
Grafika: Canva
Verskillende generasies gaan anders om met hul plek in die samelewing. Die milieu waarin jy jou bevind, dra ongetwyfeld by tot hoe daar gedink en gevoel word oor jou plek in die samelewing. Hierdie repliek op Jason Lloyd se artikel moet gesien word teen die agtergrond van hoe mense met die kwessie van marginalisering omgaan, debatteer, en hoe dit binne die huidige stand van sake vergestalt word.
In hierdie repliek gebruik ek die woorde “bruin” en “kleurling” half teësinnig. Eerstens versmaad ek dit omdat mense hierdeur gebrandmerk was deur die apartheidsregering; en tweedens omdat nog steeds, teen alle verwagting, dit gebruik word om hulle te kategoriseer – en te marginaliseer. Maar, nadenkend, gebruik ek dit wel, omdat daar met nuwe oë gekyk moet word na wat dit beteken om “kleurling” te wees.
........
Verder moet die kleurlingvraagstuk gesien word as een waarvan die verloop ontspoor het, en dat daar nou, en nie later nie, meer konkrete en realistiese maniere gevind moet word.
........
Die realiteit van bruin wees in Suid-Afrika is gekoppel aan die trajek van bruin mense se politieke realiteit oor die jare heen, iets waarop Lloyd tereg wys met sy historiese blik in sy rubriek. Verder moet die kleurlingvraagstuk gesien word as een waarvan die verloop ontspoor het, en dat daar nou, en nie later nie, meer konkrete en realistiese maniere gevind moet word nie net om hierdie trajek op koers te kry nie, maar om ’n ander rigting in te slaan.
As ’n produk van die tagtigerjare se studentepolitiek was my politieke bewussyn gevorm deur die 1976-generasie wat as onderwysers van die Universiteit van Wes-Kaapland teruggekeer het. Binne klaskamerverband was ons blootgestel aan verbode literatuur soos die Vryheidsmanifes, swart bewussyn, alternatiewe Afrikaans, en die doelbewuste eensydigheid van die geskiedeniskurrikulum. Dit was juis hierdie bewusmaking, wat gestu was deur die South African Council of Sport (Sacos) se slagspreuk dat daar “geen normale sport in ’n abnormale samelewing” kan wees nie, asook die rol van die destydse New Unity Movement wat ons laat verstaan het dat ons nie die masjinerie van ons eie onderdrukking moet bewerk nie.
Ek gebruik die kollektiewe vorm “ons”, maar verwys slegs na dié wie hulself met hierdie waardes vereenselwig het, omdat nie almal so was nie – om Jeanne Goosen se boektitel so ietwat vry aan te haal. Die meriete van die destydse Arbeidersparty se rol voor die totstandkoming van hierdie party se deelname aan die verfoeilike Driekamerparlement, is debatteerbaar, en hul besluit om aan die Driekamerparlement deel te neem het hul geloofwaardigheid ’n groot knou toegedien. Terugskouend het dit juis meer impetus aan die interne verset van ekstraparlementêre bewegings teen apartheid gegee en direk gelei tot die ontstaan van die United Democratic Front (UDF) in 1983.
........
Ek bespeur ’n traagheid om die huidige dilemma waarin Suid-Afrika hom in die breë bevind, en ook die – wat ek glo – georkestreerde marginalisering van minderheidsgroepe is, te dissekteer.
........
Maar die ontbinding van die UDF in 1991 het hierdie aandrif ook ongedaan gemaak. Bruin aktiviste wat in die naam van nierassigheid ’n sleutelrol gespeel het in die UDF, en daarin prominent was, is met regeringsposte beloon. Maar ná 1994 het dit al hoe duideliker geword dat Suid-Afrika nie aan almal behoort nie. Ek is bewus dat dit ’n gelaaide stelling is, maar ’n nuwe aktivisme het sedertdien onder bruin mense begin posvat. Hierdie aktivisme kan juis toegeskryf word aan, soos Lloyd dit noem, die “kru” stelling dat ons “nie wit genoeg was nie, en nou nie swart genoeg nie”.
Die tyd vir mooi broodjies bak is verby. So het politieke korrektheid ook sy tyd gedien. Wanneer die politiek, en hoe dit mense raak, ontplooi in die manier waarop dit tot op hede gebeur het, moet daar ’n kognitiewe ontwaking plaasvind, en is ’n kopskuif noodsaaklik, hetsy deur ’n herontbrande aktivisme op grondsoolvlak, of deur ’n intellektueel gefundeerde gesprek. Laasgenoemde is wat tans ontbreek onder bruin intellektuele. Ek bespeur ’n traagheid om die huidige dilemma waarin Suid-Afrika hom in die breë bevind, en ook die – wat ek glo – georkestreerde marginalisering van minderheidsgroepe is, te dissekteer. Dus stem ek saam met Lloyd dat ’n indringende gesprek rondom sosiale diversiteit nie net uiters noodsaaklik is nie, maar lank uitstaande.
........
Terugskouend, het my besef dat die ANC nierassigheid oorboord gegooi het om net ’n sekere gedeelte van die bevolking te paai, alreeds hier posgevat het.
........
My bewuswording van my unieke plek in die samelewing het juis daartoe gelei dat ek in my meestersverhandeling die rol van bruin aktiviste binne die UDF, en spesifiek in die Uitenhage-omgewing toelig. Terugskouend, het my besef dat die ANC nierassigheid oorboord gegooi het om net ’n sekere gedeelte van die bevolking te paai, alreeds hier posgevat het. Ek noem dit my tweede bevryding. Dit is ook in hierdie tyd waarin my ware intellektuele bevryding begin het en ek besef het dat jy nie aan geykte slagspreuke en argumente kan vashou nie.
Wanneer die sisteem waarin jy jou bevind, ten spyte van ’n progressiewe grondwet, ook die onvermoë en gebrekkige politieke wil toon om daadwerklik die sosio-ekonomiese omstandighede van mense aan te spreek, kan mense nie blameer word as hulle hul plek in die “nuwe” Suid-Afrika bevraagteken nie. Dit is tragies dat dit hierop uitgeloop het. Daar heers ’n sterk gevoel dat die rol van bruin mense in die bevrydingstryd misken word. Die regering word as verraderlik beskou, en hierdie sentimente word gereeld op sosiale media verwoord. Wat hieruit spruit, is die ontstaan van politieke partye en burgerlike bewegings wat uitgesproke is oor bruin marginalisering, veral teen byvoorbeeld arbeidswetgewing soos die Wet op Gelyke Indiensneming, waar bruin mense tot ’n statistiek gereduseer word.
Ten slotte wil ek Lloyd bedank vir sy artikel. Dis insiggewend geskryf en kan as katalisator dien vir ’n oop en eerlike gesprek oor bruin wees in hierdie tyd. Die tyd het aangebreek: die Quo vadis van bruin mense.
Lees ook:
Die effek van marginaal- en hibriedwees op die bruin politieke landskap
Off-centre and out of focus: Growing up “coloured” in South Africa by Nadia Kamies: a book review
Wie is die “bruin mense” en watter taal praat hulle? Repliek op Mercy Kannemeyer