Hoekom klou ons so aan coloured identity?

  • 9

Hoekom klou ons mense dan so aan identiteit wat nooit ons s’n was nie? Hoekom klou ons so aan identiteit wat create was om ons te frustrate, wat ons sê ons is en sal niks bly nie? Die middelmense, wat kom uit die vermenging, verbastering van wit en swart, kleurling. Gekleurde ding, bruin mens, verskeurde gemengde ras.

’n Soort van Stockholm-kompleks, waar ons eintlik dit wat ons seergemaak het en nog steeds seer maak, wat honderde jare van seermaak veroorsaak het en steeds verarming en verwarring saai onder ons mense, beskerm, voor baklei. Klou ons ook aan daai identiteit want ons het darem iéts gekry? Al was dit krummels?

Ek hoor toe nou van xenophobia en homophobia en besef daar’s iets soos KhoeSanophobia of vrees om associate te wees met KhoeSan of dat jou mense Boesmanne is. Dis ook die prejudices wat ons kry van ander, maar is tog die internalised wat die meeste skade veroorsaak.

Ek onthou juis hoe ek ’n tyd gelede vir ’n vrou gesê het sy is ’n pragtige KhoeSan-vrou en ek die lelikste knop gevloek was en sy my daarna geblock het. Maar tog, as ek gesê het sy lyk soos ’n pragtige Cape Malay of Indiër, sou sy ook so gereageer het? Sekerlik nie, maar ons kan nie net ons mense blameer vir die voortdurende selfhaat van ons voorouers en die sistemiese erasure van wie ons is nie.

Die prente en woorde wat gebruik word om ons KhoeSan te definieer was nooit opbouend nie.

Onthou ek die lelike uitstalling by die Kaapse museum, wat ons soos klokslag elke jaar gaan besoek het, asof dit die enigste museum in die Kaap was, of was dit die enigste museum wat ons kon besoek het?

Dan betaal ons almal ons R5 vir die double-decker bruin Golden Arrow-bus, aanmaakkoeldrank en tien sent chips op pad na die museum.

Dan bespot ons eie mense, ook van ons onderwysers, altyd die uitstalling en ek kyk ook wie in ons klas “lyk” soos die uitstalling, wie se oumas en oupas lyk so.

Ek bly maar stil, want my ma is immers van Graaff-Reinet. Ek het familie wat lyk soos die uitstalling en hier word hulle dan nou so bespot. Maar die slegste is dié wat sekerlik lyk soos die uitstalling, wie se hare “getel” kan word. Hare is mos bitter belangrik in die coloured communities – jou social currency soos dit genoem word – en waar kom daai prejudice toe vandaan?

Dit kom van ander slawe sê afstammelinge af. Ander slawe wat hier gebring was wat gesê was dat die inheemse gemeenskappe lelik en dom was en die inheemse gemeenskappe was gesê kyk hoe mooi is die mense met hul sagte hare en mooi figure, kyk hoe civilised is hulle.

En hier was ons mense wat net die natuur ken, gecompare teen die slawe. Hier was ons die barbare genoem?

En dan lees ek in die 1967 SA Ensiklopedie die woorde wat gebruik word om Kaapse Maleiers en KhoeSan te vergelyk: toegewyd, hoogs betroubaar, wetsgehoorsaam en hoë morele standaarde vir die Maleise gemeenskap en vir ons “aggressief, minder eerlik, onvriendelik” is die dinge wat ons dan vertel word in die boek. En vandag leef die prejudices voort in die KhoeSanophobia en het tog ’n impak op ons op ekonomiese, sosiale, sielkundige vlakke. Kyk maar hoeveel KhoeSan studeer by universiteite teenoor hoeveel is in tronke? Maar ons en die systeem verkies mos om ons te sien as coloureds? En hoe word sin gemaak van hierdie vlakke van onderdrukking as daar die onderdrukking-label gebruik word om sin daarvan te maak?

Kleurling, gekleurde ding, geïdentifiseer deur iets so random soos ’n kleur. En tog by definisie is die hele land, eintlik die hele wêreld, dan nie kleurlinge of gemengde ras nie? Wys my tog een egte ras? Een ras wat kan claim dat hulle volbloed is? Daar bestaan nie so iets nie. Nie in Suid-Afrika waar vir honderde jare groepe van regoor die wêreld hulself kom tuis maak het nie. En dis tog iets goed, maar dan hier in Suid-Afrika word ons KhoeSan eintlik geforseer om te glo ons is die mixed race, ons is die verbastering en vermenging. Dat ons nie eintlik KhoeSan identity kan eien nie. Dat ons die trifle identiteit is. Trifle is poeding met alles in en jy kan ook nooit dit geniet nie want jy weet nie wat jy geniet nie? Dat ons ook die boks Choice Assorted biscuits is, daai biscuits wat ons eintlik mos net kan afford Krismistyd, waar alles in ’n boks is, maar jy ook niks geniet nie want daar’s alles. Tog sê niemand vir ander rasse of etniese groepe wat ook almal vermeng is dat hulle gemeng is nie – nee, hulle vat een identiteit en baklei daarvoor. En explain dit hoekom ons in die coloured identiteit reputation het van draadsittery, want vir watter identiteit baklei jy tog? Vir die 3% Europese bloed, vir daai oupagrootjie van Engeland wat julle nog nooit gesien het of wie nooit vir julle sal erken nie?

En dan praat ons van coloured culture.

Wat is dit tog, dié coloured culture?

Klopse, beach toe op Nuwejaarsdag, liggies gat kyk aangesit word, tekkies, confirmations, ideologies soos “Dis fokkol is festive” waar ons eintlik onsself permission gee om ons geld te mors op drank? Waar ons die eeue oue dopsisteem self voorsit.

Is ’n hartseer, diep saak. Ons is mense sonder identiteit? Sonder wortel? Gewaai deur wind, sonder anker.

En dan om soos iets te voel, om te voel ons behoort, koop ons dure name brands, Jordans van R3 000, want dan voel ons ook mos kwai. Maar kyk, ons besit nie daai takkies brands nie. Ons besit nie die Sportscenes of American Clothing nie.

Mense op soek na wie ons werklik is? En die labels wat ons moet soek is dié wat geld nie kan koop nie. Maar ons is óf te bang óf te skaam.

En tog is daar ignorance oor hoe ons kleurlinge genoem was? Onbewus dat die naam maar die ander dag ontstaan het. Dat ons voorouers gedwing was om hierdie kleurlingidentiteit te aanvaar, dat voor dit, was daar gepraat van die Hottentotte of Boesmanne en skielik kom daar die kleurlingidentiteit.

Volgens die Bevolkingsregistrasiewet nr 30 in 1950 was ons toe as kleurlinge klassifiseer.

Dan sê die dame my uit die bloute die ander dag “julle kleurlinge” en ek’s like “hou die lorrie, stop die bus. Die Metrorail gaan nêrens, want die kabels is gesteel en ek gat nog nooit dat jy of enigeen vir my bestempel as kleurling nie.” Ek maak dit toe duidelik ek is KhoeSan en ek weet my komvandaan, my mense, my kultuur. En sy kyk my aan, groot oë soos lorrieligte, stom geslaan oor my trots as Boesman se kind. Dis immers wat ek hier op die Cape Flats gehoor het toe ek opgegroei het. Dat my ma ’n “Boesman” is en wat het dit tog gedoen aan my menswaardigheid, aan my persepsie van my ma, van waar sy vandaan kom, van hoe my familie klink as hulle kom kuier van die platteland. Om dan hulle te deny as mense in die community vra: “Nou wie is dié mense, hoekom klink hulle dan nou so snaaks?” en dan vra jy hulle liewers om in die huis te bly of jy bid dat hulle so gou moontlik huis toe gaan.

En dan steeds na die pynlike jare lange vernedering soek ons dan nog comfort in die coloured identity want ons is mos almal coloureds, maar jy besef op werkersklas, in arm gemeenskappe waar ek vandaan kom is dit so, maar sodra jy die trappe van ekonomiese klasse probeer klim, is daar niks comfort in coloured nie, dat sekere groepe binne die coloured communities eintlik baie meer weet van waar hulle vandaan kom as wat ons weet. Dat hulle neerkyk op ons. Dan moet jy soek. Tog, baie besef nie hulle moet soek nie.

Snaaks genoeg begin baie van ons soek in museums. Dis mos ’n plek van geskiedenis of hoe. Maar jy soek dan coloured history? Wat kry jy dan? Niks. En ons loop verby die Khoekhoe- of Boesman-versamelings, soos ek die ander dag by Stellenbosch- universiteitsmuseum en Stellenbosch-dorpsmuseum geskrik het toe ek weer eens besef dat ek kom van die eerste mense van hierdie land, wie sonder ons duisende jare opgeboude kennis van die water, die see, die grond, van boer, sou Suid Afrika nooit gewees het wie sy is nie. Vervreem die coloured identiteit jou eintlik van hierdie bewusmaking.

Somtyds wonder jy ook of ons nou klou aan coloured identity want dis mos ook wat die wit man vir ons gesê het ons is, want ons ouers glo mos alles wat die wit man ons gesê het, en tog het hierdie wit mense ons Hottentote en Boesmanne genoem.

Tog was daar baie van ons wat sekerlik nie die identiteit wou aanvaar nie, maar sonder grond was ons toe reeds al slawe en ons sou dan niks kon kry nie, hongerte, armoede sal ons voorland wees. Nie asof die acceptance van “kleurling” juis soveel voordele ingehou het, as ons kyk na stand van sake vandag nie.

Die ander dag verdwaal ek toe nou in Philippi en besef hoe baie meer Afrika die Xhosa-townships is, daai gevoel van selfdoen, daai entrepreneurial gees wat ek nog net in Zanzibar gesien het. In Zanzibar noem hulle dit juis “bongo”, wat beteken “jy doen vir jouself of jy ly honger.”

En ek dink toe wat is African in ons coloured communities? Wat laat jou voel dat jy in Afrika is? Ek moet eerlik wees en sê amper niks. Alle spoor van Afrika-identiteit is uitgevee. Soos die man sê, daar’s American gangs, daar’s British vlagte, ons kinders noem hulself British, ons leer ons kinders Engels en gee Engelse name, ons celebrate ook allerhande vreemde goed. En jy besef hoe die coloured identiteit ons nie net vervreem van onsself, ons voorouers, ons geskiedenis nie, maar ook van Afrika en die res van haar kinders. Van die land met die rykste geskiedenis wat ons as mense eintlik voor bang is, eintlik bang voor gemaak word, want “Afrika is die diep, donker gat” en ons word bang vir die Bellville-treinstasie want dit lyk te “African”.

Ons het baie ver om te gaan om ons ware identiteit te reclaim, maar dit het begin. Dis tog niemand se plek om te dictate aan mense wie hulle is nie, maar ons kan net ’n bietjie geskiedenis gee van dit wat vir baie lank weggehou was van ons.

Lees ook:

Luister hier na ’n gesprek waar Denver gesels oor sy aktivisme ten opsigte van KhoiSantale en -kultuur.

Die gesprek, getitel “Reclamation – Khoesan languages space home art life”, het op Vrydag 15 Desember by The Book Lounge in Kaapstad plaasgevind en is aangebied deur 1001 South African Stories en The Book Lounge. Die ander genooide spreker was Chuma Somdaka.

  • 9

Kommentaar

  • Lanklaas iemand raakgeloop wat my sienswyse deel en so akkuraat vermond! Amen. Ons mense roem op hul "wit" hetsy Nederlandse of Britse voorvaders en sien neer op bloedfamilie, wat nader aan hulle is.

  • Johann Basson

    Geagte mnr Breda, baie dankie vir hierdie insiggewende artikel komende uit jou hart.
    Welke persentasie van Suid-Afrikaners het al 'n in diepte genealogiese studie gemaak van hul familiegeskiedenis? Om nie eens van die Suid-Afrikaanse geskiedenis te praat nie. En dan wil hulle nog politiek beoefen en oor andere regeer!
    My een stammoeder is Angela van Bengale wat as slavin van Bengale, Indië, in die huishouding van Jan van Riebeeck gewerk het. Krotoa (ook bekend as Eva) * ca 1641, 'n Khoikhoi-dame van die Goringhaicona-groep, was ook een van my stammoeders.
    Ek deel in beskeidenheid met u en die lesers die volgende gedagtes:
    Daar is geen witmens of swartmens op hierdie aarde nie. Daar is eerder wel witmense en swartmense en bruinmense. Welke Zulu of Xhosa het bewyse dat hy suiwer Zulu of suiwer Xhosa is? Welke koningshuis is spierwit of pikswart of het adellike blou bloed? Geen! Dit is alles in die kop van mense. In die kop.
    Ons leef in 'n era waar menige mense wêreldwyd verhuis na beter geleenthede en oor kultuur- en kleurgrense vermeng. Dit is nie onmoontlik dat die oorgrote meerderheid van ons nageslagte etlike dekades stroomaf "koperkleurig" kan wees en dat die witmense en swartmense "bedreigde spesies" kan wees.
    En sover my kennis strek is daar tans geen statisties gegronde wetenskaplike bewese data en inligting welke Homo sapiens sapiens groep(e) die "eerste mense-bewoners van Suid-Afrika" was nie. En dit sluit die Khoikhoi en San in. Alle huidige groepe se voorouers kon dalk selfs kolonialiste gewees het!
    Dink net hoe sou dit wees indien alle mense presies dieselfde kleur en kleurskakering en presies dieselfde taal sonder dialekte gehad het! Hoogs vervelig! Dank aan ons Skepper vir die verskeidenheid. En daarmee moet ons vrede maak en in vrede en geregtigheid met ons medemens saam lewe onder hierdie enkele aardse son in 'n pragtige Suid-Afrika.

    • Haai Johan. Het jy dalk 'n genealogiese studie van jou familiegeskiedenis gemaak? Ek is op soek na 'n Rebecca Basson (1927-1985) se familiegeskiedenis. Ja, sy is Coloured... van Groot Drakenstein. Haar pa was Petrus Basson en haar ma was ene Meraai (dalk 'n Damara-persoon). Haar familie soek dringend antwoorde en enige leidrade sal help. By voorbaat dank. NS: Ek is getroud met Rebecca se kleindogter.

  • Andre Badenhorst
    Andre Badenhorst

    Uitstekende vrae en insigte wat selfs vir my as witmens (wat dit ook al mag beteken) krities laat dink oor my sogenaamde wit identiteit as bepalende faktor van my menswees. Dit is 'n betoog teen die uiters arbitrêre en nimmereindigende kategorisering volgens velkleur ter wille van 'n klassieke groepsmagspel (kom ons noem dit maar by die naam: identiteitspolitiek).

  • Nolan Danster

    Onse ouers was baie ge-brainwash deur die sisteem, die baas-klaas mentaliteit. Dis waar ons moet begin, om ons ouers te oorreed dat al die instellings van jan van liegbek afgebreek moet word, soos ’n double barrel, terselfdertyd onse kinders die regte pad leer, onse geskiedenis en kultuur, wie ons is, die oudste nasie op die aarde, Die Skepping van Die Skepper.
    Die herdenking en viering van Westerse afgode moet einde kry, want ons het immers onse eie God, Tsi//goab vir wie ons aanbid, geen ander god. Ons kan nie inheems is, en dan terselfdertyd die gode van kolonialiste aanbid nie. Nes taal, elke nasie praat sy eie taal, die Zulu praat isiZulu, die Xhosa isiXhosa, en ons as so-called Coloured, praat ons Coloured? Nee ons is inheems en ons weet mos onse tonge was uitgesny as ons N/uu, Khoekhoegowab, !Kora ens gepraat het, maar omdat onse Skepper nie sal toelaat dat Sy Fondasie uitgewis word nie, praat ons nog steeds onse tale wat by nou al uitgewis moes gewees het. Dis nou onse taak om onse inheemse talle te laat herleef. Saam met ouma Geelmeid is daar net ’n paar N/uu sprekers oor, net so !Kora en vele ander inheemse tale.
    Die kalender is vol herdenkingsdae wat niks met ons Khoena uit te waai het nie, maar omdat ons deel is van die sisteem, spandeer ons ons laaste pennies op Westerse instellings ipv om ons gemeenskappe ekonomies op te bou, want ons is nog slawe, moderne slawe. Daar is wel ’n heritage day, maar dis weereens net vir hulle wie erken word in hulle konstitusie, so totdat ons Khoena die custodians is van onse land se instellings, is daar niks in dit vir ons om te celebrate nie.

  • Ek is altyd verbaas as ek hoor bruinmense praat van hulself as coloured, en as jy hulle 'n kleurling noem dan voel hulle beledig. Maar as jy hulle bruinmense noem voel hulle nie te erg beledig nie.
    Vir my is coloured doodeenvoudig net die Engels van kleurling. En kan dus glad nie sien waarom coloureds omgekrap raak as mens na hulle verwys as kleurling nie.
    Ek het al baie vantevore, en nog steeds deesdae, verskeie bruinmense/coloureds/kleurlinge gevra wat verkies hulle om genoem te word, en waarom dit hul keuse is. Verreweg die meeste hou bloot meer van coloured as kleurling, maar sê reguit dat hulle hulself as kleurling beskou. Die minderheid dring aan om as bruinmense beskryf te word. Dit het my opgeval dat bruinmense/coloureds/kleurling wat universiteitsgrade het, die groep is wat hulself as bruin beskou, en nie as coloured/kleurling nie. Daar is deesdae ook meer van die coloured/kleurling/bruinmense, soos die skrywer hierbo, wat trots na hulself verwys as Khoe of San, maar hulle is ver in die minderheid. Sommige van hulle lyk vir die "Transvalers" meer na witmense as bruinmense. As gebore Bolander, kan ek redelik die verskil sien tussen Khoe- en San-voorgeslagte, maar nie so heeltemal die Griekwa-mense nie. Ek is ook nie seker of hulle by die Khoe of San ingedeel is vir rasse-doeleindes nie.
    Die Khoe/San mense wil graag hulself as 'n groep vestig met eie leiers, net soos die swartes ook stamhoofde het wat met belastingbetalersgeld onderhou word. Ek het nie 'n probleem daarmee nie, behalwe dat dit dalk die deur kan oopmaak vir wittes om ook hulself as "meesal" Duits/Hollands/Frans/Engels te groepeer met leiers wat ook met belastingbetalersgeld onderhou word. Ek meen egter dat sulke stamhoofde, nie deur belstingbetalersgeld nie, maar met bydrae vanuit hul eie groep se ondersteuners, onderhou moet word. Waarom moet 'n blanke/bruine/Khoe dan 'n Zoeloe- of Xhosa-leier help onderhou met belastingbetalersgeld?

  • En so sit ons hier op LitNet en derms uitryg oor ’n identiteit. Ver verwyder van die mense in die plakkerskampe en gehuggies vir wie dit ’n stryd is om net elke dag te oorleef. ’n Geveg of bespreking oor identiteit is die laaste ding wat hulle bekommer. Maar die “intellectuals” sal altyd iets vind om hulle asems oor te mors. Want dis in hulle intellektuele gene, om iets te bespreek wat intellektueel die moeite werd is vir ander intellektueles om intellektueel daarop te antwoord. Terwyl die wêreld daar buite nie ’n vyf sent omgee wie wat ook al is nie. Die stryd on net elke dag te oorlewe is ’n baie groter stryd. Ek laat my nie identifiseer deur ’n woord nie. Ek weet wie ek is, waar ek vandaan kom, waarnatoe ek op pad is. Hou maar julle gesprek oor identiteit in die donker hoekies van die internet. Dit verander niks aan die prys van brood nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top