US Woordfees 2016: Om met respek van mekaar te verskil

  • 0

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Dit is ʼn wanopvatting dat almal wat oor gay mense skryf, gay is, het die Overbergse romanskrywer, dromer, regsgeleerde en aktivis Bettina Wyngaard tydens die bespreking van haar jongste boek, Slaafs, by die US Woordfees gesê.

Haar vorige roman, Vuilspel, was die eerste roman in Afrikaans wat fokus op lesbiese karakters uit die bruin gemeenskap. Dit sluit aan by die jongste tendens in die Afrikaanse letterkunde en buitelandse literatuur: ’n herontginning van die speur- en misdaadverhaal.

In Afrikaans is daar die ongekende sukses van Deon Meyer, binnelands en buitelands, Karin Brynard, Chris Karsten en vele ander.

Met Slaafs, haar derde roman, breek sy grond in Afrikaanse fiksie met die fokus op mensehandel. Melt Myburg het met hierdie bekroonde krimiskrywer gesels by vanjaar se Woordfees. Haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes, is in 2010 met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon.

Sy is ʼn gereelde rubriekskrywer vir LitNet en is bekend vir haar reguit en dikwels niepolities-korrekte opmerkings. Dié boorling van Grabouw, waar sy steeds woon, is, om dit kort te stel, aweregs.

In haar jongste boek fokus sy op mensehandel en die impak daarvan – ʼn onderwerp waarvan bitter min Suid-Afrikaners kennis dra.

Weinig mense besef dat daar in Suid-Afrika mense is wat uit ʼn dorp soos Ceres weggelok word met mooi maar leë beloftes en uiteindelik as “slawe” op die Kaapse vlakte in Mitchells Plain beland om agter slot en grendel as huishulpe of elders as seksslawe te werk.

Die mensehandel wat onder die meeste Suid-Afrikaners se neuse gebeur, het haar aangespoor om Slaafs te skryf. Die hoofkarakter ʼn gay vrou – die eerste vroulike gay hoofkarakter in Afrikaanse fiksie.

Wyngaard sê sy hoop om met die skryf van die boek sommige van die geykte stereotipes af te breek.

Nog een van die karakters in haar boek is ʼn middeljarige wit Afrikaanse polisieman. Aanvanklik sou hy die rol van ʼn skurk gespeel het. Met die skryf van die boek het hy teen haar eie verwagting in as een van die goeie ouens onwikkel. Daarmee breek sy nóg een van die talle stereotipes in die samelewing af.

“Ek hoop dat ons iewers in die toekoms by ʼn plek kom waar dit nie nodig is om te verduidelik waarom mense wit, of gay of swart is nie,” het sy gesê.

Omdat van haar karakters gay is, vra mense soms of sy ook gay is. “Het jy ʼn kêrel?” vra mense haar dikwels, omdat sy oor gays skryf. “Nee,” antwoord sy dan, “en ek het ook nie ʼn meisie nie.”

“Wat maak dit saak of iemand gay is of nie?” vra sy.

Hoewel haar loopbaan as regsgeleerde grotendeels in Engels is, verkies sy om haar romans in Afrikaans te skryf. “Vir my kreatiewe werk verkies ek om in Afrikaans te skryf,” sê sy.

Vir buitelanders met wie sy gereeld in aanraking kom tydens internasionale konferensies is dit gewoonlik ʼn groot skok wanneer hulle hoor die swart vrou is eintlik Afrikaans. “But how can it be – you are not a boer?” is van die reaksies wat sy moet aanhoor omdat sy nie wit is nie, maar Afrikaans.

Sy het baie empatie gehad met die studente wat hulle beywer vir die Open Stellenbosch- en #Feesmustfall-veldtogte. Maar iewers langs die pad het hulle haar respek verloor, omdat hulle nie dissipline ken nie.

Sy glo Stellenbosch moet meer oop wees vir almal. “Ek vermoed egter die huidige twis oor taal by die universiteit gaan nie regtig oor Afrikaans nie, maar oor ander dinge.”

Die oplossing vir hierdie uitgesproke skrywer lê daarin dat daar groter interaksie tussen die verskillende groepe moet wees. Sy glo baie van die probleme rondom die taalkwessie sal dan vanself verdwyn.

“Soms is mense té polities korrek. In die proses huiwer baie mense om te skryf en te sê wat gesê moet word. Die geheim lê in respek vir mekaar.” As mense met respek van mekaar verskil sal meer mense luister na dit wat jy wil sê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top