Die Andrew Murray Prysfonds: ’n gesprek tussen Bettina Wyngaard en Frits Gaum

  • 0

Frits Gaum (foto: wikipedia); Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Die Andrew Murray Prysfonds (AMPF) het onlangs op luisterryke wyse Christelike literatuur wat oor die afgelope twee jaar gepubliseer is, gevier. Bettina Wyngaard het met die bekende teoloog Frits Gaum, die voorsitter van die AMPF, gaan gesels.

Frits, hoe lank bestaan die AMPF?

Die AMPF is 44 jaar oud. Dit is in Mei 1978 gestig toe Andrew Murray jr se 150ste geboortedagherdenking plaasgevind het, en die prysfonds is na hom vernoem omdat hy (nog altyd) een van die skrywers van geestelike lektuur is wat wyd gelees word en wie se werke in baie tale vertaal is. Hy het in sy leeftyd nagenoeg 200 boeke van verskillende formate en omvang geskryf.

Hoekom is die fonds geskep?

Die fonds is geskep om gehalte- Christelike en teologiese werk in Afrikaans en in al die amptelike tale van Suid-Afrika te bevorder. Afrikaans het nog altyd ’n spesiale plek in die fonds se grondreëls – die “moederprys” van die fonds, die Andrew Murray-prys, is vir Afrikaanse publikasies bedoel. 

........

Afrikaans het nog altyd ’n spesiale plek in die fonds se grondreëls – die “moederprys” van die fonds, die Andrew Murray-prys, is vir Afrikaanse publikasies bedoel. 

........

Wat is die hoofkategorieë waarin pryse toegeken word?

Daar is drie pryse: die Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese publikasies in Afrikaans; die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike en teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans; en die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk. Die feit dat Desmond Tutu se naam ook aan van die pryse verbind is, staan in die teken van versoening. Gerrit Brand was ’n briljante, vroeggestorwe teoloog en boekeman van Stellenbosch.

..........

Die feit dat Desmond Tutu se naam ook aan van die pryse verbind is, staan in die teken van versoening. Gerrit Brand was ’n briljante, vroeggestorwe teoloog en boekeman van Stellenbosch.

...........

Wie was hierdie jaar die wenners in hierdie kategorieë? Wat wen hulle?

Die Andrew Murray-prys is gewen deur Malcolm de Roubaix vir sy boek Hoop, heling en harmonie, uitgegee deur Penguin; die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys is gewen deur Hykie Berg vir Ultimate survivor, uitgegee deur Lux Verbi; en die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys se wenner was Ivor Swartz vir sy boek Die verlore seun vannie Gaatjie, ook uitgegee deur Lux Verbi. Die eerste twee pryse bedra R25 000, die derde een R15 000.

https://www.litnet.co.za/hoop-heling-harmonie-dink-nuut-oor-siekte-en-genesing-deur-malcolm-de-roubaix-n-resensie/

Watter ander toekennings word ook gemaak?

Ons onderskei tussen pryse en toekennings. Daar is drie toekennings: die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek, wat aan die sanger Jan de Wet gegee is; die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir omgewingsbewaring, wat David Botha ontvang het; en die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid, wat nadoods aan wyle Mary-Ann Plaatjies van Huffel en wyle Danny Titus toegeken is. 

Hoe het die inperking die formaat van die prysuitdelings verander?

Ons het gewoonlik ’n oorhandigingsfunksie naby die verjaarsdagdatm van Andrew Murray (9 Mei). Die laaste twee jaar kon dit nie gebeur nie, en ons het dit vervang met ’n TV-uitsending op kykNET waar die beoordelaars en die wenners kans gekry het om hulle sê te sê. Dit het groot byval gevind. Die volledige program wat uitgesaai is, is nou te sien op die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) by www.ecke.co.za. Kyk by “Andrew Murray-prysfonds” en daar is die video.  

As voorsitter, enige laaste woorde aan die wenners?

Hartlik geluk! Ons het vanjaar uitstekende boeke bekroon en toekennings aan besondere mense gemaak wat op verskillende terreine ’n groot bydrae tot die Christelike media en leefstyl gelewer het.

Lees ook:

Hoop, heling & harmonie – dink nuut oor siekte en genesing deur Malcolm de Roubaix: ’n resensie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top