#FreeBritney tel spoed op

  • 2

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Een van die genotvolste flieks wat ek hierdie jaar gesien het, is seer sekerlik I care a lot, met Rosamund Pike op haar uitmuntende beste.

Sy speel die booswig wat met behulp van die hofstelsel beheer oor bejaarde mense se eiendom neem en dit dan vir eie verryking gebruik, met soveel genot dat die kyker nie anders kan as om dit saam met haar te geniet nie. Natuurlik is flieks nie soos die ware lewe nie, en in die fliek loop sy haar vas teen ’n bejaarde vrou met ’n beskermheer in ’n magsposisie.

In die ware lewe kan sg conservators ’n persoon se hele lewe oorneem en daar is bitter min wat daaraan gedoen kan word, maak nie saak hoe ryk of bekend jy is nie.

In Suid-Afrika het ons ’n soortgelyke stelsel, wat hier kuratorskap genoem word. Hier het ons twee tipes kurators: curator ad litem wat mense in hofgedinge bystaan, en curator bonis, wat gewoonlik die persoon met daaglikse lewensbesluite bystaan en versorging hanteer. In ons opset is dit gewoonlik verstandelik gestremde persone en minderjariges wat deur die howe onder kuratorskap geplaas word. Dit is nog taamlik ongewoon dat volwasse persone wat andersins in staat is om vir hulself te sorg, onder kuratorskap geplaas word.

Terwyl ek I care a lot gekyk het, was Britney Spears se situasie die heeltyd in my agterkop. Die fliek lewer immers kommentaar op ’n situasie soos die een waarin Spears lewe. Die sangeres is al sedert 2008 vasgevang in ’n soortgelyke tweeledige conservatorship, waar haar pa as voogdy oor haar lewe en eksekuteur van haar aansienlike boedel optree. Die dokumentêr Framing Britney Spears gee ’n goeie oorsig oor die afgelope aantal jare. Dit het aan ook die #FreeBritney-beweging momentum gegee.

Alhoewel Spears al sedert 2014 probeer om onder die juk van haar pa, wat van haar vervreemd is, uit te kom, het sy nooit in die openbaar kommentaar gelewer op haar situasie nie. Tot 23 Junie 2021, toe sy ’n hofaansoek van stapel gestuur het om die voogdyskap te beëindig, met die spesifieke versoek daat haar getuienis voor die hof openbaar gemaak moet word. Dit is toe lewend uitgesaai.

Onder andere beweer Spears dat haar pa haar $60 miljoen-boedel beheer, maar dat sy self net $2 000 per week toegelaat word aan lewenskostes. Sy beweer dat sy nie eens toegelaat word om ’n dokter te besoek om haar voorbehoed te laat verwyder nie, en dat sy gedwing word om teen haar sin te werk. In kort beweer die sanger in haar 23 minuut lange getuienis dat sy soos ’n slaaf behandel word. Sy wil net toegelaat word om haar vriende wat agt minute ver van haar woon, te gaan besoek en met haar kêrel in ’n motor te gaan ry, vra sy – goed wat die res van ons as vanselfsprekend aanvaar.

Die argument is dat indien Spears compos mentis genoeg is om op toer kan gaan en voor derduisende mense konserte te hou, sy toegelaat behoort te word om haar eie lewe en finansies te beheer.

........

Die wetgewing was immers oorspronklik bedoel om mense wat nie meer beheer oor hul eie sake kan neem nie, te beskerm. Maar soos wat I care a lot en ook Spears se getuienis voor die hof al hoe duideliker maak, is dit ’n sisteem wat ryp is om misbruik te word.

.........

Die wetgewing was immers oorspronklik bedoel om mense wat nie meer beheer oor hul eie sake kan neem nie, te beskerm. Maar soos wat I care a lot en ook Spears se getuienis voor die hof al hoe duideliker maak, is dit ’n sisteem wat ryp is om misbruik te word.

In Suid-Afrika het ons gelukkig nog nie professionele voogdye wat hul besigheid maak daaruit om ander onder kuratorskap te plaas nie. Is ons sisteem bestand teen sulke misbruike soos wat in die fliek uitgebeeld word? Ons wil graag glo dat ons howe nog eerbaar is en beman word deur regsprekende beamptes met integriteit. Die realiteit is egter dat selfs regter-presidente van korrupsie beskuldig word. Net omdat ons sisteem nog nie misbruik is nie, beteken dit nie die potensiaal is nie daar nie.

Die hof het nog nie uitspraak gegee in Spears se aansoek nie. Die saak is uitgestel tot Julie, wanneer verdere getuienis aangehoor sal word.

Die vraag is net: As Britney Spears, iemand in die openbare oog, geen beskerming teen die stelsel het nie, watter hoop het enigiemand anders?

  • 2

Kommentaar

  • Ek het bietjie na Britney Spears op Instagram gaan kyk en luister. Geen wonder haar pa beheer die mooie kind se sake nie, haar gedrag en insig is minder volwasse as my die van my 13-jarige kleinkind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top