Onverskrokke vroue: uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag – ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

  • 0

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

Titel: Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag
Skrywer: Bettina Wyngaard
Uitgewer: Lux Verbi, 2021
Prys: R250
ISBN: 9780796322364
EPUB ISBN: 9780796322371

Bettina Wyngaard praat met Naomi Meyer oor Bettina se boek Onverskrokke vroue: uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag.

Bettina, jy is bekend as misdaadskrywer. Jy werk as regspraktisyn en bied al ’n geruime tyd lank regsadvies – spesifiek vir vroue. Jou jongste boek, Onverskrokke vroue, is niefiksie. Eintlik maak dit sin, as mens die kolletjies begin verbind. Wil jy hierop uitbrei, die prentjie duideliker teken? Waarom het jy hierdie boek geskryf?

........

Elke boek wat ek skryf begin met ’n vraag, iets waaroor ek wonder. Met hierdie boek was die vraag: Hoe baie het dinge verander vir vroue vanaf Bybelse tye? En, in my meer moedelose oomblikke: Het dinge verander?

.........

Elke boek wat ek skryf begin met ’n vraag, iets waaroor ek wonder. Met hierdie boek was die vraag: Hoe baie het dinge verander vir vroue vanaf Bybelse tye? En, in my meer moedelose oomblikke: Het dinge verander? Is ons vandag regtig beter daaraan toe as vroue in daai tye? Mens kan daai vrae met fiksie aanpak, maar ek wou iets bietjie meer konkreet meetbaar aanpak. Ek wou ’n toeganklike hulpmiddel vir Jan en San op straat skep.

Die subtitel van jou boek is "uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag". Waarom kies jy hierdie beginpunt?

Iets omtrent die trifecta van godsdiens, regte en gender maak net vir my sin. En natuurlik is die Bybel ’n uitstekende grondteks van waar genderopvattings uitgepluis kan word, veral vanuit ’n geloofsoogpunt.

Lees mens verder – die inhoudsopgawe – is dit baie ooglopend dat mens nie te doen het met ’n boek wat net gemaklike, lekkerleesstof gaan wees nie. Mens sien dadelik jy gaan praat oor temas wat verweef is in baie vroue se lewens in hierdie land: sekswerk, pornografie, huishulpe, mensehandel. Hoe het jy besluit watter temas jy alles wou bespreek?

Ek het al baie geskryf en bewusmaking gedoen rondom mensehandel en geweld teen vroue, so daardie twee temas was my beginpunt. Maar natuurlik het albei vele fasette, en soos wat ek die draadjies begin ontrafel het, het al meer temas opgeduik, en ek het besef dat ek dit moet opdeel in kategorieë. Die temas wat ek aanpak is natuurlik net die oortjies van die seekoei! Daar is soveel meer om te ontgin.

........

Die temas wat ek aanpak is natuurlik net die oortjies van die seekoei! Daar is soveel meer om te ontgin.

..........

Goeie vraag, wat jy op ’n stadium in die boek noem: Hoe het die vrou se rol verander? En: Het die vrou se rol verander? Dalk kan jy hierop uitbrei, as jy wil.

Ek verwys in een van die ander vrae hierna. Dalk is die kort antwoord: The more things change, the more they stay the same. Maar terselfdertyd is daar ook areas van fantastiese groei.

Toe ek die boek begin lees, was dit vir my duidelik waarom jy die Bybel as afskoppunt gekies het. Dis ook vir my duidelik dat daar baie konflik in die gemoed van enige moderne of ligweg feministiese denker, of iemand wat hoegenaamd bewus is van vroueregte, dat die Bybel in sy rou vorm moeilik versoenbaar is met wat ons beskou as vroueregte. Jy is baie nou betrokke by die kerk in jou omgewing, en gee daar regsadvies. Hoe op aarde versoen mens hierdie kerklike betrokkenheid en vroueregte sonder om nogal dikwels liggies omgekrap te wees?

Wat laat jou dink dat ek nie baie keer liggies (of soms erg!) omgekrap raak nie? Belydenis: Ek het moeite om deur ’n hele paar van Paulus se briewe te lees sonder dat my bloeddruk erg styg! Maar ek glo ook dat, terwyl daar waarde is aan druk van buite om verandering te bring, dit ewe belangrik is dat mense van binne die groep ook moet werk aan verandering. Dis natuurlik waar van enige groep, nie net kerke nie. Dis hoe ek my rol sien – as iemand wat besig is om verandering van binne te probeer maak.

Toe ek lees hoe die rol van die vrou in die kerk verander het, het ek uit die bloute ’n Britse reeks met die naam die The Vicar of Dibley onthou. Waarom die reeks ontstaan het, was nogal nie ’n grap vir die Britte nie (hoewel die reeks baie gewild was). Toe dit in die 1990’s verfilm is, was dit nuuswaardig dat daar vir die eerste keer vroulike ampsdraers in die Church of England toegelaat is. En dis Engeland! Hoe staan sake in hierdie land, dink jy? Vroue en die kerk. Ek dink dadelik aan die begrippe van onderdanigheid, hulp met kook, regstaan by geleenthede, in die kombuis, nederig en stil. Swanger. Tot die man se beskikking. Ek oordryf natuurlik. Of doen ek?

Ek onthou The Vicar of Dibley! Hulle het natuurlik probeer om op ’n humoristiese manier kwessies aan te roer. Ek dink ons het vroue op die preekstoel dalk makliker aanvaar omdat dit min of meer op dieselfde tyd as groot politieke omwentelinge in die land gebeur het – die meeste kerke het eers hier van 1992 af vroue as predikante, priesters en pastore ingelyf. Maar dalk is ons ook net meer buigsaam? Van waar ons nou terugkyk, word vroulike herders met groot waardering in die meeste gemeentes aanvaar.

Jy skryf oor vroue in die tyd van die koronavirus. Nou die dag lees ek in ’n ander boek, Covid Diaries, hoe baie vroue toenemend sukkel om in enkelouerhuishoudings hul huise te behou, omdat hulle so baie balle in die lug moet hou. Hulle moet kinders versorg, werk doen en huishou (dikwels sonder die kinders se pa’s in sig). Jou hoofstuk oor vroue en die koronavirus skets ’n bietjie meer hoopvolle prentjie. Dink jy vroue ervaar dit positief en bemagtigend om te moet werk, kinders te versorg, en meer take te vervul in hierdie dae? Miskien kan jy uitbrei op die aspekte wat jy as hoopvol beskryf.

........

Maar juis omdat daar nou meer van vroue verwag word, is hulle in ’n posisie om nuwe vaardighede te kweek, wat in die toekoms voordelig kan wees. Dit het met elke groot omwenteling in die geskiedenis gebeur, en ek glo dit gaan ook hier gebeur.

.........

Ek dink dis maar moeilik om die positiewe te sien wanneer mens midde-in ’n uitdaging is. Die meeste vroue sou dit seker verkies om op iemand anders te kan staatmaak, en om die bekommernisse, die rekeninge en die pligte te kan deel. Maar juis omdat daar nou meer van vroue verwag word, is hulle in ’n posisie om nuwe vaardighede te kweek, wat in die toekoms voordelig kan wees. Dit het met elke groot omwenteling in die geskiedenis gebeur, en ek glo dit gaan ook hier gebeur. As ons oor 5 of 10 jaar terugkyk, gaan ons die voordele sien.

Daar is vroue wat kan baat by regshulp, dis ’n feit. Ek lees die hoofstuk oor huiswerkers en dink hoe nodig dit is om oor hierdie beroep na te dink. Dink jy jou boek bied raad of hulp, of kan dit huiswerkers verwys na plekke waar hulle die nodige regsadvies kan kry?

Die boek is nie bedoel as ’n regshulphandleiding nie – jy gaan bv nie ’n prokureur se kontakbesonderhede daarin kry nie. Wat ek wel probeer doen het, is om veranderinge in wetgewing en hofbeslissings op ’n toeganklike manier uit te wys sodat enige leek ingelig kan word.

Jou hoofstukke oor vroue as sekswerkers, en oor pornografie en hoe dit vroue, mans en kinders beïnvloed, het my laat nadink oor die belang van die reg. Trouens, die meeste van die hoofstukke bied hierdie stof tot nadenke. Mens kom altyd terug na die grondwet. Die wette is geskryf, baie sisteme bestaan. My vraag aan jou is: Het jy vertroue in ons regstelsel? Sien jy dat dit afgedwing word? Sien jy dat vroue dit help afdwing en die regte kanale volg?

........

Ons het fantastiese progressiewe wetgewing, maar keer op keer duik ons in die hek wanneer dit by toepassing kom.

.........

Ons het fantastiese progressiewe wetgewing, maar keer op keer duik ons in die hek wanneer dit by toepassing kom. Selfs wanneer vroue hulle regte probeer afdwing, word daar baie keer struikelblokke in hul pad gesit. Papierregte help ons niks. Dan is daar ook nog die aanvalle op ons howe, wat vertroue in die regsprekende gesag ondermyn. Ek het vertroue in ons regstelsel, maar word elke dag herinner aan hoe broos en breekbaar dit is. Dít maak my senuweeagtig.

Gepraat van verbind die kolle. Jy verwys in die hoofstuk oor aktivisme en hutsmerkveldtogte na hoe vroue in Bybelse tye nie die toegang tot die reg (en die sosiale media) gehad het om hulle gemeenskaplike, of afsonderlike, stemme te laat hoor nie. Dan verwys jy na onlangse hutsmerk-veldtogte soos #MeToo, wat een van die bekendstes was. Dink jy vroue, wat hul tog dikwels so graag met skamele klere vir die manlike oog op die sosiale media uitstal, benut ook die ander aspekte van die sosiale media – die komponent van bemagtiging, van stem gee/verkry?

Ek dink sosiale media word al meer gebruik vir bewusmakingsveldtogte, maar dan sien ek ook baie sg challenges wat skynbaar ten doel het om te sien wie die waaghalsigste kan wees omtrent naaktheid. En dis nie net vroue nie. Ek herinner my net nadat die eerste inperking in Maart verlede jaar afgekondig was, was daar so ’n paar dae waar mans naak op Twitter paradeer het! Dank vader dit het vinnig oorgewaai.

Jou boek lewer kommentaar op so baie aspekte van die lewe waaraan baie mense glad nie dink nie, maar wel behoort te dink. Hier verwys ek na mensehandel, byvoorbeeld. Of skadelike praktyke mbt jong vroue se liggame. Ek verwys na iets soos stadige, minder opsigtelike geweld, soos wat jy so mooi uiteensit in een van die laaste hoofstukke van jou boek. Maar dan verwys jou boek ook na die huwelik en gesinsgeweld, wat in alle huishoudings oor alle sosio-ekonomiese omstandighede heen plaasvind. Wat jou boek in elk geval doen, is om die leser se oë oop te maak. In ’n nog meer geïsoleerde wêreld, waar mense dikwels tuis werk, wys jou boek vir mense terreine van die samelewing, sfere waarbinne vroue beweeg, waaroor daar nagedink moet word. Wie was jou teikenleser?

.......

Elke persoon, hoe hulle ook al identifiseer itv gender, wat belang het daarby om te weet hoe vroue die wêreld ervaar. En selfs mense wat nie noodwendig in die Bybel of godsdiens belangstel nie, kan baat vind hierby.

.........

Teikenleser? Elke persoon, hoe hulle ook al identifiseer itv gender, wat belang het daarby om te weet hoe vroue die wêreld ervaar. En selfs mense wat nie noodwendig in die Bybel of godsdiens belangstel nie, kan baat vind hierby.

Jou boek hou my bewus van die reg wat elke aspek van die samelewing onderlê. Ook: hoe die reg vantevore sekere reëls wou afdwing wat verkeerd was en so baie skade aangerig het. En hoe die grondwet en ander wette mense nou ander vryheid laat geniet. Jy wat in die regsberoep werk: Dink jy mense benut dit? Die vroue oor wie jy skryf – is jou boek ’n manier om hulle in te lig? Jy het ’n stem, jy het ’n keuse, jy het toegang tot die reg?

O ja, ek hoop vroue (en die mans wat vir hulle omgee) vind nuttige inligting in Onverskrokke vroue, veral omdat mense nie altyd bewus is van hul regte nie.

Jy skryf gereeld rubrieke vir LitNet. Ook hier is hier ’n konneksie tussen die reg en alledaagse nuusgebeure, of daaglikse gebeure in mense se lewens – soos wat jy ook in hierdie boek beskryf. Hoe weet jy: hier is ’n prikkel, hieroor moet ek hierdie rubriek skryf?

Soms is dit ’n beeld of ’n woord of idee wat my nie met rus wil laat nie – partykeer omdat dit onregverdig is, maar soms ook omdat dit die absurditeit van die lewe belig. Wanneer ek daai rusteloosheid ervaar, weet ek hieroor moet ek skryf.

Terug na jou boek, hierdie een en ander: Hoe werk die skryfproses vir jou? Kry jy ’n idee, gaan skryf dadelik? Maak jy notas, aantekeninge? En met die skryf van hierdie boek? Hoe het die skryf en beplanningsproses gewerk?

Omdat Onverskrokke vroue niefiksie is, moes ek baie meer nougeset wees met my navorsing. Ek het lank geskaaf aan die temas waaroor ek wou skryf. Die konsepte. Daarna het die navorsing gekom: wetgewing, hofsake en toepaslike nuusberigte – nie noodwendig in daai volgorde nie. Ek maak oral notas, skryf gedagtes neer, vra vrae op Post-Its, die lot. Teen die tyd dat ek begin skryf, het daar al berge leeswerk gebeur. Maar dan gaan dit eintlik vinnig – my gedagtes is georden, ek het al die inligting, ek weet wat ek wil sê.

Dis Vrouemaand. Ek dink jou boek het vir my uitgewys daar het tóg dinge vir vroue verander, en vroue het sommige van hierdie dinge vir hulself laat verander ook sedert die Bybelse tye. Wat is jou visie en hoop en strewe vir die vroue van hierdie land – vandag en in die toekoms?

In ’n neutedop? Wag, is dit anglisisties? Elk geval, ek hoop dat ons elkeen ons volle potensiaal sal bereik, dat ons mekaar as bondgenote sal sien eerder as kompetisie, dat ons gesond en veilig en héél sal wees. Dat ons elke uitdaging voluit die hoof sal bied. Dat die uitdrukking "you strike a woman, you strike a rock" vergete sal wees, want niemand slaan aan ’n vrou nie. 

Lees ook: 

#FreeBritney tel spoed op

Vergeet maar van gun reform, Uncle Cyril

Vellies is net vellies – of is dit?

COVID diaries: Women’s experience of the pandemic – an interview with Amanda Gouws and Olivia Ezeobi

 

Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag deur Bettina Wyngaard: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top