Toyota US Woordfees op TV: Hannes van Wyk oor Sê groete vir Ma

  • 0

Foto: https://www.litnet.co.za/persverklaring-hannes-van-wyk-se-eenmanvertoning-weer-te-sien/

Hannes van Wyk betree vir die eerste maal in baie jare die verhoog, al is dit ook op die TV vir die Toyota US Woordfees 2021, in sy splinternuwe eenmanstuk, Sê groete vir Ma.

Hannes vertel vir Yolanda Wessels ’n eenmanstuk is ’n geweldige uitdaging. “Met ’n eenmanstuk is dit asof jy half alles wat jy in jou lewe en loopbaan geleer het, saamgooi. Jy is vir 70 minute alleen op die verhoog en jy het niemand teenoor wie jy speel nie – dit is jy en jy alleen. Baie akteurs sê dat mens naderhand vergeet van woorde, maar ek kan nie daarmee saamstem nie. Al leef mens jou in in die karakter(s) wat jy vertolk, is dit nog steeds ’n magdom woorde om te onthou. Verder gaan Sê groete vir Ma gepaard met ’n emosionele wipplank. Ek spring van een emosie na die ander en dit verg absolute inlewing en konsentrasie.”

......

Verder gaan Sê groete vir Ma gepaard met ’n emosionele wipplank. Ek spring van een emosie na die ander en dit verg absolute inlewing en konsentrasie.”

........

Yolanda: Dit is die eerste maal in ’n lang tyd dat jy op die verhoog te siene is. Wat was jou ervaring tot op hede met die vertolking van Regardt Roberts van Aswegen en hoe diep moes jy delf om te slaag in jou vertolking?

Hannes: Ek probeer so een maal elke twee jaar ’n verhoogstuk doen. Ek en Amanda Strydom het nie te lank terug nie Voor ek vergeet gedoen, en ons het meer as twee jaar daarmee gespeel en ’n magdom vertonings gedoen. Ek doen ook nie ’n toneelstuk en doen dan net ’n paar vertonings nie. Ek glo dit moet vir ten minste twee jaar ’n speelvak hê. Dit was dieselfde met Sê groete vir Ma. Dit het in die jaar voor Covid by Innibos geopen, en is daarna by die Vrystaat Kunstefees en Aardklop opgevoer, sowel as in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad. Ek het ook 12 vertonings by die Woordfees gehad. Ek sou (soos so baie ander kunstenaars) die volgende week by die KKNK speel. ’n Speelvak in Namibië en Engeland het voorgelê, wat toe vanselfsprekend gekanselleer moes word.

Hannes vertel hy was gelukkig en bevoorreg dat omtrent elke vertoning uitverkoop was. “Ek kan met groot dankbaarheid sê dat die reaksie van die gehore fantasties was! Wat die ervaring betref, was dit wonderlik omdat die gehore so ongelooflik was. Die feit dat mense ná die tyd na jou toe kom en sê dit het hulle so diep geraak, beteken vir my baie.”

Hannes sê hy moes baie diep delf, omdat dit ’n moeilike tema is wat aangespreek word. Alhoewel Sê groete vir Ma fiksie is en nie op sy eie lewe geskoei is nie, is daar soveel raakpunte en soveel dinge waarmee hy as akteur (en gelukkig die gehore) kan identifiseer. Hy het dus baie diep gedelf. 

Yolanda: Die Woordfees pronk vanjaar met verskeie dramas op die planke, ook al is die planke op TV. Wat sal die feesgangers na dié eenmanstuk op die TV-stel lok?

Hannes: Daar is baie humor en drama in dié toneelstuk. Ek glo dit is hoekom die toneelstuk tot op hede so suksesvol was. Die balans is reg en mense kan lag en huil. Alhoewel dit met tye baie snaaks is, is daar ook ontsettende hartseer dele. Mense kan daarmee identifiseer; almal het ’n ma, het ’n ma gehad of is ’n ma. Dit het my geroer dat daar so baie mans en jongmense is wat die toneelstuk kom kyk het. Daar is nie allerhande gimmicks in die produksie nie – dit is ’n eerlike reis saam met die karakter en mens leer sy ma, sy pa, sy rugbyspelende broer, sy troetelhoender, Knoop, en Boswild, sy hond, ken. Almal herken hulself in die toneelstuk.

Yolanda: Wat is volgens jou die trekpleister en waarmee gaan die teatergangers huis toe nadat hul die eenmanstuk gesien het?

Hannes: Almal kan daarmee vereenselwig. Dit raak aan mense se harte en hulle herken hulleself en hulle familie in die toneelstuk. Die gehore wat dit al gesien het, sê dit is iets wat hulle saam met hulle vat en vir lank sal saamdra.

Hannes vertel dat hy dit nie gekies het nie, maar net besluit het om dit te doen. “Ek vat lank voor ’n projek op die planke kom. Ek het bladsye en bladsye vir die skrywer gestuur oor wat ek in die teks wil hê, waaroor dit moet gaan, wat belangrik is, ensovoorts. Die skrywer het geskryf, ek het geskaaf en ek en Sandra Prinsloo, wat regie gedoen het, het ook baie aan die teks gewerk om dit so naby as moontlik aan perfek vir my te kry.”

Yolanda: Jy is ’n gesoute en geliefde akteur en bekend op die kassie. Die teaterstuk was verlede jaar aanlyn aangebied. Jy noem dit was een van die uitdagendste projekte wat jy al aangepak het. Hoekom, wat het jou geïnspireer om dit te doen, en sal jy dit weer doen? 

Hannes: Dankie vir die kompliment oor gesout en geliefd. Ek wou nooit die produksie verfilm het nie, maar toe Covid so lank aanhou (en nog steeds voortgaan), het ek besluit om dit wel te doen. Ons het dit egter anders aangepak en dit filmies geskiet. Ons het dit in ’n ou warehouse geskiet met net ek, twee stoele en ’n draaitafel. Ons wou die gehoor “intrek” in die ervaring. Ek kan met trots sê dat dit nie net ’n toneelstuk is wat verfilm is nie. Dit is baie naby aan wat mense op die verhoog gesien het. Ek praat met tye in die kamera in met mense by die huis, dan weer ’n karakter, dan weer in die kamera in. Dit is ’n gedurige wisselwerking wat ek dink die regisseur van die verfilmde weergawe baie goed reggekry het.

Yolanda: Wat was jou ondervinding daarmee teenoor ’n optrede voor ’n lewendige gehoor?

Hannes: Dit is altyd natuurlik die lekkerste om voor ’n lewendige gehoor op te tree, maar ek voel dié is so naby as wat mens kan kry. Die terugvoer oor die verfilmde weergawe van Sê groete vir Ma is wonderlik.

Lees ook:

Persverklaring | Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal | Toyota SU Woordfees TV pop-up channel

Woordfees-TV 2021: ’n Onderhoud met Saartjie Botha

Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud oor die Woordfeesbundel

Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud met Elmari Rautenbach oor die boekeprogram

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top