...
As jy daarmee wag tot almal van wie jy dink dat hulle hulle daarmee moet vereenselwig, dit doen, gaan jy vir altyd wag.
...
Afrikaners wat enigiets verklaar, kom dadelik voor die vraag, veral uit eie geledere: Durf ons enigiets verklaar, ons wat die smet van apartheid dra?
Boonop, wat die mees onlangse verklaring betref: Weet ons wie “Afrikaners” is? Wie sluit dit in en wie sluit dit uit? Is dit nie maar die ou laertrekmentaliteit nie? En veral: Hoe kan enigeen in ’n demokratiese bedeling, waar een en elkeen stemreg het, uitgesluit voel?
Kom ons kyk eers na die werklikheid van Suid-Afrika as ’n multinasionale staat. Karlo Basta begin sy boek The symbolic state minority recognition, majority backlash and secession in multinational states (2021) met die volgende paragraaf (my vertaling):
Hierdie is ’n boek oor die funksionering en wanfunksionerings van ’n institusionele uitgeworpene: die multinasionale staat. Ons alledaagse politieke woordeskat het geen plek daarvoor nie. Ons dink aan die basiese politieke eenheid as die nasiestaat, ten spyte van die hardnekkige historiese voortbestaan van die multinasionale variant. Joernaliste, politici en, die mees neerdrukkende van almal, akademici, laat gewoonlik die terme nasie en staat heeltemal oorvleuel. Multinasionale state trek gewoonlik ons aandag eers as dit in krisis uitbars. Dan roep ons die “kunsmatige” en “tydelike” aard daarvan op (dink aan Irak, België of Bosnië) en bevestig só die opvatting dat dit steurende institusionele afwykings is, pleks van ’n prominente en, bowenal, normale kenmerk van moderne politiek is.
Volgens Basta is dit ’n normale verloop dat die meerderheidsgroep in beheer van die staat dit hanteer asof die staat homogeen is.
’n Onderhorige minderheidsgroep beywer hulle dan vir afwenteling van mag, wat geredelik toegestaan word as dit bestuurskundig sin maak (“die polities-ekonomiese storie” noem hy dit) en nie op simboliese wyse die onderhorige groep se andersheid erken nie.
...
Jy kan sê jy wou meer bruines daar gehad het, of meer rykes, of meer wynboere, of ten minste meer wat in die Suide gestudeer het, of meer slimmes. Maar jy het wat jy het en dit kan ook verander.
...
Dit lei tot verdere eise, toenemend van simboliese aard, wat gewoonlik tot ’n teenreaksie van die oorheersende groep lei. Dít versterk die onderhorige groep se aandrang op selfstandigheid en verswak die steun van gematigdes wat nie dieselfde mate van simboliese erkenning verlang nie.
Dan ontaard dit in konflik, of word vreedsaam geskik, afhangende van wedersydse toegewings op die terrein van politieke ekonomie, sowel as simboliek.
Hoe vergelyk Suid-Afrika met so ’n model? Eintlik stem dit treffend daarmee ooreen.
Sedert 1994 is Afrika-nasionalisme die heersende ideologie in Suid-Afrika. Dit beklemtoon die gesentraliseerde staat as vergestalting van die een identiteit. Soos die spreuk lui: “For the nation to live, the tribe must die.” Ander identiteite as “Suid-Afrikaners” is toevallig en ondergeskik.
Die beleid van transformasie – transformatisme soos Koos Malan dit noem – moet hierdie werklikheid skep. Derhalwe die aandrang dat alle instellings die demografie van die land in sy geheel moet weerspieël.
In die staatsdiens is dit lankal die geval. Wetgewing oor sogenaamde Swart Ekonomiese Bemagtiging en Billike Indiensneming dwing dit ook op groter werkgewers in die private sektor af. Maar wat van kulturele instellings soos skole en universiteite?
Ek vra kollegas in die portefeuljekomitee vir hoër onderwys of transformasie beteken elke fakulteit, elke departement, elke koshuis en elke vereniging op elke kampus en elke universiteit moet die bevolking as geheel weerspieël. Hulle antwoord: “Yes, and we are not apologetic about it.”
Die President en verskillende ministers herhaal gereeld dat hulle niks teen Afrikaans of Afrikaners het nie – Afrikaans mag net nie as ’n middel tot uitsluiting gebruik word nie.
Met ander woorde, hulle het niks teen Afrikaans of Afrikaners nie, hulle wil net graag sien dat daar geen instelling is waarin die taal en kultuur voortgebou word nie. Want sodra dit deur medium van Afrikaans werk, sluit dit ander mense uit en só kan dit nie aangaan nie.
Oor die politieke uitsluiting van Afrikaners kan mens debatteer: Ja, ons het stemreg, volgens Afrika-nasionalistiese aandrang op ’n gemeenskaplike kieserslys. Eintlik is die antwoord vir minderhede maklik: Word deel van die meerderheid.
...
Met ander woorde, Afrikaanse individue het toegang tot wetgewende vergaderings, maar Afrikaners as groep se boonste perk is hulle persentasie van die totale bevolking.
...
Met ander woorde, Afrikaanse individue het toegang tot wetgewende vergaderings, maar Afrikaners as groep se boonste perk is hulle persentasie van die totale bevolking. Die onderste perk word bepaal deur diegene wat die gedagte van ’n etniese stem verwerp. Dit kan nul wees.
Dit bring mens by die vraag: Wat hét Afrikaners vandag? As jy alles wat individuele Afrikaners besit, bymekaartel, is dit nogal indrukwekkend. Grond, aandele op die effektebeurs, bestuursposisies in groot korporasies, ongenoteerde maatskappye, noem maar op.
Maar elkeen van hierdie Afrikaner-grondeienaars, -aandeelhouers, -werknemers en -eienaars kan enige dag met iemand anders vervang word. Dit wil sê, die Afrikaner as gemeenskap het baie min. Wat daar is, is oor die afgelope 30 jaar opgebou.
Dit werk so: Die welvaart wat in ’n staat opgebou word, kom op twee maniere tereg: Een deel beland in die sakke van burgers wat die geld gebruik of herbelê, en een deel beland by die staat wat (teoreties) infrastruktuur en ’n staatsdiens opbou en in stand hou. Dan is daar ook ’n inkomstestroom soos wat individue en besighede elke jaar belasting betaal.
Wie die staat oorneem, ontvang daarmee die infrastruktuur, staatsdiens en inkomstestroom. Dit is in werklikheid wat die ANC in 1994 van Afrikaners as oorheersende groep oorgeneem het. Omdat Afrikaners so knus in beheer van die staat was, was daar nie Afrikaner-grond nie en Afrikaner-besighede het oor hulle voete geval om iets anders te word.
Uit die deel wat in (Afrikaner-) burgers se sakke beland het, moes iets opgebou word – dis nou as Afrikaners iets wou hê. Vir ’n groot persentasie Afrikaners was dit oorbodig, want hulle het veilig in hulle persoonlike welvaart gevoel. Indien nie, het hulle die land verlaat.
Die ander het instellings opgebou: ’n burgerregtebeweging, ’n welsynsorganisasie, ’n universiteit, ’n tegniese kollege, ’n dorp met ’n eie bank en oorspronklike inheemse regeringstelsel, ’n netwerk van buurtwagte, kultuurbewegings, ’n politieke party, en so kan mens aangaan.
Behalwe die politieke party het die instellings moeite gedoen om buite die partypolitiek te beweeg. Die sake wat vir hulle ondersteuners (diegene wat al die aksies met hulle bydraes finansier) belangrik is, het hulle bevorder. Politieke kwessies is op ’n regsgrondslag hanteer.
In Karlo Basta se terme het hulle volgens die politieke ekonomie gewerk en die simboliek eers laat staan. Deurlopend het elkeen van die instellings wat hiermee besig was, gepoog om die steun van bruin Afrikaanssprekendes te kry, met wisselende mates van sukses.
Wat ek in my deeltjie van dié proses agtergekom het, is dat bruin identiteit een van die ingewikkeldste konsepte in die Suid-Afrikaanse samelewing is. Net wat benaming betref: Sommige ken geen ander woord vir hulleself as kleurlinge of coloureds nie; ander beskou dit as vloekwoorde. Sommige dring aan op hulle Khoe- en San-agtergrond, of hulle is Griekwas.
In sy boek The lie of 1652 kom Patric Tariq Mellet tot die gevolgtrekking dat Camissa Africans die beste benaming is. Camissa verwys na Tafelbaai. Dit is ’n goeie boek en almal wat in geskiedenis belangstel, behoort dit te lees.
Die punt is: Nie elke bruin mens, nie eers elkeen wat Afrikaans praat, sit en wens hulle was eintlik Afrikaners nie. Dit kan gebeur dat Afrikaners en bruin mense toenemend na mekaar groei en later ononderskeibaar sal word. Dit kan ook anders gebeur. Die toekoms sal leer.
...
As die eerste Afrikaner dié van die Boererepublieke was, en die Tweede Afrikaner dié van die Republiek van Suid-Afrika, dan is die Derde Afrikaner besig om sigself te konstitueer.
...
Maar die werklikheid is dat die gedeelte van die Afrikaners wat (apolities sover hulle kon) instellings opgebou het, nou meen dat politieke aksie nodig is. Dit is as’t ware die geboorte van die Derde Afrikaner.
As die eerste Afrikaner dié van die Boererepublieke was, en die Tweede Afrikaner dié van die Republiek van Suid-Afrika, dan is die Derde Afrikaner besig om sigself te konstitueer. Dit is eintlik wat die “Afrikaner-verklaring” is: die Derde Afrikaner wat sy bestaan konstateer.
As jy daarmee wag tot almal van wie jy dink dat hulle hulle daarmee moet vereenselwig, dit doen, gaan jy vir altyd wag. Jy kan sê jy wou meer bruines daar gehad het, of meer rykes, of meer wynboere, of ten minste meer wat in die Suide gestudeer het, of meer slimmes. Maar jy het wat jy het en dit kan ook verander.
Die Derde Afrikaner kan nie die voortgang van die Tweede Afrikaner na sigself ontken nie. Tog kan dit op bestaansreg aanspraak maak, want dit bestaan. Dit kan nuwe instellings skep wat met die regering en met ander groepe kan praat.
Die mees grondliggende stelling moontlik, is: “Ek is.” Dit is die wese van hierdie verklaring. Soos Jan van Melle se hoofkarakter sê na alles om en in hom verander het: “Ek is Bart Nel en ek is nog hy.”
Kyk en lees ook:
Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"
Kommentaar
Middag Wynand,
Logiese redenasie!
Ek hou veral van die - "As die eerste Afrikaner dié van die Boererepublieke was, en die Tweede Afrikaner dié van die Republiek van Suid-Afrika, dan is die Derde Afrikaner besig om sigself te konstitueer. Dit is eintlik wat die “Afrikaner-verklaring” is: die Derde Afrikaner wat sy bestaan konstateer."
Ek het ook 'n opmerking gemaak op die kommentaar van Izak, Sakkie, Fanie en ander op die Litnet plasing van Ons is nie almal so nie. Ek sal graag hulle eie standpunte oor wie en wat die Afrikaner is wou sien en nie net negatiewe reaksie op die Verklaring nie. Menere, help ons die Afrikaner deffinieer.
Voorwaar 'n belangrike gesprek.
Groete
Martin
"Dit kan gebeur dat Afrikaners en bruin mense toenemend na mekaar groei en later ononderskeibaar sal word." - Nee. Meeste Afrikaners wil onderskeibaar van hoofsaaklik Noord-Wes-Europese afkoms bly en nie polities korrek verbaster nie.
Afrikaners is per definisie 'n bastervolk met 'n bastertaal - en niks om oor skaam te wees nie. Van Biebouw "Ik ben een Africaander!" in 1707 se gemengde sibbe tot die gemengde taalgemeenskap wat Afrikaans vandag is. Volgens 'n Universiteit van Pretoria-studie in 2020 het byna 99% van die "wit" Afrikaners wie se DNS ontleed is, nie-Europese voorsate (of is dit voorsade?) iewers. "Suiwerheid" is 'n siek mite; vermenging is juis die pad na 'n genetiese en kulturele suksesresep - dit het niks met politieke korrektheid (sinlose begrip) te doen nie.
https://www.up.ac.za/biochemistry-genetics-and-microbiology/news/post_2907632-new-study-clarifies-nature-of-genetic-admixture-in-south-africas-afrikaner-population
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/noem-my-afrikaner-afrikaanse-nama/
Die verklaring sê in punt 1 Die Afrikaner is 'n kultuurgemeenskap. Hierdie "Afrikaner verklaring" het onder andere ten doel dat die Afrikaner deur die staat erken word as 'n kultuurgemeenskap. Die staat doen dit alreeds met sy erkenning van die Zoeloe monargie en stamhoofde en die gepaardgaande staatsbefonsing van sulke homogene kultureel etniese instellings. Maar is die Afrikaner enigsins definieerbaar? Homogeen soos bv die Zoeloes? Is daar 'n definieerbare kultuur wat die Afrikaners as Afrikaners aan mekaar verbind as 'n kultuurgemeenskap? Dek die term "kultuurgemeenskap" alle Afrikaners wat Afrikaners wil wees? Baie wat hulself eien as Afrikaners deel absoluut geen kulturele gemeengoed nie. Nie geografie nie, nie geloof nie, nie ras nie, nie feesdae, nie tipe musiek, nie kuns, nie sport en dikwels nie eers dieselfde dialek of standaard Afrikaans nie (Volgens wie se standaard?), en veral nie rituele nie. So watter kultuurgemeenskap van die verskillende onderskijbare Afrikanerkultuurgemeenskappe staan pa vir hierdie verklaring? Wie "konstateer sigself" hierso"?
Lees gerus die genomiese navorsing waarvan Sybrandus Adema die webskakel bo plaas, met aandag. Dan is dit duidelik dat die Afrikanervolk slegs 4,7% van nie-Europese afkoms is. Maw die Afrikanervolk is 95,3% van Wes-Europese (wit) afkoms. In die hedendaagse woke wêreld wat rasseverbastering en een wêreldorde bevorder, is 95,3% Europese (wit) gene 'n summa cum laude prestasie vir enige volk van oorspronklik Europese (wit) afkoms.
Ek dink Alexandr Dugin het met boek oor die Vierde politieke teorie basies uitgewys dat iets soos die Afrikanerverklaring, ook 'n wêreldtendens is, buite die liberale sg Westerse wêreld.