Roe v Wade: Wat beteken dit vir Suid-Afrikaanse vroue?

  • 0

Ontwerp op Canva en gebruik ingevolge hul gebruiksvoorwaardes

Liné Loff gesels met Magda Slabbert, ’n kenner op die gebied van mediese reg, oor Roe v Wade, die 1973-uitspraak oor aborsie wat onlangs die internasionale nuus gehaal het, en hoe Suid-Afrikaanse vroue se aborsieregte vandag lyk.

Magda, die Roe v Wade-beslissing het onlangs die internasionale nuus gehaal. Kan jy asseblief kortliks verduidelik wat dié uitspraak van 1973 behels het en hoekom dit belangrik is?

Die Amerikaanse regstelsel is interessant, maar verskillend van Suid-Afrika s’n, aangesien hulle wetgewing op federale vlak het wat op alle Amerikaners van toepassing is, maar dan ook wetgewing wat in die afsonderlike Amerikaanse deelstate geld.

“Jane Roe” was die skuilnaam wat Norma McCorvey gebruik het. Sy het in die staat Texas gewoon en in 1969 swanger geraak met haar derde kind. Sy wou haar swangerskap beëindig, maar in Texas was aborsies onwettig en kon dit gedoen word slegs as die moeder se lewe in gevaar was. Sy en haar regspan het ’n saak aanhangig gemaak in Amerika se hoogste hof (Supreme Court), waar sy aangevoer het dat Texas se aborsiewetgewing onkonstitusioneel is. Die saak is gemaak teen mnr Wade, Texas se distriksprokureur – vandaar die verwysing Roe v Wade.

..........
Die 1973-uitspraak het dus regserkenning gegee aan die reg van ’n vrou om self oor haar liggaam te besluit, wat die beëindiging van ’n swangerskap ingesluit het.
..........

In 1973 het die hof uitspraak gelewer in me McCorvey se guns en bepaal dat Texas se wetgewing oor aborsie die reg op privaatheid wat in die Veertiende Wysiging van die Amerikaanse Grondwet verskans is, geskend het. Na hierdie uitspraak het aborsies wettig geword in die hele VSA, aangesien die 1973-uitspraak deur die hoogste hof in die VSA gemaak is. Die 1973-uitspraak het dus regserkenning gegee aan die reg van ’n vrou om self oor haar liggaam te besluit, wat die beëindiging van ’n swangerskap ingesluit het. Die hoogste hof het wel aangedui dat die vrou se reg in hierdie geval nie absoluut is nie, en dat dit gebalanseer word met die regering se belang in die beskerming van voorgeboortelike lewe, asook die gesondheid van die swanger vrou.

Waarom word daar nou weer aandag aan dié saak gegee en waarom is dit in die nuus?

In Mei vanjaar, dus vroeër dié maand, het ’n meerderheidskonsepuitspraak in ’n ander hofsaak (Dobbs v Jackson Women’s Health Organisation) in die media uitgelek. Hierdie voorlopige uitspraak het daarop gedui dat die hoogste hof van die VSA gereed was om die 1973-uitspraak in Roe v Wade om te keer, met ander woorde, om dus weer terug te keer na wetgewing voor die Roe v Wade-uitspraak en die tyd toe aborsies onwettig was. Hierdie moontlikheid dat aborsies weer verbied gaan word, het soos ’n veldbrand deur Amerika versprei en vroue in Amerika en elders het in opstand gekom.

Hoe lyk vroue se regte rakende aborsie op die oomblik in Suid-Afrika?

In Suid-Afrika word aborsies wetlik gereguleer deur die Wet op die Keuse van die Beëindiging van Swangerskap 92 van 1996. Hierdie Wet bied aan elke vrou die reg om ’n keuse uit te oefen aangaande ’n vroeë, veilige en wettige beëindiging van ’n swangerskap ooreenkomstig haar individuele oortuigings.

..........
Hierdie Wet bied aan elke vrou die reg om ’n keuse uit te oefen aangaande ’n vroeë, veilige en wettige beëindiging van ’n swangerskap ooreenkomstig haar individuele oortuigings.
..........

’n Meisie van enige ouderdom kan ’n swangerskap op aanvraag beëindig binne die eerste 12 weke daarvan. Bo en behalwe die eerste kategorie kan ’n vrou ook tot, en insluitende, die 20ste week, die swangerskap beëindig as daar ’n wesenlike risiko vir die moeder is of ’n wesenlike risiko dat die kind abnormaal gaan wees. Hierdie toedrag van sake hoef net deur ’n algemene praktisyn bevestig te word. Swangerskappe wat die gevolg is van verkragting of bloedskande val ook in hierdie kategorie.

Na die 20ste week van swangerskap moet twee mediese praktisyns of ’n dokter en ’n geregistreerde vroedvrou dit eens wees dat die voortgesette swangerskap die vrou se lewe in gevaar stel of ’n oormaat misvorming of skending van die fetus tot gevolg sal hê.

Ek glo ons wetgewing oor aborsies is van die mees liberale in die wêreld, spesifiek omdat ’n meisie van enige ouderdom sonder die toestemming van haar ouers of voog ’n vroeë aborsie kan versoek. Dit is ook interessant om daarop te let dat geen mediese praktisyn ’n meisie wat ’n aborsie aanvra, weens sy eie godsdienstige oortuigings kan oorreed om dit nie te doen nie, aangesien dit ’n kriminele oortreding is om iemand wat wettig ’n aborsie aanvra, te verhoed om dit te kry. Lesers mag dalk onthou dat in Desember 2016 ’n dr De Vos, destyds verbonde aan 2 Militêre Hospitaal, ’n swanger vrou probeer oorreed het om nie haar swangerskap te laat beëindig nie, en toe van onprofessionele gedrag ingevolge die beroepskodes van die Raad op die Gesondheidsberoepe daarvan aangekla is. Die Raad het ook beweer dat hy die swanger vrou se reg op selfbeskikking/outonomie geskend het. Ongelukkig is sy saak nooit verder gevoer of aangehoor nie.

Wetgewing is een ding, maar praktiese uitvoering en toegang tot geriewe is ’n ander. Is aborsies in Suid-Afrika toeganklik en is daar goeie/veilige en bekostigbare geriewe beskikbaar vir alle vroue (ongeag sosio-ekonomiese status)?

Dit is ’n moeilike vraag, maar omdat aborsies wettig is in Suid-Afrika, mag ’n dokter nie weier om dit op aanvraag te doen nie. Indien die dokter weens sy/haar eie oortuigings, soos godsdienstige besware, sou weier, is hy/sy verplig om die swanger vrou na iemand te verwys wat dit wel sal doen. Dit behoort dus vryelik beskikbaar te wees. Daar is ook nieregeringsorganisasies waar swanger vroue kan aanklop en so gehelp kan word. Dit is dus teoreties nie nodig om ’n “agterstraat”-aborsie te ondergaan nie, veral omdat dit gratis gedoen word in die publieke hospitale. Die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans heelwat regte, waaronder die reg op liggaamlike integriteit, wat ook die reg op besluite rakende voortplanting insluit. Aan die ander kant erken die Grondwet ook die reg op vryheid van geloof. Geeneen van hierdie regte is absoluut nie, met ander woorde, troef die ander regte nie. Dit is belangrik om te onthou dat die reg op lewe in die Grondwet nie van toepassing is op ongebore persone nie, want ons reg erken regsubjektiwiteit (om ’n draer van regte en verpligtinge te wees) slegs met (lewende) geboorte.

..........
Dit is dus teoreties nie nodig om ’n “agterstraat”-aborsie te ondergaan nie, veral omdat dit gratis gedoen word in die publieke hospitale.
..........

Watter uitwerking sou die omverwerping van Roe v Wade vir Amerikaanse vroue beteken, en is daar ’n kans dat dit ’n effek op aborsieregte wêreldwyd sal hê?

Dit sal myns insiens ’n baie hartseer dag vir die meeste vroue wees as Roe v Wade omgekeer word. Dit sal vroueregte en die reg om self oor jou liggaam te besluit baie benadeel en in werklikheid ’n stap terug na konserwatisme wees. Mens sal hoop dit gebeur nie en dat indien dit wel gebeur, ander lande nie hulle voorbeeld sal volg nie. Ek twyfel of ons in Suid-Afrika ooit weer sal teruggaan na die vorige bedeling toe aborsies op aanvraag nog onwettig was. Ons Grondwet is glashelder oor die reg op selfbeskikking, waarby aanvaar word dat dit die reg van vroue insluit om self besluite rakende hulle eie liggame te neem. Ek glo dat Suid-Afrika in hierdie verband ’n wêreldleier geword het, want ons regsraamwerk oor aborsie tref ’n baie goeie balans tussen die beskerming van ongebore lewe asook erkenning van die reg van vroue oor hulle eie liggame.

Bettina Wyngaard skryf in ’n artikel op LitNet: “Dit gaan hier nie net om ’n vrou se reg om keuses omtrent haar eie liggaam te maak nie. Om beëindiging van swangerskappe te verbied, gaan veel verder. Dis die begin van vele inperkinge op ’n vrou se regte […] Dis net ’n baie kort logiese sprong van daar tot ’n besluit dat voorbehoed ook neerkom op moord op ’n potensiële lewe. En ’n selfs nog korter sprong om te besluit dat dit neerkom op kindermishandeling indien die ma werk en nie by die huis bly om na die kind se belange om te sien nie.” Stem jy hiermee saam?

Ek stem saam met Bettina en kon dit nie beter stel nie. Ek wil selfs verder gaan en byvoeg dat mans moet ophou om te glo hulle weet hoe dit voel om ’n vrou te wees. Miskien moet hulle meer dink oor hulle eie seksuele gedrag en meer verantwoordelik optree wanneer hulle seksueel aktief is. Natuurlik geld dieselfde vir vroue ook, maar ongelukkig is die realiteit van ’n ongewenste swangerskap baie meer werklik vir die swanger vrou as haar kêrel of man.

Die debat oor die ontstaan van lewe is nog lank nie klaar nie, maar Bettina is reg deur te voorspel dat konserwatisme kort voor lank voorbehoedmiddels sal kan sien as “moord” op potensiële lewe, en waar trek mens dán die streep – hoe op aarde gaan mens seksuele gedrag verander? Voorbehoedmiddels is baie meer vrylik beskikbaar en bekostigbaar as voorheen. Meer effektiewe seksonderrig is nodig. Om kondome by skole of kampusse uit te deel is reeds ’n positiewe stap, maar die boodskap oor onbeskermde seks moet meer kragtig in ouerhuise oorgedra word. Ongelukkig het baie jong meisies nie die vrymoedigheid om met hul ouers oor voorbehoedmiddels te gesels nie, uit vrees dat hulle as promisku gesien sal word.

Ek is nie proaborsie nie, maar definitief prokeuse. Elke vrou móét die geleentheid gegun word om te besluit of sy ’n kind in die wêreld wil bring of nie, binne haar eie unieke omstandighede. Geen vrou moet ooit verplig word om ’n kind in haar liggaam te dra wat sy nie wil hê nie.

Lees ook:

Vonnisbespreking: Die strafregtelike vervolging, skuldigbevinding en kwytskelding van ’n verloskundige en ginekoloog

Misplaaste weldade en griewe van die "Liquorice Allsorts-gesinnetjie": ’n Regsletterkundige verkenning van Zelda Bezuidenhout se Die waarde van stil bure

Is dit die laaste sien van die blikkantien vir Roe vs Wade?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top