Jagter
Bettina Wyngaard
Uitgewer: Umuzi, 2019
ISBN: 9781415210048
“Klippe, messe en pyle uit ’n kruisboog: die vreemdste – en wreedste – misdaadtoneel in kaptein Nicci de Wee se loopbaan. Dan moet sy en haar nuwe taakspan boonop bontstaan om saam met die nimlike Blackie Swart ’n internasionale insident te voorkom.
“Ook op haar lessenaar: die dood van twee jong meisies. En die angswekkende vermoede dat al hierdie sake met mekaar verband hou. Met soveel kinkels in die kabel soos dooies in die staatslykhuis, moet Nicci-hulle alles tot hul beskikking inspan om ’n nuwe hel af te weer: van ’n rekenaarfundi, tot stiletto’s en selfs ’n paar petrolbomme.
“Gou kom Nicci agter die monsters wat haar lewe en dié van haar kollegas bedreig, is gevaarliker as Ramoth, vlymskerp polisiefotograaf Stella Jansen se mak Komododraak.”
Dis die beskrywing van die uitgewers wat die boek vergesel. Klink interessant genoeg en heel in pas met Bettina Wyngaard se vorige twee boeke, Vuilspel en Slaafs, waarin Nicci de Wee verskeie male die dood in die oë gestaar het.
Maar in Jagter is die ewige gesukkel in Khayelitsha, waar Nicci voorheen haar kantoor gehad het, skoonveld. Nicci het nou ’n spesiale taakspan, hul kantore is luuks en privaat; die voertuie in die kelder is alles voertuie waarop daar beslag gelê is: ’n Hummer, BMW X5 en vele meer; daar is ’n magasynkamer met selfs AK-47’s, en elke spanlid het selfs ’n Harley-Davidson met individuele verfwerk op die bakwerk.
Bloedmonsters en nadoodse ondersoeke word bespoedig; maar leidrade is min. Die moordenaar of kring moordenaars is goed opgelei en daar is internasionale bande wat met diplomatieke immuniteit gepaard gaan.
En die skuldiges bly hul taakspan elke keer net ’n stappie voor.
Bettina is ’n opgeleide prokureur wat nie alleen haar eie regspraktyk op Grabouw gehad het nie, maar ook die jongste uitvoerende beampte van die Regshulpraad was. Haar insig in die regstelsel se tekortkominge bring ekstra diepte aan haar speurverhale en geloofwaardige insig in die daaglikse rompslomp in die polisiediens.
Sy huiwer ook nie om navorsing te doen of om aan te klop by deskundiges om feitelik so na aan die waarheid te bly as wat haar storie toelaat nie. Sy vra in haar bedankings om verskoning aan haar lesers dat sy soms die feite “net effens verdraai om meer dramaties te wees”. Ook dat die kenners wat sy geraadpleeg het, nie verantwoordelik gehou kan word vir “my bedorwe en ooraktiewe verbeelding” nie. Tog klink niks vir my oordrewe nie en kan haar boek kers vashou by die beste speurreeks op televisie of internasionale top-boekverkopers.
’n Meningstuk in ’n dagblad deur Leopold Scholtz ’n dag of twee gelede kyk na die 40ste herdenking van die Islamitiese revolusie in Iran. Bettina se boek is deurweef met die Iran-tema, ’n welkome afwyking van die geykte terreurgeteisterde lande wat so gereeld deur ander skrywers en filmmakers gebruik word.
Dit maak ook haar boek op meer as een vlak tersaaklik: dis nie net blote ontspanning nie; dit werp die kollig opnuut op hoe vroue in veral die Midde-Ooste behandel word en hoe ’n goed-opgeleide vroulike Peshmerga (Koerdiese vegter) die gewone polisieman kan uitoorlê en selfs ’n gedugte soldaat kan verras. Hell has no fury …
Die stories is verstrengel; die motiewe soms só donker dat dit jou uitasem laat. Vroue wat as objekte gebruik en dan vermoor word steeds die onderliggende tema soos in haar vorige boeke, maar meer op die agtergrond. Hoewel hierdie avontuur Nicci de Wee se derde een is, het Bettina nou vier boeke op haar kerfstok. Haar eerste – nie ’n speurverhaal nie – het haar die Jan Rabie-Rapport-prys besorg en gefokus op mishandeling, dwelmmisbruik en onderdrukking. Ook hierin was die hoofkarakter ’n vrou.
Bettina vertel in ’n kort video deur Penguin Random House dat die speurkarakter – in haar geval kaptein Nicci de Wee – in die meeste speurverhale ’n probleem het met drank of dwelms. Sy wou wegbreek daarvan en wou eerder hiérdie deel van Nicci se karakter kwesbaar maak: haar seksualiteit wat sy wegsteek van ander; maar terselfdertyd iemand met wie lesers kan vereenselwig. Nicci de Wee is naamlik gay, in ’n verhouding met ’n priester.
Een van die lekker aspekte van Nicci se karakter is dat haar persoonlike lewe haar méns maak, maar nie die boek oorheers nie. Nee, dit gaan alles om die drama; die sake wat op die taakspan se ronde tafel in hul “Camelot”-konferensiekamer beland. Soms is speurverhale so gefokus op die hoofkarakter se wroegings om sy lewe op die nou pad te hou dat die speursaak diepte kort en ongeloofwaardig voorkom en dat jy as leser die saak lank voor die helfte van die boek ontrafel het. Jagter is nie so nie.
As ’n skrywer se woorde my ’n karakter in my gedagtes kan laat sien, my selfs haar huis en kollegas kan laat voorstel; as ek die buskruit kan ruik en die geweervuur in my kop kan hoor weerklink; die frustrasie kan voel as ’n leidraad op ’n doodloopstraat uitloop; dan het die skrywer geslaag. En as ek by die laaste bladsy kom en teleurgesteld voel dat ek die bekende karakters moet groet, des te meer.
Dis skrywers soos Bettina wat jou laat wens skrywers kon boeke vinniger skryf, sodat ons as lesers nie so lank moet wag vir hul volgende pennevrug nie.

