Na aanleiding van Bettina Wyngaard se skrywe oor Sypaadjie

  • 1

Johan Jack Smith en Izak de Vries van Wenkbrou reageer op Bettina Wyngaard se artikel wat pas op LitNet verskyn het.

Johan Jack Smith

Stephen King, wat al beskryf is as seker dié gewildste skrywer van ons generasie, sê in sy boek On writing: A memoir of the craft (ons vertaling): “Een van die belangrikste aspekte van skryf is die volgende: Jy moet eerlik wees.” Wyngaard beweer dat ’n deel van Alma Rossouw se Sypaadjie (bl 8) rassisties is. Hier beskryf die karakter, Leah, haar geïsoleerde grootwordjare naby Stellenbosch op ’n plaas. Sy verwys na “kleurlinge” en “swartes”, terme wat onaanvaarbaar is vir vandag. Die skrywer stem volkome saam. Maar wat van Leah, die hoofkarakter? Sou dit nie oneerlik wees van ’n skrywer, en uitgewer, om skielik die korrekte, rassensitiewe beskrywings en aanspreekvorme te gebruik nie? Iets wat beslis nie sou pas by die karakter nie?

Wyngaard tref ook die vergelyking tussen Réney Warrington se Smit Motors (ook ’n Wenkbrou-publikasie), waar die skrywer navraag gaan doen het by betrokke kulture oor watter beskrywings en aanspreekvorme aanvaarbaar is. Daar is egter ’n hemelsbreë verskil tussen Warrington se boek en Rossouw s’n. Warrington se hoofkarakter, Petra Smit, is ’n verligte, wêreldwyse skrywer uit Johannesburg. Rossouw se karakter is ’n naïewe jong meisie uit die Kaap met ’n geïsoleerde opvoeding.

Wyngaard vra onder andere: “Bevorder dit die storie? Verleen dit historiese konteks? Is die gebruik van die terminologie of teks nodig, om watter rede ook al? In hierdie geval is die antwoorde op al daardie vrae ‘nee’. Sy sit die pot mis. As die skrywer nie weet waarvandaan die karakter kom nie, hoe gaan sy haar optrede verstaan?

Ek haal een van die kommentare aan van Bennie Viljoen, wat my sentiment perfek opsom: “Het ‘n roman/boek nie juis die doel om die karakter uit te beeld volgens die karakter se agtergrond nie? ’n Eenvoudige plaastannie se karakter gaan hoogs ongeloofwaardig wees as sy polities korrekte terminologie gebruik wat net by fyntrap politici ens voorkom. Nathan Trantaal se skryfstyl is ‘n sprekende voorbeeld.”

Het ek die deel goedgekeur? Ja, ek het. Dis my werk as uitgewer om stories aan lesers te bied wat eerlik en realisties is. Ek kan nou ’n lang relaas skryf oor rassensitiwiteit in letterkunde, of beskrywings aanhaal uit die HAT, maar so lief is ek ook nie vir my eie stem nie. Die doel van Wenkbrou is om die wenkbroue ‘n bietjie te laat lig, ja. Het ons die wenkbroue om die verkeerde redes gelig met Sypaadjie? Koop die boek en besluit self. Ons September-boek, Halley se komeet, speel af in ’n klein plattelandse dorpie in Natal gedurende die 1980’s. Dis onstuimige dae in Suid-Afrika. Een van die karakters, genaamd Rudie, is ’n aardse rassis wat van die Grensoorlog af terugkeer. Gaan hy se medelandburgers aanspreek as sy gelyke? As “swart man”? Sonder om ’n onderskeid op grond van kleur te tref? Ek twyfel sterk. Indien hy het, was ek en die skrywer oneerlik.

Om van ’n skrywer uit te maak dat sy haar skuldig maak aan “’n [u]itgesproke verdediging van skeiding en verskillende behandeling op grond van kleur” is ’n wilde aantyging en heeltemal onaanvaarbaar. En dis beslis nie iets wat bydra tot die diskoers nie, maar eerder meer skade berokken.

 

Hoe “show” ’n mens rassisme?

Izak de Vries

Ek het ’n geweldige respek vir Bettina Wyngaard. Haar redelik ernstige aanval op Wenkbrou sou egter dat ek wou kommentaar lewer.

Een van die bekendste goed wat ons vir skrywers sê is: “Show, don’t tell.”

Hoe “show” ’n mens rassisme?

Myns insiens is dit wat Alma Rossouw reggekry het met die woorde en die idees wat sy in haar karakter se mond en denke geplant het.

Rossouw se karakter is ’n spieël waarin jong Afrikaanse wit mense hulleself sal herken. As hulle dan ongemaklik voel, wel, dan het die boek geslaag.

Ek wil waarsku: Wenkbrou gaan oor twee maande ’n boek uitbring waarin nog erger woorde voorkom, want dit, daardie kwetsende k-woorde, is toentertyd gebruik. Daardie boek plaas die onwettige en baie mooi liefde tussen mense van verskillende rasse teen die kru werklikheid van die tyd. Die woorde gaan die leser soos vuishoue tref, want daardie houe het toentertyd ook seergemaak.

Ons vergeet so maklik. Ons moenie.

Woorde is belangrik. Konteks ook.

Alma Rossouw se boek show. She does not tell. Ek is baie trots op wat sy vermag het. Sy het ’n karakter geskep waarmee mense kan identifiseer, en wat hulle dan baie ongemaklik gaan laat voel. Sy het die wenkbroue gelig.

Lees Bettina Wyngaard se artikel

Woorde wat die wenkbrou laat lig, om al die verkeerde redes

  • 1

Kommentaar

  • Ek is bevrees Bettina is verkeerd in hierdie geval. En Izak 100 persent korrek. Dis so simpel soos dit. Die skrywer en die karakter in die boek is twee aparte entiteite. Tensy die genre outobiografie is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top