Wie is die “bruin mense” en watter taal praat hulle? Repliek op Mercy Kannemeyer

  • 7

Bradley Slade is dosent by Departement Publiekreg aan die US. Hy reageer op Mercy Kannemeyer se onlangse bydrae op LitNet.

Alhoewel Mercy Kannemeyer erkenning gee aan Afrikaans se bagasie en die noue band tussen die taal en die onderdrukker, skryf sy nogtans: “Maar ek het gehoop dat die Universiteit Stellenbosch as een van die vier tersiêre instansies in die Wes-Kaap Afrikaans sou beskerm om die ontwil van die meerderheid bruin sprekers, in wie se hande die taal lê, in die provinsie.”

Lees Mercy Kannemeyer se volledige meningstuk hier:

Kannemeyer skryf oor hoe die US se 2016-taalbeleid die universiteit herkoloniseer (in stede van dekoloniseer en transformeer), en hoe die Konstitusionele Hof se uitspraak in Gelyke Kanse v Chairperson of the Senate of Stellenbosch University die Afrikaanse taalgemeenskap in die rug gesteek het. Mercy skryf uit die oogpunt van ’n bruin vrou wat tans haar meerstersgraad aan die universiteit in Afrikaans skryf. Ek skryf, net soos Mercy, in my persoonlike hoedanigheid as ’n sogenoemde bruin man wat voorgraads in Afrikaans studeer het, maar twee tesisse in Engels geskryf het, en tans ’n dosent is in die Departement Publiekreg aan die US. Laasgenoemde kan redelik baie te kenne gee, gegewe my kollegas en my fakulteit se positiewe bydrae tot die verandering en ontwikkeling van die nuwe taalbeleid. Maar uit die staanspoor het ek my redelik gedistansieer van die taaldebat in die universiteitsgemeenskap, en om verskeie redes. Een van die hoofredes was dat daar ’n argument gemaak was wat nie gemaklik met my gesit het nie; dit was die feit dat sekere van die vegters vir die behoud van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal gerieflik die bruin mense (as ’n homogene groep) gebruik het om vir die beskerming van Afrikaans by die US te argumenteer. Sommiges het geargumenteer dat die bruin mense benadeel sou word indien Afrikaans as onderrigtaal by die US verdwyn. As ’n bruin persoon was ek glad nie ingenome met hierdie argument, of met diegene wat hierdie argument gemaak het nie.

Om bruin mense te gebruik in ’n argument vir die beskerming van Afrikaans by ’n tersiêre instelling wat hul in die verlede uitgesluit het, tas bruin mense se menswaardigheid aan. Laat ek verduidelik: Die gebruik van bruin mense om vir die behoud van Afrikaans as tersiêre taal te argumenteer, misken (soos die onlangse artikel oor die kleurlingvrou se kognitiewe bekwaamheid) die diversiteit van bruin mense. Daar is bruin mense wat nie ’n woord Afrikaans kan praat nie. Daar is bruin mense wat ’n baie mooi Afrikaans praat, maar baie min tot geen Engels nie. Dan is daar mense soos ek, wat in my eie familie en breër gemeenskap ’n ander Afrikaans praat – noem dit Kaaps, Afrikaaps, Mengels of wat ook al. Hierdie taal wat ek praat, is nie die taal wat by my werksplek gepraat word en waaroor so baklei word nie. Ek sê dit, want ek moes al vanaf graad 1 my aksent en sinsbou aanpas as ek my Afrikaanse laerskool se hek binnegestap het. Ek doen dit steeds (alhoewel aansienlik minder) as ek by die Ou Hoofgebou op Stellenbosch-kampus se deure instap. Ek pas ook my aksent aan as ek voor ’n klas staan en in Afrikaans doseer. Die taal waarvoor geveg word, is dus nie ’n taal wat alle bruin mense gebruik nie – bruin mense soos ek gebruik dit net op sekere tye, op sekere plekke.

Ingeweef hiermee is die marginalisering wat ek byvoorbeeld as ‘n “Afrikaanssprekende” ervaar (aansienlik minder as vyf jaar gelede) in ’n universiteitsgemeenskap wat tot onlangs die meeste vergaderings en seremonies ook in Afrikaans gedoen het. Daar is heelwat stories van bruin mense (ek inkluis) wat al tereg gewys was deur ’n ouer Afrikaanssprekende kollega omdat ek óf ’n Engelse woord in ’n Afrikaanse sin gebruik het, óf die verkeerde Afrikaanse term/woord gebruik het. Die teregwysing, in die teenwoordigheid van ander, dui daarop dat die taal wat ek praat, die taal wat my ma my geleer het, nie die Afrikaans is wat deur die ouer Afrikaanse kollega gepraat word nie, en dus nie die taal is wat nou beskerm moet word nie, maar tog word die bruin mense as ’n geheel gebruik om vir die behoud van dié Afrikaans by die US te argumenteer. Hoe is dit nie ’n totale miskenning van’n ander persoon se menswaardigheid nie? Alle bruin mense praat nie dié taal waaroor baklei was nie. Dit lei ook daartoe dat sekere persone met ’n dun vel hulself onttrek van die universiteitsgemeenskap deur nie deel te neem aan belangrike diskoerse nie, wat tog teen transformasie tel. En dit kan tog nie die rol van ’n publieke universiteit in die nuwe Suid-Afrikaanse samelewing wees om ’n taal te beskerm ten koste van die marginalisering of uitsluiting van enige ander persoon nie.

Afrikaans sal nog lank lewe, en tereg. Ek praat Afrikaans (oftewel, my weergawe daarvan) as ’n eerste taal. Ek praat my Afrikaans met my kinders (basta met my ou kollega), en hulle gaan na ’n Afrikaanse skool. Ons luister na die meeste Afrikaanse sangers (van hulle sing ook maar snert). Maar, ons lewe in ’n samelewing waar daar nog te veel ongelykhede is, en veral ongelykheid in toegang tot sekere instellings wat persone in staat sal stel om die vergrype van die verlede reg te stel. En net soos ’n universiteit nie persone kan uitsluit ten einde ’n spesifieke taal te beskerm nie, kan ons as individue nie aandring op onderrig in “ons” taal, op watter vlak ook al, ten koste van uitsluiting of vervreemding van ander nie.

Lees ook:

 

  • 7

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Genade mnr. Slade, waar kom u daaraan dat mense Afrikaans ten koste en tot uitsluiting van Engels of dan ander tale wil gebruik.

    Met respek, u dwaal.

  • Dankie, Bradley, vir jou bydrae tot Mercy se pleidooi want dis die soort argumente waarmee die "burgerlike gemeenskap" van die US sal moet werk om Afrikaans vir ons almal daar lewendig te hou.

    En tot troos: dis nie omdat jy bruin is dat jou ouer Afrikaanse kollegas jou korrigeer nie. Dis dalk omdat hulle nog die vrymoedigheid en geloof het in jou as jonger mens. Want wat se mens nou vir 'n sanger wat op Kyknet TV verklaar wat "'n amazing experience dit was om die journey aan te pak met die nuwe elbum tot gevolg" en so voort.

    Hou asb. die blink kant bo in die suide.

  • Hans Richardt

    Afrikaans sluit meer in, as wat Bradley beweer. Lord Alfred Milner se berugte rassisme was gebaseer op almal wie nie Engels en Engelse kultuur bemeester het nie.
    As jy WIL in Afrikaans studeer, is bv Akademia oop vir jou ook. By Akademia gaan dit tog oor taal.
    Bradley, in Genadendal word wit en ander etniese groepe tog uutgesluit opgrond van affiliasie in kerk en familieverband. In Nkhandla en Nongoma opgrond van herkoms, vel, taal en kultuur, vind uitsluiting plaas. Geen haan kraai ooit in media of sosiale media oor hierdie tipe uitsluiting nie.
    Bradley, waarom net obsessie met wit Afrikaners, wie selfbestuur wil doen?

  • Berdéhan Brand

    Dankie vir die artikel. *Die marginalisering onder Standaarafrikaanses kan gerus ook aangespreek word.

  • Barend van der Merwe

    Jy maak baie goeie punte en nuanseer die saak baie goed. Daar is geen maklike antwoorde met hierdie saak nie.

  • Johannes Comestor

    Die argument dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US ter wille van bruin studente behoue moet bly, irriteer my ook omdat Afrikaanssprekende blankes in dieselfde of groter mate Afrikaans as onderrigmedium begeer. Maar daar is 'n onderliggende dislojaliteit teenoor Afrikaans in Slade se betoog. Dit is hierdie gesindheid wat veroorsaak het dat Afrikaans as onderrigtaal feitlik sonder protes aan die Universiteit van Wes-Kaapland afgeskaf is. Dieselfde is besig om aan die US te gebeur, maar darem te midde van meer protes.

  • Leonora Ferreira

    Ek wonder nou: is daar net een Engels? My Ooskaap Engels werk daar goed, kom ek in die Weskaap slaan mense oor na Afrikaans as ek begin Engels praat ( al kan ek hoor hulle moedertaal is nie Afrikaans nie). Dan is daar die Engels van die res van die hele wye wêreld. Dis veral by ‘n akademiese inrigting waar ek graag, op verskeie vlakke, reg gehelp wil word

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top