
Foto: Canva.com
Liewe Moeder
Ek het nuus vi djou
of djy daavan gan hou
is sieke djou beslyt
maa omdat djy my moeder is
het djy die reg om te wiet
Toe ek hoor my jongste dogte
het oorie tou getrap
was my heel eeste gedagte
om vi djou te bel
en te vitel
ek gaan wee oupa wôd
Eventually was ek upset
want Christolene is eintlik
nog self ’n kind
ma siekere goed innie liewe
moet ’n mens accept
of djy nou wil of nie
soes hulle hie by ôs oppie Cape Flêts sê
is klaa warit soe is
By the way
ouboet Niklaas en Monica het nourie dag kom inpop
op pad hys toe
van antie Rieta se funeral af
hulle altwie lyk goed
Vir Nolla en Michelle
het ek lanklaas gesien
ek wietie hoe gannit met hulle nie
maar ek chat darem soe af en toe
op whatsapp
met Errol en Melissa
Ek is biesag met ’n nuwe boek
ek wil traai om elke jaar
ten minste een yt te bring
is net met die gedigte
wat ek soe bietsie struggle
Liewe Moeder
ek het rêrag ytgesien
om met djou te praat
oor my nuwe kleinkind
wat nes ek lyk
Ek het hoeveel jaar laas
djou stem gehoor
Maa toe briek my hart
soes ’n damwal wat bars
en ek besef
ek sallie ees
’n missed call na djou kan maakie
want innie hiernamaals
is da nie phonelyne nie

