Bettina Wyngaard se Troos vir die gebrokenes ’n welkome bydrae tot die Afrikaanse prosa

  • 0

Titel: Troos vir die gebrokenes
Skrywer: Bettina Wyngaard
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200834
Aantal bladsye: 192

Klik hier en koop Troos vir die gebrokenes nou op kalahari.net!

 

“Soms, mymer sy, kan die lewe jou só vir ’n ses slaan dat jy nie weet of jy kom of gaan nie. Ergste van alles, gewoonlik is die lewe inconsiderate genoeg om jou nie eers ’n hint te gee van wat kom nie. Dan staan jy daar, broek om die enkels en, blootgestel vir die hele wêreld om jou skandes, jou seerkry, jou teleurstellings en jou rou, stukkende wonde te sien” (p 9 – alle kursivering my eie).

Troos vir die gebrokenes (2009) het my sonder meer laat dink aan Dido se roman Rugdraai en stilbly (1997). Die skuinsgedrukte woorde hier bo dui op van die aspekte wat voorop staan in die boek: die slanery (mishandeling), die seerkry, fisiek en/of emosioneel, die wonde wat daardeur gelaat word, en die hunkering na troos. Die Engelse woorde is geensins hinderlik nie. Dit verleen eerder ’n gevoel van egtheid aan die roman, want só praat die mense van Pineview, Grabouw mos.

Soos by Dido gaan dit by veral ook by Wyngaard se Troos vir die gebrokenes om verskeie sosiale kwessies wat aangespreek word. Troos vir die gebrokenes gaan om die wel en wee van die bruin gemeenskap van Pineview, Grabouw. Soos die skrywer tereg te kenne gee, dra die storie van hierdie gemeenskap ook ’n universele boodskap. Sekere aspekte wat voorop staan in hierdie debuutroman, sal in hierdie resensie betrek word.

 

1. Titel

Die gekose titel, Troos vir die gebrokenes, is baie meer toepaslik as die een wat Bettina Wyngaard oorspronklik in gedagte gehad het, naamlik Sieraad vir as. Laasgenoemde gee die idee dat iets verruil word, weggegee word in plek van ’n ander, en in Wyngaard se debuutroman is dit juis nié die geval nie. Die gekose titel verleen geloofwaardigheid aan die verhaal, want dit spreek van eerlikheid deurdat dit gaan om “troos” en die tog na “heelmaking”, nie maar ’n inruiling van die ou stryde vir nuwe uitdagings nie. Die seerkry, die seermaak, die drankmisbruik, die mishandeling, die verkragting, die moord, die armoede, die geskinder en verskeie ander neerdrukkende aspekte wat in die boek onder die soeklig gestel word, word nie weggeskryf of “mooigemaak” of verruil nie; inteendeel. Dit is juis die eerlike blik op hierdie kwessies, die worsteling daarmee, die optrede daarteen, wat troos bring vir diegene wat gebroke gelaat is deur een of meer van hierdie kwessies in hulle lewens, in hulle gemeenskap. Hulle as gebrokenes dra die letsel van gebrokenheid en dít is verdere bewys dat dit nie hier gaan om die omruil van realiteite nie, want waar iets eenmaal gebreek is, is daar wel ’n proses van heel-maak, ’n mate van heel-wees, maar die bewys van gebrokenheid, die letsel, sal altyd daar wees, soos ’n kraak in ’n vasgegomde blompot. Die troos lê egter deels in die heel “kom”; die gebrokenheid wat wel in ’n mate heelgemaak kan word, bied troos. Juis daarin lê die krag om voort te gaan met die soeke na “volkome” heelheid. Dit gaan nie om die omruil van een vir ’n ander nie, maar eerder om ’n proses, ’n pad wat gestap word om by die genesing, die heelwording te kom; die troos wat die “tog” bied en die troos wat dit bring. Hiérvan is veral Frieda en Lily seker die beste getuies.

2. Vroue op voorgrond

’n Ander interessante aspek, wat ook herinner aan Dido se Rugdraai en stilbly, is dat die storie by monde van vroue vertel word en dat hulle, anders as wat tradisioneel die geval was, op die voorgrond is. Die vroue is hier die sterk figure, hulle wat die drade van die familie (soos Antie Mina en Frieda) en samelewing (Lily) probeer aanmekaar hou, heel-hou en heel-maak.

Alhoewel dit hier gaan oor die vrou op die voorgrond, is dit egter geensins so dat die mans tot niks afgemaak word nie; inteendeel. Die figuur van oom Charles is die lig vir die mans in die verhaal. Hy is as ’t ware die bewys dat, alhoewel die verhale wat hier vertel word die vrou se ervaring, die vrou se storie is, die man se rol nie verswyg word nie. Alhoewel daar die leemte is wat betref die mans se uitleef van hulle ware rolle in die samelewing, gaan dit geensins daarom dat die mans hier tot “niks” gemaak word nie; geensins. Dit gaan eerder daarom dat die mans uitgedaag word om, ten spyte van die druk en die verval van die samelewing en veral van hulle onmiddellike gemeenskap, daarna te streef om juis in daardie omstandighede ’n bron van troos te wees, veral vir hulle geliefdes.

3. Sosiale en maatskaplike kwessies

Dis veral kwessies soos mishandeling, drankmisbruik, werkloosheid, armoede en misdaad wat onder die soeklig gestel word in Troos vir die gebrokenes.

3.1 Mishandeling

Dit is veral die fisieke mishandeling van Frieda, aan die hand van haar eggenoot, John, wat voorop staan in die boek. Hierby saam lewer die boek ook “stille” kommentaar op ’n gruwel soos verkragting binne die huweliksverband. Aan die ander kant is daar ook wat ek wil noem die “stille mishandeling”, wat veral Lily, aan “hand” van Ben, die pa van haar “voorkind”, verduur. Die emosionele mishandeling waaraan sy onderwerp word, is byna net so erg soos die fisieke mishandeling wat haar moeder verduur; dit is seker net die letsels en wonde wat ’n ander gedaante aanneem. Hierdie boek stel ook ander vorme van mishandeling onder die soeklig.

Hierdie twee vroue, twee van die drie geslagte vroue wat voorop staan in hierdie boek, verduur die mishandeling tot op die punt waar hulle besef dat net hulle die bose kringloop van die mishandeling kan breek, hulle en niemand anders nie. Die besef dat die troos waarna hulle as gebrokenes smag, in hulle eie “hande” lê en dat hulle die wilsbesluit moet neem om die mishandeling stop te sit, is beide bevrydend en troostend.

3.2 Drankmisbruik, werkloosheid, armoede en misdaad

Ook hierdie kwessies word in hierdie boek van Wyngaard aangespreek. Die vernietigende uitwerking van die drankmisbruik op ’n gesin en selfs ’n gemeenskap word veral vervat in die karakter van John, Frieda se man. Die realiteit van werkloosheid, die gepaardgaande armoede en die misdaad wat dikwels daarmee vereenselwig word, is aspekte wat veral belig word deur die karakter van Lily: “Ek het nooit besef Grabouw het soveel rêrig arm mense nie” (109). Haar pogings om haweloses te help deur haar gewig agter ’n projek te gooi om ’n “shelter” op te rig en ook waar sy die nood van werkloses raaksien en uitreik, is soos ligbakens te midde van die ellende. Die gruwel van misdaad en die afbrekende uitwerking daarvan op die samelewing, maar veral die gemeenskap waarin dit voorkom en wat daardeur geraak word, word belig deur die sinnelose moord op oom Charles (191-9).

Hierdie debuutroman van Bettina Wyngaard bring sekere uiters aktuele temas aan die lig, lewer duidelike kommentaar daarop, maar bied terselfdertyd die moontlikheid van oplossing en veral troos in die wete dat daar wel “troos vir die gebrokenes” is. Dit is ’n welkome bydrae tot die Afrikaanse prosa.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top