Jagter: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

  • 0

Jagter
Bettina Wyngaard
Uitgewer: Umuzi, 2019
ISBN: 9781415210048

Bettina Wyngaard praat met Naomi Meyer oor Bettina se mees onlangse roman, Jagter.

Bettina, baie geluk met Jagter, nog ’n suksesvolle roman uit jou pen. Kan jy in ’n sin opsom waaroor die storie handel?

Baie dankie! Jagter is ’n speurverhaal met dieselfde karakters as in Vuilspel en Slaafs. Hierdie keer is Nicci en haar span op die spoor van ’n reeksverkragter en -moordenaar,  met allerhande lekker internasionale kinkels en kabels.

Die feit dat jou hoofkarakter in die storie vroulik en gay is, het selfs koerantopskrifte gehaal. Maar wat kan jy, wat haar geskep het en die beste ken, nog oor jou karakter Nicci de Wee vertel?

Nicci se seksualiteit is regtig net een klein faset van haar persoonlikheid. In Orphan Black, ’n Kanadese TV-reeks van ’n paar jaar gelede, sê die een karakter, Cosima: “My sexuality is the least interesting thing about me.” Dis ook waar van Nicci. Sy is ’n vrou met integriteit en ’n passie vir geregtigheid. Sy’s ook dapper, soos wat dit ’n aksieheldin betaam; sy raak betrokke in wilde jaagtogte en skietsessies met die boewe.

Mense sê skryf oor wat jy ken. En dit klink, as mens jou stories lees, asof jy eintlik elke dag ’n polisievrou is en in jou karakter se skoene stap. Hoe doen jy dan jou navorsing so goed – hoe weet jy hoe dit is om elke dag daardie werk te doen?

Ek het die eerste paar jaar van my regsloopbaan baie strafsake gedoen, en elke dag gesien waarmee die polisiebeamptes te kampe het – die frustrasies, die magteloosheid, maar ook die feesvieringe wanneer hulle ’n misdadiger agter tralies kan sit. Ek is gelukkig dat ek nog met van daai polisiebeamptes kontak het en op hulle nommer kan druk wanneer ek skryf. Daar is maar geen plaasvervanger vir outydse praat met mense wat regtig in daai werk is en wat vertel wat hulle deurmaak nie. Geen Google-soektog gaan dieselfde outentiekheid bring nie, en dit is vir my belangrik dat dit eg moet voel. As speurders my boek lees, moet hulle kan voel hulle wêreld word reg beskryf.

Vir LitNet skryf jy gereeld oor aktuele sake. En jou fyn aanvoeling vir warm onderwerpe blyk al in die proloog, met wat met die meisie in Iran gebeur het. Die jag op vroue. Watter rol speel jou werk en regsagtergrond vir stories wat jou pad kruis? Dalk kan jy vertel van jou werk en jou regsagtergrond, as jy wil.

Ek doen op die oomblik glad nie meer litigasie nie, maar daai kritiese vraagstelling, die vra van die “what if”-vrae, of die “but then”-afleidings wat so nodig is om ’n storie uitmekaar te pluis en weer terug te sit, is absoluut nodig met fiksie skryf, dink ek. Dit help om te sien wat werk, en wat gaan uitmekaar val wanneer dit onder ’n vergrootglas kom.

Jy het al op Facebook geskryf oor jou besoeke aan staatslykhuise. Hoe kry mens dit reg om te skryf oor vreeslike dinge wat mens sien, in omgewings soos hierdie?

Dis vir my belangrik dat ek met empatie skryf. Daar is niks erger as wanneer iets afgrysliks op ‘n ongemotiveerde manier beskryf word net om te skok nie. Daarom sal jy byvoorbeeld nooit ’n grafiese verkragtingstoneel in my boeke vind nie. Dis onnodig. Ek dink enigeen wat misdaadfiksie skryf, veral in ’n misdaadgeteisterde land soos ons s’n, moet op ‘n sensitiewe manier met die materiaal omgaan.

Wat was vir jou die sneller of die inspirasie van juis die idee en titel Jagter?

Twee goed het bygedra. Die een was dat ek ’n paar jaar gelede ’n Koerdiese vrou leer ken het en goed met haar bevriend geraak het. Deur haar het ek geleer presies hoe verskriklik die politieke en sosiale situasie vir Koerde in verskillende Midde-Oosterse lande is. Ek het geweet ek wil daaroor skryf, maar was nie seker hoe nie. Toe lees ek ’n berig in, ek dink dit was The Guardian, oor die “Koerdiese Angelina Jolie” wat ook ’n Pesjmerga-soldaat was. Daai berig het die uitstaande blokkies van die legkaart vir my laat bymekaarkom.

As mens kyk na al die sake van onreg jeens vroue: Dink jy daar is iets soos reg en geregtigheid wat seëvier? Of hoe moet mens reg en geregtigheid sien?

Dit voel soms asof mens een tree vorentoe, drie treë terug gee. Dis nie net hier nie, dis dwarsoor die wêreld. Regte wat bestaan het, word ingetrek. Of regte wat op papier bestaan, word nooit gerealiseer nie. Terselfdertyd sien ons hoedat vroue mobiliseer en hul politieke en sosiale mag omarm op maniere waarop dit nog nooit vantevore gebeur het nie. Ons is in flux, maar ek is opgewonde oor die toekoms vir vroue.

Wat was vir jou lekker van die skryf van hierdie boek?

Sjoe, als. Ek het groot pret gehad met veral die aksietonele. Ek geniet dit om nuwe goed te leer, so die navorsing is ook altyd vir my baie lekker.

Hoe lyk jou skryfroetine, as jy so iets het? Vertel iets van jou skryfproses.

Ek wens ek kon nou baie vroom sê dat ek elke dag ’n sekere aantal ure sit en skryf, en ’n teiken van x aantal woorde haal! Die realiteit is dat ek skryf wanneer ek kan. My beste skryftyd is in die vroeë oggendure, so ek probeer van so 05h00 tot 07h00 skryf.

Ek het ’n klein swart boekie waarin ek gedagtes en idees neerskryf, wat gewoonlik in die middel van die nag na my toe kom. Dan sal ek gedurende die dag die notas deurgaan, en kyk of dit in daglig nog so briljant klink soos in die middel van die nag. Gewoonlik nie, maar die paar idees wat oorleef, word dan deeglik nagevors.

Ek lees deur die vorige dag se skryfwerk net om seker te maak wat die trant was, en skryf dan verder. Redigering doen ek eers nadat ek die draft voltooi het, en dit bietjie in ’n laai gelos het om ryp te word. Wanneer mens na maande met vars oë na ’n teks kyk, sien jy soms goed wat jy voorheen gemis het.

En wat geniet jy nog, Bettina? Gunstelinge van kos, of films, of ander skrywers se boeke, of teater of musiek? Enige geheime genietinge waarvan jy bereid is om te vertel?

Ek geniet lees. Distopiese fiksie en fantasie is my guilty pleasure. Dan maak ek graag tuin. Ek kyk glad nie meer televisie nie, maar so nou en dan fliek ek. Nie naastenby so gereeld soos wat ek wil nie. Ek geniet ook opera en ballet, maar weer, nie naastenby so gereeld soos wat ek wil nie. My musieksmaak is taamlik eklekties – enigiets van country tot rap, met ’n draai in klassieke musiek. Bach, Kenny Rogers en Black-eyed Peas is goeie bure in my musiekbiblioteek!

Spanning, intrige en baie aksie maak Jagter ’n meesleurende ervaring

Video: Grabouw-bekendstelling van Jagter deur Bettina Wyngaard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top