Maryke Roberts en Bettina Wyngaard in gesprek oor Lokval

  • 0

...
Teen die einde van die boek is my lojaliteite en my waardes erg onderstebo: My waardering vir die werk wat die skerpskutter en huurmoordenaar verrig, word oorskadu deur die afsku van die gruweldade. Maak dit my ’n slegte mens?
...

Titel: Lokval
Skrywer: Bettina Wyngaard

ISBN: 9781415211090
Uitgewer: Umuzi

Kom ek val sommer met die intrapslag met die deur in die huis: Ek hou van krimi’s en hoe donkerder hoe beter. En hiermee bedoel ek nie hoe bloederiger of wreder hoe beter nie, maar hoe slimmer, hoe meer verweefd, laag-op-laag-misterie en -intrige hoe beter. Daarom is Bettina Wyngaard se nuutste Nicci de Wee-speurroman so reg in my kraal.

Dis Bettina se vierde Nicci-boek en sy het die genre goed bemeester. Haar vermoë om al die spanning te laat oploop en dan flink in die laaste twee hoofstukke alles te ontknoop, noop jou om die boek in een sit te wil deurlees. Maar terselfdertyd wil jy ook nie hê die lekker lees moet einde kry nie.

Teen die einde van die boek is my lojaliteite en my waardes erg onderstebo: My waardering vir die werk wat die skerpskutter en huurmoordenaar verrig, word oorskadu deur die afsku van die gruweldade. Maak dit my ’n slegte mens?

Die pamflet wat saam met my boek afgelewer word, sê:

Nicci de Wee hou haar lyf deesdae privaat speurder. Maar wat as [sic] sy ’n kans kry om die skurke wat Tom en Aynaz se dood veroorsaak het, aan die pen te laat ry? Wat as [sic] sy ’n internasionale sindikaat wat roof, verkrag en moor vir wins, kan vernietig?

Vir so ’n geleentheid gaan sy tydelik terug polisie toe. Natuurlik betrek sy Blackie, Henk en Stella ook, maar dis nie sonder komplikasies nie. Haar span is dieper geraak deur die verlies van hul kollegas as wat hulle self besef.

Boonop kom die skerpskutter terug wat hulle voorheen gehelp het. Maar is hy vriend of vyand? Hoekom word die name van mense, onmiskenbaar op ’n moordlys, so meedoënloos afgetik deur iemand met ’n koel kop en peperduur smaak in whisky?

Vir Nicci voel dit of die roesagtige reuk van bloed haar agtervolg. En een slagoffer is wreder en meer obseen gemartel as die ander.

Die plot knoop met elke kinkel stywer vas. Roosbome in die tuine van hooggeplaastes verberg die afgryslikste geheime. Voor hul oë neem mensehandel skrikwekkende afmetings aan.

Nicci en haar span se opdrag is: Vlek ’n internasionale sindikaat oop.

Daarom moet hulle ’n lokval stel. Maar wie is aas? En wie bobaas?

Soos met baie ander krimiskrywers is die bekendheid van ’n gevestigde taakspan, of ten minste die protagonis, jou kaartjie na die wonderwêreld van ’n nuwe avontuur. Maar daarteenoor is daar altyd die risiko dat lesers óf nie van jou hoofkarakter hou nie óf moeg word vir net nog ’n “aflewering”.

Ek is in die bevoorregte posisie om nie net die resensie te skryf oor Lokval nie, maar ook die boekbekendstelling by Liberty Books op Grabouw te doen en sommer al die vrae wat ek het, vir Bettina self te vra.

Maar voor ons by dié geleentheid kom, gaan haal ek my betrokkenheid by die verhaal, ’n jaar of twee voor die pandemie ons onderstebo kom gooi het.

Bettina vertel self: “Die wêreld van whisky fassineer my, omdat dit eintlik heel luuks is. Ek het Clifford Roberts, whiskykenner by uitstek, gevra om my bietjie advies oor whisky te gee. Tipies Clifford het hy way beyond gegaan en ’n whiskyproe gereël met whiskymaestro Hector Macbeth. Die navorsing het toe in ’n heel lekker kuier ontaard – so lekker dat ek my notaboek in Seepunt vergeet het! Ons het nie daai aand die whisky in Lokval geproe nie, maar wat ek geleer het, was die basis waarop ek gebou het om te besluit op die regte whisky vir die taak.”

Terug na my: Ek is die wederhelf van Clifford en ook een van die gaste dié aand. Bettina se notaboekie is heelaand styf teen haar bors. Sy verklap nie haar gunsteling nie. Toe ons almal uitstap op die mooie balkon van ons gashere, John en Garth French, bly sy en Hector agter, want hy het iets spesiaals gebring. Hul geheime proe. Ek het nie toe besef dat sy op die ou einde ’n ander whisky sou gebruik nie.

Draai die horlosie nou vier jaar aan. En ek sit oorkant haar op Grabouw – Lokval op my skoot – en vra alles wat ek – en jy as leser seker ook – wil weet.

*

Bettina, Lokval se misdade gebeur en misdadigers woon in verskeie wêrelddele en hulle word in fyn besonderhede beskryf. Hoeveel navorsing doen jy vir konteks en hoe belangrik is dit dat plekke en beskrywings korrek is – geografies en andersins?

Wanneer ek skryf, hou ek altyd in gedagte dat daar mense is wat werklike kennis van daai plek/beroep/gebeurtenis het, en ek weet hoe hinderlik dit is wanneer dinge nie reg beskryf word nie. Daarom doen ek deeglik navorsing. As ek nie self al in ’n plek was nie,  bestudeer ek foto’s, lees op, praat met mense wat werklik daar was, ens. Wanneer dit kom by tegniese aspekte oor bv kriptogeldeenhede en dies meer, sorg ek dat ek met kenners praat sodat my inligting outentiek is.

Vroue is die hoeksteen van jou boeke. Jou hoofkarakter is ’n vrou, haar lewensmaat is ’n vrou en in Lokval is ’n ontwykende vrou amper vir my die tweede hoofkarakter. Is dit makliker om as vrou oor vroue te skryf, of het jy gevoel die Suid-Afrikaanse speurgenre het ’n vrou nodig?

Ek geniet dit om sterk vroue sentraal aan my verhale te maak – ongeag of hulle goed of boos is. Teen dié tyd is Nicci (en Sally) natuurlik al gevestigde karakters. Om die ontwykende persoon ’n vrou te maak, was natuurlik lekker pret! Dit keer stereotipes bietjie op hulle kop. Ek dink nie ek het dit doelbewus gedoen omdat ek self ’n vrou is nie.

In jou vorige boeke, Troos vir die gebrokenes, Vuilspel, Slaafs en Jagter, is die onderdrukte en uitgebuite vrou en mensehandel deurlopende temas. Hoekom is hierdie onderwerpe vir jou so belangrik?

Ons word gereeld wysgemaak dat ons in ’n gelyke samelewing woon, maar die realiteit is juis dat ongelykhede nog steeds oral geld. Ons sien dit elke dag. En dalk juis omdat ons een ding ervaar maar iets anders wysgemaak word, voel ek baie sterk dat daar gepraat en geskryf moet word daaroor. Dis daai hele ding dat daar 'n rekord moet wees van die stem wat anders dink en praat.

Mensehandel is gereeld in die nuus, en word soms gekoppel juis aan ryk, magtige mans wat dink hulle is verhewe bo die reg – soos ook in Lokval.

Dalk, deur die kombinasie van vermaak en inligting soos verpak in my stories, leer mense iets nuut. Ek kan net hoop!

Hoe werk jou skryfproses? Is dit soos daai Skandinawiese verstrooide speurders met honderde Post-its met idees, of het jy ’n bord met rooi gare en pyle en foto’s teen jou kantoormuur?

Ek is maar taamlik low-tech! Ek gebruik gekleurde indekskaarte: groen vir my hoofkarakters, rooi vir die booswigte, geel vir randkarakters en oranje vir die ouens oor wie ek nog moet besluit of hulle goed of sleg is. Eenvoudig en straightforward. Niks van daai rekenaarpalawa nie, veral met Eskom wat mens sommer blitsvinnig in beseringstyd instuur.

Wat is die voordeel van die “volgende Nicci de Wee-storie”. Is dit makliker as daar reeds ’n paar bekende taakspanlede en ander rolspelers is, om dan die storie in te kleur, of bemoeilik dit soms dinge?

Dit gee my vryheid om met ’n bekende cast karakters te werk. Ons ken reeds Nicci se wêreld. Dis nie nodig om ’n nuwe wêreld te skep nie. Ons weet wie die karakters is, en ons vertrou hulle meesal. Dit gee my vryheid om regtig “mal te gaan” met die gaskarakters, die boewe en skobbejakke in elke boek. Natuurlik moet ek versigtig wees om nie een van die bekende karakters te veel buite hulle aard te laat optree nie, maar andersins is dit lekker om hulle te sien groei soos wat die verhale groei. 

Hoe weet jy wanneer Nicci se raklewe verby is en jy dalk met die skerpskutter wat nou al in twee boeke te voorskyn kom, moet voortgaan? Is jy bang vir die dag wat Nicci moet groet?

Ek weet nie of mens ooit regtig weet wanneer die karakter se raklewe verby is nie. Ek het nooit verwag dat Nicci ooit meer as 'n lekker karakter in Vuilspel  sou wees nie, en hier is ons al by die vierde boek in die reeks!

Hoe dra jou opleiding as prokureur by tot jou skryfproses? Kyk jy anders na karakters en misdade as ander skrywers, of rus dit jou net beter toe om volronde karakters te skep?

Ek het as prokureur vir die verdediging gewerk. Dan kry mens die geleentheid om die beskuldigde te sien as meer as net die misdryf waarvan hy of sy beskuldig word. Jy leer ken mense met lief en leed, en ek dink dit help my dalk om my booswigte met ‘n bietjie meer simpatie te skets. Ek dink dit help beslis om meer volronde karakters te skep.

Hoe verseker jy dat jou stories eg en oorspronklik en uniek bly en nie ’n replika van soortgelyke stories word nie?

Jy’s reg – daar is universele temas, maar tog is elke invalshoek en elke perspektief uniek aan die spesifieke skrywer, dink ek. En dan is daar natuurlik die veelvuldige kreatiewe maniere wat ons mense het om mekaar uit te wis. Dit sal elke slag nuut wees!

Waar kom jou idees vandaan?

Soms lees ek ’n berig wat my verbeelding prikkel, of ek is in ’n gesprek wat my laat nadink. Soms is daar iets wat net in my agterkom niggle en my nie met rus laat nie. Dan moet ek daaroor skryf. Die wêreld is propvol idees – mens moet net leer intap daarin.

Nicci en haar span het diep lewensletsels. Jy beskryf dit met groot empatie. Ek wil graag een beskrywing wat vir my uitstaan, deel: “Nicci is bang dat sy weer nie sal oplet wanneer hy aan die verdrink is nie. Dit is deel van haar skuldgevoelens. Sy kan die ander stemme stilmaak, maar dié spesifieke stemme begin fluister wanneer sy moeg is. Op hulle het sy geen antwoord nie.” En ook: “Tom, hul gevalle kollega en vriend, gooi  langer skaduwee in die dood as wat Nicci verwag het, ook oor haar eie lewe.” Hoeveel is persoonlike ervaring, of van waar dié diepte?

Ek dink ons almal, lesers en skrywers, doen maar wonde op iewers langs die pad. Niemand van ons gaan vir lank ongeskonde deur die lewe nie. Is die skrywer se job nie juis om meer ingestel te wees en daai ervarings/gevoelens te capture nie?

Jy skryf hierdie boek asof jy die genre regtig bemeester het. Het jy tydens die skryfproses gevoel “I got this”?

Goeiste nee, ek het meer as een dag gevoel asof ek al vergeet het hoe om te skryf en die vaardighede opnuut moes aanleer!

Verlede jaar het jy ’n Christelike boek oor vroue deur die eeue geskryf. Was die breek goed vir jou krimikreatiwiteit en het dit gehelp om stagnasie met Nicci te vermy?

Ek was nog altyd van mening dat die dissipline van skryf onafhanklik is van genre. Of jy nou fiksie skryf, niefiksie, krimi’s, distopiese fiksie maak nie saak nie. Jy moet steeds met die woorde orde uit wanorde skep. Niefiksie is uiteraard baie meer streng op navorsing gebaseer, en dit was vir my heerlik. Maar ek het nie aan Lokval geskryf terwyl ek aan Onverskrokke vroue  geskryf het nie. Ek dink ek sou kon. Die afwisseling was in ieder geval wel vir my goed.

Hoe gemaak as jy een oggend voor jou rekenaar gaan sit en daar is nie harmonie tussen jou brein, vingers en die sleutelbord nie? Raak jy paniekerig?

Dit word so mooi ’n “woordstilte” genoem. Writer’s block. Dit het nog nooit met my gebeur nie. Daar was beslis al dae dat ek nie lus was om te skryf nie, of tye dat my plot swak uitgewerk was en ek myself in ’n hoek ingeskryf het. Maar sodra die swak plotpunt ontknoop is, vloei die woorde.

Ek het plek-plek herhaling in jou boek teëgekom: die horlosie teen die muur die enigste geluid hoorbaar; die wantroue in Peters of die verduideliking van Steyn se skeepsvraghouerkantore en hoe die alarmstelsels in die onkruid versteek is. Is dit doelbewus of is daar in die redigeringsproses goed rondgeskuif en dis net later misgekyk?

Die wantroue in Peters was beslis herbevestiging. Die vertrouensbreuk is een van verskeie verliese wat Nicci deur die verloop van die reeks ly.

Waar kom jou betowering deur boeke vandaan? Om sulke goeie boeke te skryf, moet jy baie lees en jou woordeskat geolie hou?

Ek het nog altyd lees geniet. Ek het grootgeword in ’n huis waar daar altyd boeke was. As ek reg onthou, kon ons by die biblioteek aansluit in sub A. Ek kon nie wag nie, en ek het van kleins af biblioteekboeke verslind. Ek geniet nog steeds lees, maar het nou heelwat minder tyd om net vir die lekker te lees. En natuurlik is woordeboeke fantasties om 'n geroeste woordeskat weer te olie. My HAT en Pharos se tweetalige woordeboek, daai enorme een, is nooit ver wanneer ek skryf nie.

Watter skrywers inspireer jou?

Daai antwoord verskil van jaar tot jaar! Jy vra nie wie ek lees nie, maar wie my inspireer. Ek waardeer skrywers wat woorde amper soos 'n skalpel inspan. Ek bewonder skrywers wat teen alle odds in skryf. Ek haal my hoed af vir skrywers wat, ten spyte van die demone op hul rug, kuns kan maak. Dan is daar die skrywers wat skryf wetend dat hulle vervolg sal word. Sulke skrywers inspireer my. Juis daarom wil ek nie name koppel nie, want ek kan onmoontlik almal lys. Of eerder, ek kan. Hoeveel spasie het jy?

Jy skryf vir LitNet, jy praat by feeste en universiteite en kerke. Watter onderwerpe lê jou na aan die hart wat dalk lekker boekonderwerpe kan word?

Die afgelope paar jaar is ek gereeld gevra om rondom taal, gender en/of dekolonisering te praat. Elkeen van daai onderwerpe het honderde subonderwerpe. Kan nogal lekker raak!

Hoe hanteer jy kritiek?

Opbouende kritiek is iets waaruit mens altyd kan leer. Daar is byvoorbeeld een keurverslag wat ’n aantal probleme in ’n vorige manuskrip uitwys. Daai kritiek was soos ’n meesterklas in skryfkuns, en ek bewaar dit soos goud. Aan die ander kant is die persoonlike aanvalle verskuil as kritiek. Ek het vinnig geleer om daais te ignoreer.

Gaan ons dalk vanjaar weer ’n Elgin-Grabouw Krimifees sien?

Ek kry deesdae nogal gereeld daai vraag! Ons het geen planne vir 'n 2023-fees nie, maar wie weet wat in die toekoms kan gebeur? Feeste trek baie mense wat alreeds lees en alreeds boeke koop, maar dis nog steeds nie ’n baie diverse mark nie. Ons moet jong lesers trek, en ouer lesers se drempelvrees besweer. En ek kan die belangrikheid van uitreikingsprojekte gekoppel aan feeste nie genoeg beklemtoon nie.

*

Bettina verklap dat sy tans besig is met die redigering van ’n Christelike-fiksie-titel vir Luca Uitgewers. Dit kom Augustus uit. Intussen werk sy al aan Knal, die volgende Nicci.

Dis met ’n paragraaf uit ’n resensie van Stefaans Coetzee wat in Beeld verskyn het, waarby ek berus: “Hierdie meesterstuk lê ’n goeie fondament vir haar magnus opus, waarop ek ná dese reikhalsend wag, al is dit half onmoontlik om hierop te verbeter.”

Sela.

Lees ook:

Lokval: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top