Bettina Wyngaard (1971–)

  • 1

Gebore en getoë

Bettina Wyngaard is op 15 Januarie 1971 in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gebore. Haar ma is Katie Wyngaard; haar pa Abie (Abraham) Wyngaard is oorlede toe sy 10 was. Sy het een broer, Hazlette, wat vier jaar ouer as sy is.

Bettina word groot in Grabouw in die Wes-Kaap, wat ’n betreklik klein dorpie is, dus het hulle as kinders sorgvry en baie beskermd grootgeword. Dit was ’n tipiese kleindorpse kinderlewe, in soverre as wat enigiets “tipies” kan wees, vertel Bettina (aan LitNet). “Ons het baie gespeel, met ’n groot groep vriende. My pa se siekbed (hy’t kanker gehad) en dood het natuurlik ’n radikale impak op ons lewe gehad.”

Sy begin haar laerskoolloopbaan by Pineview Primêr op die jeugdige ouderdom van vier jaar. “As gevolg van apartheidswetgewing moes ons skool, wat in die ‘wit’ area was, skuif. Die nuwe skool was te klein, en ek, en ’n klompie ander, moes toe na die ander laerskool, Kathleen Murray Primêr, oorskuif. Daar het ek my laerskool klaargemaak. Ek het hoërskool voltooi aan Groenberg Sekondêr. Al drie skole is in Grabouw. My gunstelingvakke was Afrikaans, Engels, en natuur- en skeikunde.”

Op hoërskool was daar drie taalonderwysers wat Bettina onthou: “Patty Carolus (ons het haar Patty C genoem) was my Afrikaans-onderwyseres in matriek. Dan was daar Becky Kennedy en Lisette Benson, beide Engels-onderwyseresse. Hulle drie het my aangemoedig. Patty C is al oorlede, maar ek het nog gereeld kontak met mev Kennedy en mev Benson.”

Haar liefde vir lees kom van haar pa af wat ’n leser was, en ook geskryf het. Hy het egter nooit gepubliseer nie, maar haar vroegste herinneringe is van hom wat vir haar en haar broer lees en stories vertel. Sy vertel aan LitNet dat sy ongeveer vier jaar oud was toe sy die magic van boeke ontdek het en dit was die begin van ’n lewenslange liefdesverhouding. “Boeke kan contraband wees, het ek ontdek die aand toe ek my neef Eddie se Swart Luiperd-fotoboekies onder my bed moes wegsteek om later skelm te lees. Net boeke met woorde is in ons huis toegelaat.”

In ’n onderhoud op Conversations with writers vertel Bettina dat sy altyd geskryf het, selfs op laerskool. Haar eerste stuk is in hulle skool se nuusbrief gepubliseer toe sy in graad 8 was.

Bettina vertel op LitNet aan Naomi Meyer meer oor haar kinderjare: “Ek het vroeg reeds leer lees, grootliks omdat ek als wou doen wat my broer kon doen. Hy’t elke middag huis toe gekom en als wat hy in die skool geleer het, vir my geleer. My ma en pa was altwee ywerige lesers, so daar was altyd boeke rondom my. Ek dink ek was vyf toe hulle my by die biblioteek gaan inskryf het as gebruiker. Dit was heerlik, want skielik was daar meer boeke as wat ek ooit gedroom het moontlik is, beskikbaar. Ek was ’n leser baie lank voor ek ’n woord geskryf het.

“My heel eerste storietjie, wat niemand anders ooit te sien gekry het nie, was ’n wetenskapfiksie-verhaal. Ek was seker standerd vyf toe ek dit geskryf het. In standerd ses is ek die eerste keer gepubliseer, in die skoolkoerantjie. En ek dink ek was standerd agt toe ek agterkom my Afrikaans-onderwyseres lees my opstelle in die personeelkamer voor. Ek wou my doodskaam. Ek het eers heelwat later besef dis eintlik ’n groot kompliment!

“Maar skryf vir ’n groter gehoor? Boeke skryf wat in biblioteke en boekwinkels gaan wees, dat mense geld sal betaal vir my boeke? Dit was nie in my wildste drome moontlik nie. Ek voel nou nog soos daai klein dogtertjie wat haar in die biblioteek vergaap het aan al die boeke!”

Bettina matrikuleer in 1987 op 16-jarige ouderdom aan Groenberg Sekondêr.

Verdere studie en werk

In 1988 is Bettina na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar BA- en LLB-grade behaal. Sy het haar BA-graad behaal toe sy net 19 jaar oud was. Sy het in die regte gaan studeer omdat sy gedink het sy kan ’n verskil maak aan mense se lewens. Aan LitNet: “Eers later het ek besef dat daar ’n verskil tussen reg en geregtigheid is, en dat die een nie noodwendig na die ander lei nie.”

Sy verduidelik haar keuse van beroep ook aan Ilse Salzwedel in Rooi Rose (11 Julie 2016): “Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir die underdog gehad en gedink dat ek reg en geregtigheid kan laat seëvier deur ’n prokureur te word. Ná my studie aan die Universiteit Stellenbosch het ek lank in Grahamstad en daarna in Kaapstad gewerk. Ek het die stedelike gejaag en onpersoonlike manier waarmee mense mekaar behandel – soos ek dit veral in Kaapstad ervaar het – verfoei. Ek het byvoorbeeld ’n jaar in Kaapstad in ’n woonstelblok gebly en my bure nooit met ’n oog gesien nie. Tuinmaak in potte werk ook nie regtig vir my nie.”

In die vroeë 1990’s werk sy as ’n leerlingklerk by ’n regspraktyk op Grabouw en in die Strand. “Ek was die eerste vrou wat ’n regspraktyk op Grabouw begin het en dit was interessante tye. Mense het nie geweet hoe om my aan te spreek nie, en hulle het my aanvanklik ‘Meneer’ genoem, omdat hulle gewoond was aan mans wat prokureurs is.”

Van Grabouw is sy na Grahamstad in die Oos-Kaap waar sy JCE (Justice Centre Executive) van die Regshulpraad was. Op 29 was sy die jongste JCE nog.

Bettina praktiseer daarna tien jaar lank as vroueregteprokureur. Oor die feit dat die kwessie van vroueregte haar so na aan die hart lê, vertel sy aan LitNet: “Ek (...) was nog altyd omring deur sterk vroulike rolmodelle. Ek het vroeg opgelet dat dit vroue is wat die huis en die gemeenskap staande en kerngesond hou, maar daai rol word nie in die samelewing erken nie. Vroue moet altyd aan die agterspeen suip, en solank as wat ons terugsit, gaan niks verander of verbeter nie. Ek wil net my deeltjie doen om die bal aan die rol te hou.”

In Januarie 2007 begin sy as die nuwe direkteur van die Women’s Legal Centre (WLC) in Kaapstad werk. Hulle werk is om vroue bewus te maak van hulle regte. “Baie maal besef vroue nie eers dat hulle sekere regte het nie,” het Bettina aan Elmari Potgieter (Die Burger, 1 Mei 2007) vertel. “Die WLC het nie ’n groot personeel nie – almal vroue – en hulle moet grondverskuiwende sake aanpak van vroue regoor Suid-Afrika.”

Daarna is sy aangestel as koördineerder van die Anglikaanse Kerk se kantoor vir geslagsgelykheid op Somerset-Wes.

Nadat sy ’n aantal jare weg was van Grabouw, trek sy terug soontoe. Haar familie is nog almal daar. En sy skryf nou voltyds.

Deesdae is sy ’n regskonsultant wat kerke, nieregeringsorganisasies en ander instellings adviseer. “My maatskappy se naam is Colui Consultants. ‘Colui’ is Latyn vir die voorbereiding en omdolwe van grond sodat dit bemes en beplant kan word,” vertel sy aan Ilse Salzwedel.

In 2009 word Bettina se eerste boek, Troos vir die gebrokenes, by Umuzi gepubliseer. Op ’n vraag op Conversations with writers oor hoekom sy besluit het om ’n gepubliseerde skrywer te word, antwoord sy dat dit nie soseer ’n besluit was nie, maar eerder ’n drang om terug te keer na skryfwerk. “I write mostly in Afrikaans, but have never felt comfortable with the Afrikaans literature that is available out there. I felt it did not really reflect my reality, with the result that I read mostly English. Eventually, I realised that instead of complaining and bemoaning the lack of fiction reflecting my reality, I could be the voice telling those unheard and untold stories. So, I identified a story and a milieu that I could identify with, and that isn’t really portrayed in literature, and started writing.

“There is very little fiction written in the sometimes very informal Afrikaans used in Troos vir die gebrokenes, addressing the issues that affect ‘real’ people. The language in most Afrikaans books is often stilted and formal, so that it leaves the reader uncomfortable, as if something is missing. I found it difficult to relate to those characters.”

Omdat Random House (met Umuzi as deel daarvan) nog altyd bekendgestaan het as ’n uitgewer van uitstekende materiaal en Bettina saam met hulle wou werk, het sy nooit ’n ander uitgewer oorweeg nie. Oor die voordele om haar werk by Umuzi uit te gee, sê sy dat om saam met so ’n toegewyde groep mense te werk, haar gedwing het om die gehalte van haar werk voortdurend te evalueer. “Having an ego, or being possessive of one’s work, is not even an option!”

Bettina wou graag self lees oor mense in wie sy háár herken, oor ’n werklikheid waarmee sy haar kon vereenselwig. Of stories oor die “kleinstes” wat, ondanks smaad en onreg, groter as die eie ek kon word. Hulle wat gewoonlik ongesiens en onbesonge die helde in hul gesinne, families en gemeenskappe is.

Maar sy kon dié verhale nie in Afrikaans vind nie – het selfs opgehou Afrikaans lees, sê sy aan Rapport (7 Julie 2009). Toe gaan sit sy en skryf vyf maande lank aan die soort verhaal wat sý wou lees – in die sosiaalbetrokke-tradisie van Amerikaanse skrywers soos Toni Morrison, Alice Walker en Maya Angelou.

Ná nog ’n paar maande se skaaf en oorskryf verskyn Troos vir die gebrokenes by Umuzi. Die boek getuig van fyn waarneming en dit is geskryf in beeldende taal wat vertel van mense van vlees en bloed. Die leser ervaar ’n gevoel van bekendheid teenoor die karakters. Die tonele het ’n diep impak op die leser wat “soms jou hart laat tuimel en elke nou en dan die lag in jou laat opborrel”.

“Ek wou ’n boodskap van hoop oordra, dat daar tog ’n groot stuk goedheid in die lewe is, dat ’n mens selfs te midde van pyn en nood nog kan stilstaan en lag,” sê Bettina (Rapport). “Ek dink nie dis noodwendig ’n bruin ervaring nie; dis ’n universele ding. ’n Mens kán jou ingesteldheid kies.

“En in die dae waarin baie hoop verloor, wou ek ’n verhaal van hoop vertel. Ek wou ’n verhaal vertel oor hoe ’n vrou, ten spyte van die slaanmerke aan haar lyf en die seerplekke aan haar gees, se siel innerlike krag kan kry. Troos vir die gebrokenes bied ook ’n blik op die geskiedenis van ’n gemeenskap waar die vrou sterker moet wees as wat hulle dink sonder dat daar afbreuk aan die man se selfbeeld gedoen word. Dit is die storie van ’n gemeenskap waar mense nog omgee vir mekaar – waar hulle by die naaste winkel die boek kan koop en waar hulle vir mekaar nie net kos nie, maar ook gebede aandra.”

Aan Ilse Salzwedel in Rooi Rose verduidelik sy: “Die uitdaging was om bruin karakters te skep wat drie-dimensioneel is en wat oor die hele spektrum van ras, geslag en dies meer met lesers kan praat.

Troos vir die gebrokenes se aanvanklike titel was Sieraad vir as en Minnie Lewis meen op LitNet dat die uiteindelike titel wel baie meer toepaslik is en dat dit geloofwaardigheid aan die verhaal verleen, want dit spreek van eerlikheid deurdat dit gaan om “troos” en die tog na “heelmaking”.

Bettina het die frase “sieraad vir as” geneem uit Jesaja 61:1–3, die Bybelgedeelte wat voor in die gepubliseerde Troos opgeneem is, vertel sy aan Rapport (7 Julie 2009): “Ek werk daagliks met mense wat met geweld en onreg saamleef, dit in ’n mate aanvaar en steeds met waardigheid uit die as probeer opstaan. Dit is mense vir wie ‘die ander wang draai’ so deel van hul leefwyse is dat hulle nie tob oor hoe hulle tekort doen nie. Hulle dissekteer of analiseer nie hul ervarings nie.”

Vir Stoffel Cilliers (Volksblad, 8 September 2009) is Troos die verhaal van ’n groep mense wat bitter swaarkry en wat eintlik enige plek ter wêreld bymekaargegooi kon gewees het. Dit speel af op Grabouw, Bettina se tuisdorp, en dus kon sy die hoofkarakter, Frieda Daniels, baie goed uitbeeld.

Frieda is die “voorvrou” of toesighouer van die pakkers in die appelfabriek. Sy woon in ’n beknopte tweeslaapkamerhuisie saam met haar man, John, drie volwasse kinders en haar dogter Lilly se buite-egtelike seuntjie. Elke naweek is John dronk en rand hy Frieda wreed aan – soms baie wreed – en hy verkrag haar selfs. Frieda kom tot die besef hulle samelewing “het sterk vroue nodig, want die Vader weet, die mans is vrot verby” (36).

Daar is etlike vroue in die roman wat verbete veg om hulle menswaardigheid te behou en ’n poging aanwend om nie platgetrap te word bloot omdat hulle vroue is nie.

Die 75-jarige antie Mina, wat Frieda grootgemaak het, is een van die kleurryke karakters in die boek. Sy is ’n ware matriarg wat haar deur niks en niemand laat onderkry nie. Sy is “’n tawwe ou vrou wat danig trots is daarop dat sy haar opleiding in die College of Knowledge, soos sy die lewe noem, gekry het” (124). Oom Charles, ’n sjarmante man, gooi sy flikkers vir ant Mina, maar aan die begin wil sy van niks weet nie. Maar ’n baie mooi en fyn verhouding ontstaan tog later tussen die twee bejaardes.

Vir Stoffel Cilliers is die dialoog wat so lewensgetrou is, beslis ’n positiewe punt van die roman. Die karakters is oortuigend uitgebeeld, maar hy het tog gevind dat sodra die skrywer meer vertel van wat gebeur, die spanningslyn ietwat verslap. Dit is egter ’n boek wat gelees moet word en een waaruit in krisistye geput kan word. Die skrywer se gebalanseerde lewensuitkyk vind neerslag in die boek. So ook die oortuigende geestelike inslag. Dit alles wys dat die skrywer erns het om met haar roman self gemeenskapsdiens te verrig. En daarin slaag sy beslis.

Hierdie roman openbaar die werklikheid van die lewens van ’n groepie Afrikaners wat mense al vergeet het: die bruin huurwerkers in die Overberg. Wyngaard se verhaal bied die leser ’n blik op die lewens van hierdie gemeenskap, maar terselfdertyd beeld dit ook ’n universele gegewe uit deur haar karakters wat besluit het om nie net hul lot gelate te aanvaar nie, maar om iets daadwerkliks daaraan te doen.

Wyngaard se ­roman laat Riana Scheepers (Die Burger, datum onbekend) “dink aan ’n handgemaakte ­lappies­­­kom­bers, ’n vertroude en geliefde troosding wat nie met duur of ingevoer­de lappe aan ­mekaar gewerk is nie, maar een wat ontstaan het uit al die los­lappies van ’n menslike bestaan.”

Minnie Lewis (LitNet) skryf dat veral kwessies soos mishandeling, drankmisbruik, werkloosheid, armoede en misdaad na vore kom in Troos vir die gebrokenes. Johan se fisieke mishandeling van sy vrou is die belangrikste tema van die boek. Ook verkragting binne huweliksverband word onder die loep geneem. Daar is ook die “stille mishandeling” waaronder veral Lilly moet deurloop aan die hand van Ben, die vader van haar buite-egtelike kind. Frieda en Lilly verduur hierdie mishandeling net tot op ’n punt waar hulle besef dat net hulle verantwoordelikheid kan neem vir hierdie mishandeling en dat hulle self daaruit moet kom. “Die besef dat die troos waarna hulle as gebrokenes smag, in hulle eie ‘hande’ lê en dat hulle die wilsbesluit moet neem om die mishandeling stop te sit, is beide bevrydend en troostend,” skryf Lewis.

Troos vir die gebrokenes is só hoog aangeskryf dat dit in 2010 bekroon is met die Jan Rabie-Rapport-prys vir nuwe, vernuwende prosa en ook in 2010 die toekenning vir debuutteksskrywer by die Woordfees met Karin Brynard gedeel het.

Vir Bettina was Troos vir die gebrokenes ’n “hartsboek waarin sy stem gegee het aan ’n realiteit wat nie in Afrikaans beskryf word nie: die armoede, misdaad, mishandeling, werkloosheid en troosteloosheid wat ’n mens so baie in die bruin gemeenskap aantref”.

Haar karakters in Troos sê dit is in orde om met jou godsdiens en geloof te worstel, sê Bettina in Rapport. “Die karakters het soveel deurgemaak dat hulle verby die punt is waar hulle nog pretensies het. Ek dink almal van ons worstel in ’n stadium met geloof, maar nie almal van ons het die vrymoedigheid om dit te erken nie. Maar my karakters staan nie lank hierby stil nie, hulle is te besig om te lewe, om te doen wat hulle moet doen. Hulle het nie tyd vir navel gazing nie.

“Ek dink die intellektualisering van goed soos of ’n vrou haar eie besluitinge kan en mag neem, is ’n luukse wat slegs mense beskore is wat nie met brood-en-botterkwessies hoef te struggle nie. Dis maklik om debatte te voer oor feminisme of kultuur of godsdiens as jy ’n dak oor jou kop het, kos op jou tafel, geld in jou beursie, of – wat vir Frieda ’n groot ding sou wees – ’n warmwaterkraan in ’n badkamer.”

Dit was egter nie die storie wat Bettina met Troos vir die gebrokenes wou vertel het nie, maar van die baie Friedas wat deur hulle pyn en lyding die pad na heel wees en na hulself teruggevind het. En van al die Friedas wat wéét dat hulle hul eie mens kan wees.

In 2013 word Vuilspel (Umuzi) uitgegee en word Bettina op die Woordfees van 2013 as Woordkunstenaar vir 2013 aangewys vir haar gesprek met Desmond Painter oor haar speurroman Vuilspel.

Madri Victor skryf (Maandblad Zuid-Afrika) dat op die oppervlak dit nie lyk of Bettina misdaadfiksie sou kon skryf nie. Daar is ’n sagtheid aan haar wat misleidend is, ’n tipe ambivalensie. Sy erken self dat sy ’n “dromer en ’n aktivis” is: “Ek vermoed alle aktiviste droom van ’n beter wêreld.” En deur haar skryfwerk wil sy ontslae raak van dit wat in die pad van daardie beter wêreld staan.

Vuilspel is ’n boek wat oor “die kwessie van korrektiewe verkragting, die seksuele aanval op ’n gay vrou wat geteiken is weens haar seksualiteit” handel, sê sy aan Madri Victor. Hierdie is nie ’n maklike of gemaklike tema nie, maar een waaroor Bettina baie sterk voel: “Ek het ’n hele paar jaar gelede ’n dokumentêr oor korrektiewe verkragting op televisie gesien. Ek het nog nooit daarvan gehoor nie. Eers toe ek begin navorsing doen, het ek besef dat gay vroue, veral in townships, met die daaglikse vrees lewe dat hulle aangeval gaan word omdat hulle gay is. Die stigma rondom seksualiteit is ook so diepgesetel dat hulle nie die vrymoedigheid het om aan te klop by beskerming- en hulpdienste nie. Wanneer hulle wel hulp soek, word hulle nie met simpatie hanteer nie. En daar is hierdie dawerende stilte – niemand praat daaroor nie, niemand spreek die oortreders aan nie, die aanvalle word grootliks toegesmeer. Ek wou iets daaromtrent doen.”

Vuilspel het lesers daadwerklik laat kennis neem. ’n Bruin gay vroulike speurder maak die eerste keer haar verskyning in die Afrikaanse letterkunde. Ook die lesbiese tema is nog nie na behore ontgin nie. Vuilspel se kommentaar op regstellende aksie, bendegeweld en die onbegrip en verstoting van lesbiese vroue is skerp en op die man af.

“Kwessies van sosiale geregtigheid lê my na aan die hart,” sê Bettina toe Victor haar daarna uitvra, “en ek probeer om verhale te vertel wat nie net vermaak verskaf nie, maar wat ook die leser se sosiale bewussyn aanwakker. Wanneer ’n leser die laaste bladsy van die boek lees, hoop ek dat dit hulle ’n bietjie aan die dink gesit het, en hulle horisonne ietwat verbreed is. Daar is ’n plek vir edutainment, ook in die literêre wêreld, glo ek.”

Maar ’n skrywer hóéf nie sosiale kommentaar te lewer nie: “Daar is plek vir ligte vermaak, vir politieke satire, en vir filosofiese nadenke in die literatuur. Misdaadfiksie was die een genre wat regtig sin gemaak het om Vuilspel in te klee. Op ’n meer persoonlike vlak het dit my ook toegelaat om bietjie afstand van Troos vir die gebrokenes te bekom. In baie opsigte wys Vuilspel ’n mate van groei in my werk as skrywer. Ek hoop dat Vuilspel die kollig skyn op ’n leefwêreld waarvan lesers moontlik voorheen onbewus was. Met die navorsing vir die boek het ek egter besef dat jong swart gay vroue nie ’n homogene groep is nie, en dat daar nie een enkele ‘stem’ is nie.”

Bettina se meelewing met diegene wat op die rand van die gemeenskap lewe, dié wat nie gehoor word nie en daaronder ly, tree baie sterk na vore in beide Troos vir die gebrokenes en Vuilspel. Sy draai nie doekies om as dit kom by die ingewikkeldheid van die probleem nie en benader haar temas van verskillende kante. In Vuilspel word die aaklige wêreld van bendegeweld en die diskriminasie teen vroue sterk na vore gebring. Ook word die gemeenskap se wantroue in die polisiestelsel voorop gestel en die probleme met interne politiek word ook ondersoek. Sy hanteer die invloed wat trauma op vriende en familie van ’n slagoffer het en hoe mense die trauma verwerk, baie sensitief. Ook die kerk se houding teenoor gay vroue word op ’n subtiele manier betrek.

Wat die tema en hoofkarakter betref, is Vuilspel belangrik en uniek in Afrikaans, maar een waaroor Bettina heel beskeie is teenoor Madri Victor: “Ek dink elke skrywer, elke woordsmid, se waarheid en werklikheid is uniek aan daai persoon.”

In Vuilspel word die leser weer gekonfronteer met Bettina se skerp, maar deernisvolle sosiale bewussyn, skryf Annemarié van Niekerk (Rapport, 1 Februarie 2013). Met hierdie boek plaas sy haar leser in die middel van die wêreld van misdaad, wat een van die ingewikkeldste vraagstukke van die samelewing in Suid-Afrika is.

Bettina ontsien niks en niemand in Vuilspel nie, skryf Van Niekerk. Dit sny regstellende aksie aan, en raak aan korrupsie en misdadigheid in die regering, en Bettina skryf ook oor ’n regstelsel wat soms nie geregtigheid kan waarborg nie. Soos in Troos vir gebrokenes is sterk vroue ook in Vuilspel aan die orde van die dag – hier met lesbiese vroue. Ook hieroor skryf Bettina met groot gemak.

Die hoofkarakter is kaptein Nicci, die ondersoekbeampte na ’n bloedige misdaadtoneel in Khayelitsha, wat die openingstoneel van die storie is. Die leser word dus dadelik binne-in die verhaal geplaas, asook binne-in ’n egte Suid-Afrikaanse dilemma. Vir Van Niekerk is daar egter iets hinderlik aan die deels geslaagde openingstoneel. Dit was vir haar net té toevallig dat die slagoffer, Thandi, ’n vriendin van Nicci is. Die hinderlikheid word later deels uit die weg geruim wanneer dit blyk dat die mans wat by Thandi se moord betrokke is, lesbiese vroue geteiken het om hulle vir hulle seksuele voorkeure te straf. Nicci en Thandi is albei deel van so ’n lesbiese groep vriende.

Die manier waarop Wyngaard hierdie vriende beskryf, bring mee dat die leser maklik met hulle kan identifiseer. Vir Van Niekerk was dit verfrissend om ’n speurroman te kry wat hierdie onderwerp met soveel gemak en soepelheid kan hanteer, maar terselfdertyd ook die probleme waarmee lesbiese vroue te doen kry, uitbeeld. “Op ’n subtiele manier word die kerklike milieu ook hierby ingetrek, aangesien Nicci verlief is op Sally, ’n priester in die Anglikaanse kerk. Interessante vrae ontstaan oor die rol van die kerk teenoor die vrou en veral die lesbiese vrou.

Vuilspel maak geen aanspraak op literêre meriete nie. Die ontwikkeling van die karakters is nie baie diepgaande nie en die struktuur en die styl is nie kompleks of verfyn nie. Dit is ’n gewone, lekker-geskrewe Afrikaanse speurroman wat maklik lees.”

Van Niekerk spreek die hoop uit dat die vreeslose manier waarop die skrywer sensitiewe sosiale kwessies aansny, nie die boek gaan diskwalifiseer as dit by die voorgeskrewe mark vir skole kom nie. “Dit is die perfekte boek om jongmense se sosiale bewussyn aan te wakker, aangesien dit nie baie gebeur dat daar in ’n Afrikaanse boek wit, bruin, swart, hetero- en homoseksuele karakters, asook gekultiveerde verstedelikte mense en mense wat nog vashou aan byvoorbeeld die tradisionele Xhosa-kultuur, voorkom nie.”

Joan Hambidge (op LitNet) sien Vuilspel as ’n misdaadroman waarin haatmisdaad onder die loep kom. Sy het die boek “met verbystering” gelees. “Die nuus wat ’n mens elke dag in die koerante lees, word hier in ’n onemosionele en spannende toon in storievorm oorgedra. Dit laat die leser ’n gemeenskap beter verstaan en ook hoe mense op ’n moord reageer.

“Kaapstad en omstreke word lewensgetrou geskets en die invloed van die media wat in ’n ondersoek kan inmeng, word ook nagespeur. Vuilspel is ’n boek met ’n snelle pas. Jy lees om agter die storie en die soektog te kom om die oplossing te kry. Daar is wraak en weerwraak en die sogenaamde ‘kangaroo courts’ en die taalgebruik is lewensgetrou.”

Marida Fitzpatrick is nie heeltemal so vleiend oor Vuilspel in haar resensie in Beeld (11 Februarie 2013) nie. Sy skryf: “Emosionele en fisieke geweld teen gay vroue in veral swart en bruin gemeenskappe in Suid-Afrika is baie aktueel. ’n Misdaadroman is ’n goeie manier om dié relevante onderwerp te belig, maar geen goeie saak of samelewingsprobleem is op hul eie sterk genoeg om ’n hele roman te dra nie. Die karakters, dialoog, spanningslyn en intrige moet die roman regverdig, nie die tema nie. En dis waar Vuilspel ernstig tekortskiet.”

Fitzpatrick beskou die karakters as te eendimensioneel. “Die lesbiese vroue word uitgebeeld as feitlik foutloos en edel met geen konflik tussen hulle nie. Al konflik wat voorkom, is dié met die wrede en onverdraagsame buitewêreld. Ook is die dialoog stokkerig en nie geloofwaardig nie. Die paar Engelse woorde wat tussenin gebruik word in ’n oënskynlike poging om dit meer lewensgetrou te maak, laat die stywe Afrikaans nog formeler lyk. Die storie wil ook nie regtig aan die gang kom nie, en al wat gemaak het dat sy verder wil lees, is die romanse tussen Nicci en Sally.”

Daar is talle taalslordighede aanwesig en dan sluit Fitzpatrick af met: “Wyngaard het te veel gesteun op die oorspronklikheid van Vuilspel se tema en nie genoeg gedoen om die leser ook met volronde karakters, lewensgetroue dialoog en lekker intrige te boei nie. ’n Aktuele tema alleen kan nie ’n roman red nie.”

In Tydskrif vir Letterkunde (50(2):2013) is Jacomien van Niekerk meer positief, en vir haar lewer Vuilspel ’n belangrike bydrae nie net tot die Afrikaanse speurverhaal nie, maar tot Afrikaanse literatuur in die breë as gevolg van die aktuele temas wat dit aansny. “Lesbiese karakters, en veral bruin lesbiese vroue, was tot nog toe ’n tema wat nie baie aangepak is in die Afrikaanse letterkunde nie, en die hantering daarvan in Vuilspel is veelkantig. Die uitbeelding van die wisselwerking tussen die verskillende rasse en tussen Westerse en Afrikaïese opvattings kan ook van nader ondersoek word.

“Dit is hoekom ek opgewonde geraak het oor die nuwe rigtings wat Afrikaanse boeke kan inslaan. Heelwat kritiek kan teen die roman ingebring word, maar ten spyte van alles wil sy tog lesers sterk aanmoedig om Vuilspel te lees en deel te word van ’n unieke leeservaring.”

In Rapport van 2 Mei 2010 skryf Bettina in ’n artikel getiteld “Uit stigma ’n nuwe lewe vir Afrikaans” dat boeke ’n belangrike rol in haar lewe speel: “Things Fall ApartA Thousand Splendid Suns, en The Kitchen God’s Wife, het my waardering gegee vir die skoonheid wat daar in diversiteit skuilhou.

“Die subtiele, amper subversiewe manier waarop Animal Farm en Unbearable Lightness of Being politieke kommentaar lewer, het my geleer dat boeke nie net vermaak nie, hulle sit my aan die dink en stoei om my menings te verander.

“Soms kom daar ’n boek wat my aan die strot gryp, my hele wêrelduitkyk holderstebolder gooi en my verbysterd laat. Daai tipe boeke, soos Thoreau se Walden, gee my met elke herlees iets nuuts om te oordink. Maar die boeke wat die grootste indruk maak, is dié wat ’n ongemaklike krapperigheid in my help verwoord. Dit bring daai vae, byna verskuilde, dikwels semi-bewuste ongedurigheid na vore en sorg dikwels vir my waarheidsmomente.”

Sy het lank nie Afrikaanse gelees nie, omdat iets, en sy kon nie woorde daarvoor vind nie, haar onvergenoegd gelaat het. Aanvanklik het sy gemeen dat dit miskien die verhaallyn of skryfstyl kon wees, of dalk iets anders, maar wat dit ook al was, sy het eerder Engels gelees. Later het dit tot haar deurgedring dat die karakters se Afrikaans wat hulle met mekaar praat, vir haar kunsmatig en nie ongedwonge klink nie. Sy wou iets lees wat nader aan die lewe is, maar sy kon nêrens so iets kry nie.

Toe ontdek sy Covering: the hidden assault on our civil rights, wat deur ’n Japannees-Amerikaanse professor, Kenjo Yoshino, geskryf is en dít het “daai klip in my skoen ’n naam gegee”.

“In Erving Goffman se woorde, soos aangehaal deur Yoshino: ‘It is a fact that persons who are ready to admit possession of a stigma (in many cases because it is known about or immediately apparent) may nonetheless make a great effort to keep the stigma from looming large ... This process will be referred to as covering.’

“Male sonder tal was ek al in die geselskap van ’n groep bruin mense, met die gewone spontane gesels, onderlinge gespot en gekraai. Dan lui een se telefoon, en die onmiddellike verandering in stemtoon, manier van praat, en die soort taal wat gebruik word, laat my voel asof ek mental whiplash het. Dit klink asof die persoon wat nou nog so lekker in Kaaps oor haar kroes hare kon spot, ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Baie keer is die persoon heeltemal onbewus van wat sy doen. Die eise van covering is al geïnternaliseer.

“Dis dieselfde onding wat ek in boeke sien. My ongemak het gekom omdat ek die covering herken, maar dit nooit kon verwoord nie. Dit verklaar hoekom ’n leser hulpvaardig teenoor my kon opmerk dat die beskrywings in my boek baie mooi is, maar my karakters praat so lelik. Hulle praat soos bruin mense, sien.

“Dit verklaar ook vir my hoekom die debat oor die ‘verwatering’ van die taal soveel emosies ontketen. Van ’n hele groep Afrikaanssprekendes word vereis dat hulle moet cover, hul bruinheid en hul unieke, pragtige manier van met die taal omgaan, moet onderdruk. Standaard-Afrikaans, ’n mitiese dier wat lankal nie meer bestaan nie, word as die ideaal voorgehou. Die implikasie, hoewel niemand die moed het om dit ooit in woorde te sit nie, is: ‘My manier is beter as joune.’ Dis waar die herrie losbars, want wie besluit wat is beter?

“Afrikaans is tog ’n opwindende, veranderende taal wat deur ’n diverse groep mense met groot entoesiasme gepraat word. En miskien, as sommige voel hulle hoef nie heeltyd te cover en askies te vra vir hoe hulle met die taal omgaan nie, sal meer mense Afrikaans as hul taal eien.”

Bettina is ’n trustee van Anglican Aids and Healthcare Trust, ’n nasionale organisasie wat met mense, en veral kinders, wat deur MIV geaffekteer en daarmee geïnfekteer is, werk. Sy doen ook op vrywillige basis hulle regswerk. In haar tuisdorp is sy betrokke by Dare to Care, ’n voedingsprogram in een van die plakkerskampe. Hulle werk ook met kinders. Al twee hierdie programme is baie na aan haar hart.

Bettina is deesdae ook baie betrokke by PEN Afrikaans en is die ondervoorsitter van hierdie liggaam.

As lid van PEN Afrikaans is sy nou betrokke by die projek Trippel 7. Met hierdie projek neem hulle sewe skrywers vir sewe dae deur sewe Noord-Kaapse dorpies waar hulle skryfkursusse in kreatiewe skryfwerk aanbied aan gewone mense sodat hulle verhale gepubliseer kan word.

Sy vertel aan Naomi Meyer: “Statistieke dui daarop dat 60% van Afrikaanssprekendes bruin en swart is, maar ons sien bitter min swart en bruin mense se verhale wat in Afrikaans gepubliseer word. Trippel 7 wil dit probeer verander. Dis ’n lekker groep woordkunstenaars wat op die road trip gaan, en ons hoop om stories te sien verskyn wat mense se trots in hulle moedertaal sal versterk.

“Ek is baie opgewonde oor die projek – ek hoop dat dit die persepsies oor wie Afrikaans besig, aansienlik sal verander. Dis ook ’n projek wat die krag van vennootskappe belig. Ons kry befondsing van PEN International en Unesco, en ons werk saam met die ATKV in die Noord-Kaap.”

Sy geniet fotografie, skaak en tyd in die natuur en met diere deurbring.

Bettina is in wese ’n gemeenskapswerker en -aktivis. Vir haar is haar godsdiens – God, geloof, kerk en moraliteit – baie belangrik, maar nooit sal sy prekerig of moraliserend wees nie.

Die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi was die stimulus vir Slaafs, wat in 2016 gepubliseer is. “’n Aantal organisasies het kragte saamgesnoer om ons vroue en kinders te beskerm en bewusmakingsveldtogte oor mensehandel gevoer. Ek het daaroor begin nalees en artikels oor die verskynsel vir die plaaslike gemeenskapskoerant geskryf – ek het veiligheidsmaatreëls ook ingesluit sodat mense hulle teen mensehandel kan beskerm. Ek kon nie met die slagoffers praat nie, maar kon wel gesels met die aktiviste en mense wat met slagoffers werk,” vertel sy in ’n onderhoud met Ilse Salzwedel (Rooi Rose, 11 Julie 2016).

Die kwessie van mensehandel lê Bettina baie na aan die hart. “Ongelukkig skep die huidige vlugtelingkrisis wat ISIS in Turkye en Sirië veroorsaak, die ideale omstandighede vir mensehandel. Enige plek waar daar onrus is, soos oorloggeteisterde lande, of lande in ’n swak ekonomiese toestand, is ’n sagte teiken. Mense word na ’n ander land gelok met beloftes van ’n beter lewe. In Italië, waar daar gespesialiseerde organisasies werk om mensehandel te bekamp, reken hulle dat daar maandeliks sowat drieduisend mense die land onwettig binnekom, baie van hulle die slagoffers van mensehandel. In Amerika is dit so ’n groot probleem dat daar sedert Februarie vanjaar ’n program is om lugwaardinne op kommersiële vlugte op te lei om op die uitkyk na moontlike slagoffers te wees.

Daar is jaarliks minstens 800 000 slagoffers wêreldwyd en 34% hiervan is kinders. Kinders tussen agt en twaalf is die grootste risikogroep. En dis nie net vroue wat teikens is nie. Mans en kinders word ook verkoop. Mense word verkoop om as arbeiders of seksslawe te werk, vir gedwonge huwelike, of sodat hulle organe verwyder en verkoop kan word. Sommige slagoffers word selfs vermoor sodat hul liggaamsdele as moetie verkoop kan word.”

Met Slaafs, wat ook ’n misdaadverhaal is, raak Bettina dus weer ’n onderwerp aan waaroor daar nog maar min in Afrikaans geskryf is. Sy vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat hoewel die titel verwys na die handel in mense of wit slawerny, dit ook “’n woordspeling (is) op hoe onnadenkend een persoon ’n ander, of ’n idee/ideologie kan navolg sonder om dit wat jy glo of doen te bevraagteken – tot so ’n mate dat jy ambiguous goed begin doen”.

In die boek ontmoet die leser weer vir Nicci de Wee en Blackie Swart, met ’n paar nuwe karakters wat by hulle aansluit. Hulle moet die moordenaar vind waarvan die liggaam gebrandmerk is. En dit is in die loop van hierdie ondersoek dat hulle uitvind dat daar vroue uit oorloggebiede wêreldwyd in Suid-Afrika as seksslawe verkoop word.

Omdat die genderkwessies iets is wat tot Bettina spreek, was die inspirasie agter Slaafs die feit dat vroue so weerloos is in hierdie tyd van oorlog en die landsgrense wat as gevolg daarvan so “poreus” geword het. Dít dra alles daartoe by dat vroue geweldig uitgebuit en oorgelaat word aan mense wat gewetenloos is. Sy verduidelik verder aan Meyer: “Hulle is onveilig in hulle tuislande, en moet ongelooflike risiko’s neem om veiligheid te probeer bereik. Met soveel mense aan die beweeg is dit maklik om te verdwyn en niemand soek ooit na jou nie. Ek wou die lig werp op die horror wat soveel vlugtelinge deurmaak. Ek het die verhaal begin skryf voordat die vlugtelingkrisis so prominent geword het, maar die verhaal kom op absoluut die regte tyd uit.”

Vir Deborah Steinmair is Slaafs selfs meer boeiend as Vuilspel. Sy skryf in Rapport: “Kaptein Nicci de Wee, onverskrokke dog weerlose vrou is weer in die saal; aan haar sy is haar getroue Sancho Panza, haar kollega Blackie Swart. Daar is heelwat op die spel: Dit gaan oor mensehandel en prostitusie en die lewens van onskuldige jong vroue hang in die weegskaal. Dis ’n resies teen tyd en die leser blaai al vinniger om.

“Wat ’n vonds is Nicci de Wee nie vir die Afrikaanse spanningsverhaalgenre nie: ’n verkeerdeveer-, sensitiewe, rateltaai gay vrou wat haar lyf in die pad van koeëls gooi om boosdoeners aan die pen te laat ry.

“Nog ’n formidabele vrouekarakter maak haar buiging: dokter Gigi Gerber, feminis en verbete vegter teen slawesindikate. Daar is ’n ongemaklike vonkie tussen haar en Nicci – dit laat die wenkbrou van Nicci se lewensmaat, die priester Sally, lig.

“’n Tema is die (fisieke) broosheid van vroue en die gewetenlose wreedheid van sommige mans. Vroue word valuta in ’n vuilspel van hebsug en magsjagsheid. Dit gaan oor lywe: die ­‘Jane Does’ wat in vlak grafte in Khayelitsha aangetref word, ­gebrandmerk soos vee en met roos-en-kettingtatoes om hul enkels, die lywe van Gigi en Nicci wat deur boosdoeners geslaan, gebrand en op geskiet word. Dit gaan uiteindelik oor die onblusbare gees van gekneusde vroue soos laasgenoemde twee en Xenia of Almira, die jong Siriese vrou wat as prostituut-slaaf vol heroïen gespuit en gedurig opgemoker word weens haar ­astrante houding. (...)

“Die karakters is volrond, kompleet met sielkundige probleme en persoonlike dilemmas waaroor hulle nie praat nie, maar wat uit hul handeling duidelik word. (...) Wyngaard is bedrewe in die weef van storielyne; die leser is in goeie hande. Daar is min beskrywing, besinning of filosofering: Snaarstywe spanning en ­aksie vier hoogty, soos dit hoort in misdaadromans. Sy is ’n regsgeleerde wat duidelik deeglik ­navorsing doen oor polisieprosedure, forensiese kriminologie en die jongste tegnologie. Sy verstaan die menslike psige en mors nie met woorde nie.

“Daar is geen gebrek aan gekonkel, geknoei en grootskaalse rampokkery in ons land nie – volop materiaal vir skrywers. Ons beste Afrikaanse misdaadskrywers – en Wyngaard is beslis in hul geledere – staan dan ook geen tree terug vir hul internasionale eweknieë nie. Wat veral opval, is Wyngaard se trefseker hantering van spanning: Dit eskaleer tot haas ondraaglike vlakke, iets wat Deon Meyer laas so goed kon regkry. Slaafs stel nie teleur as boeiende metgesel deur ’n herfsnag nie.”

Dewald Koen (LitNet, 3 Mei 2016) is net so beïndruk met Slaafs: “Reeds met die eerste hoofstuk het Wyngaard my in vervoering gehad. Dit was soos om ’n goeie aksiefilm te kyk. Die leser wag letterlik vir die spreekwoordelike bom om te bars, net om agter te kom dat die skrywer jou op ’n slim wyse effens om die bos gelei het. (…)

“Hierdie onderwerp (mensehandel) figureer sentraal in die narratief. Nicci de Wee en Blackie Swart word op ’n rondomtalierit deur Kaapstad en die omliggende streke geneem om die skuldiges vas te trek. Vanselfsprekend moet hulle allerlei uitdagings te bowe kom en word hul eie lewens telkens in die spervuur geplaas. Die aksie en spanning is aansteeklik en Wyngaard slaag daarin om die leser aan die raai te hou tot met die laaste sin van die roman.

“Wat Slaafs effens anders maak as sy voorganger, Vuilspel, is die feit dat daar meer aandag aan die persoonlike lewens van die hoofkarakters gegee word. (…) Hierdie meer persoonlike aspek van die narratief word op geslaagde wyse by die hooftema geïnkorporeer.

“Wyngaard het haar huiswerk deeglik gedoen. Geen moeite is ontsien om elke aspek rondom die werk wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens verrig word tot in die fynste besonderhede uiteen te sit nie. Die karakters is geloofwaardig en die prosedures wat beskryf word besonder insiggewend. Die leser verkry opnuut respek vir die soms ondankbare taak wat soveel polisiebeamptes daagliks verrig om Suid-Afrikaners teen misdadigers te beskerm.

“Slaafs is ongetwyfeld ’n hoogtepunt in Wyngaard se oeuvre tot op hede. Die roman raak interessante onderwerpe aan en die narratief is so verslawend soos ’n dwelmmiddel. Hierdie roman moet eenvoudig gelees word.”

Bettina vertel aan Naomi Meyer ook iets meer oor haar leessmaak. Sy lees “enigiets en als. As daar niks anders is, sal ek die agterkant van die ontbytgraanboks lees! Op die oomblik gaan ek deur ’n vampierfase, en ek lees als van Charlaine Harris en Laurell K Hamilton waarop ek my hande kan lê. Glad nie hogere literatuur nie, maar uiters entertaining!

In Jagter (2019), Bettina se volgende roman, loop die leser weer vir Nicci de Wee raak, maar hierdie keer met ’n nuwe taakspan. Blackie Swart is egter nog altyd aan haar sy om van hulp te wees met ’n internasionale insident.

“Ook op haar lessenaar: die dood van twee jong meisies,” skryf Leonie Bezuidenhout op Maroela Media. “En die angswekkende vermoede dat al hierdie sake met mekaar verband hou. Met soveel kinkels in die kabel soos dooies in die staatslykhuis, moet Nicci-hulle alles tot hul beskikking inspan om ’n nuwe hel af te weer: van ’n rekenaarfundi, tot stiletto’s en selfs ’n paar petrolbomme.

“Gou kom Nicci agter die monsters wat haar lewe en dié van haar kollegas bedreig, is gevaarliker as Ramoth, vlymskerp polisiefotograaf Stella Jansen se mak Komododraak. In Jagter, haar derde Nicci de Wee-riller, draai Bettina Wyngaard al die krane oop.”

Op LitNet voer Naomi Meyer ’n onderhoud met Bettina Wyngaard. Sy wou weet wat die vonk was vir die skryf van Jagter. Bettina antwoord: “Twee goed het bygedra. Die een was dat ek ’n paar jaar gelede ’n Koerdiese vrou leer ken het en goed met haar bevriend geraak het. Deur haar het ek geleer presies hoe verskriklik die politieke en sosiale situasie vir Koerde in verskillende Midde-Oosterse lande is. Ek het geweet ek wil daaroor skryf, maar was nie seker hoe nie. Toe lees ek ’n berig in, ek dink dit was The Guardian, oor die ‘Koerdiese Angelina Jolie’ wat ook ’n Pesjmerga-soldaat was. Daai berig het die uitstaande blokkies van die legkaart vir my laat bymekaarkom.”

Oor haar navorsing wat sy vir haar stories in die algemeen en Jagter spesifiek gedoen het, vertel Bettina aan Naomi Meyer dat sy gedurende haar eerste paar jaar in ’n regsprofessie baie strafsake gedoen het, en sy het “elke dag gesien waarmee die polisiebeamptes te kampe het – die frustrasies, die magteloosheid, maar ook die feesvieringe wanneer hulle ’n misdadiger agter tralies kan sit. Ek is gelukkig dat ek nog met van daai polisiebeamptes kontak het en op hulle nommer kan druk wanneer ek skryf. Daar is maar geen plaasvervanger vir outydse praat met mense wat regtig in daai werk is en wat vertel wat hulle deurmaak nie. Geen Google-soektog gaan dieselfde outentiekheid bring nie, en dit is vir my belangrik dat dit eg moet voel. As speurders my boek lees, moet hulle kan voel hulle wêreld word reg beskryf.”

Ook Deborah Steinmair (Netwerk24, 17 Maart 2019) is vol lof vir Jagter: “Na gelang van jou leesspoed sal jy ’n dag of naweek vir Bettina Wyngaard se jongste roman opsy moet sit, plus ’n ekstra dag vir herstel en ontlonting, want die uitasem dog naatlose intrige laat die leser uitgeput en getraumatiseer en gee nuwe betekenis aan beskrywings soos naelbytspanning, onneersitbaar en wipwarit,” begin sy haar bespreking.

Die verhaal begin in Teheran, hoofstad van die Islamitiese republiek van Iran. Steinmair vertel verder: “As daar ooit ’n boek was wat met die deur in die huis val, is dit hierdie een: Daar heers onmiddellike ondraaglike spanning, en onmenslike wreedheid steek kop uit. Sjaria- en hidjabwette bepaal wat vroue mag doen en hoe hulle mag optree, vrouehaat vier hoogty en daar word jag gemaak op vroue wat ‘onbehoorlik’ optree. (…)

Jagter spog met kleurvolle karakters, soos die eksentrieke polisie-informant Steyn, ’n rekenaargenie wat rondloop met ’n foeliebedekte vergiettes op die kop met aartappels op stokkies wat glo negatiewe energie absorbeer. (…)

“Ek is gaande oor Wyngaard se wonderlike nuwe vrouekarakter, die polisiefotograaf sersant Stella Jansen, wat deel was van ’n tribunaal wat volksmoord in Bosnië ondersoek het… (…)

“Ek kan niks meer omtrent die storielyn verklap nie. Monsteragtige mans, fanatisme, vrouehaat, verwording, onderdrukking en bloedige vergelding tipeer dié jagtog. Tussen die skop, skiet en donner is daar oomblikke van humor en selfs ontluikende liefde. Geen diere word in die storielyn leed aangedoen nie, maar dieselfde kan nie van die mense gesê word nie. Daar is volop verrassings en ook ’n verfrissende kinkel in die stert.

Jagter is suiwer leesgenot. Ons het ’n paar spanningskrywers in Afrikaans wat internasionaal kan kers vashou, en Wyngaard is sonder twyfel een van hulle.”

En op LitNet sluit Maryke Roberts haar bespreking van Jagter só af: “As ’n skrywer se woorde my ’n karakter in my gedagtes kan laat sien, my selfs haar huis en kollegas kan laat voorstel; as ek die buskruit kan ruik en die geweervuur in my kop kan hoor weerklink; die frustrasie kan voel as ’n leidraad op ’n doodloopstraat uitloop; dan het die skrywer geslaag. En as ek by die laaste bladsy kom en teleurgesteld voel dat ek die bekende karakters moet groet, des te meer.

“Dis skrywers soos Bettina wat jou laat wens skrywers kon boeke vinniger skryf, sodat ons as lesers nie so lank moet wag vir hul volgende pennevrug nie.”

In 2021 publiseer Lux Verbi Onverskrokke vroue: uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag waarin Bettina Wyngaard kyk na kwessies rondom vroue – kwessies soos “waar hoort vroue in die samelewing, waar hoort vroue in die kerk, die politiek, die sakewêreld, sport en wetenskap? Was dit altyd so, of het dié rol oor die jare verander? Sy ontleed dié kwessie in ’n gesprek tussen die Bybel en Suid-Afrika se grondwet. (…) Onverskrokke vroue bied ’n omvattende, deeglik nagevorste en indringende blik op aktuele vrae waarmee ons daagliks worstel. Terselfdertyd vier dit vroue se moed en sal jou nie net diep laat dink nie, maar ook opnuut inspireer.” (Maroela Media)

Oor die skryfproses van Onverskrokke vroue, asook die navorsing wat sy moes doen, vertel Bettina aan Naomi Meyer op LitNet dat sy baie meer nougeset met haar navorsing moes wees omdat die boek niefiksie is: “Ek het lank geskaaf aan die temas waaroor ek wou skryf. Die konsepte. Daarna het die navorsing gekom: wetgewing, hofsake en toepaslike nuusberigte – nie noodwendig in daai volgorde nie. Ek maak oral notas, skryf gedagtes neer, vra vrae op Post-Its, die lot. Teen die tyd dat ek begin skryf, het daar al berge leeswerk gebeur. Maar dan gaan dit eintlik vinnig – my gedagtes is georden, ek het al die inligting, ek weet wat ek wil sê.”

Oor die motivering agter die skryf van Onverskrokke vroue sê Bettina aan Meyer: “Elke boek wat ek skryf begin met ’n vraag, iets waaroor ek wonder. Met hierdie boek was die vraag: Hoe baie het dinge verander vir vroue vanaf Bybelse tye? En, in my meer moedelose oomblikke: Het dinge verander? Is ons vandag regtig beter daaraan toe as vroue in daai tye? Mens kan daai vrae met fiksie aanpak, maar ek wou iets bietjie meer konkreet meetbaar aanpak. Ek wou ’n toeganklike hulpmiddel vir Jan en San op straat skep.”

Maryke Roberts resenseer Onverskrokke vroue vir LitNet: “Ek het aanvanklik gedink die boek gaan fokus op onverskrokke vroue in ons samelewing, van toeka tot nou: voorbeelde, dalk onderhoude of gedagtes van geliefdes om hierdie vroue wat hulle tot hul regmatige status in die samelewing sal uitlig. Daar is immers genoeg onverskrokke vroue deur die eeue wat hierdie hulde verdien en dalk nie voorheen behoorlik geëer is nie.

“Die boek is egter meer ’n samevatting van die onderdrukte vrou deur die eeue, van die Bybelse tyd tot vandag, waar sy dalk meer as haar eggenoot verdien, maar steeds die verantwoordelikheid van ma, vrou, dalk tuisonderwyser en kollega moet balanseer. Soos die persvrystelling tereg sê: ‘’n goed nagevorste naslaanbron’.

“Dit dek ’n wye verskeidenheid onderwerpe, van die vroue in die Bybel, tot selfdegeslaghuwelike; sekswerk; die arbeidsmark; kinderarmoede; reproduktiewe regte; en die vrou in die openbare lewe. Dit gee insig en agtergrond, wat selfs vir my as vrou van onskatbare waarde is. Al is dit net om weer te besef waar ons vandaan kom; hoe ver ons al deur die woestyn gestap het en hoe elke klein oorwinning as oase op die reis dien. Maar dat ons steeds in die woestyn is, is onbetwisbaar waar. (…)”

Roberts sluit haar bespreking af: “Mens kan net hoop dat die inligting in die boek oor hoe vroue verdruk word, oor die volgende paar jaar geskiedenis sal word, ’n naslaanbron oor hoe dinge was; dat die narratief kan verander. Dat ons die juk van ’n verkragtingsvatbare samelewing kan afskud; dat die sekondes tussen verkragtings ure en dae en weke en jare word tot dit ’n raar verskynsel is soos in baie ander lande. Dat jong meisies ongeskend, onverhandel en ongebruik hul lewensmaats én loopbaan kan kies, of dit ’n sekswerker of president is. Dat jy kan woon waar jy wil, stap waar jy wil, glo wat jy wil.

“En dat dié kwessie geskei kan word van geloof. Dat dit deel van elke lewende wese op aarde se DNS sal word om vroue as gelykes – en met respek – te behandel.”

In Kerkbode skryf Rethie van Niekerk dat Bettina Wyngaard met die skryf van Onverskrokke vroue ’n baie ambisieuse projek aangepak het: “Met Onverskrokke vroue gee sy ’n voëlvlug oor die stand van vroueregte in Suid-Afrika, tel­kens met perspektiewe vanuit die reg en die Bybel. Onder hoofstukke soos die vrou en die kerk, arbeidsmark, veiligheid, familie en die openbare lewe kom ’n magdom sake op die tafel. Wyngaard bied ’n omvattende blik op die landskap en beïndruk met haar keuse van temas. Van mensehandel en seks­werk, tot ukuthwala, hutsmerkaktivisme en selfs ‘pienk belasting’ word bespreek, dikwels met besondere respek vir die mense en kulture wat ge­raak word.

“Treffend haal Wyngaard vir Michael Kaufmann aan: ‘If it were between countries, we’d call it a war, if it were a disease, we’d call it an epidemic, if it were an oil spill, we’d call it a disaster, but it’s happening to women, and it’s an everyday affair. It is simply domestic violence.’ (…)

“As teoloog wou ek graag meer van die Bybelse perspektiewe lees. Wyngaard se krag lê egter by haar kennis en ervaring van die reg. Die lig wat sy werp op wetgewing – ook onlangse wetgewing – is uiters insiggewend.

“Hierdie boek behoort lesers te bring tot insig, empatie, dalk selfs skok, woede en aksie. My hoop sal wees dat hierdie werk lesers sal inspi­reer om oor bepaalde aspekte van die onderwerp verder te lees, dieper ondersoek in te stel en mee te werk tot ’n veiliger wêreld vir almal.”

In 2023 publiseer Umuzi die vierde boek oor Nicci de Wee onder die titel Lokval. Oor die ontstaan van Lokval vertel Bettina aan Naomi Meyer (LitNet): “Lokval se plot het begin by ’n laataand-kaggelgesprek wat my kop aan die gang gesit het oor ’n spesifieke moordmetode. Lesers kan gerus die boek lees as hulle meer wil uitvind. Ek het doelbewus sekere vrae in Jagter onbeantwoord gelaat, want ek het geweet ek wou nog meer sê oor mensehandel. Maar lesers kan Lokval lees en geniet sonder dat hulle enige van die vorige boeke gelees het. Elke boek is so ontwerp dat hulle as alleenstaande krimi’s gelees kan word.”

In Lokval wat as ’n vervolg op Jagter gesien kan word, is Nicci, wat intussen die polisiediens verlaat het en ’n privaatspeurder is, reg om Tom en Aynaz se moordenaars aan die pen te laat ry. Jonathan Amid skryf op Netwerk24 (29 Januarie 2023): “As ’n soort buitestander is dit nou die tyd om haar mentors Blackie, Henk, Stella, Steyn en Hawthorne te betrek. Al probleem – en dis nie juis ’n piepkleintjie nie – is die klinkklare feit dat die dood en verlies ’n mens onherroeplik verander. Dit verander ook die dinamika van ’n hegte groep of span wat letterlik alles vir mekaar sou gee, soos dié waarvan De Wee deel was en steeds wil wees. (…)

“Ek het in ’n vorige resensie melding gemaak van Wyngaard wat uitmunt met haar openingstoneel of -tonele. Lokval is geen uitsondering nie. Die lesers kan nie anders as om simpatiek teenoor die roman se huurmoordenaar Natalia te staan nie. Soos die verhaal vorder, word dit al hoe meer plesierig om te sien hoe Lokval jag maak op jou eie verwagtinge van die karakters en waar alles heen op pad is.

Slaafs het uitgemunt wat karakterisering en nuanse betref, terwyl Jagter skitterende aksietonele en ’n sterk filmiese aanslag na die tafel kon bring. Lokval kry dit reg om hierdie sterk punte te kombineer en jou steeds met die mineurtoon en diepe menslikheid van Vuilspel aan te raak. Die roman sou as gepaste handleiding kon dien vir krimiskrywers wat insinkings in hul eie misdaadreekse wil vermy. Wyngaard moet ook geprys word vir haar durf om self hoofkarakters van die gras te maak wanneer dit sulke tyd raak.

“Kriptogeldeenhede, wapens, roosbome en stralingsiekte as moordwapen is van die uiteenlopende kernwoorde wat deel uitmaak van die Lokval-arsenaal, maar dis dalk die binnekennis oor whisky en whiskey wat jou die meeste genoegdoening sal laat ervaar. Elke teug van Lokval laat jou smag na nog.”

En op LitNet skryf Erla Diedericks: “Ek het ’n nuwe doenlysie. Ek wil ’n sluipmoordenaar word, duur whiskey drink, klasse neem in marteling en vieslike seksoortreders se watsename afsny en in hul keel afdruk.

“Dis natuurlik alles die skrywer Bettina Wyngaard se skuld. Sy het hierdie wreedaardige drange, soos die afgryslike roosbome in haar karakters se tuine, in my kop geplant. Die sluipmoordenaar Natalia wat in Bettina se nuwe Lokval verskyn, is my nuwe gunstelingkarakter. Dis hoe sy aan die leser voorgestel word: ‘Natalia borduur, rustig soos ’n landmyn.’

“En ja, Natalia is inderdaad knap met die naald – op ’n uiters grillerige manier. Wat ’n vrou. Natalia is die perfekte teenpool vir die hoofkarakter, Nicci de Wee… (…)

“Die storielyn is goed en Bettina trek al die drade styf bymekaar en ’n mens kan eenvoudig net nie ophou lees nie. Wat ek waardeer, is dat al is die marteling en moorde van die boosdoeners tot in die fynste, grieselrigste detail beskryf, sy die seksmisdade genadiglik grootliks aan ons eie verbeelding oorlaat en dit met die nodige respek hanteer.

“As vrou het ek die boek verskriklik geniet. Ek is mal oor spanningsverhale en aksierolprente waar vroue in beheer is en genoeg mag het om slagoffers te help. Natalia was vir my die glansryke weergawe hiervan en in my kop lyk sy net soos ons eie Charlize Theron. Blond en dodelik met ’n Russiese aksent, natuurlik.

“Hierdie boek is ’n lekkerlees, spannende boek. Die navorsing en fassinerende inligting in die boek het my beïndruk. Agter in die boek onder bedankings noem sy hoe heerlik die whiskey-navorsing was en ek moet noem dat ek daardie duur whiskey tot in my kiewe kon voel. As jy die boek lees, sal jy dit ook neersit met nuwe kennis van koeëls, skerpskutammunisie, kripto en die donker web.

“Die beskrywings is ook deeglik, en die karakters wyd uiteenlopend en interessant. Die einde sal jou bevredig, maar die deur word wel op ’n skrefie gelaat vir ’n opvolger wat ek beslis sal lees. Ek het nie die vorige boeke onder oë gehad nie, maar dit is nie nodig nie en jy kan dit alleenstaande lees. Die reekslesers sal weer die drade van die volgende boeke maklik kan optel met die lekkerte van iemand wat ou vriende en ‘herinneringe’ tussen die bladsye raakloop.

“Onthou hoe Natalia aan die begin beskryf is? Wel, dis hoe ek vir Bettina Wyngaard sal opsom: ‘Bettina skryf, rustig soos ’n landmyn.’”

Stefaans Coetzee (Netwerk24, 6 Februarie 2023) is eweneens beïndruk met Bettina Wyngaard en Lokval: “Lokval lees soos ’n Die hard-fliek wat op vinnige spoed gekyk word. Alles is daar vir ’n goeie skop-skiet-en-donner-blitsblaaier: sluipmoorde, jaende motors, intriges en kitsduiwels, maar dit is Bettina Wyngaard (…) se snoei van onnodige woorde wat die vierde Nicola ‘Nicci’ de Wee-speurroman in ’n blitsoorlog omskep. Dit is letterlik een aand se lees. En wat ’n krimi om die jaar mee af te skop!

“Enige krimi wat in Januarie gepubliseer word, is óf ’n waaghalsige dobbelspel óf ’n selfversekerde deklarasie. Met hierdie boek keer die skrywer, ná vier jaar van stilte in die misdaadwêreld, met ’n bang terug.

“As sy die ekstra jaar (haar vorige drie krimi’s het driejaarliks verskyn) gebruik het om aan haar skryftegniek te skaaf, was die lang wag beslis die moeite werd. Hierdie meesterstuk lê ’n goeie fondament vir haar magnum opus, waarop ek ná dese reikhalsend wag, al is dit half onmoontlik om hierop te verbeter. Dit voel regtig of die skrywer alles in die boek in harmonie getoonset het: die storie, ruimte, perspektiewe, skryfstyl, karakterisering en dialoog.”

Ook in 2023 publiseer LUCA, LAPA se Christelike druknaam, Bettina se volgende roman, Grietjie se loutering, en met hierdie publikasie beweeg Bettina weg van die krimi as genre. Aan Naomi Meyer (LitNet) beskryf Bettina die boek as ’n “roman wat fokus op verhoudinge: tussen ouers en kinders, tussen vriendinne, tussen werkgewers en werknemers”.

Sy brei verder uit oor Grietjie se loutering: “Ek moet erken, toe Veronica van LUCA my aanvanklik genader het om te skryf, het ek nie gedink dis iets wat ek wil aanpak nie. Ek het carte blanche gehad oor die tipe verhaal wat ek wou skryf. Die enigste vereiste: Dit moes fiksie wees. Enkelma’s het nog altyd ’n sagte plek in my hart gehad, dalk omdat ek deur een grootgemaak is. Huiswerkers se verhale word bitter selde uit hul eie perspektief vertel, en dit was nog iets wat ek wou doen. En ja, ek skat al my skryfwerk het ’n aktivistiese element, alhoewel dit in hierdie verhaal baie verskuild is.”

En, sê sy aan Meyer, elke persoon in ons land ken ’n Grietjie: “Huiswerkers is onsigbaar, ons vergeet van hulle, en as ons nie self huiswerkers het nie, dan ken ons iemand wat een is of een het, maak nie saak waar in die land ons is nie. Die verhaal speel af in Grabouw. Grietjie se buurvrou en vertroueling is Maggie. (Sy was ’n lekker karakter om te skryf!) Lienkie en Heinie is haar kinders. Dan is daar die mense vir wie sy char – sy werk elke dag by iemand anders, en dis ’n klomp mense wat wyd uiteenlopend is in geaardheid, temperament, ouderdom ens. Deur die loop van die verhaal kry lesers ’n bietjie van ’n back story oor sommige van die werkgewers.”

Die uitgewers skryf as volg oor Grietjie se loutering: “Grietjie se loutering, ’n aangrypende geestelike roman deur die 2010 Jan Rabie Rapport-pryswenner Bettina Wyngaard, hou die wel en weë van die weduwee en enkelma, Grietjie Cupido, aan die leser voor.

“As skoonmaker werk Grietjie elke dag van die week vir ’n ander werkgewer op Grabouw. Sy ken haar plek en doen haar werk na die beste van haar vermoë. Haar geloof is sterk, al is haar werksomstandighede soms uitdagend en die betaling maar skraps. Oor die algemeen is haar werkgewers innemende en redelike mense, maar by een huis word sy baie sleg behandel. Sy laat haar egter nie sommer onderkry nie, maar vind haar krag in die Here en in haar ondersteuningsnetwerk wat uit onder andere haar jare lange bure, Maggie en Wollie, bestaan.

“Grietjie is veral baie trots op haar twee kinders, die vreugde in haar lewe. Lienkie, ’n uitgesproke en ambisieuse vuurvreter, werk in ’n fabriek. Heinie, nog op skool, maak meteoriese opgang as rugbyspeler. Wanneer hy vir ’n provinsiale rugbyspan gewerf word, word hy oornag ’n ster en kry ’n heldeontvangs in sy tuisdorp. Meteens lyk die gesin se toekoms besonder rooskleurig. Is hulle dae van raap en skraap om te oorleef uiteindelik verby? Durf hulle hoop op beter dae?

“Maar dan tref ’n onverwagse tragedie die gesin wat Grietjie laat steier. Hoe sal sy ooit daaroor kan kom en maar net weer aangaan met haar lewe asof niks gebeur het nie? Meer belangrik, hoe behou sy haar geloof? En hoe vergewe sy?

“Hierdie aangrypende verhaal se sjarme lê in die bedrieglike eenvoud daarvan. Tog raak dit belangrike kwessies soos onder meer geloof, moederskap, vriendskap, vergifnis, armoede, onreg, uitbuiting en seksuele teistering aan. Die karakters bly jou by lank nadat jy die boek neergesit het, en jy vang jouself dat jy aan Grietjie dink en wonder hoe dit met haar gaan.”

En op haar blog skryf Surene: “Al ses boeke verdien 5 sterre vir uitmuntende skryfkuns, menslike verhale waar die rasse-aangeleentheid met deernis hanteer is. Ek beveel beslis ’n iedere en elke boek van Bettina Wyngaard aan as moet-lees boeke.”

Publikasies

Publikasie

Troos vir die gebrokenes

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781415200834 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Jan Rabie-Rapport­-prys vir vars, vernuwende prosa 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vuilspel

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781415203873 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Slaafs

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781415207536 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Jagter

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781415210048

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Onverskrokke vroue: uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780796322364 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2022 kortlys Andrew Murray-prysfonds vir algemeen-Christelike boeke in Afrikaans

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lokval

Publikasiedatum

2023

ISBN

9781415211090 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Grietjie se loutering

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780637000741 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: LUCA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Bettina Wyngaard

Artikels deur Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard se LitNet ATKV-skrywersalbum is oorspronklik op 12-12-2016 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Ek hou verskriklik baie wat ek hier lees! Die skrywer se ervaring is maar ons almal s'n wat nie jouself ooit in die Afrikaans literatuur herken of van lees nie. Dit is selfs waarom ons almal begin skryf het. Ek het groot respek vir enigiemand wat solank aan een storie kan skryf. Dit is waarom ek liewers drama skryf en vir 'n Fees is dit gewoonlik heel korter omdat julle op Feeste meer dramas in veskillende venues wil opvoer so jy word gevra vir 'n teks wat nie langer as 70-minute is nie.  Ek sal graag met die skrywer kontak wil maak. kan u dit dalk bewerkstelling?

     

    Ek dank u!

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top