Hoop, heling & harmonie – dink nuut oor siekte en genesing deur Malcolm de Roubaix: ’n resensie

  • 1

Agtergrondfoto: Steve Buissinne | Pixabay

Hoop, heling & harmonie – dink nuut oor siekte en genesing
Malcolm de Roubaix
Penguin
9781776095582 (sagteband)
9781776095599 (ePub)

Die skouspelagtige vooruitgang in die mediese wetenskap as gevolg van nuwe diagnostiese en behandelingsmetodes het geneeskunde opnuut onder die kollig geplaas. Dit het ongelukkig so siektegesentreerd geraak dat die pasiënt agter die siekte soms vergeet word. Malcolm de Roubaix slaag uitmuntend daarin om die geneesheer se rol in perspektief te stel om meer pasiëntgesentreerd op te tree om nie net korrek te diagnoseer en te behandel nie, maar ook om, waar dit nie moontlik is nie, pyn en lyding te verlig – maar altyd met empatie en respek teenoor die pasiënt se kulturele en sosio-ekonomiese agtergrond. Dit is veral prysenswaardig dat hierdie tydige publikasie in keurige Afrikaans uitgebring is in verstaanbare taal wat toeganklik is vir Jan Alleman sowel as vir professionele gesondheidspraktisyns, met talle verwysings na toepaslike artikels en boeke.

Die diagnose en behandeling van siektes, asook navorsing oor die wyd uiteenlopende siektetoestande, hou inherent ook risiko’s in vir die pasiënt, en ’n positiewe uitkoms kan nie altyd gewaarborg word nie. Alhoewel dokters altyd daarna streef om die siekte te genees, is dit nie altyd moontlik nie, en hierdie situasie moet aan die pasiënt verduidelik word sodat die sieke by die helingsproses betrek kan word. Die simptome van die pasiënt dui nie noodwendig op ernstige siektes nie, maar dit kan in die pasiënt se verbeelding wees. Om aan ’n pasiënt te sê: “Jy makeer niks nie”, los nie sy probleem op nie. Hy is dalk bang dat die spanningshoofpyn die gevolg is van ’n breingewas, want sy vader het ook hoofpyn gehad wat later gediagnoseer was as ’n kwaadaardige gewas. Hierdie mense benodig dus gerusstelling deur ’n bekwame huisarts wat vertroud is met die omstandighede van sy pasiënte.

Die skrywer maak dit baie duidelik dat die enigste tyd waaroor ons beheer het, die hier en die nou is – die verlede is verby, en die toekoms kom dalk glad nie! Dit geld veral vir mense met lewensbedreigende siektes waarvoor daar tans nog geen genesende behandeling is nie. Mense wat gekonfronteer word met terminale siektes, kom te staan voor ernstige vrae oor “waarom ek?”, en het dikwels spirituele worstelings om die nuus oor hulle toestand te verwerk. Die gesin en geliefdes word ook betrek by die rouproses wat die einde van die lewe voorafgaan. Alhoewel mense nie maklik oor die onafwendbaarheid van dood praat nie, is dit nodig dat almal moet besef: “As jy gebore is, sal jy doodgaan.” Alhoewel genesing nie altyd moontlik is nie, kan heling en harmonie intree, want daarsonder is daar geen genesing moontlik nie. Einde-van-die-lewe-besluite kom ook hier ter sprake, en as narkotiseur met ’n doktorsgraad in geneeskunde en toegepaste etiek het die skrywer ’n breë belangstelling in bioëtiek en het hy al wyd gepubliseer in hierdie verband.

Hierdie publikasie kan met vrug aanbeveel word vir alle praktiserende geneeshere om hulle aan te moedig om nie te wetenskaplik te wees en in die proses die persoon agter die siekte mis te kyk nie. Die boek bespreek die betekenis van die siekte, en die rol wat emosies, ideologie en politiek in siekte en geneeskunde speel. Dit werp ook lig op die beperkings van geneeskunde en die koste-implikasies, en lê baie klem op effektiewe kommunikasie tussen pasiënt en geneesheer sodat die pasiënt deel vorm van die besluitnemingsproses wat in die beste belang van almal wat betrokke is, sal wees. Die toenemend ouerwordende bevolking met gepaardgaande degeneratiewe siektes soos verstandelike agteruitgang, osteoartritis, osteoporose en kanker hou onder meer ernstige sosio-ekonomiese gevolge in wat moeilike besluite van die behandelende geneesheer verg. Dokters het leiding nodig in hierdie verband, en Hoop, heling en harmonie is ’n tydige publikasie wat die besondere eise van die tyd vernuwend aanspreek.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes van Velden

    Ds Marius Brits het 'n tesis met die opskrif: "Die sin van die lewe is dat dit gaan verby." geskryf.
    Hierdie inligting laat my dink aan die opskrif.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top