Woorde wat die wenkbrou laat lig, om al die verkeerde redes

  • 9

Woorde dra krag. Woorde het mag. Woorde kan ophef of neervel.

In elke area van my werkslewe was woorde nog altyd een van die belangrikste artikels in my gereedskapskassie. Juis daarom is ek so bedag op hoe woorde gebruik word. Hierdie afgelope naweek is ek weer herinner aan die belangrikheid daarvan om versigtig met woorde om te gaan. Wenkbrou, ’n nuwe druknaam uit die Lapa-stal, het ’n boekbekendstelling in Stellenbosch gehou. Réney Warrington se Smit Motors en Alma Rossouw se Sypaadjie, die eerste twee boeke deur hulle uitgegee, is bekendgestel.

Tydens die gesprek het Warrington gepraat oor die navorsing wat sy gedoen het om seker te maak sy gebruik nie woorde wat kwets of vervreem nie. So het sy byvoorbeeld by mense wat in townships bly, gaan vra of die woord vir hulle aanvaarbaar is voordat sy dit in die teks gebruik.

Dit het my laat wonder oor Rossouw se benadering, juis omdat daar alreeds op bl 8 van haar teks ’n paar paragrawe was wat my tot stilstand gedwing het omdat dit so toondoof is. Sy praat van “kleurlinge”, ’n term wat dalk in die 1970’s nog aanvaarbaar was, maar nie meer in hierdie eeu nie. Sy verwys na ’n swart man wie se wit tande erg kontrasteer met sy vel. Sy spreek verbasing uit dat Xhosas Christene kan wees. Haar hoofkarakter word beskryf as versigtig vir swartes (nog ’n toondoof term) en ontmoedig lesers om met kleurlinge te speel. En dan die volgende: “Sy was nooit ’n rassis nie, maar wel skrikkerig vir swart mense ... Haar familie was nooit uitgesproke rassiste nie, net versigtig vir die onbekende.” ’n Uitgesproke verdediging van skeiding en verskillende behandeling op grond van kleur, dus.

Die HAT beskryf rassisme as “Veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras.” In terme van hierdie definisie val Rossouw se oortuiging dat net sekere rasse geloof in God kan hê, of dat sekere rasse nie goeie speelmaatjies kan uitmaak nie, dus volledig binne die beskrywing van rassisme. Daardie gedeelte van die teks is dus ten beste toondoof en op die ergste uitgesproke rassisme.

Ek het agterna met Rossouw gaan gesels om uit te vind of sy hoegenaamd nagedink het oor die teks. Ja, het sy my verseker, sy het met haar uitgewer, Johan Jack Smith, daaroor gepraat en hulle het saamgestem dis nie rassisties nie. Anders gestel, twee wit mense het koppe bymekaar gesit en besluit oor wat kwetsend teenoor ander rasse kan wees. Sy het ook by ’n vriend van haar uitgevind, en hy was oukei daarmee, het sy verder bygevoeg. Wie die vriend is en hoekom sy mening gewig dra, is nie verduidelik nie.

Soveel keer al was daar advertensies met oop en bloot rassistiese ondertone wat na hewige protes verwyder is van die radio en televisies. Elke keer is die eerste vraag: Maar het niemand hieroor gedink nie?

Ek het nou my antwoord. Daar word wel besin oor goed, maar daar is geen diversiteit in die besluitnemingsproses nie. Die insigte van lede van die geaffekteerde groepe word nie ingewin nie. Die uitgewersbedryf oor die algemeen het ’n probleem met gebrek aan diversiteit. Soms word die token bruin of swart werker vir hul mening gevra, maar dis nie altyd seker hoeveel outonomie hulle het om van die groep te verskil nie.

Dink watter verskil dit sou gemaak het indien daar van ’n groep Xhosasprekendes gevra was hoe hulle voel wanneer hulle uitgebeeld word op die wyse waarop dit gedoen is. Of as ’n groep bruin mense gevra was hoe hulle voel oor die term kleurling, of die geloof dat om mense uit te sluit nie rassisme is nie.

Waarskynlik sou daai stuk teks uitgehaal gewees het.

As die persoon wie se naam op die voorblad van die boek verskyn, is daar ’n spesiale onus op die skrywer om seker te maak dat hy of sy hom of haar volledig vereenselwig met wat op die bladsye verskyn. Vir kunstenaars in ’n omgewing wat alreeds vyandig teenoor Afrikaans is, is dit soveel meer belangrik om juis nie negatiewe stereotipes te versterk nie. Rossouw en haar uitgewers het albei die pot lelik misgesit hier.

Kom my kommentaar neer op sensuur en die onderdrukking van kuns? Nee. Die gebruik van woorde en terme word nie in isolasie gesien nie. Bevorder dit die storie? Verleen dit historiese konteks? Is die gebruik van die terminologie of teks nodig, om watter rede ook al? In hierdie geval is die antwoorde op al daardie vrae “nee”. Die teks sou waarskynlik beter af gewees het as die hele bladsy uitgehaal was.

Die besluitnemingsproses hierin spreek ook tot ’n groter probleem in ons samelewing: dat lede van sekere groepe kan besluit oor wat lede van ander groepe kan en mag voel, sonder om daardie groep in die proses te ken. Daar is ’n basiese arrogansie, ’n paternalistiese beterweterigheid wat juis die grondslag is van ’n groot deel van die gemors waaruit ons samelewing probeer kom. En enigeen wat dink ons is nie in ’n gemors nie, slaapwandel deur die lewe.

Dit het tyd geword dat mense begin luister na die ervarings van ander groepe en dit nie verwerp as onbenullig nie. Luister met die doel om te verstaan en te probeer verbeter, nie met die doel om te beveg en te debatteer nie. Ons kan eenvoudig nie meer bekostig om soos olifante loodsvoet in situasies in te strompel nie.

Wêreldwyd is daar ’n groter bewustheid van die nodigheid om sensitiwiteitskonsultante aan te stel waar daar moontlikhede van konflik of misverstand is. So word ’n Moslem-vriendin van my gereeld gevra om tekste deur te gaan waar Moslem-karakters uitgebeeld word om seker te maak daar word nie doelbewus of deur onkunde op enige tone getrap nie. In ons konteks, waar daar soveel meer potensiaal vir konflik is, is die behoefte aan ’n benadering wat nie toondoof is nie, soveel groter.

’n Druknaam wat hom posisioneer as vernuwend, soos wat Wenkbrou doen, behoort regtig met groter sensitiwiteit deur hul tekste te werk – anders gaan hulle wenkbroue om al die verkeerde redes laat lig.

Lees Johan Jack Smith en Izak de Vries van Wenkbrou se repliek

Na aanleiding van Bettina Wyngaard se skrywe oor Sypaadjie

  • 9

Kommentaar

  • Bravo Bettina, ek het sommer opgehou lees aan die boek want ek het my so vererg. Dankie vir jou insig en kommentaar, want ek voel ook dat wittes nie uitsprake kan maak oor mense van kleur se reaksie of uitbeelding, sonder oop raadpleging nie.

  • "Ons kan eenvoudig nie meer bekostig om soos olifante loodsvoet in te strompel nie."
    Liewe Bettina, jy ken nie olifante nie! Hulle strompel nooit loodsvoet êrens in nie!

  • Dankie, Bettina. Ek was onseker of ek die boek wou lees of nie. Jy't my help besluit dat ek eerder iets anders op my leeslys moet sit.

  • Bettina, jy's HEELTEMAL te sensitief. Om enigiemand in te sluit (met ander woorde 'inklusief' mee te verkeer) onderworpe aan die voorwaarde dat jy op eiers loop maak dan hierdie insluiting uiters ongemaklik en dus geforseerd. Dit word dan 'n handeling wat deur voornemende insluiters liefs vermy word.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    "Liewe Bettina, jy ken nie olifante nie! Hulle strompel nooit loodsvoet êrens in nie!" aldus Philippus.

    Ek stem saam. Miskien is die les in Bettina se argument juis dat ons - veral skrywers - so ligvoets soos olifante moet stap.

  • Avatar
    Francois Verster

    Miskien mis ons almal 'n belangrike punt, nl aangesien sekere terme vir baie Suid-Afrikaners onaanvaarbaar is, wat is die alternatief? Neem die etikettering van een groep in ons samelewing: … en hier het ek reeds 'n dilemma; ek wil hulle identifiseer, maar hoe, want wat ek ook al as groepsterm gebruik, sal vir iemand onaanvaarbaar wees. Goed, ek kies 'n ander groep, die witmense, wat niemand gee tog om wat hulle genoem word nie? Ons praat maklik van olifante in die kamer, maar om alle terme te begin verdag maak, is dalk juis die skepping van nog olifante. En hoe dan, want ons almal weet wit olifante is die ergste soort olifant - hy of sy is immers heeltemal useless. Maar wat gaan ons doen, hoe navigeer 'n mens al die politieke landmyne? Aan die een kant het jy die geldige punt van 'n groot seer, en aan die ander kant die behoefte aan die waarheid, die show, don't tell-strategie. Miskien is eerlikheid tog steeds die middelpad. As mense eerlik mag wees, sal ons weet wat onder die oppervlak is, anders is olifante nie die gevaar nie, maar daai knopperige plat-honde, die soort wat valse trane huil. Iets wat al hoe meer pla, is immers die geweldige mate van ontkenning wat jy by alle groepe in die land kry, tot selfs op die punt dat daar "geen rasse bestaan nie". Helaas, as dit so was, was daar mos geen kwessie nie. En sou skrywers nie die bul by die horings, of die olifant aan die slurp pak nie, sal daar ook geen gesprekke gegenereer word nie - gesprekke soos hierdie een.

  • Ek verstaan Bettina se uitgangspunt, maar ek dink sy trap in die slagyster van blinde sensitiwiteit. Ons kan die verlede en die verlede se woorde nie ongedaan maak nie. Ons kan slegs daarop bou en daaruit leer. Dit is vir my n taai toffie as daar verwag word dat geen nuwe tekswoorde van daardie mensonterende era mag insluit nie. Hoe hanteer ek ’n karakter in ’n storie wat vandag afspeel wat byvoorbeeld ’n uiters rassistiese verregse is? Moet ek dan sy dialoog so aanpas dat dit polities korrek is? As ’n verligte wit karakter vandag verwys na sy kinderjare en hoe sy indrukke van mense van ander rasse gevorm is, hoe doen hy dit sonder om dit te noem. As ’n boek vandag oor die Ku Klux Klan van 1960’s geskryf word, sal tonele en karakters tog sekerlik uitgebeeld word en praat soos toe. Ek dink ons moet ophou kyk na woorde, ons moet kyk na hoe ons sedertdien gevorder het, so bou ons myns insiens eerder wedersydse respek as om voor te gee sommige woorde en konsepte het nooit bestaan nie.

  • Bettina, verstaan jy dat fiksie nie 'n Sondagskool-handboek is nie? Kyk bietjie na die geskiedenis van fiksie in Suid-Afrika. Die sestigers het 'n hele bohaai ontketen, want, so is beweer, ons volk is nie so immoreel nie.
    Jy is nou in dieselfde bootjie as die verkramptes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top