Vuilspel: 'n Misdaadroman oor haat

  • 0

Titel: Vuilspel
Skrywer: Bettina Wyngaard
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415203873

Koop Vuilspel by Kalahari.com

Bettina Wyngaard is vir haar debuut, Troos vir die gebrokenes, in 2010 met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon. Haar jongste roman, Vuilspel, sluit aan by die jongste trend in die Afrikaanse letterkunde en buitelandse literatuur: ’n herontginning van die speur- en misdaadverhaal. In Afrikaans is daar die ongekende sukses van Deon Meyer, binnelands en buitelands, die werk van Karin Brynard, Chris Karsten en vele ander.

Is dit die gewelddadigheid van die moderne samelewing wat hierdie soort tekste gewild maak? Of is dit dalk die verglydende, onseker wêreld waarin ons leef wat ’n behoefte aan “closure” of sluiting vooropstel? Margie Orford het nou onlangs hieroor geskryf in die Sunday Times tydens ’n besoek aan Cambridge: hier word haar hele siening van geweld op sy kop gekeer wanneer sy daar in die vreemde eweneens moord en doodslag beleef.

Die “global village” het nie meer hekke nie, en grense (letterlik en figuurlik) is op verskeie plekke oop. “Oop en buite bakens is die pyn,” waarsku ’n digter.

Vuilspel is ’n misdaadroman waarin haatmisdaad aangespreek word. Die roman handel oor die moord op ’n vrou. Nicci de Wee is die speurder: sy is ’n vrou, en meer spesifiek ’n bruin vrou, wat die geweld binne die townships aanspreek in haar ondersoek. Die agentskap van vroue word onder die loep geneem: Sally is ’n priester, Thandi is ’n sjef en haar lewensmaat, Jet, is ’n voedseltegnoloog. Thandi word deur ’n bende vermoor en die kwessie van “korrektiewe verkragting” word hier ondersoek, omdat die bende die vrou verkrag het omdat sy gay is.

Dus is hier baie komplekse kwessies op die spel: gender (gay/vrou), ras, geweld. En die impak wat geweld op ’n gemeenskap en vriendekring het. 

’n Mens lees hierdie boek met verbystering. Dit wat koerante daagliks na jou aandra, word in storie omgesit: onemosioneel en pakkend vertel. Dit gee insig in ’n gemeenskap en hoe mense op moord reageer.

Is ons al afgestomp deur al die geweld wat ons daagliks tref?

Die invloed van die media wat ’n ondersoek kan vertraag of met inmenging verkeerde leidrade kan verskaf, word ook ondersoek.

Die roman gee ’n waarheidsgetroue weergawe van Kaapstad en omstreke en selfs The Book Lounge is hierin! Moderne speurverhale munt dikwels hierin uit, nes speurreukse soos The Fall. Gillian Anderson as Stella Gibson is op die spoor van ’n reeksmoordenaar. Die kyker weet wie die moordenaar is. Ons beleef Paul Spector se gesinslewe en sien hoe hy as ’n berader werk. Belfast word deel van die verhaallyn en die “oop einde” het te make met die feit daar nog reekse gemaak gaan word. Ons moet egter wag tot in 2014, omdat Gillian Anderson se besige skedule ’n vertraging veroorsaak.

Vuilspel het ’n snelle pas. ’n Mens lees agter die storie en soektog aan (altyd die toets vir die goeie speurverhaal) om die oplossing te vind. Dit handel oor wraak en weerwraak. En sogenaamde “kangaroo courts” – maar meer durf ek nie verklap nie.

Die roman sluit aan by die ryk tradisie van vrouespeur- en misdaadskrywers soos PD James, Minette Walters, Kathy Reichs en andere, maar die aanbod is meer populisties. Die gender-kommentaar is belangrik vir alle navorsers op hierdie gebied. Die taalgebruik is outentiek.
 


Joan Hambidge is ’n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top