Waar staan die bruin mense as die meerderheid sprekers van Afrikaans ten opsigte van die posisie van dié taal in postapartheid Suid-Afrika?
Waar staan Andrew Koopman as redakteur van Son en Son op Sondag en Kay Karriem as redakteur van Kuier en hul redaksies as die enigste Afrikaanse publikasies wat spesifiek op die bruin mark gerig is?
Waar staan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK)?
Waar staan ander invloedryke meningsvormers in die bruin gemeenskap?
Dié vrae is betekenisvol en moet gevra word veral teen die agtergrond waar Afrikaans die laaste tyd onder geweldige politieke druk verkeer.
Die uitreiking van die video Luister, waarin swart studente kla oor rassisme by die Universiteit Stellenbosch wat glo gepaard gaan met Afrikaans as onderrigtaal aan dié instelling het die druk verder op Afrikaans geplaas. Ook by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit stamp wit Afrikaanssprekendes en die nuwe swart rektor, Dan Kgwadi, gereeld koppe oor wat wittes noem die afskaling van Afrikaans as ʼn volwaardige onderrigtaal by dié instelling.
So raak wit en swart so verstrengel in ʼn heen-en-weer-moddergooiery dat dit moeilik is vir enige buitestander om die ware feite van dié vieslike twis te verstaan.
Nou hoe raak dié gekibbel oor Afrikaans die bruin mense? Ons wat gereeld in die verlede aan dié debatte deelgeneem het, is geneig om te sê bruines het nie die luuksheid om aan taaldebatte deel te neem nie.
Wanneer die Departement van Basiese Onderwys die volgende sê moet bruin mense egter baie bekommerd word: “Afrikaans is nie ʼn taal wat voorheen benadeel is nie en kry daarom nie voorkeur vir onderwysbeurse nie.” Dit was die verduideliking van dié departement ter regverdiging vir die vereistes om te kwalifiseer vir Funza Lushaka-beurse vir grondslagfase-onderwysers.
Dit is verpletterende nuus vir voornemende arm bruin onderwysstudente wat gehoop het op ʼn staatsbeurs.
Toegegee, enige gesprek oor Afrikaans is ʼn gelaaide onderwerp wat vanselfsprekend ou paradigmas en sentiment opdiep.
Historiese taalfoute wat in die naam van of met Afrikaans gepleeg is, roep ou herinneringe en weemoed by swart mense op. Die departement het dus ʼn punt beet wanneer hulle sê Afrikaans is ʼn bevoorregte taal – maar dis net wanneer dit by sy wit sprekers kom. Afrikaans se meerderheid bruin sprekers is deur hul wit taalgenote onder apartheid verdruk en het geen aandeel gehad in Afrikaans as die sogenaamde “verdrukker se taal” nie.
So, hoekom kan voornemende bruin Afrikaanssprekende onderwysstudente as slagoffers van apartheid nie onderwysstaatsbeurse kry nie?
Die tyd het aangebreek dat bruines moet opstaan vir hul taal Afrikaans. Nie om Stellenbosch wit te hou nie, maar om dit te transformeer tot voordeel van alle Afrikaanssprekendes. Ons kan nie meer sê die saak van Afrikaans is ʼn luuksheid en daarom kan bruines nie daaraan deelneem nie.
Ek bedoel nie bruines moet teen die regering opstaan nie. Nee, bruines moet die ware nierassige geskiedenis van Afrikaans vertel. Vertel dat Allan Boesak, Franklin Sonn, Jakes Gerwel en andere die stryd teen apartheid in Afrikaans gevoer het. Dat Zelda Jongbloed, Melvin Whitebooi, Adam Small en andere in Afrikaans teen apartheid geskryf het.
Bruines het dus ʼn reg dat hul taal Afrikaans soos dit in die Grondwet verskans is, beskerm word en dat hulle in hul taal opgevoed kan word.
Bruines moet besef taal is nie net ʼn middel tot kommunikasie nie. Dit is ʼn draer van identiteit en waardes. Ook van kultuur en van menswees.
So, wie is die bruin leiers wat die departement gaan nader en daarop gaan aandring dat voornemende bruin onderwysstudente vir die Funza Lushaka-beurse in aanmerking kan kom?
Kommentaar
Afrikaans word tans glad nie van owerheidsweë bevoordeel nie. Om te pleit dat bruin mense Afrikaansbeurse moet kry en nie blankes nie, is rassediskriminasie.