Ubuntu en "tegnologiese imperialisme": Gemeenskappe moet hul sê kan sê oor kragvoorsiening

  • 0

Kristy Claassen van die Universiteit Twente in Nederland se navorsingsartikel, “Ubuntu en tegniekfilosofiese risikobepaling: plaaslike kernkragvoorsiening as diskursiewe geleier”, het onlangs in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn. Mark Amiradakis van die Universiteit van die Vrystaat gesels met haar oor hoe ubuntu die globale gesprek oor tegnologiese sake kan verruim.

Kristy Claassen (Foto: verskaf)

Kan jy kortliks verduidelik wat jou beweeg het om hierdie artikel te skryf en waarom jy van sowel internasionale denkers (soos Foucault, Stiegler, Taebi en Hui) as plaaslike denkers (soos Ramose en Mbembe) se insigte gebruik gemaak het in jou ontleding van die kernkragvraagstuk in Suid-Afrika?

Die ingrypende veranderinge wat meegebring word deur die tegnologisering van die leefwêreld behoort een van die wesenlike filosofiese vraagstukke van ons tyd te wees. Die rede waarom ek na Nederland verhuis het, was juis om my te verdiep in die dissipline tegniekfilosofie, wat ten diepste met hierdie vraagstuk gemoeid is: Wat is ons besig om tegnologies (of in die naam van tegnologiese vooruitgang) te doen, en wat is tegnologie besig om aan óns te doen?

As ’n Suid-Afrikaner in Europa kom die vraag van die wyses waarop tegniekfilosofie plaaslik gekontekstualiseer kan word, spontaan op. Die Globale Noorde het ’n leidinggewende rol gespeel in die skynbaar onverhinderde vooruitgang van tegnologie (en daarom juis tegnologiese verwoesting), en veral Europeërs worstel met die gevolge hiervan op die mensdom en die omgewing. Die tipies ontwrigtende tegnologieë van ons tyd word grootliks in die Globale Noorde ontwikkel en onkrities buite Europa, ook in sub-Sahara-Afrika, ontplooi.

Sosiale media, kunsmatige intelligensie en biotegnologie is voorbeelde van tegnologieë wat onproblematies in een konteks ontwikkel en sonder skroom na ’n ander verplaas word. ’n Sleutelvraag waarmee ek myself besig hou is hoe hierdie tegnologie beoordeel kan word juis vanuit so ’n “ander” (of plaaslike) konteks, om daarmee te verhoed dat die oorname daarvan nie onkrities (en veral self-onkrities) geskied nie.

In hierdie opsig vind ek inderdaad aansluiting by filosowe uit die Westerse tradisie wat met tegniekkritiese vrae vanuit ’n aksent op die plaaslike besig is. Dit sluit Stiegler, Sloterdijk en Hui in, maar gaan ook wyer na tegniekfilosofiese besinning sedert Heidegger.

Die vraag is dan juis hoe so ’n plaaslike kritiek teen die tegnologisering van die leefwêreld daar sou uitsien. In hierdie opsig beskou ek ubuntufilosofie as ’n waardevolle kritiese meganisme ter besinning oor die waardes wat skynbaar as universeel normatief geag word in die ontwikkeling en ontplooiing van ontluikende tegnologieë. Dit is waarom ek denkers soos Ramose en Mbembe aantreklik vind en hulle voorop stel in my filosofiese evaluering van tegniek, tegnologie en die verhouding tussen die twee.

Die Suid-Afrikaanse kernkragdebat is egter slegs één voorbeeld van die wyse waarop plaaslike kontekste ’n groter rol in sodanige kritiese herevaluasie kan speel.

In die inleidingsgedeelte van jou artikel verwys jy na die soort magsverhoudinge wat intrinsiek deel vorm van die keuse vir en die ontwikkeling en toepassing van ’n bepaalde tegnologie. Daardie magsverhoudinge bepaal natuurlik ook die uitkoms van hierdie proses. Wat verskaf die impetus vir moderne tegnologiese ontwikkelinge, sowel wêreldwyd as plaaslik?

Magsrelasies is inherent aan tegnologie, en die diskoers rondom die verhouding tussen mag en tegnologie speel ’n gewigtige rol in die wyses waarop tegnologie in partikuliere samelewings geëvalueer kan word. Ek verwys wel breedweg na die invloed van magsrelasies in hierdie betrokke artikel, maar dit is ’n vraagstuk wat baie wyer strek en veral vanuit die Suid-Afrikaanse konteks nog veel oordink moet word.

My tersaaklike verwysings in die artikel sinspeel op Yuk Hui se betoog dat tegnologiese ontwikkeling in die Globale Noorde (of sogenaamde Weste) ’n vooruitgangsdiskoers skep (hy noem dit die Global Time Axis, oftewel die Globale Tydskarnier) waarvolgens lande wat tegnologies betreklik onderontwikkeld is, konstant poog om die ontwikkelde lande “in te haal”. Die problematiese gevolg hiervan is dat sowel die kultuur – mense en mense se dinge – as die natuur – die omgewing – uitgebuit word om hierdie opvangproses te versnel.

Daar is dus ’n onderliggende geopolitiese magsrelasie tussen die ontwikkelde en die onderontwikkelde, en ek probeer in my werk om hierdie relasie duidelik uit die verf te bring. Ander problematiese magsrelasies in die ontwikkeling van tegnologieë, onder andere die wyse waarop politieke magsverskuiwinge beïnvloed word deur sosiale media en die publieke ruimte digitaal gefragmenteer word, noodsaak verdere studie (en dit is ook waarom ek op my beurt jou werk in tegniekfilosofie as belangrik ag).

Wanneer jy die verskeie risiko’s wat met kernkragvoorsiening in Suid-Afrika saamhang, ontleed, en jou afvra of hierdie soort inisiatiewe plaaslik ondersteun of afgewys behoort te word, beklemtoon jy dat ongereguleerde vorme van ’n “tegnologiese imperialisme” en “tegnologiese kolonialisme” oral sigbaar is in Suid-Afrika. Waarom is dit die geval?

My fokus is nie soseer op die regulering van sodanige ongereguleerde vorme nie. Alhoewel ontluikende tegnologieë konstant nuwe probleme na vore bring ten opsigte van die regulering daarvan (dink maar byvoorbeeld aan die kompleksiteit van juridiese vraagstukke rondom kunsmatige intelligensie met verwysing na die verskillende vorme van patentereg daarop), is die Suid-Afrikaanse regstelsel heeltemal in staat en gereed om hierdie soort probleme aan te spreek.

My vraag handel eerder oor die risiko’s verbonde aan tegnologiese ontwikkeling. Die ontplooiing van ’n tegnologie in ’n bepaalde samelewing het altyd diepgaande gevolge wat nie noodwendig vooruit bepaal kan word nie. Dit staan bekend as die Collingridge Dilemma: Enersyds kan ons die impak van die betrokke tegnologie nie werklik begryp voordat dit in daardie samelewing ontplooi is nie; andersyds kan daar juis nie verder betekenisvol ingegryp word op die invloed van die betrokke tegnologie wanneer dit reeds wortel geskiet het in daardie samelewing nie.

In hierdie opsig is daar weer ’n magsprobleem voorhande: Ons kan ná die ontplooiing van die betrokke tegnologie eintlik nie verder mag probeer uitoefen op die impak van die tegnologie nie, omdat dit reeds gevestig is en veral omdat die ingrepe sélf op die betrokke tegnologie aangewese sal wees. Om hierdie magsprobleem betekenisvol teen te gaan, is die bepaling van die risiko’s wat ’n ontluikende tegnologie, of nuwe ontwikkelinge of variante van ’n gevestigde tegnologie, noodsaaklik – en so vroeg as moontlik.

Dikwels word hierdie besluite egter resloos oorgelaat aan staatsentiteite of korporatiewe liggame met suiwer winsbejag. Wat ek in die artikel betoog, is dat die gemeenskappe wat die mééste blootgestel word aan die risiko’s van nuwe tegnologiese ontwikkelinge, van meet af aan ’n wesenlike rol behoort te speel in die bepaling van die risiko’s asook die belofterykheid van nuwe tegnologieë.

Is die Suid-Afrikaanse publieke sfeer toegerus om gesprek rondom selfbemagtiging binne tegnologiese kontekste te bevorder wat byvoorbeeld sou kon lei tot ingeligte besluitneming rondom toekomstige kragvoorsieningsvraagstukke, veral ten opsigte van kernkragvoorsiening?

Die gevestigde begrip publieke sfeer is na Habermas filosofies natuurlik diep gelade. Die fragmentering van die publieke sfeer is nie ’n nuwe verskynsel nie, maar word wel verhewig deur die impak van tegnologie. In hierdie opsig is Immanuel Kant se interpretasie van die belang van die publieke sfeer (die Öffentlichkeit) en publieke rasionaliteit (Öffentliche Vernunft) vandag steeds so geldig as in die 18de eeu.

Die diskoers rondom kernkrag behoort teen hierdie agtergrond veel meer aandag in die gewone openbare lewe te geniet, en die diskoers behoort juis dáár bevorder te word. Die Suid-Afrikaanse publieke sfeer het dus ’n wesenlike rol te speel in die voortgaande gesprek rondom kernkragontwikkeling, asook ander vorme van hernubare energie.

’n Sleutelvraag in hierdie verband is watter rol ánder nuwere tegnologieë, soos sosiale media, binne hierdie konteks hoort te speel, aangesien die manipuleerbaarheid van hierdie openbare ruimtes al duideliker word. Verder het ons in Suid-Afrika ook te make met ’n oneweredige verspreiding van tegnologiese middele. Aanlyn onderrig is byvoorbeeld nie vir almal toeganklik nie.

Om jou vraag dus te beantwoord: Die publieke sfeer het ’n groot rol te speel in meningsvorming oor kwessies soos kernkragvoorsiening, maar die nuwere tegnologieë wat hierdie gesprekke bemiddel (en die prioritisering van hierdie digitale soort publieke ruimtes bo die tradisionele diskursiewe ruimtes) is geweldig problematies. Alhoewel die eietydse publieke sfeer dus die indruk van fragmentasie laat, dink ek nie mense verkeer genoegsaam onder die indruk van juis hoevéél mag die publiek steeds het om besluite te help vorm oor wat in hulle gemeenskappe toegelaat behoort word, of nie.

In hierdie opsig is dit belangrik om gebeure soos die Oostenrykse kernkragdebat (die Oostenrykse wetenskaplike en omgewingsaktvis Peter Weish skryf boeiend hieroor) in gedagte te hou. Oostenrykers wat teen die implementering van kernkragsentrales gekant was, het met gewoon alledaagse burgerlike verset daarin geslaag om kernkragopwekking vir dekades halt te roep in Oostenryk.

My betoog in die artikel handel nie daaroor of kernkragtegnologie ’n groter rol behoort te speel in ons samelewing nie, en hanteer selfs nie die meriete van die tegnologie as sodanig nie. Ek lewer eenvoudig ’n pleidooi daarvoor dat die publiek ’n veel groter rol moet speel in besluitnemingsprosesse wat die potensiaal het om onomkeerbare gevolge vir hulle gemeenskappe in te hou.

Kan jy uitbrei oor die rol wat die hoofstroommedia speel in verband met persepsies rakende kernkragvoorsiening (en laatmoderne tegnologie in die algemeen) in terme van sowel die potensiaal daarvan as die probleme wat dit skep?

Die eietydse populêre media is natuurlik ’n dubbelsnydende swaard: Ons het nog nooit voorheen soveel inligting so onmiddellik en so toeganklik tot ons beskikking gehad as vandag nie – en daarom ook nog nooit voorheen soveel fopnuus, disinformasie en openbare verdeeldheid nie.

Wat die kernkragdebat betref, speel genres soos film – sowel dokumentêre rolprente as fiksie – en televisiereekse ’n groot rol in die (oorwegend negatiewe) persepsies van die risiko’s aanwesig in kernkragvoorsiening. Die onlangse Tsjernobil-reeks van Craig Mazin (2019) is ’n goeie voorbeeld: Die funksionering van kernkragsentrales, die verraderlike politieke prosesse daaragter en die risiko’s verbonde aan die bedryf daarvan word meesterlik in die betrokke reeks uitgebeeld.

Tog is die risiko vir kernrampe in werklikheid besonder klein. Met die oog op klimaatsverandering en die aftakelende impak van fossielgebaseerde energie behoort gemeenskappe hulself wel af te vra of kernkrag nie die meer haalbare alternatief is nie. Maar omdat die beelde van Tsjernobil, Foekoesjima en ander rampe so duidelik in ons gedagtewêrelde leef, word die risiko waarskynlik oorskat.

Die eeue oue verantwoordelikheid van die media om onpartydige, akkurate en tydige inligting te verskaf bly in hierdie konteks uiters belangrik, veral wat betref die aanspreek en selfs ontmaskering van diepgevestigde maar ongegronde vooroordele.

Die betoog in jou artikel leun sterk terug na Behnam Taebi se onderskeid tussen maatskaplike aanvaarding en etiese aanvaarbaarheid. Hoe werp die lens van ubuntu lig op hierdie onderskeid?

Taebi, ’n gerekende tegniekfilosoof van TU Delft, wys oortuigend uit dat die verskil tussen maatskaplike aanvaarding en etiese aanvaarbaarheid dikwels onderspeel of selfs algeheel geïgnoreer word. Die aanvaarding van nuwe tegnologiese ontwikkelinge in ’n bepaalde maatskaplike konteks beteken nie noodwendig dat dit eties aanvaarbaar is nie.

Taebi speel op die gapings en oorgange tussen hierdie twee begrippe in, juis in terme van risikobepaling. “Etiese aanvaarbaarheid” beteken dat daar selfbesinning en kritiese (juis ook selfkritiese) nadenke oor die morele implikasies van ontluikende tegnologieë in (uiteenlopende) gemeenskappe behoort te wees; ook al bestaan daar (nog) geen bloudruk of universele kode vir sodanige morele besinning binne ’n bepaalde konteks nie.

Hierdie soort besinning is egter ook belangrik buite die konteks van kernkragopwekking en ander vraagstukke wat met kragvoorsiening verband hou. Die kenmerkend vinnige ontwikkeling van eietydse tegnologieë het die ongelukkige gevolg dat die morele impak daarvan dikwels verbygegaan word – totdat ernstige morele probleme en gevolglik diepe meningsverskille opduik. Die saaklike punt is dat soveel rolspelers as moontlik tot die besinning oor nuwe tegnologieë in ’n bepaalde gemeenskap behoort by te dra.

Ubuntu, as ’n plaaslike, outentieke idioom van kultuurkritiek, beskik oor die vermoë om morele spanninge en teenstrydighede in die ontplooiing van tegnologieë uit te lig wat dikwels oor die hoof gesien word in die oorwegend Westerse kulture waar hierdie tegnologieë ontwikkel word. Wanneer daar byvoorbeeld in ubuntufilosofie op die menslike bestaan as ten nouste gekoppel aan voorafgaande en opvolgende geslagte gefokus word (dit is, Ramose se ontotriadiese antropologie), bemoontlik dit ’n verdieping van begrippe soos “invloed” en “gevolge”, maar ook van “aanspreeklikheid” en “verantwoordbaarheid”.

In die kernkragkonteks is die vraag dan tot waar die huidige geslag se verantwoordelikheid strek wanneer dit kom by die berging van kernafvalstowwe – waarvan die leeftyd veel langer is as die huidige geslag wat hierdie stowwe opgewek het. Sou dit dan moreel aanvaarbaar wees om die “invloed” en “gevolge” daarvan op die skouers van die volgende of ongebore geslagte te laai? Wat ek deur hierdie voorbeeld probeer aandui, is dat die ubunturaamwerk vrae oproep wat nie sentraal staan in die globale diskoers nie en daarom oor die vermoë beskik om die internasionale diskoers uit te brei en te versterk.

Die ubunturaamwerk daag natuurlik ook ons bestaande opvattinge oor die verbintenis met die natuur uit, waar Westerse (uitbuitend-kommersiële) belange skynbaar by verstek as die mees geldige opvattinge aanvaar wil word.

In jou oorspronklike oorweging van ubuntu en tegniekfilosofiese risikobepaling in ’n enkele samehang word dit duidelik dat waar Westerse rasionaliteit die subjekgesentreerde ontwikkeling van die individu vooropstel (meer dikwels ten koste van die gemeenskap en omgewing), ubuntu vir ’n meer insluitende en bykans holistiese, geïntegreerde benadering pleit. Is dit moontlik om hierdie twee skynbaar teenoorstaande perspektiewe byeen te bring?

Dit is nie noodwendig ’n versoening van die twee raamwerke wat vir my van belang is nie, maar eerder ’n kritiek van eersgenoemde.

Die Westerse fokus op individuele ontwikkeling en die vooropstel van die belange van die individu vorm grondig deel van die ongetemde ontwikkeling van moderne tegnologieë. Dít is waarom ons kwansuise “innoveerders” het wat eerder ruimtetoeriste word as om hulself te vereenselwig met die probleme wat ons aarde in die gesig staar.

Dit beteken nie dat Afrika hierdie soort vergrype vryspring nie – ons sien tog ook op ons eie kontinent (en juis ook in die Suid-Afrikaanse politiek) hoe individue hulself bo die gemeenskap stel.

Nietemin bied ubuntu ’n teoretiese raamwerk wat ingespan kan word as ’n kritiese verset teen die ontwikkeling van tegnologieë wat so uitdruklik geskoei is op die belange van die individu. In terme van ’n wyer gaande filosofiese kritiek stel ubuntufilosofie ons ook in staat om die vooroordele wat uit die Westerse erfenis van die instrumentele rede bly voortkom, te ontmasker en te bevraagteken.

Die Cartesiaanse dualisme het die latere Westerse tradisie byvoorbeeld op wyses gevorm wat nie in ubuntufilosofie teenwoordig is of was nie, en in ieder geval ook nie daarmee versoen sou kon word nie. Die dualisme tussen subjek en objek, en daarom tussen die subjek van belewing en die natuurlike omgewing van die lewe, is nie aanwesig in ubuntu nie. Hierdie dualistiese verstaan speel ook ’n groot rol in die vernietigende wyses waarop ons tegnies en uiteindelik tegnologies met die natuur omgaan. Dus laat ubuntufilosofie ons toe om die hierdie ou modernistiese filosofiese oriëntasiepunte te bevraagteken.

Ek het voorbehoude oor die opvatting dat ’n sintese of versoening van die twee perspektiewe die oogmerk van die debat is. Ek verkies daarom eerder ’n volgehoue dialoog tússen die perspektiewe wat as ’n konstruktiewe kritiek van beide kan dien. Ubuntufilosofie het immers self tekortkominge.

Verder kan daar ook kennis geneem word van filosowe soos Michael Onyebuchi Eze van Leiden Universiteit wat betoog dat die individu in terme van ubuntu-oorwegings nie gewoon opgeneem word in die kollektief nie, maar dat daar ’n staande wisselwerking tussen die individu en die kollektief is waar gedeelde of oorvleuelende waardes tussen die twee veel groter voorrang geniet as in Westerse oriëntasies.

Volgens jou ondersoek blyk dit dat ubuntu ’n duidelike onderskeid tussen welsyn en welvaart tref, juis binne die konteks van risikobepalings – en dat welsyn groter gewig dra as welvaart en welvaartskepping. Maar is hierdie twee begrippe in die laatmoderne wêreld van neoliberale kapitalisme nie intrinsiek verweefd nie? En is ubuntufilosofie hoegenaamd in staat om tot so ’n komplekse debat toe te tree?

Ek sou versigtig wees om die waardes van welvaartskepping en welsynskepping onder neoliberale kapitalisme te beskou as “intrinsiek verweefd”.

Eerstens moet ons ons afvra wie die ware bevoordeeldes in moderne neoliberale kapitalisme is. Oorweeg byvoorbeeld die afgelope twee jaar se ekonomiese verwikkelinge gedurende die COVID-19-pandemie. Die aantal “nuwe miljardêrs” het in 2020 rekordgetalle opgelewer, terwyl werkloosheidsyfers ongekende hoogtes ingeskiet het. Daar is wêreldstede soos Los Angeles waar gewone middelklasmense nou letterlik op straat slaap. Die geleenthede vir welvaartskepping blyk dus wesenlik ongelyk te wees, nogal eie aan “ons modernes”.

Dit word ook toenemend duidelik dat ’n kritiek van neoliberale kapitalisme, veral vanuit uit plaaslike en verplaaslikte kontekste, nou van groter belang as ooit tevore is. Ubuntu is slegs één so ’n vorm van ’n plaaslike en verplaaslikte kritiek, en hopelik een van vele meer wat ’n groter rol kan speel in ons verstaan van die verhouding tussen welsyn en welvaart.

Thaddeus Metz stel die skep van rykdom op koöperatiewe wyses tereg bó mededingende wyses as ’n sentrale eienskap van ubuntugedrewe gemeenskappe. Die doel behoort volgens ubuntu nie te wees om rykdom vir onsself te skep nie, maar ter wille van ander (want waar die ander versorg is, is ons self ineens ook versorg).

Ek dink ook dat die gekamoefleerde magstrukture teenwoordig in neoliberale kapitalisme geldige kritiek verdring of dit gewoon internaliseer ter bevordering van die laatkapitalistiese sisteem. Dit is ook nog ’n rede waarom hierdie soort plaaslike kritiek nodig is op meer as een front, waarvan die kernkragdebat slegs een voorbeeld is.

Kan Suid-Afrika se kernkragprogram verruim of ten minste as geldig bevestig word vanuit ’n raamwerk wat sodanig ubuntugedrewe is? Indien wel, wat sou die kriteria in hierdie verband wees? Indien nie, wat sou volhoubare alternatiewe kon wees?

Die ubunturaamwerk kan wel ’n rol speel deur vars oriëntasiepunte aan te bied.

Ek hoop ook dit blyk duidelik uit die artikel dat ek nie in beginsel gekant is teen kernkragvoorsiening nie – hoewel ek lugtig vir enige vorm van kernkragopwekking is. Die berugte kragvoorsieningsprobleme in Suid-Afrika beteken egter dat die debat rondom kernkragopwekking al dringender word. Dialoog wat op ubuntuwaardes gebaseer is, waar die belange van die gemeenskap byvoorbeeld ’n wesenlike rol speel en waar solidariteit met die gemeenskap voorop staan, kan ’n konstruktiewe rol in hierdie gesprek speel.

In terme van kriteria, sou daar byvoorbeeld meer gefokus kon word op die rol van minimum konsensus in stede van rigiede meerderheidsbesluite. Daar is seker alternatiewe vir enige ding onder die son, ook hier. Ten minste sou groter aanvullende klem op opvoeding oor kernkragopwekking en die verantwoordelike verspreiding van inligting oor die voorgestelde implementering van kernkrag geplaas kon word.

Hoe sou die relevansie, belangrikheid en toepaslikheid van die opvatting van ubuntu binne die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap neerslag kon vind?

In die Suid-Afrikaanse historiese konteks is talle van die diskursiewe ruimtes waarin ubuntu voorheen spontaan gefigureer het, uitgewis. Die afgelope twee dekades is daar veel gedoen om hierdie ruimtes te rehabiliteer, onder andere deur politieke figure, die akademie en die media. Maar daar is nog veel meer wat moet gebeur, ook in terme van epistemiese geregtigheid, ten einde hierdie gespreksruimtes as weer rigtinggewend in te rig in ons komplekse en diverse Suid-Afrikaanse samelewing.

Wat my bekommer, is dat Westerse beskouinge, spesifiek oor tegnologie, hegemonies van aard is en dat die invloede daarvan algaande dieper posvat in die Suid-Afrikaanse maatskappy.

Ubuntu is natuurlik nie die enigste manier om hierdie soort plaaslike kritiek van stapel te stuur nie, maar een wat wel met gedrewenheid sterker gevestig kan word. Ek het dus hierdie ervaring van dringendheid, gegewe die hegemoniese globale invloed.

My artikel was ’n poging om die debat rondom kernkragvoorsiening te herbedink in terme van ubuntuwaardes, maar hierdie waardestelling is natuurlik nodig in vele ander sfere en gespreksruimtes: Nogmaals gaan dit om ’n plaaslike verset, waar die waardes van ubuntu op verskillende fronte ’n meer sentrale rol kan speel.

Indien Foucault dit reg gehad het dat “elke samelewing die waansin verdien wat dit toekom”, geld die teenoorgestelde ook seker: Elke samelewing verdien die nugterheid wat dit toekom.

 

Lees Kristy Claassen se LitNet Akademies-artikel hier: “Ubuntu en tegniekfilosofiese risikobepaling: plaaslike kernkragvoorsiening as diskursiewe geleier”

 

Lees meer oor ubuntu in LitNet Akademies:

Remona Voges se Geesteswetenskappe-artikel, “Antjie Krog, gemeenskaplikheid en die behoefte aan interverbondenheid in Mede-wete (2014)

Martin Khoaseb en Christo Thesnaar se Godsdienswetenskappe-artikel, “’n Pastorale benadering van hoop en deernis: ’n Afrikaïese perspektief op die uitdaging van die COVID-19-pandemie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top