
Foto: Lynn Greyling | Pixabay
Afrikaners is ’n inheemse kultuurgemeenskap in Afrika. Ons mense en ons geskiedenis is hier en daarom wil ons ook werk vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslag hier aan die suidpunt van Afrika. Ons wil in ’n gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe in Suid-Afrika praat en werk om oplossings te kry vir die veelvuldige krisisse wat ons almal se toekoms bedreig. Ons wil ook graag ’n bydrae lewer tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Afrika.
Ons besef dat hierdie land ’n komplekse verlede het. Daar was in die geskiedenis ernstige konflikte tussen gemeenskappe, en Afrikaners bejeën swart mense se ervaring van die verlede met erns. Die krisis in die land is só ernstig dat ons visie vir die toekoms sterker sal moet wees as ons geheue van die verlede. Ons moet steeds van tyd tot tyd in die truspieël terugkyk, maar ter wille van vooruitgang sal ons die reis na die toekoms net suksesvol kan aandurf as ons vorentoe deur die voorruit kyk. Ons mag nie toelaat dat ons in die hede só heftig oor die verlede twis dat ons die toekoms vernietig nie. Daarom moet ons bou op die voorbeelde van goeie verhoudinge en samewerking wat in die verlede tussen verskillende groepe bestaan het.
Daar word gevra wat Afrikaners benodig om blywend vry, veilig en voorspoedig saam met ander gemeenskappe in Suid-Afrika te kan leef sodat ons ook ’n volhoubare bydrae tot die welstand van ander gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika kan lewer.
Die bondige antwoord hierop is dat ons normaliteit benodig, dit wil sê ’n normale samelewing waardeur ons ’n voorspoedige toekoms vir almal kan help verseker. Ons wil graag ons basiese uitgangspunte om so ’n normale samelewing te vestig, kortliks uitstippel.
**
Besoek die webwerf https://afrikanerverklaring.co.za/ vir meer inligting, ook om die verklaring te onderteken.
Om die volledige verklaring in Afrikaans te lees, laai dit hier af.
To read the entire declaration in English, download it here.
Laai die volledige persverklaring hier af.
Kyk en lees ook:
Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"
Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"


Kommentaar
Goeie naand, ek het op Maroela se vraag oor die Afrikaner-verklaring gesê dat ek nie gemaklik is om myself 'n afrikaner te noem nie. Volgens my is daar 'n verskil tussen 'n Afrikaner en 'n Boer. 'n Afrikaner is 'n liberalis soos die sogenaamde Stellenbosch Mafia en wat agter die wêreld aan hardloop. 'n Boer is trots Afrikaans en dien sy God. So nee, ek teken beslis nie die Afrikaner-verklaring nie.
Nee dankie. Ek is deel van die meerderheid. Suid-Afrikaner eerder as Afrikaner -- veral met hiérdie teruggryp na taal- en rasnasionalismes, newwermaaind die volkstaatreukie...
Gaan lees wat Jopie Fourie homself in sy laaste skrywe genoem het. Afrikaner. Basta met julle wat ons nog verder wil verdeel, dis alogies en help niemand nie.
Die verklaarders het nou effektief twee kategorieë Afrikaners geskep. Die Afriforum-Afrikaners na die beeld en gelykenis van hulle president Theuns Eloff, en die res, noem dit dan maar die vrye of onverbonde Afrikaners van alle kleure en geure. Die diaspora, die gentiles buite die boererepubliek van Pretoria-Oos. Mens begin na dese wonder of daar ooit so iet soos 'n "Afrikaner" bestaan het. Die variasies is meer legio as 'n definieerbare groep van enige aard.