Die Kaappunters by die Toyota US Woordfees 2023: "Ons sing oor versoening," vertel Riku Lätti

  • 0

Die Kaappunters is 10 Oktober by Toyota US Woordfees 2023. Foto: Gillian Coetzee

Die uiteenlopende liedjieskrywer Riku Lätti is ook bekend vir projekte wat Suid-Afrikaanse musiekgemeenskappe bewaar en bekendstel, waaronder Die wasgoedlyn, wat tegelyk ’n TV-reeks, musiekversamelings en unieke musikale samewerkings behels. Die wasgoedlyn-medewerkers was ook betrokke by Gideon Breytenbach se dokumentêr, Die ongetemde stem: ’n Herontdekking van Afrikaanse musiek, wat ’n Cannes-prys vir beste Afrika-film losgeslaan het.


Riku Lätti se nuutste projek is die Kaappunters: ’n supergroep met Riku en Jackie Lätti, Churchil Naudé en die Voëlvry-kitaarspeler Willem Möller. Ander lede van die destydse Gereformeerde Blues Band soos Tonia Möller en Jannie “Hannepoot” van Tonder maak ook somtyds ’n verskyning.

Jannike Bergh gesels met Riku Lätti oor die Kaappunters wat op 10 Oktober by die Daisy Jones Bar gaan speel as deel van die Toyota US Woordfees.

Die Kaappunters: Bettie Blatjang, Wian Anders, Vuilsak van Staden, Churchil Naudé en Markus Oralrus. Foto: Gillian Coetzee

Riku, waaroor gaan die Kaappunters?

Die idee agter die Kaappunters is tweeledig: Dit is protesmusiek, maar dit is ook bedoel om protesmusiek te wees op so ’n manier dat dit eintlik vermaaklik (ook) moet wees. Dit moet funny wees, dit moet humor hê, dit moet mense laat lag, want die geskiedenis van ons land het veroorsaak dat ons popmusiek vandag baie kunsmatig en lig is, want dit is ingevoer; dit is die gevolg van die geskiedenis en die apartheidsjare, toe popmusiek van Europa af ingevoer is en vertaal is – met Min Shaw, Gé Korsten, al hierdie tipe ouens. En dáái het toe die smaak gevorm van wat nou vandag later as mainstream pop beskou word – byvoorbeeld Afrikaans is groot-byeenkomste – dit is pretensieuse dog niksseggende musiek. En dit is baie populêr, want dit vra nie vrae nie en dit kyk nie na enige ware punte van menswees nie.

........
Die Kaappunters is protesmusiek, maar dit is ook bedoel om protesmusiek te wees op so ’n manier dat dit eintlik vermaaklik (ook) moet wees.
.....

Dit is eintlik ’n vals dogma van Afrikanerdom. Dit is lekker lig; dit laat jou net goed voel en die brandewyn goed afgaan en dit sê niks nie. Al die liefdesdeuntjies word uit volle bors gesing en daar is niks teerheid nie, daar is niks dinamiek nie; dis alles net volle bors. En daardie musiek het net geen aanklank by my gevind nie, nog my hele lewe nie. Ek kon nie my vinger daarop plaas nie, maar toe gaan doen ons navorsing met hierdie fliek [Die ongetemde stem / The voice behind the wall] wat ons gemaak het, en vind toe uit by David Kramer en ander mense waar die fout ingekom het: Dit was in die 1930’s waar die gedagte al begin het dat daar ’n Afrikaanse musiekvorm ontwikkel het wat natuurlik plaasgevind het tussen wit mense en bruin mense en hulle saam gekuier en saam gespeel het; die Nasionale Party, wat nog nie in daai jare aan bewind was nie, se wortels was alreeds gevorm in die zeitgeist van die tyd.

Deon Maas het in ’n insiggewende artikel geskryf, “dis vandag moeilik om te glo, maar Afrikaner-sedebewakers het eens geglo boeremusiek is vuil en agterlik,” en uitgebrei hoe Anton Hartman, wat in die 1960’s as die hoof van die SAUK aangestel is, ’n daadwerklike poging aangewend het, of eerder ’n plan uitgevoer het, om die bruin musiek, of die musiek wat wit mense en bruin mense saam met mekaar gespeel het, te verbied en te verban van radiostasies af, en dus hierdie Europese musiek in te voer, want hulle het gevoel andersins gaan die mense saam dans en saam kuier en dan die volk verbaster.

Daarom is die natuurlike vorming van Afrikaanse musiek, Afrikanermusiek, gekortwiek, en met die Eeufeesviering van die Voortrekkers in 1938 het die nasionaliste die Groot Trek herverkoop en herverpak as een groot saamstaan van een trotse volk in verset teen Engelse – terwyl die Groot Trek ook maar die gevolg was van slawerny wat opgehef is in die Kaap, waar mense mos nou uit die Kaap die binneland in gefoeter het, want hulle wou kwansuis nie onder “British rule” wees nie (maar meestal omdat die Britse rule beteken het dat hulle nie meer cheap labour gehad het nie), en selfs met daai Voortrekker movements was die bruin mense wat saam met die Voortrekkers getrek het, die ouens wat die instrumente gespeel het.

En so, vir hulle entertainment langs die ossewaens en langs die pad, het hulle gedans, en dit is die musiek wat gevorm het; tussen wit en bruin was die een plek waar daar eintlik ’n gemeenskaplike musiekvorm gegroei het. As jy nou vandag na boeremusiek luister en jy luister na ghoema, dan sien jy baie roots, en dan luister jy na maskandi – daai drie tipes musiekvorme het baie dieselfde wortels – dit kom van dieselfde plek af. En dan jy luister na wit populêre musiek van vandag en dis heeltemal vervreem van enige van die drie volke.

........
As jy nou vandag na boeremusiek luister en jy luister na ghoema, dan sien jy baie roots, en dan luister jy na maskandi – daai drie tipes musiekvorme het baie dieselfde wortels – dit kom van dieselfde plek af. En dan jy luister na wit populêre musiek van vandag en dis heeltemal vervreem van enige van die drie volke.
........

Met ander woorde, ingevoerde popmusiek in Afrikaans is ’n aangeplakte musiektipe wat in die mense se kele afgedwing is – letterlik in hulle ore afgedring is – omdat die radiostasies gedink het hierdie kan hulle produkte verkoop, want die zeitgeist is nou alreeds gevorm. Apartheid het sy job gedoen.

Die Kaappunters in Lionel Smit se studio. Foto: Gillian Coetzee

En die gevolg van apartheid is dat mense vandag apart kuier. As jy kyk na Afrikaanse community spasies, kuier bruin mense saam met bruin mense; wit mense kuier saam met wit mense, en tussen Afrikaanse musiekmense sal jy hoofsaaklik die een of die ander kry. Jy gaan hulle nie gemeng kry nie. En dit wat ons wil doen met die Kaappunters, is om te sê: “Wag, daar was ’n tyd toe ons natuurlik saamgekuier het, sonder die bullshit staatsvormende grepe wat op ons afgedwing is; toe ons openlik met mekaar gepraat het. En dit is wat ek weer wil doen met die Kaappunters.

........
Ons is saam met die res van Suid-Afrika.
........

Ons wil teruggaan na daai vibe van “Kom ons praat eerlik met mekaar; kom ons draai nie doekies om nie; kom ons hide nie die social ills van ons society in die musiek nie; kom ons bring dit in en kom ons praat daaroor!” Want dit is deur hierdie stilte waar die bose mense die oorhand kry en mense vyandig maak, in die naam van die Afrikaner, die sogenaamde wit Afrikaner, teen die res van die land. Dit is nie wat ons wil hê nie; dit is die gevolg van ’n narratief waar kinders nie eers meer weet dat hulle nie meer ’n keuse het om te dink nie. Maar die narratief is vir hulle gevoer vir só lank dat dit hulle kultuur geword het om net op hulle eie saam te staan. En ons sê fok dit! Ons is groter, ons is saam met die res van Suid-Afrika.

Bettie Blatjang en Wian Anders. Foto: Gillian Coetzee

Die Kaappunters vloei dan uit hierdie Voëlvry-gedagte – kom ons mingle met die res van die land, kom ons hoor wat gaan aan, kom ons sing oor die issues wat pla. Maar ons doen dit op ons manier, want musiek is liefde; musiek is bedoel om mense bymekaar te bring deur liefde en mekaar te laat goed voel en om niemand af te breek nie, en niemand te laat skuldig voel oor die geskiedenis nie. Jy weet, dis nou tyd dat ons na die gevolge van die geskiedenis kyk en lág daaroor, want fokkit, ons het nou al genoeg gehuil.

Churchil Naudé. Foto: Gillian Coetzee

Dít is wat ons nou wil doen met die Kaappunters: om met humor die history so half ’n bietjie te “correct”, maar ons influences is natuurlik oa James Philips, Koos Kombuis, die Voëlvry-beweging, en Johannes Kerkorrel, so, in dieselfde gees as die Voëlvry-beweging het die Kaappunters ook dan hulle eie name, soos Bettie Blatjang, Wian Anders, Vuilsak van Staden, Markus Oralrus – wat sinspeel op Marcus Aurelius – sulke tipe name; die musiek is dan so ’n bietjie spot, bietjie lag, bietjie serious.

Vuilsak van Staden. Foto: Gillian Coetzee

Is daar ’n belangrike onderskeid tussen die Kaappunters en die Wasgoedlyn-projek?

Die Wasgoedlyn is meer ’n bymekaarkoms van verskillende kunstenaars waar almal saam kyk na wat die aparte kunstenaars doen en hulle ondersteun in hul werk deur saam te “jam” op hulle songs, terwyl die Kaappunters offisieel ’n rockgroep is, nie ’n jam band nie. Die Wasgoedlyn is daadwerklik ’n lyn wat verskillende bands en musikante verbind en op dieselfde platform aan mense bekendstel. Die Wasgoedlyn is meer konseptueel; die Kaappunters, daarteenoor, is ’n meer gefokuste musiekgroep met ’n definitiewe boodskap wat ons wil verkondig. Die Kaappunters sing oor versoening, terwyl die Wasgoedlyn ’n manifestasie is van hoe so ’n versoening prakties uitgeleef kan word.

 

Markus Oralrus. Foto: Gillian Coetzee

........
Die Kaappunters sing oor versoening, terwyl die Wasgoedlyn ’n manifestasie is van hoe so ’n versoening prakties uitgeleef kan word.
.......

Waarom dink jy loop humor hand aan hand met verset?

Dis nodig om die bitterste medisyne met ’n bietjie suiker af te sluk. As ons net die bitter verkondig, gaan jy niemand kry om na jou te luister nie, maar as jy verwelkomend is en mense laat goed voel, kan jy verder kom in die debat, as ’n samelewing.

Daar is iets rebels aan humor, wat dit ’n lekker tool vir verset maak, of hoe?

Baie mense sal dalk nie in geskiedenis belanggestel het as dit nie vir die comedy was nie. Die rol wat comedy speel om die waarheid uit te bring, is verskriklik belangrik; ironie is ’n ongelooflik belangrike tool om injustice uit te lig, want dit is absoluut absurd dat hierdie injustice gebeur, maar met humor het jy ’n manier om vir mense die lig te laat sien. Humor is verskriklik belangrik.

Wian Anders. Foto: Gillian Coetzee

Die Kaappunters is: Riku Lätti / Wian Anders (stem, kitaar, klavier), Jackie Lätti / Bettie Blatjang (stem), Willem Möller / Karring Kaappunter (kitaar), Churchil Naudé (kletsrym), Mark Ellis / Markus Oralrus (baskitaar), Jean Marais / Vuilsak van Staden (tromme) 

Die Kaappunters is 10 Oktober om 20:00 by die Daisy Jones Bar. Bespreek kaartjies vir die Kaappunters se Woordfees-vertoning hier.

Lees ook:

Toyota US Woordfeesprogram 2023

Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met komponis Kristi Boonzaaier

Erfeniskos en die EasyEquities-skrywersfees by vanjaar se Woordfees: ’n onderhoud met Fayruza Abrahams

Die ongetemde stemme van Afrikaanse musiek

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top