
Grafika: Pixabay
Hier vlak voor Suid-Afrika se maak-of-breek-verkiesing sou dit heel veilig wees om weer – soos ek sedert my studentedae doen – terug te keer na wat ek die “saak van die bruin mense” noem.
Of miskien, om dit verder weg van my eie lyf te beskryf, kan dit liewer soos volg gestel word: Daar is reeds lankal ’n ontluikende debat en gesprek oor wat losweg beskryf kan word as “die kwessie van die bruin mense”.
Wat dié kwessie betref, is daar gewoonlik twee menings in die bruin gemeenskap.
Vanuit die werkersklas kry ons gewoonlik die effense kru beskrywing van “eers was ons nie wit genoeg nie, nou is ons nie swart genoeg nie”.
Op hul eie, meer verfynde wyse is daar ’n baie klein en kwynende intellektuele groepie wat wel uitdrukking gee aan ’n gevoel dat daar in mindere of meerdere mate vernalating en afskeping van dié gemeenskap is.
In ’n samelewing so divers en kompleks soos ons s’n wat homself probeer vind en herdefinieer ná ingrypende politieke omwentelinge, is enige indringende en ernstige gesprek oor sosiale diversiteit en die akkommodering daarvan belangrik.
Met die aanhoor van die gesprekke rondom braaivleisvure, in die hoofstroommedia en op sosiale media word jy herinner aan al die studies, besinnings, besprekings en beplanning rondom wat op ’n slag die Kleurlingvraagstuk genoem is.
Die apartheidbeplanners, byvoorbeeld, het gedurig met die hande in die hare gesit oor hoe om hierdie heterogene versameling mense tot vatbare homogeniteit te teoretiseer sodat hulle kon inpas in die afsonderlikheidsraamwerk – want almal was destyds veronderstel om ’n identiteit van afsondering te hê om gestalte en eksistensie te gee aan “eie-sake”-administrasies.
.......
Daardie marginaliteit, word in baie van die studies aangevoer, is nie slegs ’n funksie van hoe hulle van owerheidsweë en deur ander behandel en benader word nie, dit is ook ’n uitdrukking van selfdefinisie, in soverre daar sprake van ’n kollektiewe definisie binne soveel uiteenlopendheid kan wees.
.......
In een stadium is die konsep van “’n volk-in-wording” bedink in ’n poging om die vloeibaarheid van hierdie kategorie te hanteer.
Daar is ’n aantal klassieke studies oor hierdie bevolkingsgroep waarin hul sogenaamde marginaliteit beklemtoon word. Daardie marginaliteit, word in baie van die studies aangevoer, is nie slegs ’n funksie van hoe hulle van owerheidsweë en deur ander behandel en benader word nie, dit is ook ’n uitdrukking van selfdefinisie, in soverre daar sprake van ’n kollektiewe definisie binne soveel uiteenlopendheid kan wees.
Na dié gemeenskappe wat hierdie bevolkingsgroep uitmaak, het wyle Allan Hendrickse, leier van die toenmalige Arbeidersparty (AP), verwys as ’n geroerde eier wat nie ontroer kan word nie. Hendrickse het gevolglik gevra hoe ontroer ’n mens ’n geroerde eier.
Soveel so dat Hendrickse in 1992 op die AP se jaarkongres in Port Elizabeth wyle Dougie Josephs, toe nog AP-parlementslid vir Riversdal, gerepudieer het omdat hy sou gesê het die AP moet hom beywer vir ’n geografiese federasie van state (in ooreenstemming met dié party se jaarkongres-besluit in 1985 wat ’n eenheidstaat verwerp het), ’n bruin oorheersde staat in die Wes-Kaap en ook dat die party meer klem op bruin etnisiteit moet lê.
Hendrickse, sy seun Peter (toe nog AP-parlementslid vir Addo) en wyle Miley Richards, destydse onderleier van die AP, het met mening teruggekap en enige bruin mobilisering as rassisties en onaangenaam afgemaak.
Die eerwaarde het onder meer gesê bruin mense het nie ’n eie taal of kultuur nie – die vereistes vir etnisiteit. Daarom is daar nie ’n bruin etnisiteit nie en is dit dus rassisties om van bruin mense te praat.
Die “bruin mense”, “Kleurlinge”, “kleurlinge”, “Coloureds”, “coloureds” is dié oor wie daar waarskynlik die maklikste veralgemeen en gestereotipeer word, soms selfs ook uit “eie” geledere.
Daarmee bedoel ek nie dat Hendrickse doelbewus ongevoelig en afbrekend was teenoor die vrese, doelwitte, aspirasies en die komplekse identiteit van bruin mense nie, maar dat hy binne die konteks van sy tyd beoordeel moet word. Konteks is begrip en begrip is konteks.
Bedoelende Hendrickse se linkse swartbewussynsdenke en nie-rassige ingesteldheid. Dit is iets eie aan die links-politieke en intellektuele ingesteldheid van die Oos-Kaapse bruin gemeenskap, die bakermat en blomtuin van bruin intellektuele denke in Suid-Afrika. Oos-Kapenaars soos Jakes Gerwel, Neville Alexander, Franklin Sonn, Dennis Brutus en selfs David Curry is produkte van dié denkskool.
Terloops, in ’n reeks onderhoude met my as ’n toe nog penkop-joernalis oor landsake en die saak van die bruin mense, het ’n toe afgetrede Hendrickse sowat ’n jaar voor sy dood by sy huis op Uitenhage ernstige kommer uitgespreek oor die “vernalating en afskeping” van die bruin mense. ’n Saak, soos hy dit gestel het, wat hy telkemale met oudpres Thabo Mbeki en die Oos-Kaapse ANC sonder enige sukses bespreek het.
Dus enige ontkenning van Hendrickse se linkse struggle-rol, sy bevordering van die outentieke begrip van swartbewussyn soos Steve Biko dit oorspronklik bedoel en geartikuleer het, sy verstaan en bevordering van die begrip nie-rassigheid en die historiese bedoeling daarvan en sy politieke gevangenisskap in 1976 in Grahamstad, sou op sigself ’n neerbuigende, gruwelike miskenning wees van wie en wat Hendrickse was, asook van sy eie struggle.
........
Hierdie ingesteldheid van marginaal- en hibriedwees in die bruin gemeenskap is nie, soos soms aangevoer word, bloot uitdrukking van ’n negatiewe selfbeeld nie. Dit is ook ’n viering van vry wees van die opgelegde las en vloek van homogene groepsidentiteit.
........
Hierdie ingesteldheid van marginaal- en hibriedwees in die bruin gemeenskap is nie, soos soms aangevoer word, bloot uitdrukking van ’n negatiewe selfbeeld nie. Dit is ook ’n viering van vry wees van die opgelegde las en vloek van homogene groepsidentiteit.
Ironies genoeg is hierdie ryke mosaïek van mense en gemeenskappe wat losweg as Coloureds / coloureds deurgaan, onsuksesvol om hulle op die politieke toneel as ’n effektiewe groep te organiseer, te vestig en te laat geld.
Vanaf die aanneming van Ordonnansie 50 in 1828 tot die verwydering van die bruin mense van die Gemeenskaplike Kieserslys in 1956, die totstandkoming van die Verteenwoordigende Kleurlingraad in 1969, die stigting van die AP deur wyle Richard van der Ross in 1965, die wording van die Driekamerparlement in 1984 ingevolge die 1983-grondwet, die totstandkoming van die United Democratic Front (UDF) in 1983, die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika in 1994 en die misbruik van die bruin mense as stemvee deur die ANC, NP, NNP en nou die DA kon die bruin mense nog nooit daarin slaag om as ’n eenheid op die politieke toneel hul krag en invloed te wys nie. Huidige tendense toon dat dié situasie nie in die nabye toekoms gaan verander nie.
In die Noord-Kaap waar bruin mense lankal hul meerderheid afgestaan het aan swart mense en ook in die Wes-Kaap waar bruin mense se getalle tot onder 50% gedaal het, blyk daar nie enige hoop te wees nie. Gesaghebbende wetenskaplike studies wys ons daarop dat swart mense teen 2030 die meerderheidsgroep in die Wes-Kaap gaan word.
Hoe kom ons egter agter die kap van die kompleksiteit van bruin gemeenskappe? Die gemeenskappe wat hierdie bevolkingsgroep uitmaak, is juis van die mees diverse in ons land en ’n wetenskaplik-gegronde begrip daarvan kan slegs tot ons algehele begrip bydra. So ’n klein bietjie intelligente wetenskap kan dalk net help om groter helderheid te bring. So kom ons begin so ’n wetenskap-gefundeerde studie.
Kommentaar
There has never been a "coloured" leader like Allan Hendrickse. Even Pieter Marais, Allan Boesak and the likes are not like him. Only there for self gain? They sold us out to the white colonizers and black neo-colonisers.
Jason Lloyd skryf sonder begrip. Sy skrywe is 'n gruwelike mistasting van die konteks van bruinmense se historiese oorsprong.