tot “cancel culture” en dit staan direk in teenstelling tot vryheid van spraak. Werklik? Verbied wokism vryheid van spraak? Hoe? Die antiwokis het nog steeds die vryheid van spraak en die “kansellasie” wat kom omdat jy die verkeerde ding gesê het, is nie omdat jou vryheid van spraak jou ontneem is nie, maar omdat jy verantwoordelik gehou kan word vir die dinge wat jy wel sê.

Waar ek wel voel dat die hartseer gevolg van wokism wat as wapen aangewend is, gesien kan word, is byvoorbeeld in die Bitterkomix-insident waar satire en genuanseerde politieke kommentaar vereenvoudig en oppervlakkig gelees word op so ’n manier dat die nuanse verdwyn sodat die werk herinterpreteer word om so te sê die teenoorgestelde te beteken as wat die kunstenaars oorspronklik daardeur wou sê.

Maar is dit wokism se skuld of is dit bloot die mense uit die samelewing wat elke golf in ons denke aanwend as seepkis om op te klim en as selfaangestelde polisie te identifiseer en ander te reguleer? Dit is ’n verskynsel wat eintlik in direkte teenstelling tot die oorspronklike idees van wokism funksioneer. Ek voel egter dis ’n struikelblok wat die mens alreeds besig is om te oorbrug, en ek glo en bid dat Bitterkomix sal oorleef en miskien floreer uit hierdie onnodige aanvalle in die naam van politieke korrektheid, want die kunstenaars wat dit geskep het, is vindingryk en briljant genoeg om die situasie in hul guns om te keer en so te posisioneer dat die wind van voor met ander invalshoeke die seile sal lat bol. Moet ons wokism laat vaar? Of moet ons, die samelewing, net weer na die ware boodskap van die kuns loer?

........
Ai toggie, hoe kleingevoelig maklik seergemaak is die sterker geslag in beheer van die mensdom nie voor die poorte van verandering nie.
........

’n Groot kritiek teen wokism is dat mans net eenvoudig nie meer mans is nie. Die gevolge is dat gewone mense te na gekom word omdat hulle nie ander mense nou mag noem net wat hulle hulle wil noem nie. Maw die patriargie word ’n knou toegedien met hierdie “iets nuuts” waarmee ons nou moet saam lewe, en dis onaanvaarbaar. Ai toggie, hoe kleingevoelig maklik seergemaak is die sterker geslag in beheer van die mensdom nie voor die poorte van verandering nie. ’n Mens wat nie met ’n ander mens kan kommunikeer op ’n waardige manier wat alle partye respekteer nie, is in elk geval ’n kak mens, ongeag die politiek van die dag. Ek glo die bestaan van kak mense is die groot probleem met die mensdom, nie die bestaan van trans, gay, bi, of sexually curious mense nie.

Die kritiek: “Maar nou wil eens biologiese mans teen vroue kompeteer in sport omdat hul as laasgenoemde identifiseer” is myns insiens geldig en ek glo iets wat die mensdom voor antwoorde sal vind soos die tyd aangaan. Is hierdie verskynsel egter genoeg van ’n gewigtige probleem dat ons alle wokism moet laat gaan en summier afdwing dat slegs mans en vrouens bestaan en jy is óf een óf die ander? Hoeveel fascisme wil jy op die samelewing afdwing sodat jy verseker kan wees dat jy man en vrou kan onderskei? My persoonlike keuse is: “Fok die fascisme, ek is fine met die geslagsonsekerheid; kom ons dink liewer aan mens se gelukkigheid.” As jy wokism veroordeel omdat jy verwar word deur ander mense se geslag of seksualiteit, is jy per my definisie ’n kak mens.

........
Hoe verdedig ons onsself teen die aanslae van die fahreit?
........

Die fahreit kry dit te maklik reg om woorde van hul betekenis te beroof en dan die woord as sulks te identifiseer as vyandig, soos “woke” of “liberaal”, of iets goddelik soos “Afrikaner” of “Boer”, maar daardie nuwe betekenisse is ver weg van wat die woorde oorspronklik beteken het. Die woorde is ge-“bait en switch”, of gewokaf, vir beter Afrikaans. Daarna word die woord selfs aangeval of geprys en ’n nuwe/ander korter argument word gewen en ons voel almal so ’n klein bietjie dommer, want ons verstaan nie presies wat gebeur het nie.

Hoe verdedig ons onsself teen die aanslae van die fahreit?

Eerstens en die belangrikste, bly weg van debatte wat nie werklik saak maak nie.

Tweedens, wees versigtig vir mense wat lukrake definisies aanwend wat hul nie verduidelik nie. En ook, wees bewus daarvan wanneer iemand ’n definisie gebruik wat oor grense van betekenis wil gly. Dring daarop aan om te weet wat hulle bedoel met “woke” as hulle die definisie gebruik. Ek sal geld wed dat die meeste mense “woke” slegs sal definieer as “woke”. Vra spesifiek watter deel van wokeness pla en wag vir al die uhms en ahs om te bedaar en identifiseer daarna waaroor die gesprek werklik gaan.

Wanneer die God-kaart gespeel word, is die argument so te sê verby. Hoe weet enige iemand wat God se wil is? Watter god? Die god van die Bybel se moraliteit is bedenklik met al die slawernye, volksmoord en dies meer. Jy het ’n konsep van moraliteit van buite die Bybel nodig om te weet watter wette van God om ernstig op te neem en watter die mensdom al ontgroei het. In elk geval, die ware god is maar net ’n opinie wat van mens tot mens verskil.

Ek is nie hier om lelike woorde soos “woke” en “wokism” te beskerm nie. Ek wens eintlik die woord “woke” het nooit bestaan nie. Maar noudat die woord daar is, wil ek vir al die kak mense, wat in elk geval nie hierdie artikel gaan lees nie, dit duidelik maak dat jou gebruik van die woord “woke” uitstaan op jou wit-supremisme-bingokaart tussen “Apartheid was beter” en “All lives matter (except Palestinians’)”.

Lees ook:

Afrikaner, wie is jy?

"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars

Christi van der Westhuizen oor witwees | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

We need to talk

Die Kaappunters by die Toyota US Woordfees 2023: "Ons sing oor versoening," vertel Riku Lätti

Christi van der Westhuizen oor witwees | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

  • 13

Kommentaar

  • Baie dankie Riku, uitstekende artikel! Jy beskryf so mooi die vreemde verskynsel wat ek dikwels deesdae so sukkel om te artikuleer. Dankie tog vir sinvolle diskoers. Ek stuur aan!

  • Ek het jare gelede so bietjie politieke wetenskap op voorgraadse vlak geneem, as student. My wereldjie was maar klein, is eintlik nou nog, hoewel ek dink ek redelik wyd lees, maar daardie jare was ek boonop jonk ook. En het min van die wereld geweet. Ek het egter daar 'n weersin in die filosofie ontwikkel. Spesifiek die politieke filosofie. En hoewel mens nie kan wegkom van filosofiese definisies soos 'liberalisme', 'konserwatisme' en dies meer nie, gebruik ek hierdie begrippe baie spaarsamig, en gewoonlik om te skerts. Wokeisme 'n nog 'n goeie voorbeeld. Die probleem met die filosofie le vir my in die manier waarop dit mense steriotipeer. Want wat beteken dit nou om 'n liberaal te wees? Of konserwatief? In watter opsig? Ek was al beide toegesnou in my lewe. Hierdie begrippe word maar dikwels net gebruik waar mense mekaar wil bykom.

    Mense is mense. Iets wat mens dikwels kry onder die sogenaamde woke mense is deugpronkery (virtue signaling). Die gebruik om mekaar te out-woke. Mens kry dit bv. onder ateiste wat ook vegans is. Hulle beskou hulleself dan dikwels as moreel superieur bo ander ateiste wat 'nog steeds vleis eet'. En tog vind jy dieselfde gedrag onder sogenaamde konserwatiewes. Ek onthou nog hoe my pa, wat 'n groot kerkman was, opgemerk het as iemand 'veins'. Om te veins is niks anders as deugpronk nie en mens sien dit gereeld onder sogenaamde konserwatiewe Afrikaners. Gaan kyk hoe baie plaas jou AfriForum en Solidariteit tipe mense bybelverse op sosiale media...

    Of oordeel mens te hard? Is dit dan onnatuurlik vir Christene om oor hulle geloof te praat? Dit vir andere te wys? Waar lê die lyn tussen geloof uitleef en deugpronkery/godsdienstige geveins? Dis baie moeilik om te sê. Maar dat hierdie soort deugpronkery wel bestaan, tot ergenis van mense binne daardie selfde groep (Christene) is 'n absolute feit.

    Kak mense? Die probleem met die begrip van 'kak mense', soos jy hulle noem, is hulle is steeds deel van die polis. Hulle is 'n politieke realiteit en kan nie weggegewens word nie. Kanselleer jy hulle te lank, rig hulle hulle eie kompeterende sisteme op. Jy verloor tred met hulle vindingrykheid en hulle bepaalde realiteite en perspektiewe. Hulle idees en strewes. Ek luister dus dikwels na mense van wie ek glad nie hou nie. Ek sal nie noodwendig met hulle gesels en redeneer nie, maar ek luister na en lees hulle media. Die feit dat ek nie van iemand hou nie, beteken nie hulle voer nooit ooit enige geldige argumente nie. Of hulle het geen wettige besware of wettige vrese nie. Of dat hulle nooit goeie werk doen of geen waardevolle bydraes maak tot die gemeenskap nie.

    Almal kan egter nie vriende wees nie. Goeie mure maak goeie bure. Maar dit doen geen skade om ook soms mekaar se podcasts te luister nie. Inteendeel.

    Liberalisme was nie maar net onlangs gedemoniseer nie. Dit kom al baie lank. In die apartheidsjare was liberalisme minder of meer gelykgestel aan kommunisme. Eintlik was liberale nog erger want 'hulle' was die verraaiers 'in ons midde', anders as die kommunis wat 'ons' duidelike vyand op 'n afstand is.

    God is vir my, soos vir jou, 'n niksseggende konsep. Net nog 'n woord. Baie soos al die wollerige filosofiese konsepte. Iets wat ek vermy.

  • Snottie, julle (w)oukies is seker bekend met die organ grinder's monkey.

    Mnr Dylan sing:

    “You may be an ambassador to England or France

    You may like to gamble, you might like to dance

    You may be the heavyweight champion of the world

    You might be a socialite with a long string of pearls

    But you're gonna have to serve somebody, yes indeed

    You're gonna have to serve somebody

    Well, it may be the Devil (kak mense) or it may be the Lord (goeie mense)

    But you're gonna have to serve somebody.”

    Baie simboliek, vir effek.

    Lasst uns zur Melodie des Pfeifers tanzen; soos ‘n regop riet in ‘n rivier, want as jy die riet is kan jy jou selfs verbeel jy beweeg ... maar daar waar die gamers sit weet hulle alles is wollerig en van pieksels gemaak; natuurlik ook die oorsprong van piekies en pieksies.

  • Stel jou voor, jy word so ontsteld deur 'n Amerikaner op Twitter wat jou "woke" noem dat dit die katalisator word vir 'n groot, introspektiewe reis. Die skok en afgryse! Die absolute vermetelheid van dit alles! Hoe durf iemand 'n woord gebruik wat jy, in jou oneindige wysheid, nie heeltemal verstaan nie? En in plaas daarvan om dit te google, kies jy die edele pad van trotse, stil onttrekking.

    Eerstens, die vergelyking van die verspreiding van "woke" met die vigs-epidemie van die 1980's. Classic. Niks sê "Ek is 'n sensitiewe, sosiaal-bewuste kommentator" soos die banalisering van 'n verwoestende gesondheidskrisis om 'n punt oor 'n woord se gewildheid te maak nie.

    Ons skrywer beweer "woke" het vinniger versprei as 'n 1980's epidemie. Tog blyk hy steeds verbysterd oor die evolusie daarvan. Aanvanklik geassosieer met die bewusmaking van gelyke regte, het "woke" nou 'n vuil woord geword wat deur die verregses uitgespoeg word, of soos ons woordkunstenaar dit sou stel, die "fahreit”. Hoe durf daardie sluwe konserwatiewes 'n term van verligting in 'n belediging verander!

    Dit blyk dat ons skrywer staatmaak op gebrekkige navorsing, onakkuraathede, vereenvoudigings en heksifisering, terwyl hy aan jou hartsnare pluk en jou sluimerend in ‘n sirkelredenasie vasknoop. Dit is amper asof hierdie groot verandering van "woke" in 'n vakuum gebeur het, sonder enige hulp van die skrywer se eie eggokamer van linkse liberale kamerade wat, kom ons wees eerlik, net so skuldig is aan die doodslaan van die term.

    Eienaardig genoeg, ‘n blote 10 minute van internet speurwerk het die antwoord, waarna die skrywer so naarstigtelik soek, sonder skroom opgelewer. Soos dit uitdraai, word die vraag reeds deur joernaliste bepeins sedert 2020 en klaarblyklik het die betekenis van die woord “woke” in Julie van 2020 finaal gedevoleer, en dit word deur harde data gestaaf. Skynbaar het onse skrywer bietjie laat by die zeitgeist aangesluit - wie is nou ‘n agtergeblewene?

    Kom ons stop vir 'n oomblik en oorweeg 'n verhelderende uittreksel uit 'n artikel in Prospect Magazine van 2021 (https://www.prospectmagazine.co.uk/society/38226/how-woke-became-a-four-letter-word ) Barack Obama self, daardie baken van liberale deugde, het iets redelik interessant te sê gehad oor "woke”. Hy het in Oktober 2019 opgemerk:

    “This idea of purity and you’re never compromised, and you’re always politically woke and all that stuff, you should get over that quickly. The world is messy. There are ambiguities. People who do really good stuff, have flaws… I do get a sense sometimes now among certain young people, and this is accelerated by social media, there is this sense sometimes that the way of me making change is to be as judgmental as possible about other people and that’s enough… then I can sit back and feel pretty good about myself because man, you see how woke I was? I called you out!... You know, that’s not activism. That’s not bringing about change.”

    Ah, die ironie! 'n Mens sou dink dat Obama se kritiek op wokeness 'n virale sensasie onder regse kringe sou word. Tog is dit aanvanklik deur linkse media versprei. Dit het die regses meer as ses maande geneem om op te vang, en toe hulle dit doen, was dit, soos ons skrywer dramaties sou stel, verwoestend.

    So, liewe skrywer, terwyl jy die kaping van "woke" deur die "fahreit" betreur, is dit dalk die moeite werd om te oorweeg dat die term se val van genade nie heeltemal deur onheilsame regse figure georkestreer is nie. Miskien, net miskien, is dit die inherente gebreke in die konsep, soos deur Obama uitgewys, wat tot die huidige stand van sake gelei het. Wanneer die plakkaatkind van moderne liberalisme die suiwerheidstoetse en oordelende houdings wat dikwels met wokeness geassosieer word, kritiseer, mag dit tyd wees om die narratief te heroorweeg.

    In hierdie meningstuk het ons kunstenaar die kuns van die "bait and switch", wat hy so passievol afkeur, bemeester. Hy lok ons met die belofte van diep insig en skakel oor na 'n klaaglied vol hiperbool en dun verhulde minagting vir enigiemand buite sy ideologiese borrel.

    Maar waarom feite in die pad laat staan van 'n goeie tirade? Kom ons hou aan om die "fahreit" vir al die wêreld se euwels te blameer terwyl ons gerieflik die kompleksiteite en dubbelsinnighede van die werklikheid ignoreer. Dit is immers baie makliker om jouself as 'n martelaar in die groot stryd teen die magte van duisternis voor te stel as om betrokke te raak in genuanseerde selfrefleksie. Hoe heldhaftig, inderdaad.

    Soos Rebecca Solnit so gepas sê: “Woke died. Cool young people were not sad that Woke was dead, because he was no longer their word, and mean old people were not sad because they did not know he was dead. The end.”

  • Henning, jy het hartjie geweldige skade berokken deur te impliseer dat ek 'woke' is. Daar tuimel my geloof in die menslike spesie sommer nou weer van vooraf. Ek gee eintlik elke keer 'n reuse geloofsprong deur myself aan 'n liberale nes soos Litnet bloot te stel. En net om weer 'n mate van homeostase te kan bereik, moet ek na die tyd ure lank Jordan Peterson-videos binge.

    Nietemin, jy is vergewe hoor. Life goes on. Even this shall pass.

    Of hoe sê al julle Shakespeare-aanhangers altyd?

    "Come what come may, time and the hour runs through the roughest day".

    Ek is so-so op Dylan, die man kan nie eintlik sing nie.

  • Ek het darem nie bedoel om ʼn dolk in jou ou hartjie te druk nie.

    Die woord ‘woke’ laat my aan ‘fake’ dink. As jy moet kies, hoe sou jy bekend wou staan, W of F? Anyway, alle grappies op ʼn stokkie Van der Merwe. Ek het ʼn paar somme gemaak en my berekening dui jou huidige (tansagtige) Aardse ouderdom aan as ommenby 40 ‒ bietjie ouer as LitNet.

    Destyds was Die Blad nie so ʼn liberale, beskutte, woke ou nessie met ʼn snellerwaarskuwing voor elke opskrif nie, nee, ek is goed deur die internetboelies gekarnuffel, maar Jordan B. sê weekliks ek beter my big boy panties optrek. (Ek het sy ‘12 Rules for Life’, as jy die ding wil hê om jou homeostase te kalibreer; moenie die waarde van Stephan Joubert se Goeie Nuus onder Strokies in Beeld onderskat nie.)

    *Dankie vir die vergifinis.

    Some are born great, some achieve greatness, and some have greatness thrust upon ‘em. Ou Willie maak uit, maar moenie van Koos vergeet nie:

    Boer (maak ʼn plan)

    Dié varkhok is sy heiligdom;
    selfs witgekalkte mure om ‒
    en dááraan wy hy al sy tyd.
    Hy’s bang hy raak sy varkies kwyt.

    Tja. Ek vra toe vir Kletsie, en kyk net:

    “Ja, ek ken 'n grappie wat die name Koos, Willie en Bob insluit. Hier is een:

    Koos, Willie en Bob sit een aand by 'n kroeg en gesels. Skielik sê Koos: "Ek het 'n wonderlike uitvinding gemaak. Ek het 'n hoender wat eiers kan lê wat goue doppe het!"
    Willie antwoord: "Dis niks! Ek het 'n skaap wat wol produseer wat klaar gebreide truie uitkom!"
    Bob lag en sê: "Julle ouens is niks. Ek het 'n hond wat sy eie kos maak en dan die skottelgoed was!"
    Koos en Willie kyk vir Bob, en na 'n oomblik sê Koos: "Bob, dis baie indrukwekkend, maar ons sal dit eers glo as ons dit sien."
    So gaan hulle almal na Bob se huis toe om die wonderhond te sien. Toe hulle daar aankom, roep Bob sy hond en sê: "Fido, maak vir ons kos!" Die hond gaan dadelik na die kombuis toe en begin kook.
    Terwyl hulle wag, sê Willie: "Ek wens my skaap kon dit ook doen."
    Koos voeg by: "Ja, en ek sou nooit weer honger wees met my hoender nie."
    Net toe bring die hond 'n heerlike ete na die tafel en begin die skottelgoed was.
    Koos en Willie sit verstom. Koos sê: "Wel, ek dink ons het die wedloop verloor. Jou hond is ongelooflik, Bob."
    Bob glimlag en sê: "Ja, en die beste deel is, ek hoef hom nie eers te betaal nie - hy werk net vir bene!"
    Almal bars uit van die lag en geniet die ete wat die wonderhond gemaak het.”

    Ahem, amen.

    Give Bob a chance:
    https://youtu.be/3IWfsgGYqlc?si=aQX8uVknWe__Jan6

  • Teorie het so baie beperkinge. Wat is al die ou -ismes tog nou eintlik? Net teorie. Ek sê altyd, die evangelie sou nooit êrens uitgekom het as elkeen van die apostels eers 'n doktoraat in die teologie wou gaan behaal het nie. Hulle leuse was daai jare al: JUST DO IT!

    Maar nou ja, Sokratisme het ook seker maar 'n tyd en plek.

    Na alles, hoop ek dat ek Latti se nuwe digbundel te lese sal kan kry. Hierdie volksvreemdes soos Dylan is nie ons mense nie. Es ist sehr aufregend! My finansies lyk net sleg. Daai R 250 le soos 'n berg voor my. Ek het geen idee watter Koos jy van praat nie. Ek sien Koos Kombuis beskryf Taboek as "’n monumentale en omvattende deurgronding van alle fasette van die moderne mens se soeke na betekenis en — hier kom die grootste verrassing — selfs ons opvattings oor die teologie."

  • Ek hou van woke. Ek wil nou net nie fanaties oor enige iets wees nie. Ek dink ek het so geraak, maar gesien: nee jinne. Vat dit 'n toon of drie laer.

  • Voorwaar, voorwaar, Snotjan, die goddelose hardloop, al jaag niks hom nie (blykbaar Spreuke 28). Die parkrun is daarom 'n grooot nee-nee onder Christene, Naaikies of te nie. Taboe.

    Die evangelie van Stephanus in vanoggend (Sat) se Beeld stipuleer jy het 'n goddelike plig om te gaan stem sodat ons die bose magte van die dag agter die stokke kan hou, maar die Danaïsmes maak korte mette van die Stephanismes. Sokrates ken ek nie.

    Gaan jy stem? Ek is in die KNP, fok die res.

    Die Koos waarna ek verwys het 'n broer Henning du Plessis. Weet jy dalk wat van hom geword het? (Een van ons mense.) Ek moes lank spaar vir Van Heerden se Gebeente, maar mag eers begin lees sodra ek genoeg geld het vir 'n plaasvervanger. Intussen wag ek op jou resensie. 6/10! 😎

    Soms raak ek angstig.
    https://music.youtube.com/watch?v=nwjap30mWR8&si=xhRC8HDBm0GwKywZ

  • Jis, ek sien die reaksie en ek vra om verskoning dat ek nie op alles kan reageer nie, maar wil darem die sê:
    Dankie Sonelle, is gaaf van jou.
    Veld Skrywer, ja die onsnaakse grappie oor die Amerikaner is miskien 'n bietjie van 'n weak opening, maar ek wou die ys breek met iets lig, wat miskien meer gate in my denke wys as wat die grappie effektief was. Ek hou van wat Obama te sê het oor woke, maar ek interpreteer dit effe anders. Ek lees daarin dat hy betreur dat mense wat veg vir equality in treatment dink hulle kan net keyboard warriors, terwyl regte verander meer aksie verwag. Daai kritiek teen die left is definitief geldig en ek betreur dit ook. Ek wil glad nie die woord verdedig nie, net die idee tuisbring dat 'n vals vyand geskep word in die retoriek wat mense van tyd en mentaliteit beroof.
    Jou belangrikste punt wat ek dink aandag behoort te geniet is die aanklag dat ek die fahreit van al die wêreld se euwels beskuldig. Nee, ek voel dis onregverdig, ek beperk my beskuldiginge net hier tot die val van die goeie betekenis van die woord woke wat nou vir my maar 'n dooie vel is. Die fahreit doen baie dinge waarby die hele beskawing ook baat vind, daar is dus nie so maklike "wie se skuld is alles" debat hier nie. Ek dink beskawing kan baat deur weer met mekaar te begin praat.
    Ek voel however die ewige optimis, ons bespreek dinge al op 'n hoër vlak as wat ons dit in ons onlangse geskiedenis gedoen het.
    Vir Snotjan, ek praat met Naledi dat ons 'n plan maak om die Taboek as 'n e-boek dalk uit te bring teen 'n meer bekostigbare prys. Die idees is vir my belanriker as die strandhuis wat die boekverkope belowe... sien ek is nie goed met hierdie humor ding nie, ek is after all 'n dad.
    Dan Henning dankie vir die Bob, waardeer dit baie meer as wat jy kan raai, het nog nie daardie weergawe gehoor nie, dankie daarvoor.
    Sorrie oor die gebrekkige antwoord, ek sal in 'n volgende stuk die argumente wat uitsteek bietjie van nader bekyk.
    Groente en alles van die beeste.

  • Al die gewroeg is heeltemal onnodig, Riku. Wokery is bloot die nuutste vurktong-eufemisme vir Mao en die USSR se soort sosialisme wat in Westerse openbare en private instellings ingesmokkel is om vryheid van spraak, beweging en assosiasie uit te roei.

    Dis Gramsci se Long March Through The Institutions In Excelsis. Die hoofdoel bly dieselfde: die skepping van die sosialistiese Utopie, bevelsekonomie en al - aka Globalisme.

  • Jy druk jou vinger op die kneusplek: goeie konsepte wat deur strooipop-argumente waardeloos gemaak word. Ten koste van gesprek en nuanse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top