Vellies is net vellies – of is dit?

  • 1

Fotoerkenning: TwinMosia - eie werk, CC BY-SA 4.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=71394591

........

Ontwerpers kan bitter selde al hul landsburgers gelukkig hou wanneer dit kom by die uitrustings wat deelnemers aan die Olimpiese Spele by die openingseremonie dra.

........

Ontwerpers kan bitter selde al hul landsburgers gelukkig hou wanneer dit kom by die uitrustings wat deelnemers aan die Olimpiese Spele by die openingseremonie dra.

Dis hier te kort of daar te lank – en hierdie jaar se Olimpiese Spele het reeds voor die openingseremonie vir ’n paar klereherries gesorg. Eers was daar die besluit om swempette wat spesifiek ontwerp is om etniese hare te bedek, te verban. Naomi Osaka se “politieke” maskers met die name van Breonna Taylor, Tamir Rice en ander is teen hierdie tyd eintlik al ou nuus. Die Duitse vrouegimnaste het besluit om in noupassende langpypleotards te kompeteer eerder as in die standaard-bikinileotards. En terwyl dit nie by die Olimpiese Spele was nie, is die boetes wat die Noorweegse vrouehandbalspan opgelê is nadat hulle verkies het om in kortbroeke eerder as bikini’s te speel, hierdie week groot nuus. Die musikant Pink het ook nou tot die stryd toegetree deur aan te bied om die spelers se boete te betaal.

.......

Maar vir baie Suid-Afrikaners was hierdie jaar se openingseremonie nie net ’n modieuse verleentheid nie. Baie was bitterlik ontsteld oor die velskoene wat deelnemers gedra het.

........

Maar vir baie Suid-Afrikaners was hierdie jaar se openingseremonie nie net ’n modieuse verleentheid nie. Baie was bitterlik ontsteld oor die velskoene wat deelnemers gedra het.

Die maatskappy wat die skoene geborg het, Veldskoen™, is bekend vir hul prettige, helderkleurige sool-en-veter-kombinasie. Hulle doen ook groot moeite om modelle van alle rassegroepe in hul advertensies te gebruik om diversiteit uit te beeld. Inderwaarheid sou ek reken hulle gebruik meer swart as wit modelle. Internasionaal is hulle baie gewild. Ashton Kutcher het ’n paar sulke skoene, en so ook Jakob Polacsek, en Hugo Weaving is gesien waar hy tussen ’n paar met blou of rooi sole probeer kies het.

Maar baie Suid-Afrikaners het nie die prettige kleure gesien nie. Al wat hulle gesien het, was dat ’n baie spesifieke, konserwatiewe beeld deur ons atlete uitgedra is, tot groot konsternasie en selfs woede. Luisteraars het op radioprogramme kommentaar gelewer soos dat die klere, en veral die skoene, nie verteenwoordig wie hulle is nie, dat dit onprofessioneel en rassisties is. Ander was weer van mening dat velskoene histories eerste deur die inheemse mense gedra is en eers later deur die setlaars oorgeneem is.

Op my eie Facebook-blad het mense sterk gevoelens uitgespreek. Iemand sê byvoorbeeld dat die skoene vir baie mense Orania-konnotasies inhou. ‘n Ander meen weer dat sy nie seker is daar was ooit Orania-konnotasies aan velskoene nie. Behalwe die skoene was nog iemand ook minder gelukkig oor die lengte van die atlete se sokkies.

.......

My mening? Die kombinasie van die velskoene met hul helder kleure en die patriotiese landsvlagsokkies het op speelse manier die draak gesteek met vooropgestelde idees.

........

My mening? Die kombinasie van die velskoene met hul helder kleure en die patriotiese landsvlagsokkies het op speelse manier die draak gesteek met vooropgestelde idees. Of die persone wat oor die drag moes besluit, dit so bedoel het, is natuurlik ’n ope vraag. Verder het ek gehou van die sebramotief op die maskers. Oor die res laat ek my liefs nie uit nie. Ek het maar eerder na Tonga se vlagdraer gekyk.

Maar die woede en die omstredenheid wat die skoene ontlok het, bring mens tot stilstand. Skoene kan nie rassisties wees nie. Of kan dit? Ek besit self ’n paar Veldskoene met helderpienk sole. ’n Musikant-vriendin het ’n paar met oranje sole. Nog iemand wat ek ken, geniet haar blou-sool-Veldskoene. Nie een van ons val binne die stereotipe van verkramptheid wat skynbaar met vellies assosieer word nie.

Velskoene het dalk al internasionaal aanvaarbaar geword, maar hier binne ons landsgrense is dit vir baie mense nog ’n assossiasie van pyn, vernedering en onderdrukking. Dit kan selfs ’n sneller tot traumatiese herinneringe wees.

Ongeag wat die mening is, in ’n land wat al soveel hartseer en pyn deurgemaak het, behoort enige persoon wat besluite neem oor drag wat ons mense verteenwoordig, sensitief te wees vir persepsies wat uitgedra word.

Dis net jammer dat ’n maatskappy wat ditself beywer vir diversiteit, nou die gesig van omstredenheid geword het.

  • 1

Kommentaar

  • Prins Harry het darem ‘n paar vellies en Wuppertal en Wellington se skoenfabrieke het sulke vaardige skoenmakers wat kwaliteitprodukte lewer met roumateriaal uit ons eie bodem. Hulle was nog nooit wit nie en sorg vir kos op hul tafels vir jare. Hoogtyd hul kry ‘n internasionale podium soos die rieldansers wat ook vellies dra. Verder sien ek nogal dikwels skerppuntskoene van die Rooi Pet-brigade. Skoene moes seker van Kuba of China gekom het. As die sensitiewe toontjies tog maar net dikwels dieper navorsing doen voor hul "rassis" skree.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top