Oor ma’s en kinders

  • 3

Ek moes onlangs by my plaaslike bank se outoteller gaan geld trek, onbewus daarvan dat dit op dieselde dag is dat die sogenaamde Michael Jackson-geld uitbetaal word.

“Michael Jackson-geld” is wat die kindertoelae van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in omgangstaal genoem word.

By die bank aangekom is ek begroet deur ’n lang tou mense wat almal wag om geld te trek. Daar is vier masjiene, en steeds het die tou tot in die bank se parkeerarea gestrek. Ek merk ook dat die toue by twee ander banke binne sig van waar ek was, net so lank is, en dat daar besonder baie kindertjies rondhardloop en speel in die parkeerarea en in die gebou waar die tellermasjiene geplaas is.

My eerste reaksie was om eerder op ’n ander tyd terug te kom wanneer daar minder mense is en ek nie hoef te wag om geld te trek nie. Maar watter skrywer gebruik nie elke kans om mense waar te neem nie?

Dit was meesal bloedjong meisies in die toue. Ek huiwer om hulle vroue te noem, want sommiges lyk of hulle eintlik nog op skool moet wees, of dalk verlede jaar matriek gemaak het. Die een het haar babatjie, wat hoogstens twee of drie maande oud kan wees, in ’n handdoek op haar rug vasgemaak gehad. Met die gewoel het die handdoek al hoe losser begin sit, en teen die tyd dat sy haar geld getrek het en wegbeweeg, het daai kindjie net met genade nog op haar rug bly sit. My angsvlakke het die hoogte ingeskiet, want ek was oortuig die baba gaan voor ons almal van haar rug afval en kop eerste grond toe tuimel. Sy het nie my kommer gedeel nie, en het die baba ongeëerg reggeskuif en die handdoek stywer gebind.

’n Ander jong ma se baba begin al kruip. Terwyl sy geld trek en aan iemand anders geld oorbetaal, het sy die baba op die vuil grond neergesit, en as die kind te ver weg kruip, hom aan die arm opgelig en weer voor haar geposisioneer. Iemand het iets gemompel van die kind se arm wat uit sy potjie geruk kan word, maar die ma het haar nie daaraan gesteur nie.

Met Moedersdag op hande word daar elke dag advertensies uitgebring wat die ideale ma verromantiseer. Maar wat van die ma wat ten beste ongeëerg oor haar kind se veiligheid is, en dalk selfs doelbewus haar kind skade wil berokken? Nie alle ma’s is goeie ma’s nie. Nie alle ma’s behoort ma’s te wees nie. Nie alle ma’s is die soort wat in Netflorist- en Hallmark-advertensies as die norm voorgehou word nie.

........
Soms is die ma ’n kind wat self nog haar ma nodig het, en wat glad nie daarop voorbereid of gereed is om ’n bondeltjie vreugde van haar eie te hanteer nie.
........

Soms is die ma ’n kind wat self nog haar ma nodig het, en wat glad nie daarop voorbereid of gereed is om ’n bondeltjie vreugde van haar eie te hanteer nie. Vir sulke ma’s is die kindjie baie keer nie ’n bondeltjie vreugde nie, maar eerder ’n las wat haar toekomsplanne tot stilstand geruk het. Hoe hanteer daai ma’s, en daai kinders wanneer hulle ouer is en verstaan wat aangaan, Moedersdag? Of ly hulle aan ’n tipe Stockholm-sindroom waar hulle nie eens besef hoe disfunksioneel hulle omstandighede is nie?

Dan is daar die ma’s wat swanger word weens seksuele geweld. Nie net is daai kindjie onbeplan nie, dis nie uit liefde verwek nie. Is dit moontlik om ooit die omstandighede waarin jou kind verwek is, te vergeet?

Soms is Moedersdag nie net Lindt-sjokolade en Netflorist-blomme, etes by die Spur en roomys met sjokoladesous agterna nie.

Soms is Moedersdag ’n kompleks verweefde bondel emosies, met ’n bietjie liefde, ’n bietjie weersin, en hopelik baie vergifnis daarin.

En dis net die verhoudings waar die ma’s en kinders van mekaar hou.

Lees ook:

Liewe Moeder

Om ’n ma te verloor

Wat is ’n huis sonder ’n Moeder

Roe v Wade: Wat beteken dit vir Suid-Afrikaanse vroue?

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top