Oor die "Afrikaner-deklarasie": Ons hou van partytjies

  • 6

Foto: Christine Schmidt | Pixabay

...
Wat wil die 15 mense wat hierdie verklaring opgestel en geteken het, juis in hierdie stadium daarmee bereik?
...

“Ons Afrikaners wil hier bou, bly” lui die kop van die geredigeerde weergawe van die “Afrikaner-deklarasie” in Rapport Weekliks van 21 April 2024; “Afrikaners: We are here to stay,” basuin die voorblad van City Press van dieselfde dag dit uit.

Voordat ’n mens na die inhoud van hierdie verklaring, uitgereik deur “Afrikaner-organisasies en -individue”, kyk, wil ek darem net sê dat die uitreiking op ’n besonder ongeleë, ontydige politieke tydstip plaasvind.

Dit kom in die aanloop tot ’n verkiesing wat deur sekere waarnemers as ’n waterskeiding beskou word, en takties sou ’n mens verwag dat jy redelik versigtig sou omgaan met dinge wat vervreemdend kan uitwerk.

Die aanvanklike uitsprake van John Steenhuisen rondom die verskrikking van die verwoesting van Gaza gaan waarskynlik meer as net ’n nagmerrie vir sy party word. En dalk selfs vir die Wes-Kaap self. Hoe kan jy so ’n beduidende gedeelte van jou kiesers van jou vervreem?

Net so val die herbevestiging van die “Afrikaner” as “’n kultuurgemeenskap – ’n volk – en nie bloot ’n taalgroep of ’n rassegroepering [...) nie” op die vooraand van die verkiesing besonder vreemd op.

Wat wil die 15 mense wat hierdie verklaring opgestel en geteken het, juis in hierdie stadium daarmee bereik?1 Gaan dit mense aanmoedig om te gaan stem? En vir wie? In hoeverre gaan dit tot verdere polarisasie lei, meer mense daaroor laat dink dat hulle in die lig hiervan juis nié hier wil bly nie?

*

Die Afrikaners oor wie die deklarasie dit het, ’n “permanente minderheid [...) demokraties uitgesluit en sonder toegang tot die owerheid”, word nooit behoorlik omskryf nie.

Dat jy ’n permanente minderheid is, maak jou nog nie ’n volk nie, en daar is geen sprake daarvan dat so ’n groep demokraties uitgesluit word nie.

Oor die wese en die voortbestaan van ’n volk het NP Van Wyk Louw omvattend geskryf, onder andere in vyf stukke rondom “Kultuur en krisis” iewers in 1952, as deel van sy reeks “Die oop gesprek” in Die Huisgenoot. (Wat lees ons, die volk, vandag in Huisgenoot, sou mens sinies kon vra ...?) Die skrywer bespreek daarin die verskillende krisisse wat ’n volk se voortbestaan bedreig.2

...
Dat jy ’n permanente minderheid is, maak jou nog nie ’n volk nie, en daar is geen sprake daarvan dat so ’n groep demokraties uitgesluit word nie.
...

“Wat is ’n volk?” het die ou vrou, die verteller, in Van Wyk Louw se omstrede drama Die pluimsaad waai ver later, in 1966, weer gevra. Daardie vraag en sy antwoorde het aanleiding gegee tot skerp verwyte wat aan die skrywer gerig is, onder andere deur die destydse eerste minister, HF Verwoerd.

Die volk waarmee hierdie verklaring werk, is “Afrikaners”. Wie en wat hulle is en hoe hulle lyk, moet lesers van die verklaring maar vir hulleself uitmaak, want hoe dié “kultuurgemeenskap” geïdentifiseer word, bly onduidelik.

Máár: Die opvallendste en benouendste ding wat my opval rondom hierdie verklaring (die keuse van die minder gangbare woord “deklarasie” is moeilik verstaanbaar, gegewe die konteks) is dat die woord “Afrikaner” baie duidelik uitsluitend gebruik word. Dit sluit nie almal in wat Afrikaans as moedertaal gebruik of daarmee identifiseer nie; daar is gewoon net sprake van ’n “taalverbintenis”.

Daar is duidelik geen ruimte vir die ongemakliker maar makliker begrip “Afrikaanses” nie, en in ieder geval geen plek vir bruin mense in hierdie volksbegrip nie.

Ek wonder hoe die Kaapse wynboer Schalk Burger sy weg kon oopsien om hom met so ’n uitgangspunt te vereenselwig.

Ek maak hierdie opmerking juis ook omdat al 14 die ander opstellers in die destydse Transvaal gebore is, hulle studies daar voltooi het en daar werksaam is. En binne daardie konteks stel die groep hulle dan ook af teen “swart mense” en “hulle ervaring van die verlede”, hoewel laasgenoemde “met erns” “bejeën” word.

(En dan weer wonder mens wat dan geword het van die ander niewit mense en hulle “ervaring van die verlede”, want dit word nêrens in hierdie geredigeerde manifes in Rapport genoem nie.)

Hierdie verklaring plaas ons dus vierkantig terug in die rasmentaliteit wat die politieke program vanaf die 1950’s oorheers en bepaal het. En juis dit vorm die grondslag vir die besluit om “te bou op die goeie verhoudinge en samewerking wat in die verlede tussen verskillende groepe bestaan het”.

In my nou al dowe oor hoor ek nog hoe ministers en hoë “kultuurleiers” destyds hierdie selfde frases gebruik terwyl Suid-Afrika juis op die vlak van medemenslikheid in duie stort.

*

Of die deklarasie meer gaan bevat as die verkorte en geredigeerde weergawe wat in die koerant verskyn het, weet mens nie, maar voorlopig is dit al waarop ’n mens kan reageer.

...
Die eerste konkrete uitspraak rondom kulturele aktiwiteit kom hier ter sprake: dat “ons moedertaal, Afrikaans” as ’n “volle funksionele taal” moet voortbestaan.
...

Die uitgangspunt is dat die opstellers ’n pad vorentoe wil uitstippel vir ’n beter toekoms en dat daarvoor “normaliteit” nodig is, ’n “normale samelewing”. Ek neem aan dat dit beteken een waarin die groep voel dat die “volk” nie langer demokraties uitgesluit is nie.

Twaalf riglyne hiervoor word uitgelig waarna daar gekyk moet word. Die eerste is dat die Afrikaners ’n “inheemse kultuurgemeenskap” is, maar nêrens word die aard of wese van hierdie gemeenskap omskryf nie, behalwe dat die kultuur en die taal “inheems aan Afrika” is. Watter aspekte van die kultuur inheems sou wees, is onduidelik (kan iemand help?), maar dit lyk of Afrikaans dalk as een bindende inheemse faktor beskou kan word. Tog is daar hieroor redelik ondemokratiese voorbehoud en uitsluiting, waarna daar hier bo verwys is, sodat daar net een faktor is wat duidelik onderskeidend en kenmerkend van hierdie volk is: ras.

Interessant genoeg is die feit dat daar rondom die kultuurbegrip in die hele dokument geen verwysing na godsdiens of geloof is nie, miskien ook omdat die grondwetlike geloofsvryheid redelik goed beskerm word.

’n Tweede uitgangspunt is die oortuiging dat daar ’n toekoms vir hierdie groep in Suid-Afrika is en dat almal daarby sal baat. Hiermee saam kom daar ’n derde punt na vore: samewerking met ander gemeenskappe vir ’n “werkende land” en ’n “gesonde samelewing”.

Die vierde riglyn, “Ons bou om te bly”, sit egter ’n voorwaarde uiteen waarsonder hierdie bostaande twee nie moontlik sou wees nie: die kulturele infrastruktuur wat die voortbestaan van die kultuurgemeenskap sal verseker. Ek neem aan dat die opstellers hier veral verwys na opvoedkundige inrigtings, maar miskien ook na ander aangeleenthede. Omdat die kultuurkenmerke nooit uiteengesit word nie, is dit natuurlik onmoontlik om te verstaan hoe daar aan so ’n infrastruktuur gebou moet word.

Hierdie vaagheid kry effens duideliker gestalte rondom die stelling dat meerderheidsoorheersing “ten koste van minderhede” nie demokraties is nie: Kulturele vryheid is nie onderhandelbaar nie.

Die eerste konkrete uitspraak rondom kulturele aktiwiteit kom hier ter sprake: dat “ons moedertaal, Afrikaans” as ’n “volle funksionele taal” moet voortbestaan. Die kulturele instellings, “tuislike ruimtes”, wat in hierdie verband genoem word, is skole en universiteite, maar ook vakbonde, onder andere. Interessant genoeg word daar glad nie na die omstrede Bela-wetgewing verwys nie, terwyl dit juis dié ruimtes aanval.

Rondom die hoof “Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe” steek die politieke onderrok wel uit wanneer daar verklaar word dat die opstellers die voortsetting verwerp van “rassewette wat Afrikaners tot tweedeklasburgers aftakel”.

Hiermee word die rasbasis van die deklarasie dan ook volledig duidelik en moet ook die oorblywende riglyne in hierdie lig beskou word. Dit is daarom ook nie vreemd dat een van hulle spesifiek gewy word aan die bespreking van ’n “betekenisvolle groep” se aanspraak op eie grondgebied as integrale deel van kulturele vryheid nie.

*

Die opstellers wys daarop dat Afrikaners, dus as volk, “uitgesluit” word van strukture en instellings van tradisionele gemeenskappe en dus nie inspraak het op sake wat hulle gemeenskap as “permanente minderheid” raak nie.

Die deklarasie sluit af met die slotsom dat dit noodsaaklik is vir die Afrikaners om ’n “kultuurverdrag” met die owerhede te sluit “om knelpunte betyds te takel, ooreenkomste daaroor te bemiddel, en vertroue te herstel en op te bou”.

*

Hoe so ’n verdrag tot stand sou kom, is onduidelik en moeilik verstaanbaar wanneer die een party sigself met ’n verklaring van hierdie aard as basies rassisties beskryf. Waarom sou die owerhede onder sulke omstandighede enige rede sien om hoegenaamd met verteenwoordigers daarvan in gesprek te tree? Wat nog daarvan om ’n kultuurverdrag te sluit?

As gewone kiesers nog hierdie soort dinge lees, is dit net moontlik dat so ’n verklaring voor die verkiesing kontraproduktief binne die breër verband kan werk. En stereotipering word so maklik ...

Dit was in ieder geval nie nou die regte tyd vir enige verklaring van hierdie aard nie.

*

Rondom Afrikaans het daar die afgelope 30, 40 jaar ’n nuwe kulturele gemeenskap ontstaan, sukkel-sukkel weliswaar, maar een waarin ras nie meer bepalend is nie. Dat klas nog ’n beduidende faktor is, sal niemand ontken nie, maar juis dit sou die belangrikste ding wees waarop iemand wat oor menswaardigheid praat, hom of haar sou toespits.

Dis ’n uiteenlopende groep waarin daar werk gemaak is daarvan om die verlede se skandes en skades opsy te skuif en in Afrikaans (in sy baie skakerings) hande te vat en dalk, miskien, moontlik, ’n groter en ryk kultuurgemeenskap landwyd aan die groei te kry. ’n Moderne, dinamiese volk-in-wording wat soek na ’n “Afrikaner-deklarasie” wat dááraan erkenning en gestalte gee. Wat kan gatskop en sê: Afrikaners is plesierig, maar nou lyk hulle só, hier en oor die wye wêreld van Kitty en kie.

Eindnotas
  1. Die name verskyn alfabeties, met die verbintenis of betrokkenheid tussen hakies: Carel Boshoff (Vryheidstigting); Jan Bosman (Afrikanerbond); Schalk Burger (wynboer); Flip Buys (Solidariteit Beweging); Heleen Coetzee (Akademia); Theo de Jager (Saai); Theuns Eloff (fasiliteerder); Danie Goosen (Akademia/FAK); Oppel Greeff; Dirk Hermann (Solidariteit); Werner Human (Solidariteit Beweging); Alida Kok (Akademia); Kallie Kriel (AfriForum); Danie Langer (Voortrekkermonument/FAK) en Koos Malan (konstitusionele juris).
  2. Lees gerus Jaap Steyn se uitstekende artikel hieroor, “‘Kultuur en krisis’ vandag”, by die volgende skakel: https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC165985.
Kyk en lees ook:

Die Afrikaner Verklaring: Saambou of laertrek?

Persverklaring: Die Afrikaner Verklaring

Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"

Afrikaner, wie is jy?

  • 6

Kommentaar

  • Pieter Fourie

    In die kol, Fanie. Die klippies-en-coke is verruil vir Chardonnay, maar die boodskap van hierdie "verklaring" is anachronisties en oorbekend -- van taalnasionalisme tot ras tot grond.

  • Marinus Schoeman

    Nee wat Fanie, wanneer is daar nou eintlik 'n regte tyd? Jy en ander soos jy is welkom om op julle syspoor te vertoef en julle besig te hou met julle negatiewe vlieë afvangery.

  • Fanie, die verklaring in Rapport verskil van die 'volledige' verklaring. Ek vermoed jy het net die een in Rapport gelees, wat 'n verkorte weergawe is. Lees gerus die volledige verklaring by die volgende skakel:

    https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2024/04/2024-04-15-Afrikaner-Verklaring.pdf

    In die volledige verklaring word daar sterk klem geplaas op God en godsdiens. Daar word gestel dat "Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie en vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms, veral in tye van nood."

  • Dankie Fanie. Jou skrywe is by verre die mees rasionele ontleding van hierdie koeie wat nou uit ou slote weer aan die bulk raak oor verlore kallers.

  • Jean Geldenhuys

    Nou reken. Ek het amper gewondèr of jy ook dalk 'n kopdoek/bandana aanhet, prof.
    Jy kan jou mantel draai soveel as dit jou belief - jou pienke velkleur gaan uiteindelik ook jou eiendom, selfs jiu lewe kos. Tel op jou vingers en kyk wat die oormag is, ook die oormag van rasgedrewe wette is. Wag maar, as jy tot dusver in 'n ou ivoortorinkie kon skuilhou, kyk of dit jou vir altyd sal beskerm. Wee' jy, dis verpestelik as iemand op sy eie vlees en bloed neersien. Wees gerus maar enige ander volk wat jy lus is. My volk het jou nie nodig nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top