Die Afrikaanse musiekbedryf wemel van ongetemde stemme wat dekades lank soos stemme roepend in die woestyn byna moes soebat om gehoor te word. Vandag suig talle van hierdie kunstenaars wat om den brode moet sing om te oorleef steeds aan die agterspeen.
Baie van hierdie stemme is in die verlede om politieke redes doodgesmoor en kry nog steeds die wind van voor in ’n bedryf waar geld dikwels swaarder weeg as talent.
Die dokumentêre film Die ongetemde stem, ’n herontdekking van Afrikaanse musiek wat tydens vanjaar se virtuele Woordfees op DStv bekendgestel is, gee ’n stem aan tientalle van daardie Afrikaanse kunstenaars wie se stemme nie na waarde geskat word en volgens verdienste op ons markpleine gehoor word nie.
Die film is gesny uit materiaal wat die Wasgoedlyn al sedert 2014 versamel het. Meer as 100 kunstenaars is gedurende dié tyd deur die vervaardigers van die film besoek en uitgevra oor Afrikaanse musiek. Die tema wat na vore getree het in spontane gesprekke en kreatiewe sessies, is meesterlik aanmekaar gevleg deur Gideon Breytenbach en Riku Lätti.
Oor die afgelope klompie jare het Gideon saam met Riku en ’n paar ander letterlik die land deurkruis op soek na die beste oorspronklike liedjieskrywers in die land met die fokus op Afrikaans.
Die menings wat in die film gehoor word, is rou en eerlik. Die name lees soos die Who’s who van alternatiewe Afrikaanse musiekmakers en musiekkommentators. Mense soos Anton Goosen, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Piet Botha, Bacchus Nel, David Kramer, Churchil Naudé, Die Naaimasjiene en Fokofpolisiekar, om maar net ’n paar te noem.
Ander bekendes wat prontuit in die film praat oor Afrikaanse musiek is Deon Maas, Hunter Kennedy, Jackie Lätti, Jolyn Phillips, Georgio Barry, Deniel Barry, Sandy Gertse, Schalk van der Merwe, Nardus du Plooy, Christo De Meillon, Jannie Hanepoot van Tonder, Christo van der Rheede, Danie Marais, Liela Groenewald, Willim Welsyn en vele meer – die lys hou net aan.
Iemand soos Lloyd Ross se films dra ook ’n ongelooflik groot deel by wat die Voëlvry-verhaal besonder goed dokumenteer.
Riku sê die grootste voorreg tydens die maak van die film was om die laaste paar jaar saam met die legendes en toekomstige legendes van Afrikaanse musiek met ’n kitaar in die hand om ’n tafel te kon gesels en vir elkeen te vra hoe die prentjie vir hulle lyk.
“Daar was deurlopend die gevoel dat iets omtrent hierdie industrie nie reg is nie. Hoewel almal op een of twee dinge wat pla kon wys, het niemand van ons oor die groter prentjie beskik nie.”
Vir Riku is die film hopelik die begin van ’n nuwe debat oor Afrikaanse musiek. Vra jy hom hoe lank hierdie debat gaan duur, antwoord hy soos volg: “Dit is nimmer nie die einde van die debat nie; daarvoor moet ons nog veel dieper delf en verder gaan om werkbare oplossings te soek.”
Hy hoop die film se debuut is opspraakwekkend genoeg dat ander kanale en uitsaaidienste ook sal belangstel om dit te vertoon. “Ons gaan groot mik sodat die hele land Die ongetemde stem te sien kan kry.”
Een van die pertinente vrae waarmee Afrikaanse kunstenaars soos Riku Lätti en diegene in sy dampkring worstel, is: Hoe kry mens die radio en TV, wat soveel invloed het in die bepaling van mense se musieksmaak, aan boord om ook hierdie stemme in die woestyn tot hulle reg te laat kom?
“Dit is ’n moer prominente vraag. Hoe kry mens liefde ook vir hierdie musiek ingepomp in so ’n cut-throat bedryf? Die ander vraagstuk waaroor ek amper nie eers wil praat nie, is natuurlik die koors van white supremacy wat oop en bloot uitgeleef word in populêre Afrikaanse musiek. Daarvoor het ek geen antwoord nie, net ’n vrees dat hulle alles vir almal gaan opfok, maar daai is ten minste ’n drie bier lange debat.”
Tog is die antwoord op die vraag wat gedoen moet word om goeie Afrikaanse musiek te bevorder en te bemark, volgens Riku eintlik net een woord, en dit is “liefde”. Hy glo as daar van regeringskant meer liefde en ondersteuning gegee word aan kunstenaars oor die algemeen, sal daar ’n groter deursnit kunstenaars kan deelneem en sal Afrikaanse musiek in al sy fasette ook daarby baat.
...
Hy glo as daar van regeringskant meer liefde en ondersteuning gegee word aan kunstenaars oor die algemeen, sal daar ’n groter deursnit kunstenaars kan deelneem en sal Afrikaanse musiek in al sy fasette ook daarby baat.
...
“Kyk, ons weet ons staat is te arm, so dis belaglik om te dink dat hulle ons probleempie vir ons kom oplos. Tweedens het ek nie hoop vir die privaatsektor om ewe skielik hulle rassistiese ontwikkelingsbeleid op te sê nie. Dit maak immers die koffers vol om te vry na ’n wit bevolking se geld. Dit maak nie saak wat jy hoor hoe wittes sukkel nie, hulle het steeds die geld om so ’n industrie te befonds. Dit laat ons met die laaste oplossing, naamlik waar liefde vir die musiekverbruiker moet wen ter wille van oorlewing van ’n industrie, veral as dit kom by nismarkmusiek,” sê Riku.
As platemaatskappye kan leer om verby kleur te kyk en meer bruin en swart kunstenaars die geleentheid gee om hulle stemme te laat hoor, sal dit volgens hom tot almal se voordeel wees wat lief is vir musiek.
Die minste wat die regering kan doen, is volgens Riku om die ontwikkeling van bruin en swart stemme aan te moedig deur middel van belastingtoegewings soos belastingkrediete aan maatskappye wat sulke kunstenaars se werk bevorder.
Wat radioblootstelling betref, glo hy sterk aan ’n doelbewuste plan om deur die kleurgrens te breek. Minstens die helfte van die musiek op ’n nasionale stasie soos RSG met sy groot aantal bruin luisteraars behoort van bruin of swart kunstenaars te wees en 25 persent op kommersiële stasies, sê Riku. “Hulle moet in elk geval reeds ’n sekere persentasie plaaslike musiek speel, so die tipe sisteem is uitvoerbaar. Ons grootste probleem is dat die slang se kop steeds rassisties gedrewe is gemeet aan dit wat hulle uitsaai. Daarom is dit eintlik makliker oplosbaar as wat ons dalk mag dink; ons was net vir te lank nog nie lus om oor ras te praat nie.”
Uiteindelik keer Riku telkens terug na die liefde vir musiek as die enigste ding wat hierdie ongetemde stemme van die Afrikaanse musiek kan red. “Wat ons nodig het, is die liefde wat elke mens uit sy hart voel vir musiek en musikante en hoe ons samelewing hul musikante kan ondersteun deur konserte te hou, want hoe meer ons speel, hoe meer blom alles op alle levels.
...
“Liefde is vrywillig, en dit ontbreek tans. Liefde vir musiek is omtrent al wat ons nou kan red.”
...
“Liefde is vrywillig, en dit ontbreek tans. Liefde vir musiek is omtrent al wat ons nou kan red. Niemand verkoop meer CD’s nie, en iTunes vat die grootste cut; royalties van die internetplatforms is belaglik min – die musikant kry minder as fokkol van ’n breukdeel van die totale som en daarom skuld jy hulle $25. So die enigste ‘hail Mary’ is as mense begin omsien na hulle musikante en hulle huur vir optredes en hulle direk beloon vir die musiek waarna hulle luister. Ons moet ’n luisteraarsetiek kweek wat werk op die eersisteem van ‘Jislaaik, ek het hierdie maand seker ’n 100 Koos Kombuis-liedjies geluister, ek gaan hom iets betaal daarvoor.’ Dit moet vrywilliglik van musiekliefhebbers kom,” sê die man met sy Liewe Jesus-voorkoms en aansteeklike liefde vir Afrikaans musiek.
- Die ongetemde stem word Dinsdag 5 Oktober 2021 of die Toyota US Woordfees se opwipkanaal op DSTV uitgesaai om 18:15.
Lees ook:
Persverklaring | Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal | Toyota SU Woordfees TV pop-up channel
Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud met Elmari Rautenbach oor die boekeprogram
Toyota US Woordfees op TV: Hannes van Wyk oor Sê groete vir Ma
Toyota US Woordfees op TV: Anna-Mart van der Merwe oor Valsrivier
Kommentaar
Ek ondersteun nie sg sanger wat sy goeie orkes probeer dood skreeu nie. Dan moet sy skippie maar sink.
Wanneer ek na Koos Kombuis se optrede by die Kalfiefees gaan en goeie geld betaal, verwag ek dat die kunstenaar homself goed sou voorberei en professioneel wees. As sy stem nog die volgende dag gehou het, sal ek uiters verbaas wees. Walglike stellings oor vrouens is lankal nie meer "cool" nie. Hy sal nooit weer enige ondersteuning van my of van die groep saam met my kry nie. Hy verdien dit nie!