Grietjie se loutering: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

  • 0

Boekomslag: Luca; agtergrond: Jill Wellington op Pixabay

Grietjie se loutering
Bettina Wyngaard
LUCA (Penguin Random House South Africa)
ISBN: 9780637000741

Bettina Wyngaard praat met Naomi Meyer oor Bettina se jongste boek, Grietjie se loutering.

Bettina, alle vorige onderhoude wat ek met jou oor jou boeke gevoer het, het gehandel oor jou spanningsromans. Die boek waaroor ek vandag met jou praat, is iets heeltemal anders. Baie geluk met Grietjie se loutering. As watter soort boek sou jy dit beskryf?

Grietjie is ’n roman wat fokus op verhoudinge: tussen ouers en kinders, tussen vriendinne, tussen werkgewers en werknemers.

Ek sê dat jou ander boeke spanningsromans is, maar jy pas nie in ’n boksie nie. En hierdie boek, deur LUCA, die Christelike druknaam van LAPA, uitgegee, pas ook nie in ’n boksie nie. Jou hoofkarakter mag dalk gelowig wees, maar haar verhaal is ’n storie wat vertel moet word – mens kan amper sê dis aktivisties. En tog is die skryfstyl ’n eenvoudige styl, gestroop en vloeiend. Jy vertel die storie van ’n huiswerker se alledaagse lewe. Rampe wat haar tref, en besluite wat sy moet neem. Wat het jou geïnspireer om die storie te vertel? Wat het jou gedryf?

Ek moet erken, toe Veronica van LUCA my aanvanklik genader het om te skryf, het ek nie gedink dis iets wat ek wil aanpak nie. Ek het carte blanche gehad oor die tipe verhaal wat ek wou skryf. Die enigste vereiste: Dit moes fiksie wees. Enkelma’s het nog altyd ’n sagte plek in my hart gehad, dalk omdat ek deur een grootgemaak is. Huiswerkers se verhale word bitter selde uit hul eie perspektief vertel, en dit was nog iets wat ek wou doen. En ja, ek skat al my skryfwerk het ’n aktivistiese element, alhoewel dit in hierdie verhaal baie verskuild is.

Wie is Grietjie - ken jy ’n Grietjie, of meer as een Grietjie? In Grabouw, of elders? Vertel my van haar, haar kinders en haar vriendinne. Vertel my van die mense vir wie sy werk. En die omgewing.

..........
Ek dink in ons land ken ons almal ’n Grietjie! Huiswerkers is onsigbaar, ons vergeet van hulle, en as ons nie self huiswerkers het nie, dan ken ons iemand wat een is of een het, maak nie saak waar in die land ons is nie.
.............

Ek dink in ons land ken ons almal ’n Grietjie! Huiswerkers is onsigbaar, ons vergeet van hulle, en as ons nie self huiswerkers het nie, dan ken ons iemand wat een is of een het, maak nie saak waar in die land ons is nie. Die verhaal speel af in Grabouw. Grietjie se buurvrou en vertroueling is Maggie. (Sy was ’n lekker karakter om te skryf!) Lienkie en Heinie is haar kinders. Dan is daar die mense vir wie sy char – sy werk elke dag by iemand anders, en dis ’n klomp mense wat wyd uiteenlopend is in geaardheid, temperament, ouderdom ens. Deur die loop van die verhaal kry lesers ‘n bietjie van ’n back story oor sommige van die werkgewers.

Hoe skryf mens anders aan ’n roman soos hierdie as dit vergelyk word met die skryf van misdaadfiksie? Wat was lekkerder, wat was moeiliker? Hoe het jy navorsing gedoen?

Die tempo was beslis stadiger as met ’n krimi! Daar is altyd meer tyd om karakters bekend te stel, die sluier te lig oor wat hulle begeertes, vrese en behoeftes is. Dis nie lekkerder of moeiliker nie, dis net ’n ander rat om in te kom. Wat lekker was, is dat daar minder druk is om ’n definitiewe afsluiting te gee.

Navorsing: Ek het net die mense rondom my intens dopgehou en gesprekke afgeluister. Wat enige skrywer seker in elk geval doen, maar op turbo!

Oor skryf en jou werk: Natuurlik weet jy baie van die lotgevalle van vroue wat beroepe soos dié van huiswerkers beoefen. Daar is plaaswerkers ook in Grabouw (en elders). Jy is immers ’n regsgeleerde en jy werk vir ’n kerklike organisasie. Is daar nie ’n Grietjie in elke dag se alledaagse lewe vir jou verskuil nie, elke nou en dan as jy jou werk doen – duik daar nie iemand soos Grietjie op nie? Is daar ooit ’n Grietjie wat dinge raaksien en wel daaroor uitpraat en dinge verander?

Natuurlik is daar oral ’n Grietjie, selfs al is die persoon in ’n ander beroep. Die skrywer se werk is om iets universeel in die alledaagse uit te lig, dink ek. En ons het die ongelooflikste vroue wat elke dag in hul klein hoekie veg om omstandighede rondom hulle te verander.

Ek kyk na jou taalgebruik in die boek. Jy skryf in twee registers, dalk selfs meer. Jy skryf in sogenaamde gestandaardiseerde Afrikaans (dis die narratiewe styl), en dan skryf jy ook die spreektaal van jou karakters. Jou boek is eintlik geskik vir ’n uiters breë mark van Afrikaanssprekendes, of hoe? Tog bestaan daar vir ’n boek en ’n storie ’n teikenmark. Wie het jy in gedagte as jy skryf – en hierdie spesifieke boek, vir wie is dit geskryf, as jy aan jou lesers dink?

Ek het juis nie ’n spesifieke leser in gedagte gehad nie; ek wou eerder fokus op ’n spesifieke storie. ’n Ateïsvriend van my was baie senuagtig om die boek te lees, maar sê agterna vir my dit was glad nie die dweperige, in-your-face Christelike/geestelike boek wat hy gevrees het nie. So alhoewel dit deur ’n Christelike uitgewery gepubliseer is, is dit geskik vir ’n baie breër mark. Dis selfs nie eens ’n boek net gemik op vroue nie.

As ek ’n mark moet identifiseer, sou ek sê elke leser wat van ’n goeie storie hou is die mark vir die boek.

Jy sê wat op jou hart is, Bettina. Wat van Grietjie? Is sy nie maar geneig om stil te bly oor wat sy ontdek of uitvind nie, en net stilweg haar werk te doen nie? En tog vertel jy haar storie, vir almal wat daarna wil luister. Jy laat haar ook haar eie besluite neem. Wat dink jy ontdek sy (dis nou sonder om belangrike aspekte van die intrige te verklap) in die boek - en wat ontdek jy, van haar en van jou, terwyl jy dit geskryf het?

...........
Ja, Grietjie is báie anders as die vroue wie ek normaalweg skryf, maar moenie stilwees verwar met vloerlap wees nie. Sy het stille krag. Sy gaan deur baie dinge – ek dink die loutering in die titel is aanduidend daarvan. Maar sy leer die krag van vriendskap, van vergifnis, en dat dit oukei is om nie al die antwoorde te hê nie.
............

Ja, Grietjie is báie anders as die vroue wie ek normaalweg skryf, maar moenie stilwees verwar met vloerlap wees nie. Sy het stille krag. Sy gaan deur baie dinge – ek dink die loutering in die titel is aanduidend daarvan. Maar sy leer die krag van vriendskap, van vergifnis, en dat dit oukei is om nie al die antwoorde te hê nie. Dalk het ek dieselfde geleer, wie weet?

Jy skryf natuurlik ook rubrieke en het ook al niefiksieboeke geskryf. Watter boeke bied vir jou die meeste bevrediging om te skryf? Wat was vir jou lekker en swaar aan die skryf van hierdie spesifieke boek?

Elke boek en elke genre het sy eie bekoring en gee sy eie bevrediging! Dit was swaar om in Grietjie se kop te kom, maar toe ek eers haar binnewêreld kon betree en begryp ...! Dis die sweet spot wat skryf lekker maak!

Dink jy skryf maak hoegenaamd ’n verskil in mense se lewens? Lees die mense wat jy sou wou hê jou boeke moes lees, hoegenaamd? Luister hulle as jy praat? Of is daar ander redes hoekom mens skryf – soos ’n innerlike drang om dit aan te hou doen, al is dit nie baie winsgewend nie, al voel dit soms of dit geen verskil maak in die samelewing nie?

Daar is ’n rede hoekom diktators heel eerste boeke verban. Ek glo aan die krag van woorde. Selfs al word net een persoon deur my boeke bereik, dan het ek iets bereik.

Daar word in die naam van so baie godsdienste in die wêreld dikwels euwels aangevang. Oorlog gevoer onder die vaandel van ’n edele rede. Maar dit het dikwels met mag en politieke redes te doen. Hoe skryf mens in hierdie dae ’n outentieke verhaal wat deur ’n uitgewer van geestelike boeke uitgegee word? Skryf mens die storie met hierdie groot wêreldsubteks in jou agterkop, of skryf jy net een klein verhaal, ’n mikrokosmosstorie wat dalk met baie mense resoneer as dit net in die regte hande beland?

Ek het probeer getrou bly aan die advies wat Neil Gaiman gegee het: "If you want to describe something big, go small." Die groter subteks is natuurlik daar, maar die leser word deur die mikrokosmos ingetrek. Hulle sal koerant lees as hulle naakte feite wil hê. Dit beteken ook ek as skrywer moet my leser vertrou.

Ek wou ook vra wat jy in jou vrye tyd doen en wie Bettina is as sy ontspan. Is skryf ook vir jou ontspanning? Dis sommer ’n bonusvraag, as jy lus is om te antwoord.

Ek hou van tuinmaak, en lees, natuurlik! Ek is lief vir diere en probeer soveel tyd as moontlik met my hondjie deurbring.

Lees ook:

Jagter: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

Lokval: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste na Amsterdam

LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top