Lokval: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

  • 0

Titel: Lokval
Skrywer: Bettina Wyngaard

ISBN : 9781415211090
Uitgewer: Umuzi

Bettina Wyngaard vertel vir Naomi Meyer van Lokval, Bettina se jongste roman.

Bettina, sedert Troos vir die gebrokenes het die volgende speurromans uit jou pen verskyn: Vuilspel, Slaafs en Jagter. (Dan het jy ook niefiksieboeke geskryf.) Het jy met die skryf van die heel eerste boek reeds besluit dit gaan ’n reeks word, met ’n hoofkarakter wat verskeie misdade gaan oplos?

Nee, ek het glad nie gedink dat Nicci en kie ná Vuilspel sou voortleef nie!

..........
Ek wou eintlik net afstand kry van Troos se sukses en het gedink dit sal lekker wees om bietjie ’n ander rigting in te slaan. Toe ontdek ek ek geniet dit om krimi’s te skryf.
.............

Ek wou eintlik net afstand kry van Troos se sukses en het gedink dit sal lekker wees om bietjie ’n ander rigting in te slaan. Toe ontdek ek ek geniet dit om krimi’s te skryf. Boonop het ek geniet om veral Nicci en Blackie se verhouding te ontgin. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Hoe doen jy navorsing oor jou karakters? (Ek het geglimlag vir die humor van jou karakters tussendeur: Natalia se opmerking oor die feit dat sy nie gemmerkoekies in die weeshuis gekry het nie omdat die omgewing nie juis bekend is vir hul warm huislikheid nie.) Ek dink ook aan jou hoofkarakter, Nicci de Wee; hoe sy uitgebeeld word. Stabiele verhouding, honde, kerk, ensovoorts. ’n Oase in die chaos. Volg jou karakters jou storie of jou intrige jou karakters?

Lokval se plot het begin by ’n laataand-kaggelgesprek wat my kop aan die gang gesit het oor ’n spesifieke moordmetode. Lesers kan gerus die boek lees as hulle meer wil uitvind. Ek het doelbewus sekere vrae in Jagter onbeantwoord gelaat, want ek het geweet ek wou nog meer sê oor mensehandel. Maar lesers kan Lokval lees en geniet sonder dat hulle enige van die vorige boeke gelees het. Elke boek is so ontwerp dat hulle as alleenstaande krimi’s gelees kan word.

Oor weeshuise spesifiek: toe ek klein was, het ’n vriendin se ma gesterf en sy moes weeshuis toe gaan. Ons het gereeld briewe geskryf, en uit haar vertellinge het ek meer geleer oor weeshuise. Dit het ’n onuitwisbare indruk op my jong gemoed gelaat.

Elke krimi wat ek nog gelees het, het ’n hoofkarakter wat met drank of dwelms of ’n ander demoon sukkel. Ek het lank met speurders saamgewerk, en ek weet dis nie die realiteit nie. Ek wou ’n krimi skryf met hoofkarakters wat probleme het, soos ons almal, maar wat tog perspektief behou en kerngesond is.

..........
Om jou vraag kortliks te antwoord: karakters en plot is bietjie soos ’n Möbius-strip. Ek weet nie altyd waar een begin en die ander eindig nie!
...........

Om jou vraag kortliks te antwoord: karakters en plot is bietjie soos ’n Möbius-strip. Ek weet nie altyd waar een begin en die ander eindig nie!

Kyk, mens kan nie ’n misdaadroman skryf en nie iets weet van hoe speurwerk gedoen word nie. Hoe doen jy jou navorsing hieromtrent? Ek weet maar te goed van jou regsagtergrond en -werk, so sekerlik sal dit ’n rol speel. Is daar ’n speurder wat jou nou al goed ken of vir wie jy altyd raad gaan vra? En jou speurwerk toon van deeglike navorsing: jy weet waar om die speurhonde in te roep, wie moet kom ondersoek instel na gelang van die situasie ... Dalk meer as een speurder met wie jy beraadslaag?

Ek gebruik verskillende speurders vir verskillende tipes navorsing. Die ou wat ’n vuurwapenkenner is, sal byvoorbeeld nie werk as ek oor vingerafdrukke wil weet nie, ensovoorts. Die ouens is nogal hoogs gespesialiseerd, hoor! So ek gebruik verskillende mense vir verskillende aspekte. Wat interessant is, veral met die speurders wat my in die hof leer ken het, is dat hulle eers vra of ek terug in die hof is voor hulle geheime begin verklap! En ek vind die ongelooflikste samewerking van almal met wie ek nog te doen gehad het. Die speurders is baie vrygewig met hulle kennis.

Het jy toe jy die boek begin skryf het, reeds geweet wat die lokval sou wees, hoe dit sou plaasvind, wie dit sou opstel en wat sou kon keer dat daar nog lyke tussen die roosbome ontdek word? Hoe het jy die storie beplan? Het iets gebeur wat die storie se sneller was en toe weet jy net eenvoudig hieroor moet jy skryf?

Ek het vroeg reeds geweet daar sal ’n lokval wees, maar nie hoe dit sou ontplooi nie. Dit het eintlik baie organies gebeur. Ek was seker halfpad deur die boek voor ek besef het hoe die lokval lekker kan werk.

Daar was ’n hele paar snellers. Mensehandel kom kort-kort weer in die kollig, en ek dink nie ons sien eers die oortjie van die seekoei nie. Dit krap aan my, en was beslis ’n groot sneller. 

Maar daar was ander snellers.

Ek vertel vroeër van die kaggelgesprek, wat ’n ander sneller was.

Professor Betsie van der Westhuizen het voorts eendag op Facebook iets gesê van rustig soos ’n landmyn wees, en daai frase het my verbeelding aangegryp! Ek weet nie of sy dit selfs nog onthou nie. Ek het haar toe belowe ek gaan dit in my volgende boek gebruik. En hier is Lokval nou!

Kom ek vra sommer reguit: is enigiets van jou storie gebaseer op ware gebeure? En die sindikate?

Alles in my stories is werklik moontlik. Sindikate is al jare aan die gang, die Donker Web is ’n realiteit, ensovoorts. Natalia se geliefde moordmetode is werklik alreeds gebruik. Maar my storie self is nie op ’n spesifieke werklike verhaal geskoei nie, dis fiksie van wat moontlik is.

Hou jy daarvan om in die skoene van die misdadiger(s) te wees of van die speurder(s)?

Ek probeer om nie enige van my karakters as eendimensioneel uit te beeld nie. En my booswigte veral, ek probeer ’n motivering vir hul dade vind. Ek word altyd herinner aan een dag in die hof. Ek was besig om ’n vroulike getuie te kruisondervra oor my kliënt se wandade. Hy sou tronk toe gaan as hy skuldig bevind word. Halfpad deur kry sy ’n epileptiese aanval, net daar in die getuiebank. My kliënt het, sonder om te aarsel, oor die beskuldigdebank gespring en haar gaan help tot die ambulans opgedaag het. Ons is so vinnig om te dink boewe is net sleg en die goeie ouens is net goed.

..........
Ek word altyd herinner aan een dag in die hof. Ek was besig om ’n vroulike getuie te kruisondervra oor my kliënt se wandade. Hy sou tronk toe gaan as hy skuldig bevind word. Halfpad deur kry sy ’n epileptiese aanval, net daar in die getuiebank. My kliënt het, sonder om te aarsel, oor die beskuldigdebank gespring en haar gaan help tot die ambulans opgedaag het. Ons is so vinnig om te dink boewe is net sleg en die goeie ouens is net goed.
.............

Daai dag het my geleer om anders daaroor te dink, en ek vind dat dit my nou help om die boewe ook anders te skryf. 

Het jy ’n skryfroetine? Staan jy vroeg op of skryf jy wanneer die storie jou pak?

Ek verkies om vroegoggend te skryf, en om te skryf selfs al lus ek nie om dit te doen nie. Skryf is ’n dissipline soos enige ander. Ek dink byvoorbeeld dat wat mense skrywersblok noem (of woordstilstand, dis vir my so mooi) is eintlik meesal maar net beplanning wat nie goed uitwerk nie.

Dink jy, in hierdie dae met gesprekke oor kunsmatige intelligensie, dat ons as mense vir ons ’n lokval (!) gestel het – bietjie slim vang sy baas? Want nou kan ’n bot ook kuns skep. In woorde of in beelde. Of dink jy in hierdie land van ons moet ons liewers bang wees vir ander dinge, dinge wat meer gevaarlik is: ontsettende ongelykheid, armoede, stereotipering, rassisme, korrupsie? Wat is ons land se heel grootste lokvalle, strikke waarin ons vasgevang is waaraan ons almal sukkel om te ontsnap?

Ek wil jou vraag op twee vlakke beantwoord. Ek is nie te bekommerd oor of KI kuns kan skep nie. Waaroor ek my wel bekommer, is die manier waarop bots en tegnologie alreeds gebruik word om misinformasie te saai, om verkiesings te beïnvloed en om gemoedere op te sweep. Dis ’n veel groter gevaar as ’n bot wat kan skilder of skryf of navorsingsartikels na-aap. 

Hier by ons: daar is vele probleme in ons samelewing, maar as mens mooi gaan dink daaroor dan is ’n verlies aan Ubuntu die kern van die vrot appel. As mense omgee vir mekaar sal misdaad en armoede en rassisme en korrupsie nie plaasvind nie. Dis dalk ’n oorvereenvoudiging, maar ek dink ons samelewing is besig om in duie te stort omdat ons eenvoudig nie meer omgee vir mekaar nie. As politici, staatsamptenare en besigheidsmense meer vir ons mense omgegee het as hulle bankbalans, sou korrupsie nie plaasvind nie. Sabotasie by Eskom sou nie plaasvind nie. Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Is ek naïef om dit te dink? Dalk.

...........
Ons grootste enkele lokval, dink ek, is om te wag vir iemand anders om ons te red. Ons moet elkeen inspring en ons deel begin doen om armoede, korrupsie, misdaad en dies meer hok te slaan. En dis ons plig om die politici wat ons droogmelk, uit die kussings te lig.
.............

Ons grootste enkele lokval, dink ek, is om te wag vir iemand anders om ons te red. Ons moet elkeen inspring en ons deel begin doen om armoede, korrupsie, misdaad en dies meer hok te slaan. En dis ons plig om die politici wat ons droogmelk, uit die kussings te lig. Dis te maklik om te sê “hulle” gaan in elk geval aanhou stem vir dieselfde partye en mense as voorheen. Maar wat doen ons om te verseker dat die vrese wat mense elke keer noop om grootliks teen hul eie beste belang te stem, besweer word?

Jou rubrieke op LitNet: jy staan op vir reg en geregtigheid. Soos in jou boeke handel jou rubrieke oor kwessies van groot belang. (In jou niefiksieboek oor sterk vroue wat verlede jaar uitgegee is, het jy vanuit die Bybel navorsing oor vrouefigure uit die Bybel ook gedoen.) In hierdie land is wet en orde en reg en geregtigheid beslis nie normaalweg aan die orde van die dag nie. Of hoe? Kry jy bevrediging dat die skelms (soms) in jou stories aan die pen ry?

My rubrieke vir LitNet hou my beslis op my tone, en ek moet seker maak dat ek weet wat aangaan. Maar soms gebeur daar soveel goed gelyk dat dit amper onmoontlik is om te kies waaroor om te skryf! Dan is die beheer wat ek het oor die fiktiewe wêreld waarin Nicci en Blackie beweeg, heerlik! Dit gee beslis bevrediging wanneer die goeie ouens ’n slag wen. Terloops, die skurke ry altyd aan die pen, al is dit soms op eties-aanvegbare maniere.

Het jy grootgeword in ’n huis van boeke? Vertel van Klein Bettina en wanneer jy geweet het jy gaan skryf.

Ek het vroeg reeds leer lees, grootliks omdat ek als wou doen wat my broer kon doen. Hy’t elke middag huis toe gekom en als wat hy in die skool geleer het, vir my geleer. My ma en pa was altwee ywerige lesers, so daar was altyd boeke rondom my. Ek dink ek was vyf toe hulle my by die biblioteek gaan inskryf het as gebruiker. Dit was heerlik, want skielik was daar meer boeke as wat ek ooit gedroom het moontlik is, beskikbaar. Ek was ’n leser baie lank voor ek ’n woord geskryf het.

............
Ek was ’n leser baie lank voor ek ’n woord geskryf het.
...............

My heel eerste storietjie, wat niemand anders ooit te sien gekry het nie, was ’n wetenskapfiksie-verhaal. Ek was seker standerd vyf toe ek dit geskryf het. In standerd ses is ek die eerste keer gepubliseer, in die skoolkoerantjie. En ek dink ek was standerd agt toe ek agterkom my Afrikaans-onderwyseres lees my opstelle in die personeelkamer voor. Ek wou my doodskaam. Ek het eers heelwat later besef dis eintlik ’n groot kompliment!

Maar skryf vir ’n groter gehoor? Boeke skryf wat in biblioteke en boekwinkels gaan wees, dat mense geld sal betaal vir my boeke? Dit was nie in my wildste drome moontlik nie. Ek voel nou nog soos daai klein dogtertjie wat haar in die biblioteek vergaap het aan al die boeke!

Lees ook:

Bettina Wyngaard oor die Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

Onverskrokke vroue: uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag – ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

Jagter: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top