
Foto: Cole Ciarlello op Unsplash
“Until your knees finally hit the floor, you’re just playing at life, and on some level you’re scared because you know you’re just playing. The moment of surrender is not when life is over. It’s when it begins.” (Marianne Williamson)
........
Sy’t gelyk of sy slaap, naatloos oorgegaan van hierdie lewe na die lewe in die hiernamaals.
........
Vir elkeen van ons is daar ’n definiërende oomblik, ’n voor en ’n na wat die verloop van die res van ons lewens bepaal. Vir party is dit voor en na die twee torings in New York geval het, vir party is dit voor en na die val van die Berlynse Muur, of apartheid, of die begin van die konflik in Oekraïne, of die konflik in Rwanda, of die Arabiese lente of of of. Vir my is dit 12 September 2023, die oomblik net voor ek my ma se slaapkamer ingegaan het, en die oomblik nadat ek haar lewelose liggaam in die bed aangetref het. Sy’t gelyk of sy slaap, naatloos oorgegaan van hierdie lewe na die lewe in die hiernamaals.
My pa het gesterf toe ek tien was. Dit was anders. Om ’n ma te verloor tref op ’n manier waarop geen ander verlies jou tref nie. Die feit dat ek haar as volwassene verloor het, is nie beter nie. Geensins.
Droefheid is ’n vreemde ding. Dit kom soos ’n dief in die nag, wanneer mens dit die minste verwag. Vir my is dit in die versteuring van ons ritme. Kom in die kamer, maak haar gordyne oop, en sit die koppie koffie voor haar bed neer, maak seker haar glas water en die chroniese medikasie is gereed. En deur dit alles lag en gesels ons.
Vandat nuus van haar sterfte begin versprei het, was ons huis vol mense, van die oggend tot die aand. Dis soms so besig dat daar skaars tyd is om aan haar te dink. Maar elke oggend vang daai oopmaak van die gordyne my.
........
Dis soms so besig dat daar skaars tyd is om aan haar te dink.
........
Elke ervaring is ’n geleentheid om te leer, was my ma se filosofie. Niks gebeur sommer net so nie; daar is ’n rede voor, selfs al weet ons nog nie wat die rede is nie.
Ek vra my af: Wat het ek hierdie week geleer?
Les 1: Maak nie saak hoe oud mens is nie, om jou ma te verloor maak weer van jou ’n hulpelose kind, al is dit net vir ’n oomblik. Die presiese mengsel wat sy gebruik om haar kerrie aan te maak, moet ek nou self onthou. Het ek hoofpyn, moet ek nou self besluit om ’n pil te drink – sy’s nie daar om my pyne te dokter nie.
Les 2: Die mense wat die hardste huil, is gewoonlik die mense wat die oorledene die meeste verwaarloos het of hulle sleg behandel het. Hoeveel keer die afgelope week het mense by ons huis aangekom, in trane want hulle wou nog sus of so doen, en nou is dit te laat. Dan is dit elke keer mense wat maande of selfs jare laas met my ma kontak gehad het.
Les 3: Vriende is regtig reddingsboeie. Een vriendin wat self onlangs haar ma verloor het, het my hierdie wyse raad gegee: “Sien alles wat jy doen, selfs die begrafnisreëlings, as deel van jou ritueel om afskeid te neem.” Dit het my laat besef dat ek meer intensioneel moet wees, en nie net reëlings tref omdat reëlings getref moet word nie. Ander vriende het net by my kom sit, met geen verwagting van geselskap nie, net sodat ek weet hulle is dáár.
........
Elke maaltyd wat klaar berei is, beteken een besluit minder wat die huismense hoef te maak.
........
Les 4: Dis nie stupid om kos aan te dra wanneer daar ’n sterfte in ’n huis is nie. Elke maaltyd wat klaar berei is, beteken een besluit minder wat die huismense hoef te maak. Soms ontbreek eetlus gewoon, dan hoef niemand nog te sukkel met kos maak wat dalk in elk geval nie geëet word nie.
Les 5: Daar is nie ’n one size fits all manier om afskeid te neem van ’n geliefde nie. Ek en my broer wou my ma eer, selfs al het dit ’n baie onkonvensionele diens tot gevolg gehad. My ma het van rooi gehou, dus het ek een van haar rooi rokke aangetrek. Sy’t die dodemars met ’n passie gehaat, dus het ons koortjies gesing toe die liggaam die kerk verlaat. Geen huldeblyk nie, want almal wat begrafnis toe kom, weet mos wie sy is. Geen tee agterna nie – mense moet tyd hê om te dink oor die preek. En die preek moenie gaan oor haar wat dood is nie; dit moet dié wat agterbly, uitdaag om hul lewens anders te lei.
Les 6: Dis heeltemal in orde om jou selfsorg te stel voor die behoeftes van ander mense. Daar het soveel mense kom simpatiseer wat dan so vreeslik huil dat ek hulle moet troos. Dis heeltemal in orde om jouself te verskoon tot hulle hartseer uitgewoed is.
Les 7: Dis in orde om nie te voldoen aan die verwagting dat jy nou moet intree en alles doen wat die afgestorwene vir ander gedoen het nie.
Daar is nie ’n one size fits all oor hoe om droefheid te verwerk nie. Vir enigeen wat ook nou ’n geliefde verloor het, sterkte. Hou vas aan die mense wat jou ondersteun sonder enige verwagtinge. Moenie dink dat jy binne ’n sekere tyd sekere mylpale in jou droefheid moet bereik nie.
Bowenal, wees sag met jouself.
Kommentaar
The most beautiful words, such simple truths. So deeply felt. So much unconditional ❤️.