Toyota US Woordfees op TV: Anna-Mart van der Merwe oor Valsrivier

  • 1

Kort voor die Woordfees op TV gaan plaasvind, praat Anna-Mart van der Merwe met Yolanda Wessels oor die toneelstuk Valsrivier.

Anna-Mart, wat het jou aangetrek tot en laat instem om by dié toneelstuk betrokke te wees?

Beslis die boek, en daarmee bedoel ek die roerende manier waarop Dominique Botha ’n intieme familie-ervaring verwoord het. Ek het ook besef dat om met Janice Honeyman, Saartjie Botha en die spesifieke span te kon saamwerk, soos ’n unieke “met jou gat in die botter val”-oomblik sal wees. Net ’n idioot sou nie wou saamreis nie!

Valsrivier raak omstrede kwessies aan, soos apartheid, die struggle en versoening. Dit is iets wat jy as Suid-Afrikaner ervaar het. Hoe dra die persoonlike ondervinding by tot die vertolking van jou karakter?

Dominique vertel ’n familieverhaal. Die politieke landskap waarin dit geskied, kom tweede. Die karakters se politieke sieninge kleur uiteraard hul gedrag, reaksies en verhoudings met mekaar in. Tog hou sy dit ’n storie wat oor mense gaan. 

Ek het groot bewondering vir Sandra Botha en dat sy sonder vrees vir verwerping deur haar familie of gemeenskap haar kop en hart volg. Daardie tipe oopkop vroue het ek nie geken nie.

Vind jy dit uitdagend om terug te gaan in tyd na dié omstrede jare en deel te wees van so ’n produksie?

Dis ’n voorreg. Dis ’n voorreg om deel te mag wees van ’n produksie wat sonder vrees politiese en sosiale issues probeer uitwys, maar nooit preek of voorskryf nie. Die pyn van verlies, die pyn van onderdrukking, die pyn van hongerte en armoede … dié gaan ons nog vir lank moet aanspreek en met eerbiedige respek hanteer. Ons mag nie moeg word of opgee nie.

Wat is jou opinie rondom “herkoms brandmark jou vir ewig” – is dit ’n seining waarmee jy kan vereenselwig?

Nee, dit raak ’n verskoning. Daar is deesdae oorgenoeg inligting om jou eie kop oop te skop as jy regtig wil. Ek weet dis makliker gesê as gedaan, maar as mense jou brandmerk oor jou herkoms, lê jou enigste bevryding daarin om jou eie kop oop te hou en aan te stap.

As ervare en bekroonde aktrise, kom dit vir jou makliker om rolle te vertolk waar jy eie ervarings kan opdiep en deel kan maak van jou vertolking?

Dit help uiteraard as mens bekende verwysings het, maar die verbeelding is magtig en daarop moet ’n mens staatmaak.

Dit is ’n swaar storie wat uitgebeeld word teen die landskap van ’n baie verdeelde nasie. ’n Vertelling van verlies, lojaliteit en familie. Waarmee gaan die teaterganger huis toe? Wat is die blywende gevoel wat hulle sal herroep?

Weer eens wil ek dit onderstreep dat afgesien van die politiese landskap waarteen die Botha-gesin se storie afspeel, die gehoor die karakters se gevoelslewe en ervaringe sal herroep en baie van hul eie lewens daarin sal herken.

Valsrivier word beskryf as ’n hoogtepunt op die planke. Wat is jou opinie daarvan, asook jou ervaring met jou medespelers?

Janice Honeyman en Saartjie Botha het wat ek gedink het onmoontlik is, moontlik gemaak. Hulle het Valsrivier, Dominique Botha se boek, na die verhoog verplaas, die kern uitgelig, wonderlike teater geskep, maar ook die boek geëer. Die boek sal altyd as baken uitstaan. Dit, sou ek dink, is ’n suksesvolle Woordfees-produksie.

Wat my medespelers betref, is engele die enigste woord wat uit die dieptes van my hart na vore kom …

  • 1

Kommentaar

  • Ek stem ook saam dat iets wat op die verhoog gesien word, blywend moet wees. Die rede: enige toneelstuk moet ’n boodskap kan oordra. Dit is die boodskap wat blywend moet wees en ’n verskil maak in ons lewens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top