“Maar hoekom kan die Afrikaners net nooit saamstaan nie?”
Dit is ’n vraag wat ek al uit sóveel oorde moes hoor of lees. Gewoonlik is dit ’n retoriese vraag en die gesprek stop gewoonlik net daar of beweeg vinnig genoeg aan na die rugby toe of ’n stoute grappie word vertel, want wie wil vir ewig oor mislukkings besin?
Maar laat my toe om met my geskiedeniskennis vol gate ’n eerlike antwoord op daai vraag te waag. Daarvoor moet ons begin by wat bedoel word met Afrikaner. Dis ’n gelaaide vraag, maar as ons eerlik is, sal die meeste van ons erken dat met Afrikaner bedoel word “wit, Afrikaanssprekendes wat Sondae na ’n Calvinistiese kerk toe gaan”. (Volgens https://www.afrikanerbond.co.za/ik-ben-een-afrikaander---junie-2022.)
Net met daai definisie het jy my een en ’n half keer verloor. Een: Ek gaan nie Sondae na ’n Calvinistiese kerk toe nie, en twee, die helfte van my familie is nie wit nie.
Maar met so ’n eng definisie van Afrikanerskap is daar positiewes om weg te neem. Dit lyk (vir baie Suid-Afrikaners) of Afrikaners tog goed bymekaar staan gemeet aan die homogeniteit van die bevolkingsdemografie van Afrikanerbyeenkomste. So wat is die probleem? Al word gesê die Afrikaners kan nie saamstaan nie, is dit duidelik dat hulle baie suksesvol kan saamdrom.
Die probleem vir die Afrikaner is dat daar wit Afrikaanssprekendes is wat nie Afrikaners genoem wil word as die definisie so eng toegepas word nie. As “Afrikaner” nie ook my bruin broers en susters insluit nie, is ek nie ’n Afrikaner nie, oftewel, as my naaste nie partytjie toe mag kom nie, sal ek nie gaan nie.
Dan hoor ek weer daai stem in die bar op Facebook: “Sien dis hulle, daai donnerse Afrikaanse liberaliste wat nie saam met ons kan staan nie! Volksverraaiers!” Meantime is dit hul eie definisie van Afrikanerskap wat die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes van hul bende uitsluit. Die ego van die Afrikaner kan nie duld dat daar wit Afrikaanse mense is wat sê “Ons is nie almal so nie” (dankie Jeanne Goosen).
Wat mens wel nie kan ignoreer nie, is die sukses van die Afrikaner, asook die voordeel wat die nie-Afrikaner uit die sukses van die Afrikaner put. Die dinge wat die Afrikaner bou, is ook ten bate van mense wat nie Afrikaners is nie. Die slaggate wat AfriForum vul, is nie net vir die bakkies van wit boere nie. Akademia-universiteit gaan geleerdes oplewer wat werk lewer ten bate van almal in Suid-Afrika, nie net wit Afrikaanse mense nie.
........
Die noue bande wat Afrikaners met ander Afrikaners het, is benydenswaardig. Ek wens partykeer die res van Suid-Afrika was so lief vir mekaar soos wat die Afrikaner homself liefhet.
........
Ons Grondwet verdedig almal se reg om te assosieer met wie hulle wil. Daarom kan ons gerus maar kalmeer en vrede maak met die feit dat die Afrikaner so te sê net met homself wil assosieer. Dis sy volste reg. Die noue bande wat Afrikaners met ander Afrikaners het, is benydenswaardig. Ek wens partykeer die res van Suid-Afrika was so lief vir mekaar soos wat die Afrikaner homself liefhet.
Uit hierdie liefde vir homself kom ’n trots, ’n volkspatriotisme wat soms handuit kan ruk en ideaal gesproke ’n bietjie introspeksie verlang, of indien dit nie van binne gebeur nie, ’n tempering van buite benodig. Soos wanneer die “ons” so cool word dat daar neergekyk word op die “ander”. Kortom, saamwees is bak, supremisme is minder bak.
Wanneer hierdie ultrapatriotisme die oorhand kry, is wanneer die onmin tussen gemeenskappe ontstaan. Dis wanneer “volksidentiteit” as ’n wapen aangewend word om as ’n groep bevoordeel te word ten koste van ander gemeenskappe wat nie dieselfde vermoë het om saam te staan nie.
Dan gebeur goed soos die teenkanting teen opheffing van ander gemeenskappe in die naam van “nierassigheid”, terwyl dit juis die rassigheid van die geskiedenis is wat hierdie groep in die magsposisie sit om opheffing so sterk teen te kan staan.
Dis die gesiene wynboer op die land wat die loon van die bruin werker slaafslaag hou, die water van die mense kan afsny, taaiklappe kan uitdeel en uitskel in ongrondwetlike taal. Terwyl die gesiene boer die lof ontvang in gesiene kringe vir die opbouingswerk wat hy vir die Afrikaner verrig, kweek hierdie selfde aksies onmin, haat en vyandigheid teenoor die Afrikaner onder die ongesiendes.
En omdat die stemme van hierdie ongesiene gemeenskappe selde gehoor word, is dit met verbasing dat die Afrikaner elke nou en dan uit die monde van mense met ’n kwaai kyk in die oë moet hoor dat die Afrikaner nie die mees geliefde groepering is onder ander Suid-Afrikaners nie.
Dit gaan nie help om die laers te probeer groter trek en die verraaiers, die Afrikaanse liberaliste, te probeer paai om te bekeer en terug te keer na die res van die Afrikaners toe nie. Teen dié tyd is dit al duidelik vir die res van Suid-Afrika dat “ons nie almal so is nie”. Daar is wel baie wit Afrikaanses wat tuis voel in gemengde Suid-Afrika wat nie presies so tuis voel onder net Afrikaners nie.
........
Ware bekering kan nie onder dwang plaasvind nie. As jy wil vriende maak, is daar ander maniere.
........
Die res van Suid-Afrika weet reeds daar is Afrikaners wat nie in die eng definisie van Afrikaner inpas nie en hulle selfs distansieer van daai tipe Afrikaners wat herken word vir wie hulle is wanneer hul houding afdwing en baasskap proklameer en terselfdertyd ander mense minag. Ware bekering kan nie onder dwang plaasvind nie. As jy wil vriende maak, is daar ander maniere.
Die goeie nuus is dat daar reeds in Suid-Afrika in alle geledere ’n bewussyn is van die voortreflikheid van die Afrikaner. Daar is reeds swart mense in Suid-Afrika wat in mooi Afrikaans sal kan erken dat daar wit mense is wat waarde toevoeg tot die gemeenskap en hul lewens. Alreeds.
Die oplossing vir beide die probleme in die land, sowel as die moeilikheid met Afrikaner-identiteit, is voor die hand liggend.
Ons moet onthou dat vir meeste mense in die land die ANC die heel beste regering is wat hulle nog ooit geken het. Hulle weet nie wat dit is om iets beter as die ANC te hê nie, want die vorige regerings het nie in hulle belange opgetree nie. Geluk by die ongeluk van die ANC is dat die ANC nou al 30 jaar gehad het om te wys hoe sleg hulle is. Die resultaat is ’n merkwaardige daling in verkiesingsopkoms, van 86% in 1994 tot 66% in 2019. Daar is amper 40% van ons bevolking wat nie voel dis die moeite werd om te gaan stem nie.
........
In plaas van die Afrikaners veg onder mekaar om wit stemme te werf, herdefinieer die Afrikaner self as “Afrikaanssprekende van Afrika”.
........
Ek sien ’n geleentheid hier. In plaas van die Afrikaners veg onder mekaar om wit stemme te werf, herdefinieer die Afrikaner self as “Afrikaanssprekende van Afrika”. Gaan praat dan met alle mense as gelykes. Geen meer skaamte oor die geskiedenis nie, want die geskiedenis bepaal nie meer wie die groep is nie. Die hede doen dit.
Daar is tog op die ou end meer van ons wat saamstem oor wat ’n goeie lewe is. Net so is daar baie onwit mense wat ook lief is vir Afrikaans. Gaan tel al daai verlore stemme van die vloer van vergetelheid op en bou saam om ’n groter, magtiger groep te wees met een stem uit baie monde vanuit baie oorde.
Maar solank as wat Afrikaner “net wit mense” beteken, gaan die aansien van die Afrikaner aanhou kwyn en sal hy nooit volkome van die vyandigheid teenoor hom kan ontslae raak nie.
Kyk en lees ook:
Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"
Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"
Die Kaappunters by die Toyota US Woordfees 2023: "Ons sing oor versoening," vertel Riku Lätti
Kommentaar
Gebruik asseblief die aanhaling uit die Afrikanerbond se webwerf in konteks. Of pas dit nie jou argument nie? Die skrywer het dit duidelik soos volg geskryf: "Die definisie van die Afrikaner as volk is deur die Nasionale Party omskryf as “wit, Afrikaanssprekendes, wat Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe gaan”. Die ontwikkeling van ons land was belangrik vir die Nasionale Party."
Geagte Jan Bosman, nou verstaan ek hoekom die Afrikanerbond soos Weskussleepmis voor die son verdwyn het. Julle is nie eers 'n blip op die politieke radar nie, ook nie op die kulturele radar nie. Geen relevansie meer nie. Koebaai...
Ek dink mens kan aanvaar dat daar verskillende definises van Afrikaner bestaan en dat dit altyd so sal wees. Daar is ook verskillende definisies van 'Christen'. Dit word as normaal aanvaar. Verskillende Christelike groepe beskou mekaar ook nie wedersyds as Christene nie. Kredobaptise dink gewoonlik nie dat verbondsdopers Christene is nie, en andersom. Die NG kerk het vir baie jare die AGS as 'n 'sekte' beskou. Vandag is hulle darem meer diplomaties en bietjie sensitief vir andere se gevoelens, maar niks het eintlik verander nie. Ewe eens beskou Jehovas, Mormone en Protestante mekaar ook nie as Christene nie.
Soos die skrywer noem, word Afrikaners histories beskou as die Europese setlaars van Suid-Afrika wat merendeels van Nederlandse agtergrond is. Swart Suid-Afrikaners is nie setlaars soos wat die Afrikaners is nie. Dit is die historiese 'probleem' waarby jy gaan vashak by hierdie redenasie van jou. Die geskiedenis word nie so maklik van die tafel af gevee nie. Selfs die regering van 2024 gebruik vandag nog die 4 klassifikasies van die 1950 bevolkingsregistrasiewet, en onderskei op alle Z83-vorms tussen die groepe 'wit', 'swart', Kleurling' en 'Indier'. Akademia is 'n goeie gevallestudie, ja. Dit het ontstaan omdat die setlaars hulle mag verloor het en die ANC-regering stel glad nie belang in Afrikaanse onderrig nie. Die politici wou ook nie Afrikaans as 'n taal van Afrika herken nie, en het dit later langtand gedoen. Al die openbare instellings is ook na Engelsmedium toe verander na 1994, en die volgende in die regering se visier is die setlaars se voortdurende gebruik van Afrikaans by sekondêre skole, wat deur middel van die BELA-wet geteiken gaan word. Die regering wil hierdie mense stelselmatig in Engelssprekendes verander en hulle taal negeer en die setlaars is hardkoppig en skop vas. Akademia is 'n privaatuniversiteit. Dit vul die gaping in die mark wat onstaan het toe Afrikaans by universiteite afgeskaf was. Dit verduidelik ook hoekom Akademia se klasse met voorlesings uit die Bybel en gebed open. Want die behoefte bestaan onder dieselfde setlaars om hulle Calvinisme te beoefen, terwyl die regering se instellings almal sekulêr is. Soos enige besigheid, is Akademia se dienste egter vir enige landsburger vry om van gebruik te maak.
Hopelik kan elkeen vir hulleself 'n plekkie vind in hierdie verskeidenheid. Dit is ware eenheid in verskeidenheid. En ook ware klassieke liberalisme wil ek glo. Om so ver as moontlik vir elkeen die ruimte te gun om te wees wat hulle graag wil wees. Om nie die regering te gebruik om mense se lewens vir hulle te reël en hulle te wil forseer om te wees wat hulle nie wil wees nie. Suid-Afrika het een van die grootste kabinette (met 30 ministers) op aarde, wat getuig van hoe die regering die inwoners se vryhede probeer 'reguleer' (dit getuig ook van die uitgebreide sisteem van patronaatskap waaraan Suid-Afrikaanse politiek gekenmerk word).
Snot Jan, ek stem met baie van jou meanings saam. Jy weet daarvan jy praat.
Wel, wel, is dit nie net 'n heerlike oulike stukkie van ons geagte skrywer nie? Hoe bekoorlik van hom om poëties te besin oor die kommer oor Afrikanerdom, terwyl hy skynbaar gelukkig onbewus is van die seismiese verskuiwings wat plaasgevind het in die konsep wat hy so elegant ontleed.
'n Mens kan nie anders as om te wonder of ons dierbare skrywer dalk te vasgevang is in die verfynde lug van kunsgalery-geleenthede nie, terwyl hy ongetwyfeld fyn wyne drink wat deur die "ou geld" wat hy so belaglik maak, gefinansier word. Wanneer was die laaste keer dat hy die strate en plekke van nie-blank gebiede met sy verligte teenwoordigheid vereer het, vra ek myself af?
Want sien, terwyl hy aanhou praat oor verouderde definisies en misleide supremacistiese denkbeelde, is die realiteit dat Afrikaans - daardie ryk, uitdrukkingsryke taal - lank reeds sulke noue grense oorskry het. 'n Mens hoef net die televisie aan te sit, 'n koerant of tydskrif oop te maak, die boekrakke van hierdie begin-millennium deur te kyk om die lewendige integrasie van alle Afrikaanssprekendes in die kulturele weefsel te sien.
Maar ag, miskien is sulke alledaagse dinge onder die verfynde gevoelighede van ons kunstenaar. Dis blykbaar makliker om vas te klou aan uitgediende stereotipes uit die apartheidsera, en te fulmineer teen die spookbeeld van die karikatuuragtige "Calvinistiese Afrikaner" van ouds. Hoe très avant-garde van hom!
Die kersie op die koek is natuurlik die aanhaling wat so slim uit konteks gebruik is: “wit, Afrikaanssprekendes wat Sondae na ’n Calvinistiese kerk toe gaan”. Ag, hoe vernuftig van die skrywer om die feit te ignoreer dat dit gebruik is om die verouderde definisies wat deur die Nasionale Party opgelê is, te beklemtoon, wat geen relevansie het in die huidige politieke landskap nie. Die stuk self waaruit die aanhaling geneem is, het gepoog om Afrikaner-identiteit te herdefinieer en te streef na insluiting in hierdie nuwe era.
Ter verdediging van hom, dit verg 'n verdraaide, sepiagetinte siening van die wêreld om fyn penseelstreke van neerhalende jammer vir die minder-verligte massas te kan gee. 'n Sekere vaardigheid word vereis om jouself op jou eie rug te klop terwyl jy terselfdertyd jou hande wring oor die lot van die "ander" onverligtes.
Dus, met graagte, dierbare kunstenaar, gaan voort met jou selfaangestelde rol as die vervolgde rebel wat teen die windmeulens van jou eie skepping veg. Wees net versigtig dat jy nie in die 21ste eeu struikel en jou heerlike verouderde denkbeelde verbrysel word deur die ongerieflike waarheid van vooruitgang nie. Dit kan 'n aansienlike demper plaas op die vurige aktivisme wat jy jouself voorstel dat jy kweek.