Bettina Wyngaard oor die Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

  • 0

Bettina Wyngaard praat met Naomi Meyer oor die Elgin-Grabouw Krimifees wat vanaf 9 tot 11 Augustus plaasvind.

Bettina, in Skandinawië is daar reën en die noorderlig, maar bloedweinig misdaad. Tog floreer Skandinawiese misdaadfiksie. Hoe staan sake in Grabouw en in die Elgin-omgewing, daar waar binnekort ’n krimifees plaasvind? Waarom juis hier so ’n fees aanbied? 

Karin Brynard

Miskien moet ek net eers ietsie van die agtergrond van die fees vertel. Ek en Christy Weyer Loedolff, goeie vriendin en eienaar van die onafhanklike Grabouwse boekwinkel Liberty Books (gaan maak gerus daar ’n draai), speel nou al ’n paar jaar met die gedagte van ’n fees op Grabouw. Grabouw bloot omdat dit is waar ons altwee woon, omdat ons albei vir boeke lief is en omdat dit soveel bied: natuurskoon, wynlandgoedere, top restaurante, ekotoerisme, adventure tourism en veel meer. Hoekom nie ook die een of ander literêre gebeurtenis nie?

Iewers langs die pad het die idee verander vanaf ’n gewone fees na een wat spesifiek fokus op krimi’s. Krimi’s is seker die gewildste en snelgroeiendste genre, behalwe dalk romanses. Dis natuurlik ook die genre waarin ek meesal skryf, so dit het natuurlik gevoel.

Izak de Vries

Izak de Vries en Jonathan Amid, wat albei geen bekendstelling nodig het nie, het toe ook betrokke geraak. En voilà, hier is die vier van ons, besig om reg te maak vir wat belowe om ’n fantastiese fees te wees.

Jy vra hoe staan sake in Grabouw? Ek is die enigste plaaslike krimi-skrywer, maar die Overberg is natuurlik lekker sentraal. Helderberg en die Wynland-distrik, wat ook heelparty skrywers oplewer, is op ons deurdrumpel. En die verskil tussen Skandinawiese skrywers en ons plaaslike groep is dat ons glad nie te veel verbeelding hoef te gebruik om misdade uit te dink nie!

Wie kom optree en hoe is die program saamgestel?

Vir hierdie eerste fees het ons woordsmede wat in die Wes-Kaap woon, genooi om deel te neem. Gelukkig is van die grootste name in die krimi-genre sommer binne klipgooi-afstand. Dis ’n lekker wye verskeidenheid van interessante mense: Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Karin Brynard, Chanette Paul, Irna van Zyl, Julian Jansen, Sally Andrew, Joanne Hichens, Michéle Rowe en veel meer.

Jonathan Amid

Die fees vind plaas oor drie dae, vanaf Vrydag 9 Augustus die middag, tot Sondag 11 Augustus ook omtrent middagete. Paneelbesprekings sal 60 minute duur, met ’n pouse van 60 minute tussen besprekings. Daar is ook geen paralelle beprekings nie. By heelparty van die ander feeste is dit so ’n gejaag om van een plek by die volgende uit te kom, of om te kies tussen twee ewe lekker, maar kompeterende aanbiedings, dat die feeservaring nogal stresvol kan raak. Nie hier nie. Ons wil graag feesgangers die geleentheid gee om tussen besprekings die omgewing te verken, te eet, ons area se wyne te geniet en die natuurskoon in te adem.                        

Jy het al baie boeke geskryf en ook baie navorsing vir stories gedoen. Is daar sekere feite wat eenvoudig so moeilik is om te glo dat mens amper wil sê: feite is vreemder as fiksie? Wat is die interessantste of absurdste dinge wat jy al teëgekom het in jou soeke na stories of na die waarheid?

Bettina Wyngaard

Die waarheid is mos meesal vreemder as fiksie. Ek het al meer as een dag, wanneer ek ’n ware verhaal hoor, gedink niemand sal my glo as ek dit as fiksie probeer aanbied nie, dis te vergesog! Die absurdste was beslis die predikant wat deur die venster geduik het om huisbesoek by gemeentelede af te lê. Dink net, as ek Sally dit laat doen in een van my boeke, sal mense dink ek is van my kop af! Interessantste? Ek kan nie te veel verklap nie, want dis iets wat ek in my nuwe boek, Lokval, gebruik, maar dis die wonderlikste manier om mense van die gras te maak. 

Wat is die fees se praktiese agtergrond, waar koop ’n mens kaartjies, kan hulle net opdaag en waar word die fees aangebied?(Net een plek? Of verskillendes?)

Kaartjies is beskikbaar by Liberty Books in Grabouw. Kontak Christy by christy@libertybooks.co.za, of bel 021-8591174. Daar sal beperkte kaartjies by die deur beskikbaar wees, maar kaartjieverkope verloop alreeds flink. Ek sou mense aanraai om eerder hul kaartjies vooraf te koop as om op die dag dalk teleurgestel te word.

Deon Meyer

Daar is twee plekke: een by Trail’s End, waar alle besprekings die Vrydagmiddag en Saterdagoggend plaasvind, en die ander by South Hill, waar Saterdagmiddag en Sondag se program plaasvind. Altwee is pragtige plekke in die natuur en hulle kan ongeveer 80 mense met gemak akkommodeer.

Wat is die hoofrede hoekom mense hierdie fees moet bywoon, dink jy?

Die room van ons krimi-skrywers word byeengebring, die paneelbesprekings gaan oor aktuele onderwerpe en dit word in die mooiste omgewing denkbaar gedoen. En dis ’n eerste vir Suid-Afrika! Moenie oor een-en-twintig jaar spyt wees, wanneer die fees ons mondigwording vier, dat julle die eerste een misgeloop het nie.  

Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top