...
Ons Handves van Menseregte is byvoorbeeld hoofsaaklik in individualisme gefundeer, terwyl tradisionele Afrika-reg grotendeels kommunaal van aard is.
...
’n Klompie jare gelede het ek die huweliksbevestiging van ’n jong swart paartjie waargeneem. Die bruid was ’n Tswana-vrou en die bruidegom ’n Venda-man. Hulle het in ’n tradisionele Engelse poskoets, deur twee spierwit pronkperde met helderpienk pluime getrek, by die geleentheid opgedaag. Die koetsier was ’n Indiër en die troue het by die Voortrekkermonument plaasgevind.
Hierdie eenvoudige, maar ware, verhaaltjie is maar net een van baie wat talle Suid-Afrikaners daagliks op verskillende maniere ervaar, en weerspieël ’n verskeidenheid van Suid-Afrikaanse mense, wêrelde, rasse, klasse, kleure, kulture, tale, denkwyses en godsdienste wat op een spesifieke dag tot een mensheid en wêreld saamgevloei het.
Dit was baie spesiaal, maar in watter mate is hierdie “eenheid in verskeidenheid” en “verskeidenheid in eenheid” deel van ons besinning en besluite oor watter party die beste blyke van insigte ten opsigte van ons land en ons menslike dinamika toon? En hoe kan ons onsself voorberei om op 29 Mei ons kruisies met deurdagte oortuiging te gaan trek?
Ten einde hierdie vrae te probeer beantwoord, beteken dit onder andere dat ons uit ons wit enklawes moet uitklim en besef dat 81,4% van ons Suid-Afrikaanse bevolking van 60,6 miljoen uit swart Afrikane bestaan. Bruin mense is 8,2% en wit mense 7%, terwyl Asiate en ander mense die res uitmaak. So, ons is één land en één nasie en binne die reënboog is daar vele kleure, behalwe swart. En dis juis hierdie laasgenoemde feit ten opsigte waarvan ons gerus ’n punt kan bereik ten einde met die ongemaklikhede wat met ons veelvoudighede saamhang, saam te leef en dieper en wyer te bedink met die oog op die trek van ons kruisies.
...
En wat is demokrasie nou eintlik? In die Weste verskil die Amerikaanse, Britse en Duitse stelsels hemelsbreed van mekaar.
...
Ken en verstaan?
Vanselfsprekend is om mekaar te ken en om mekaar te verstaan interafhanklik en kan ’n mens ook nie individue, groepe en gemeenskappe sonder meer waterdig van mekaar skei nie. Ons woon immers saam in ’n klein globale dorpie en is allereers deel van een gemeenskaplike en gelykwaardige mensdom waarbinne wedersydse akkulturasie voortdurend ontplooi.
Met handhawing van hierdie uitgangspunte kan mens wel dominante patrone van voel, dink, praat en doen onder en tussen dergelike individue, groepe en gemeenskappe onderskei.
Hier is die fokus hoofsaaklik op swart, bruin, wit, Asiatiese en ander Suid-Afrikaners wat mekaar by die stembus, waar wêrelde kruis, met inagneming van al ons eenhede en verskeidenhede, gaan ontmoet.
Ek noem dus slegs ’n aantal relevante verkiesingstemas waarmee ’n verskeidenheid Suid-Afrikaners, soos familielede en vriende, my gehelp het en aan wie ek ook hierdie artikel skriftelik en/of mondeling met die oog op publikasie gewys het.
...
Ook word, vanuit Westerse perspektief, enige misdaad deur middel van retribusie (straf), rehabilitasie en reïntegrasie hanteer, maar in tradisionele Afrikaïese gewoontereg gaan dit primêr om die herstel van die ekwilibrium/balans binne huishoudings, uitgebreide families en stamverbande.
...
Konstitusionele demokrasie?
Die meeste mense stem saam dat ons Grondwet van hoogstaande gehalte is, maar waarom klink daar dan al hoe meer kritiese stemme vanuit veral ons swart landgenote se geledere daaroor op? Onder andere is dit polities gemotiveer, maar dit is terselfdertyd as gevolg van ’n ongemak met die Romeins-Hollandse-Engelse reg wat vreemd aan tradisionele swart- Afrika-reg is.
Ons Handves van Menseregte is byvoorbeeld hoofsaaklik in individualisme gefundeer, terwyl tradisionele Afrika-reg grotendeels kommunaal van aard is. Ook word, vanuit Westerse perspektief, enige misdaad deur middel van retribusie (straf), rehabilitasie en reïntegrasie hanteer, maar in tradisionele Afrikaïese gewoontereg gaan dit primêr om die herstel van die ekwilibrium/balans binne huishoudings, uitgebreide families en stamverbande.
Tydens ons verblyf in die destydse Venda was ek bevoorreg om op ons plaaslike gemeenskap se khoro te dien – dit is die hoofman se gekose groep leiers. Menige Sondagoggend om 06:00 het ons vergader om huishoudelike, familie- en gemeenskapsgeskille deur middel van hierdie laasgenoemde benadering te besleg.
En wat is demokrasie nou eintlik? In die Weste verskil die Amerikaanse, Britse en Duitse stelsels hemelsbreed van mekaar. In Suid-Afrika word daar van “konstitusionele demokrasie”, “liberale demokrasie”, “sosiale demokrasie” en “tradisionele demokrasie” gepraat, maar ons politieke leiers en ons as stemgeregtigdes verwys bloot na “demokrasie” – so asof ons almal presies dieselfde onder hierdie begrip bedoel en verstaan!
...
Phoenix was ’n tragedie met die konflik tussen Indiërs en swart mense.
...
Ras, etnisiteit en kultuur?
Gedurende die onrus in KZN en Gauteng gedurende Julie 2021, wat met geweld, moord en vandalisme gepaard gegaan het, is daar vanuit vele oorde kliphard probeer om die rassistiese en veral etnosentriese dimensies van hierdie gebeure te ontken.
Menige “wit blokkades” het swart mense wat doodgewoon van hulle werk af op pad huis toe was, eenvoudig laat terugdraai. Daar is selfs op ’n swart verpleegsuster geskiet. Phoenix was ’n tragedie met die konflik tussen Indiërs en swart mense.
Onder die Xhosas hier in die George-omgewing is ’n WhatsApp gesirkuleer: “Ons Xhosas het 27 jaar vir ons president gewag. Julle Zoeloes kan gerus maar 15 maande vir julle president wag” (my vertaling).
In Limpopo is daar destyds plakkate en pamflette versprei om Venda-mense aan te moedig om kalm te bly, aangesien die onrus nie hulle s’n was nie, maar dié van die Zoeloes.
En waarom is die meeste van ons as Suid-Afrikaners so hipersensitief en versigtig om prontuit en trompop oor kultuur en kulturele ooreenkomste en verskille met mekaar in gesprek te tree? Wil ons dalk hierdie warm patat wegdink? Is ons miskien té huiwerig vir hierdie voor die hand liggende werklikhede wat moontlik tot etikettering kan lei? Of kan dit wees dat ons mekaar doodgewoon as verskillende kultuurgroeperinge nie verstaan en vertrou nie?
’n Navorsingsorganisasie het ’n tydjie gelede ’n klag van rassisme van die moeder van ’n jongman wat pas tevore afgedank is, ontvang. Tydens ’n beplanningsvergadering het die swart en wit leiers hierdie “tameletjie” as ’n gesprekspunt op die agenda geplaas. Die swart jongmense op die span het toe versoek dat hulle hierdie betrokke agendapunt skrap en met die wesenlike werk voortgaan. Sou dit ’n aanduiding kon wees dat die “born frees” gesprekke oor ras, etnisiteit en kultuur as irrelevant beskou? Is dit dalk net ons ouer en bykans uitgediende geslag wat voortdra aan ons eie bagasie en daarom hierdie vraagstukke lewend wil hou?
Volgens die statistiek van die Onafhanklike Verkiesingskommissie het 27,6 miljoen Suid-Afrikaners vir die opkomende nasionale en provinsiale verkiesingsas kiesers geregistreer. Hiervan is 11,5 miljoen jongmense van 18 tot 39 jaar, terwyl die aantal stemgeregtigdes daarna per ouderdomsgroep drasties afneem.
Feit is, nie ouer óf jonger mense kan bloot voortgaan asof ras, etnisiteit en kultuur (en wat alles ook al daarmee gepaardgaan) nie bestaan nie. Aan die een kant is dit juis rondom hierdie aspekte dat ons menslike rykdom geleë is, maar aan die ander kant is dit ook presies waar wrywing kan kom.
...
Daar is ’n hele klompie townshipspeak-woorde, soos tjsotjho, doolas, gointsa en minsomething. Nie een hiervan word met korrupsie in verband gebring nie.
...
Korrupsie?
Hier bo is alreeds enkele voorbeelde genoem wat daarop dui dat individue, groepe en gemeenskappe wat met mekaar praat, bepaalde woorde of begrippe nie dieselfde verstaan nie. En dit geld soveel te meer vir mense van verskillende kulture en tale.
Ons voormalige president, Jacob Zuma, het by geleentheid in die parlement gesê dat korrupsie ’n Westerse begrip is. Nodeloos om te verduidelik dat daar ’n element van ontduiking van verantwoordbaarheid by betrokke was, maar gegewe sy tradisionele swart-Afrika-agtergrond was hy in die kol.
Daar is ’n hele klompie townshipspeak-woorde, soos tjsotjho, doolas, gointsa en minsomething. Nie een hiervan word met korrupsie in verband gebring nie. Eers nadat die voormalige openbare beskermer haar verslag oor die staatskaping gepubliseer het, is die uitdrukking tshanda ngu vhone geskep om spesifiek na staatskaping te verwys, maar nie na korrupsie in die algemeen nie.
...
Sy het toe inderdaad gekom en ons het saam gebid.
...
Gesondheid, siektes en genesing?
Siektes word dikwels verstaan as die gevolg van eksterne geestesmagte en -kragte wat deur voorouergeeste geïnisieer en via sangomas gefasiliteer word. Boonop het swart Afrikane kultureel die vermoë om wat Westerlinge as teenstrydighede sou kon beskou, in een groter geheel te integreer.
As voorbeelde van talle soortgelyke ervarings in swart stedelike en plattelandse gebiede is die volgende storietjie interessant in hierdie verband.
’n Aktiewe lidmaat van ons Tshilidzini-gemeente het vir Claire, my vrou, wat ’n mediese dokter is, by die plaaslike hospitaal geraadpleeg. Sy verduidelik toe dat sy al vir meer as drie maande ’n sangoma besoek, maar dat haar kwaal nie opklaar nie. Volgens die pasiënt sou sy met die tradisionele medikasie voortgaan, maar sy wou terselfdertyd hê dat ’n “wit dokter” haar moet behandel.
Na afloop van die konsultasie het die Venda-dame vir my vrou gevra of ek tuis is, want sy sou graag by my ’n draai wou maak sodat ek ook vir haar kan bid. Sy het toe inderdaad gekom en ons het saam gebid.
...
“Mens is/word mens met/saam met/vir/deur mense, voorouergeeste, grond, gesaaides, gewasse, beeste, arbeid, wysheid, ens” te praat.
...
Ubuntu, armoede, die grondkwessie en werkloosheid?
Ubuntu is ’n alombekende begrip wat in taalkundige terme as ’n “abstrak” geklassifiseer word.
Ongelukkig het ons die diepliggende en omvangryke stelling waarin hierdie woord voorkom, tot die sin “’n Mens is ’n mens deur ander mense” gaan vervlak. Nie alleen is dit ’n verkeerde vertaling van die Nguni- (en vroeër Khoekhoegowab khoi /namxa-sîb-) gesegde nie, maar vanuit die perspektief van vele inheemse tale is dit eerder korrek om van “Mens is/word mens met/saam met/vir/deur mense, voorouergeeste, grond, gesaaides, gewasse, beeste, arbeid, wysheid, ens” te praat.
’n Mens sonder hierdie dimensies in haar/sy lewe is ’n arm mens. Dit gaan dus nie net oor die uiterlike en waarneembare aspekte van armoede nie, maar allereers om die “arm mens”, ’n insig wat enorme komplikasies vir ons beleid ten opsigte van en dienslewering aan armes inhou.
Dieselfde geld vir die debatte oor die grondkwessie. Lees ’n mens en luister of kyk ons na die media, dan val die klem voortdurende op die kommersiële waarde van grond, wat ongetwyfeld belangrik is. Vanuit ’n tradisionele swart-Afrika-perspektief is grond egter in sigself rykdom, want dis op jou eie lappie land waar al die bogenoemde interaksies van menswees en menswaardigheid met mekaar integreer.
Hoe moet ons dan die probleem van werkloosheid verstaan? Presies dieselfde as ons begrip van arm mense en die grondkwessie, want “Mens is/word mens met/saam met/vir en deur arbeid”, maar met inbegrip van al die ander aspekte van ubuntu.
...
Die ou en holruggeryde perd van “Misdaad is nie lonend nie” geld lankal nie meer nie, want vir arm, grondlose, hawelose en werklose mense ís misdaad inderdaad lonend.
...
Misdaad en geweld?
Die ou en holruggeryde perd van “Misdaad is nie lonend nie” geld lankal nie meer nie, want vir arm, grondlose, hawelose en werklose mense ís misdaad inderdaad lonend. Voeg dan daarby korrupsie in beide die openbare en privaat sektore, georganiseerde sindikate, die invloed van ekonomiese vlugtelinge, ’n toename in gesins- en geslagsgeweld, die rol van alkohol- en dwelmmisbruik, die algemene beskikbaarheid van vuurwapens en skerp voorwerpe, onbetroubare elemente in ons veiligheids- en sekuriteitsinstansies en ’n regstelsel wat onder druk verkeer, dan sit ons met ’n vervlegte kompleksiteit.
Baie van die misdaad en geweld wat nou algemeen bekend is, was alreeds voor 1990 in veral sogenaamde swart gebiede aanwesig, asook in ’n mindere mate in wit stede en dorpe. Apartheid het daarin geslaag om veral wit Suid-Afrikaners in die duister te hou.
Ek het gedurende die vroeë tagtigerjare vir drie jaar in Mdantsane gewerk en op ’n keer die plaaslike Engelse koerant gekontak met nuus van ’n reeks tragiese gebeure gedurende die voorafgaande naweek. Ek is meegedeel dat hul lesers nie in stories van swart mense belangstel nie.
Sedert die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het hierdie insidente nie net bekend geword nie, maar toenemend na ander dele van ons land begin oorspoel en as gevolg van die bogenoemde komplekse faktore onder ’n breë spektrum van ons nasie versprei.
...
Al hierdie “almal” en al hierdie “alles” pleit om wedersydse verdraagsaamheid.
...
Eenders en anders?
As Christengelowige aanvaar en respekteer ek dat mede-Christene die Bybel anders en beter as ek sou kon interpreteer, maar ook dat mense van ander geloofsoortuigings, insluitend van swart-Afrika-gelowe, nie ’n bonatuurlike, bygelowige en mindere geestelikheid, godsdiens of kultuur as ek beoefen nie. Ons is maar almal verskillende mense wat op verskillende maniere glo en leef en wat ook maar almal op verskillende wyses tegelyk goed en sleg is. Al hierdie “almal” en al hierdie “alles” pleit om wedersydse verdraagsaamheid.
...
Al die bogenoemde voorbeelde word deur Afrika-literatuur verhelder, byvoorbeeld in boeke, kortverhale en volkslegendes.
...
Literatuur?
Al die bogenoemde voorbeelde word deur Afrika-literatuur verhelder, byvoorbeeld in boeke, kortverhale en volkslegendes.
Suid-Afrikaanse swart skrywers by wie ek baie geleer het, is onder andere Chigumadzi, Gqola, Hlope, Jordan, Kuzwayo, Langa, Lefanu, Maklwa, Magona, Malepe, Mashile, Mathabane, Mda, Mofolo, Msimang, Mutwa, Ngqobo, Tlabe, Tlale en Wanner. In breër Afrika-verband is daar byvoorbeeld Achebe, Adebayo, Adichie, Aidoo, Chirikure, Dow, Farah, Head, Kandé, Mavanckou, Ngugi wa Thiong’o, Okri, Saadawi, Soyinka en Unigwe. En dan praat ons nie eens van die magdom swart-Afrika-gedigte van oraloor ons kontinent nie.
Al hierdie publikasies is minstens in Engels beskikbaar. Achebe se bekende Things fall apart is ook in Afrikaans vertaal as ’n Pad loop dood.
Die probleem met heelwat wit outeurs uit Afrika is dat hulle oor Afrika en nie vanuit Afrika skryf nie. Baie van hierdie publikasies is, op grond van ideologies-politiese oorwegings, krities-veroordelend en/of onkrities-romanties van aard. En terwyl swart-Afrika-skrywers erns met die Westerse literatuur maak, verskyn daar steeds té veel boeke, kortverhale, volkslegendes en gedigte in Afrikaans en Engels inhoudsgewys net sowel op die maan geskryf sou kon gewees het.
Een van die mees algemene argumente wat aangevoer word, is dat hierdie skrywers beweer dat hulle vanuit hul eie kontekste opereer en vir ’n bepaalde groep teikenlesers skryf. Bestaan hulle, hul lesers en almal van ons dan in ’n lugleegte en nie in Suid-Afrika met sy oorgrote meerderheid swart Afrikane, asook ’n aantal ander volke, nie?
Ligpunte in hierdie verband is Koos en Lucia Oosthuysen, Lisa Granger, Lutz van Dijk, Roger Abrahams, Rian Malan, Stephen Gray en Tinie Swanepoel se werke oor swart-Afrikaïese geskiedenisse, fabels, kortverhale en besinnende opstelle.
Uit eie ervaring moet ek egter hier ’n waarskuwing rig! Ons seun was 12 jaar oud toe hy Achebe se Things fall apart gelees het. Hy is in Polokwane gebore en is in ’n swart-Afrika-omgewing getoë. Hy het ’n kleuter- en laerskool bygewoon waar hy, saam met sy twee susters, op ’n stadium die enigste wit kinders in ’n leerdertal van 498 was. Die onderwyspersoneel en leerders het uit agt verskillende Afrika-lande gekom en het 19 kulture en tale verteenwoordig.
Ons seun het onmiddellik die onderwerp en subtemas van Achebe se boek gesnap, terwyl ek net enkele jare vantevore daardeur moes worstel. Dis was eers toe ons saam gesit en die boek bespreek het dat daar vir my ’n psigososiokulturele lig opgegaan het wat alreeds by hom tweede natuur was.
Sedert die laat negentigerjare en daarna het ek Ben Okri se The famished road, Songs of enchantment, Infinite riches, Age of magic en sy kortverhaal “Prayer for the living” gelees. Aan die begin van hierdie jaar het ek besluit om al hierdie werke te herlees.
Ek moes die eerste hoofstuk van The famished road vier keer oorlees, en daarna het ek dit letterlik sin vir sin aangepak. Eers toe kon ek verder lees aan hierdie en die ander geskrifte. Met ander woorde, ek het die fout gemaak om “groot werke” te probeer verstaan alvorens ek op publikasies op intreevlak gekonsentreer het.
Derhalwe ’n paar aanbevelings:
Bessie Head: Serowe – Village of the rainwind (Botswana); Koos Oosthuysen: My lewe in drie tale (LitNet, Suid-Afrika); Lauretta Ngqobo: And they didn’t die (Suid-Afrika); Lucia Oosthuysen: Dit laat my nie koud nie en ander onthou-stories (LitNet, Suid-Afrika); Lutz van Dijk: Geskiedenis van Afrika (Suid-Afrika); Mark Mathabane: African women (Suid-Afrika); Rian Malan: My traitor’s heart (Suid-Afrika); Sylvie Kandé: In this goddamned messed-up land (Senegal); Tinie Swanepoel: My hart wil Afrika (Suid-Afrika); en Unity Dow: Juggling truths (Nigerië).
...
“Jy moet nooit ophou om jou Bybel en ander boeke te lees nie, maar veel belangriker is om te leer om mense te lees.”
...
Wysheid van die grysheid!
Gedurende my tienerjare was ek by geestelike en gemeenskapswerk in Zwelethemba, net buite Worcester, betrokke. Onder andere kon ek, met die ondersteuning van ’n borg, Bybels en ander boeke teen kosprys verkoop.
Een Sondagmiddag stap ek verby ’n huis waar ’n ouer man op ’n stoel onder ’n koelteboom sit. Hy nooi my in en sê dat hy nie iets gaan koop nie, want hy is ongeletterd.
Hy vertel my toe dat hy nooit geleer het om te skryf en lees nie, maar dat hy ’n man van baie kennis en groot wysheid is. “Want”, het hy verduidelik, “ek gebruik my oë, ore, neus, gevoelens en gedagtes om mense te lees.”
“Jongman,” het hy voortgegaan, “jy moet nooit ophou om jou Bybel en ander boeke te lees nie, maar veel belangriker is om te leer om mense te lees.”
Sedertdien en in die daaropvolgende 56 jaar het ek proaktief probeer om sy advies te volg. Ek het egter ontdek dat hoe dieper ’n mens ten opsigte van mense en sensitiewe kernkwessies delf, hoe meer besef jy dat jy maar nog net op die oppervlak rondskoffel.
Om lewenslank met ’n breë verskeidenheid mense en onderwerpe soos ras, etnisiteit, kultuur, arm mense, die grondkwessie, werkloosheid, korrupsie, siekte en stress, ongelykheid/gelykheid en ander kwessies binne konteks besig te kon wees en te kan bly, was en is ’n besondere voorreg, en daarom ook lewensbevredigend. Maar dis harde werk!
...
Ons kruisies is maar net een aspek van ons land se dinamika.
...
Hoe nou gemaak in die stemhokkie?
Ter voorbereiding:
- Kyk, luister, ruik, voel, dink en lees.
- Vra advies by ons jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 39.
Wanneer jy gaan stem, doen dit so:
- Stem vir ’n land waar almal van ons deel van ’n gemeenskaplike en gelykwaardige gemeenskap kan wees.
- Stem vir die voorreg om al ons mense, met inbegrip van ons onderskeie rasse, etnisiteite, kulture, tale, geestelikhede, gevoelens, denke, doen en late, te aanvaar te respekteer en te verdra.
- Stem vir aanpassings ten opsigte van ons Grondwet, Handves van Menseregte en wette ten einde dit binne-in ons eiesoortige konteks te laat inpas.
- Stem vir arm, grond-, hawe- en werklose mense se menswees, menswaardigheid, behoeftes en belange.
- Stem vir eerlikheid en deursigtigheid en teen korrupsie en toesmeerdery, maar moet asseblief nie dink dat dit noodwendig gaan verander nie.
- Stem vir ’n gesonde nasie en toepaslike, geïntegreerde en effektiewe gesondheidsdienste.
- Stem vir veiligheids- en sekuriteitsleiers wat sonder skroom ons land se misdaad en geweld so goed doenlik hok sal slaan.
- Aanvaar die finale uitslae en gaan daarna voort om te kyk, luister, ruik, voel, dink en lees.
Ons kruisies is maar net een aspek van ons land se dinamika, en die mees sinvolle bydrae wat ons kan lewer, is om ’n beskeie verskil in onsself, ons gesinne, families, woonbuurte, vriendekringe en ten opsigte van noodlydende mense te probeer maak. EE Schumacher het ’n boek oor hierdie kwessie geskryf en dit Small is beautiful genoem.
Lees ook:
Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n lesersindruk oor juridiese perspektiewe
Bruin wees in hierdie tyd: repliek op Jason Lloyd se artikel
Ubuntu en "tegnologiese imperialisme": Gemeenskappe moet hul sê kan sê oor kragvoorsiening
Ubuntu en tegniekfilosofiese risikobepaling: plaaslike kernkragvoorsiening as diskursiewe geleier
Kommentaar
Jy skryf mooi, en ek hou van al die interessante boeke wat jy aanbeveel. Nooit geweet Achebe se boek is in Afrikaans vertaal nie. Lyk of dit ongelukkig onverkrygbaar is op die internet, so met so vinnige soektog. Maar in terme van jou idees ten opsigte van verkiesingspolitiek, is jy ongelukkig baie idealisties. Ek kan nie aan een politieke party dink wat voldoen aan die lysie van vereistes wat jy gemaak het nie. As ek daardie kriteria moet gebruik, dan is daar vir my net een logiese keuse, en dit is ek moet glad nie gaan stem nie.
Waarheid.