
Ubuntu is ’n lewensfilosofie in Afrika wat dikwels tot ’n filosofie van uiterste verdraagsaamheid verromantiseer en verabsoluteer word. Daar is egter ook ’n ander kant van die munt wat dikwels misgekyk word. Net soos in die geval van godsdiens, plaas dit swaar druk op die individu ter wille van die groep wat mense maklik kan uitsluit pleks van insluit.
Hierdie spanning tussen individuele vryheid en gemeenskapsverantwoordelikheid binne ubuntu is iets waaroor daar verlede Vrydagaand by die filosofiekafee in Wellington se Bôrdienghuis by die Breytenbach Sentrum gedagtes gewissel is tydens een van hulle gereelde oop gesprekke.
Met ubuntu in gedagte is daar besin oor die vraag hoe ons met mekaar saamleef as mense wat op vele maniere verskil, maar tog deel vorm van dieselfde kontinent en wêreld.
Hierdie eeue oue maar steeds aktuele vraag is aan die hand van die kerkvader Augustinus se idee van innerlikheid bespreek.

John Enslin en Marianne Kruger, wat die gesprek gelei het. (Foto: Jean Oosthuizen)
John Enslin, wat teologie en filosofie aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, en hom later tot die Rooms-Katolieke Kerk gewend het, het probeer aantoon dat Augustinus, wat ook ’n boorling van die kontinent is, se insigte ons dalk in ’n Afrika- konteks met ubuntu kan help.
Augustinus is gebore in ’n Romeinse provinsie in Noord-Afrika en het sy lewe grootliks in die stad Hippo Regius (vandag Annaba, Algerië) deurgebring. Sy pa was tot laat in sy lewe nie ’n Christen nie, terwyl sy ma, wat ’n baie groot invloed op sy lewe gehad het, die Christelike geloof aangehang het.
Augustinus se sienings oefen vandag nog ’n enorme invloed op die kerk se denke uit. Sommige daarvan, soos sy siening van onder meer erfsonde en seksualiteit, word as besonder eng beskou.
In sy gesprek by die filosofiekafee het Enslin probeer aantoon dat Augustinus se idee van innerlikheid dalk ’n korrektief op ’n te eensydige verstaan van ubuntu kan bied.
“Daar moet iets wees wat tussen ’n oordrewe individualisme aan die een kant en ’n oorheersende kommunitarisme aan die ander kant staan,” sê Enslin. Volgens hom kan Augustinus se insigte hier nuttig wees.
Enslin het in Februarie 1996 by die novisiaat van die Jesuïete-orde aangesluit en twee jaar later sy geloftes afgelê. As Jesuïet studeer en werk hy onder andere in Spokane, München, Boston en Londen. Hy werk ook in Braamfontein in ’n gemeente en later as studentekapelaan aan die Universiteit van Kaapstad. In 2021–2022 woon hy in Bikfaja, Libanon en van daar word hy aangestel as dosent in die filosofie aan die nuwe Arrupe Jesuïete-Universiteit in Harare, waar hy tans werksaam is.
Dit is veral hier waar hy in sy werk met studente gekonfronteer word met die vraag of daar regtig ’n plek in die stam of groep is vir profetiese stemme wat ubuntu kritiseer.
“Sal so ’n profetiese stem uitgewerk word uit die groep, of kan dit wel op ’n manier geïnkorporeer word as bvoorbeeld ’n sangoma wat maar eintlik net dieselfde waardes bevestig, of kan so ’n kritiese stem dalk iets heeltemal nuut bring?” is van die vrae waaroor hy besin.
Van die kritiek wat in die filosofie teen ubuntu as filosofiese konsep en sosiale etiek geopper word, is dat ubuntu die diversiteit en kompleksiteit van Afrika-gemeenskappe en -individue ignoreer. Dit kan tot ’n veralgemening en homogenisering van die Afrikaïese ervaring lei.
Enslin vertel dat van sy studente vanweë hulle ubuntu-agtergrond dikwels voel dat hulle ’n plig teenoor hulle familie en die groep of groter gemeenskap het waaruit hulle stam en dat dit ten koste van hulself geskied.
Dit lei soms tot geweldige depressie, omdat hulle voel hulle het geen rol uit eie reg nie. Hulle plig is primêr om vir die familie te sorg. Innerlikheid het geen waarde nie, omdat die hele familie van hulle afhanklik is asof hulle self geen reg op eie innerlikheid en waarde mag hê nie.
Vandaar die vraag of daar regtig ’n plek in die stam of groep is vir die profetiese stem wat ubuntu kritiseer.
Enslin meen Augustinus se idee van innerlikheid bied dalk wel ’n korrektief op ’n te eensydige verstaan van ubuntu. “Ek wil betoog dat Augustinus se insigte ook hier nuttig kan wees.”
Die gevaar van oordrewe gemeenskapsdruk soos wat Enslin onder sy studente ervaar, is nie tot ’n ubuntufilosofie beperk nie. Dieselfde druk geld ook in kerk- of geloofsverband waar profetiese stemme dikwels uitrangeer word
Net soos wat sommige kritici meen ubuntu plaas te veel druk op individue om aan gemeenskapsnorme en -waardes te konformeer, geld dit ook vir geloofsisteme. Dit kan individuele vryheid en selfbeskikking beperk en tot onderdrukking van individuele verskille en persoonlike uitdrukking lei.
Daar is dus ’n aanhoudende debat oor die spanning tussen individuele vryheid en gemeenskapsverantwoordelikheid binne ubuntu, maar ook elders.
Ubuntu word soms ook geïnterpreteer as ’n etiese raamwerk wat tradisionele genderrolle en hiërargiese sosiale verhoudings ondersteun. Dieselfde met kerke. Dit kan tot diskriminasie van vroue, LGBT+-mense en ander minderheidsgroepe lei.
Sommige kritici betoog dat ubuntu ook diegene wat nie binne die tradisionele norme en waardes pas nie, uitsluit of marginaliseer, wat weer eens ooreenstem met die optrede van die meeste kerke.
Enslin wou weet of daar nie dalk parallelle is tussen ubuntu en ’n benadering waar die kerk voorrang geniet en die individu se identiteit bepaal word deur die groter groep waartoe hy behoort nie. “Die vraag is of daar parallelle is met ubuntu, en is daar iets anders in die denke van Augustinus en sy voortdurende soeke wat miskien ook vir ubuntu kan help as ons voortgaan met ubuntudenke.”
Hoewel dit nie die enigste waarheid is nie, illustreer dit die verskeidenheid van perspektiewe en debatte rondom ubuntu as ’n konsep. Die voortdurende refleksie en dialoog oor ubuntu is dus belangrik om ’n inklusiewe en verantwoordelike verstaan daarvan te bevorder.
Om Augustinus se insigte oor innerlikheid te beskou in die konteks van die debat tussen individualisme en kommunitarisme, bied ’n interessante perspektief in die ubuntugesprek.
Terwyl ubuntu gemeenskapsgerigtheid en die belang van interafhanklikheid beklemtoon, beklemtoon Augustinus die belang van ’n persoonlike, innerlike verhouding met God as die bron van liefde en waarheid.
Augustinus se insigte kan dus ’n teenwig bied teen ’n oordrewe individualisme wat enkel en alleen op die eie behoeftes en belange fokus aan die een kant, maar ook teen ’n oorheersende kommunitarisme wat individuele vryheid en menslike waardigheid kan onderdruk.
So ’n benadering kan dalk bydra tot ’n meer inklusiewe en holistiese verstaan van ubuntu, waarin individuele innerlike groei en gemeenskapsverantwoordelikheid in ’n dinamiese balans saamwerk.
Dit kan ook die idee bevorder dat elke individu ’n unieke en betekenisvolle bydrae het om binne die gemeenskap te lewer, en dat ’n verantwoordelikheid teenoor ander en die gemeenskap voortvloei uit ’n dieper spirituele bewustheid en verbintenis.
Hoewel die gesprek in die Bôrdienghuis waarskynlik meer vrae laat ontstaan het as wat dit antwoorde gebied het, bied die perspektiewe wat geopper is, tog ’n aansporing vir die voortdurende dialoog en besinning oor ubuntu en die betekenis daarvan in die konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing.
Die innerlikheid van Augustus het volgens Enslin die punt bereik waar die innerlike tot uiterlike kom. “Hy sê hy skryf en juis deur te skryf dink hy. Hy leef deur sy skrywe en dit is vir ander mense. Hierdie kommunikasie is dus ’n beweging na buite.”
Die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk, wat ook die gesprek bygewoon het, sê Augustinus is belangrik omdat hy ons vir die eerste keer in ons tradisie werklik laat begin nadink het oor die geskiedenis en oor die rol van verandering en hoe mens oor verandering moet dink.
“Hy is ’n baie belangrike figuur in die Westerse transisie, omdat die twee groot strome van die Westerse kerk in hom ineen loop.”
In die Weste word daar volgens Enslin moontlik soms weer te veel in die rigting beweeg na ’n punt waar die self as die beginpunt aanvaar word, en miskien vergeet ons dat ons almal ingebed is in taal, kultuur en groepe. “As ons dit nie ook raaksien nie, is ons net so blind as wat ubuntu is wat die self negeer.”
Alhoewel die filosofie van ubuntu nie direk met die denke van Augustinus verbind word nie, is daar ondanks die verskille ooreenkomste tussen die twee denkrigtings om oor na te dink.
Augustinus het in sy werke dikwels beklemtoon dat die menslike gemeenskap essensieel is vir die spirituele en morele groei van individue. Hy het ook die belangrikheid van liefde, medelye en sosiale geregtigheid benadruk. Sy siening van die mens as ’n gemeenskaplike wese wat deel is van God se skepping, kan dus ooreenkomste hê met die ubntufilosofie se fokus op die gemeenskap en die verhoudings tussen mense.
’n Ander insig van Augustinus wat met ubuntu verband kan hou, is sy idee van gemeenskap en sosiale verantwoordelikheid. Hy het beklemtoon dat ons almal deel is van ’n groter gemeenskap en dat ons verantwoordelik is vir die welsyn van ons medemens. Dit stem ooreen met die ubuntubegrip van die onderlinge afhanklikheid en verantwoordelikheid wat ons teenoor mekaar het.
Lees ook:
Ubuntu en tegniekfilosofiese risikobepaling: plaaslike kernkragvoorsiening as diskursiewe geleier
Ubuntu en "tegnologiese imperialisme": Gemeenskappe moet hul sê kan sê oor kragvoorsiening


Kommentaar
Augustinus het geglo in die oorgeërfde sonde van Adam en dat die ganse mensdom gevalle wesens is. Net God kan dit regstel deur vergifnis en die soenoffer (propitiation) en boetedoening (expiation). Die mens is dus inherent 'n sondige wese wat verdoem is tot ewige verdoemenis (in die hel) sonder God se magiese ingryping deur Christus.
Dis nou as jy glo daar is 'n God.
Vir nie-tiëste is dit alles 'n sprokiesverhaal en is die mens op homself aangewese en bepaal sy eie heil. Die mens is omvattend goed en wil as 'n kollektief en individueel die beste vir sy medemens gun.
Hierdie ingesteldheid vergestalt in norme en waardes wat die samelewing rig en waarvolgens lede óf inpas of uit voeling is met heersende denke/praktyk.
Myns insiens is die mens die beregter van sy eie heil in samewerking met die gemeenskap waarvan hy deel is.
Dit het niks met gode te doen nie en alles met vereistes van sy medemens.
As jy in China of Afrika grootword, is jy ondergeskik aan die kollektief, en in New York of Houston tel jou individualiteit meer.
Ubuntu is oorheersend kollektief. Ons grondwet maak voorsiening vir beide die gemeenskaplike en die individuele. Die samelewing moet net bykom.
(NS: Teoloë se praatjies maak net sin in sy eie ego-sisteem. Spaar ons asseblief die dogma en pontifikering van hul eiesoortige wêreldbeskouing)
Augustinus was 'n boorling van Afrika. Die gesprek was in die eerste plek nie 'n teologiese gespek nie. Dit was 'n oop gesprek oor ubuntu en die verskillende perspektiewe oor die vraag op wie of wat is die mens aangewese en 'n kritiese beskouiing daaroor.
Dis jammer mens kon nie Martin Versfeld (Oom Tao) se werk en besinning oor Augustinus weer 'aktiveer' nie. Ook opmerklik hoe Augustinus - as mede-Afrikaan, maar ook as randfiguur in 'Afrika' - herhaaldelik in ander oorgange en kontekste opduik as 'merker'! 'n Bravo aan die Filosofiekafee en die sprekers dat julle dit wou aandurf!
Hier moet ons appels met appels vergelyk.
Ubuntu is 'n lewensbeskouing, 'n leitmotief vir 'n lewensstyl tussen mense.
Dis soos Spanjaarde se manana- en siestaleefstyl of die Japanese se respek (San) vir sy medemens.
Dis nie 'n godsdiens of bygeloof nie, maar 'n interpersoonlike en kontraktuele verhouding tussen mense gebasseer op inklusiewe en wedersydse respek.
Daarenteen is teologie van enige aard per definisie uitsluitend.
Dit werk net in jou eie geloofsfeer.
Christelike, Moslem en Joodse teoloë stem ooreen oor bitter min.
As die paneel, byvoorbeeld, oor vooroueraanbidding gedebateer het, sou die teïstiese aspekte heeltemal tersaaklik wees, maar nie Ubuntu nie.
Soos ek sê, teoloë se inherente neiging is om ander vanuit hul eie teïstiese wêreldbeskouing te oordeel.
Niemand het beweer ubuntu is 'n geloof nie. Dit is nie waaroor die gesprek gehndel het nie. Geloof is inderdaad per definse uitsluiend vir diegene wat nie aan die groep behoort nie. Op dieselfde manier kan ubuntu uitsluitend wees teenoor diegene wat nie aan die groep behoort nie en Afrika wemel van sulke voorbeelde.