Steward van Wyk is departementele voorsitter van Departement Afrikaans en Nederlands (UWK). Sy artikel “Hibriditeit, of die baster in ons” is in 2000 gepubliseer. Hy het pas die Towards Histories of South African Intellectual Traditions: The Histories and Life Trajectories of Coloured/”Coloured”/coloured/Coloured Intellectuals: An Interdisciplinary Conference bygewoon en doen daaroor verslag. |
Die gedagte agter die konferensie, sê Hein Willemse, ’n lid van die reëlingskomitee, in sy openingswoorde, het begin in ’n paar informele gesprekke. Dit het hulle opgeval dat wanneer verskeie dissiplines oor hulle ontwikkeling reflekteer, ’n aantal tradisies altyd voorop staan: liberalisme in die 19de eeu, African nationalism en sosialisme in die 20ste eeu. Hulle was egter van mening dat die Suid-Afrikaanse opset meer verskeidenheid behels en dit het hulle aan die dink gesit oor wat gebeur met mense in die randgebiede, hoe dink en praat mense oor hulleself en oor ander, hoe kan buite die apartheidstereotipes gedink word.
Hierdie is dus die eerste in ’n reeks gesprekke oor dié kwessies. Die US se Beyers Naudé Sentrum was ’n logiese keuse as plek, omdat oop gesprekke en vryheid van denke hier aangemoedig word.
Zimitri Erasmus (Wits Universiteit), wie se Coloured by History, Shaped by Place (2001) die toon aangegee het in debatte oor kleurling-identiteite die afgelope dekade, begin die konferensie met ’n opdieping en herontdekking van die tradisie van nierassigheid in die versetspolitiek. Sy wil ’n historiese regstelling maak van die tradisie van nierassigheid, ’n “recuperative compass” soos sy dit noem, en dui drie internasionale gebeurtenisse aan wat’n invloed uitgeoefen het: Pan-Afrikanisme, die denktradisie van swart linkses en die afloop van die Koue Oorlog. Hierdie situering in ’n breër globale konteks moet reg laat geskied aan ons verstaan van die konsep. Die tradisie van nierassigheid wat die onderbou van organisasies soos die African Political Organisation (APO) en later die Non-European Unity Movement (NEUM) gevorm het, het onder invloed van hierdie breë internasionale bewegings ontwikkel. Die Karibies-gebore regsgeleerde Henry Sylvester Williams het onder ander andere in die jare 1903-1905, toe hy aan die Kaap gepraktiseer het, ’n leidende rol gespeel in die vorming van die APO.
Die gehoor, Dick van der Ross in die besonder, kou maar swaar aan hierdie brokkie inligting.
Nico Koopman, dekaan van teologie by die US, se inkleding van die begrip hibriditeit as ’n werktuig om maksimalistiese identiteite te skep, wil eweneens ’n raamwerk daarstel vir ’n breër konteks om identiteitskwessies te verstaan. Veelvuldigheid, inklusiwiteit, nie-essensialisme en vloeibaarheid word voorop gestel, teenoor essensialisme en reduksionisme.
Dit klink asof die reëlingskomitee die wedstrydreëls vroeg wil vaslê.
Na hierdie goed-beredeneerde teoretiese betoë is die verwagting dat vleis aan die been in die paneelsessies gegee gaan word. En dit stel nie teleur nie.
Hoe vry kan ons ons werklik dink van kleur- en kultuurkonstrukte, inhoud gee aan wat dit beteken om jouself nierassig of swart te verklaar?
Steven Majiedt gee die toon aan met ’n verklaring oor sy gemengde Khoisan- en slawe-afkoms en sy bevestiging van ’n swart identiteit. Is daar ’n tikkie rasse-selftrots in sy vertelling oor die trotse geskiedenis van die William Pescod-skool in Kimberley, die alma mater van ’n aantal presteerders: mediese dokters, mense soos Majiedt self en Brian Dames, Eskom-hoof? ’n Appeltjie te skil toe hy uitwei oor hoe hy die slagoffer was van rassekwotas op die regbank en die feit dat die toepassing van die Wet op Gelyke Indiensneming nou in die hof getoets gaan word?
Debra Meyer, biochemie-professor by Tukkies en voormalige TV-weervoorspeller, en Basil Manning van die Congregational Kerk gee in hul onderskeie persoonlike narratiewe toeligting oor hulle gemengde agtergronde. Die ambivalensies praat saam in Meyer se stellinginname: “I am as coloured as I am black.”
Ek herinner my dat Vernie February op ’n keer gepraat het van die “self-deception in self-definition” van gekleurdes.
Richard van der Ross, waarskynlik dié aartskleurlingintellektueel, plaas ’n vraagteken by die bestaan van iets soos ’n “kleurlingintellektueel”, maar verklaar onomwonde dat hy ’n kleurling is. Van der Ross raak ’n snaar aan met sy verwysing na bruin middelklasmense wat uit hulle gemeenskappe migreer en niks doen om die agteruitgang teen te werk nie.
Dit raak ’n deurlopende tema deur die twee dae lange konferensie: trotse geskiedenisse van vooruitgang en uitnemendheid in bruin skole, sportliggame en verenigings gebou op beginsels van nierassigheid; erkenning van universele menslike waardes en solidariteit van die armes en verdruktes (Robert Pearce, Francois Cleophas, Paul Hendricks en ander).
Dit is seker nie nou die tyd en plek om te praat oor die wingerde en boorde wat brand en die R70-dagloon nie.
Die tafel is gedek. Cometh the hour cometh the man! Waar die ander sprekers ’n onderbeklemtoonde selftrots in individu en gemeenskap laat blyk, deklameer Peter Marais van die Bruin Belange Beweging onomwonde dat hy ’n kleurling van trotse Griekwa-afkoms is, iemand wat hom nie skuilhou agter powere etikette soos “nierassigheid” in die aangesig van ’n onwrikbare aanslag van raskwotas wat die swart man al die pad bevoordeel nie. Hy is ewe ontuis in Orania en Khayelitsha. Inderwaarheid: bruin man, jy is op jou eie! Marais tokkel ’n sentimentele deuntjie op sy eensnaar-ramkie: die bruin mense is die bewakers van die taal!
Die 15 minute is net te kort om die kop-knikke en ja-amens om te sit in stemme. De Zille pas op!
Marais is maar die kleedrepetisie vir Francisco Mackenzie van IRISA wat die volgende dag met kopband van springbokvel, vurig en demonstratief sy regte as Eerste Nasie opeis. Paneelvoorsitter Erasmus frons met diep kepe en verskuif ongemaklik haar stoel tot agter die spreker waar sy die bokspronge op veilige afstand kan gadeslaan.
Niemand kan sê dat die nasionaliste nie passievol is nie! En wat is daar aan ’n demagoog wat maak dat hy (in die meeste gevalle ’n hy) uiteenlopende argumente aanmekaar snoer in ’n op die oog af logiese betoog en mense daarmee kan oorrompel?
Terug na die veilige en beskutte omgewing van getoetste navorsing en intellektuele redevoering. Viola Milton (Unisa-mediakritikus) wys ons (na ’n mislukte poging om binne 45 minute middagete in die Stellenbosse middedorp te kry) op die hardnekkigheid waarmee eksterne merkers van bruin identiteit in die diskoers van twitter-gebruikers opduik en kleurling-identiteit sodoende telkens herontdek word. Die pittige tweets oor 7de Laan se bruin karakters verraai die binne-kennis waaroor ingewydes beskik.
Hoor ek ’n “lekka djy!”? (Terloops, ek het nie gehoor dat Kaaps die bruin mense se eie taal is nie!)
Hein Willemse wys in sy indringende analise van outo-/biografiese tekste op die wyse waarop ras in die ras-afwysende en -ontkennende uitlatings van Richard Dudley, ontslape NEUM-leier, opduik. Dudley se ellips en tongglips suggereer sy ambivalensie, en in sy weiering om die naam kleurling te gebruik, word hy op ironiese wyse gedwing om erger kleurterme te gebruik.
Die Universiteit van Cornell-akademikus Grant Farred onthul in ’n vlugvoetige Derrideaanse dekonstruksie hoe die weiering om die naam kleurling te gebruik, hoe in die stilte van die taalteken die teken en betekende elke keer in-geskryf word. Hoe ons gebind word deur die naam kleurling, gedwing word om die naam te konfronteer en alles in die naam van die naam gebeur. Eintlik hoef hy nie verder te kyk as die titel van die konferensie nie en wonder mens wat is die praxis waaruit sy bespiegeling voortkom en die agentskap die konstruksies omvorm.
Die naam UWK duik sporadies op, as ’n smeltkroes waarin gekontesteer is en ander identiteite gesoek is, in die teologie-fakulteit onder invloed van Allan Boesak en ander swartbevrydingsteoloë (Nico Cloete en Gordon Dames).
Die rol van godsdiens in die skep van identiteite kom deurgaans onder die soeklig. Plek-plek voel ek, soos ’n ander deelnemer, dat die Christelike diskoers ’n oormatige klem kry, dat ons letterlik verdwerg en vasgevang word deur die indrukwekkende, maar simbolies-gelade, altaar-kunswerk.
Onvermydelik duik ook die naam Jakes Gerwel op. Sy skielike afsterwe in die week van die konferensie hang swaar oor alles. Gerwel en Neville Alexander, die ander naam, bakens van radikale nierassigheid en kompromislose afwysing van etnisiteit, staan as ’n korrektief teen enige verheerliking van kleurlingskap. Ek verneem dat albei end-uit skepties was oor die idee van hierdie konferensie. Albei voorstanders van ’n positiewe identiteit uit die periferie, gevoed deur die tale van die miskendes, Afrikaans en Xhosa, en dan eers Engels.
Michael Cloete wys op Alexander se utopiese visie van die toekomstige geslag as een wat moeiteloos drie tale praat en oop is vir ander identiteite.
Tot slot: Oorwegend was die konferensie ’n sukses, te oordeel aan die groot aantal deelnemers en lewendige debatvoering en ten spyte van die oneweredige gehalte van aanbiedings. As eerste van ’n reeks gesprekke het dit die toon aangegee. Hopelik sal die “life trajectories” in opvolggeleenthede vollediger gestalte kry.
Dit het my opgeval dat daar ’n neiging is om die geskiedenis te radikaliseer, om dit links en revolusionêr voor te stel. ’n Belangrike tendens in die bruin politiek, nog altyd, was ’n gematigde, akkommoderende, selfs konserwatiewe neiging. Om balans te kry, sal hierdie tendens behoorlik onder die loep geneem moet word sodat ook Henry Jeffreys se vraag oor die stemgedrag van Wes-Kaapse bruin mense voldoende beantwoord kan word. In die toekoms, ook ander stemme, ander lokaliteite, ander aksente.
Lees meer oor die seminaar, en vind die abstrakte van artikels wat by die seminaar gelewer is hier.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter