Sedert die Letterkundekommissie Vrydag die wenners van hierdie jaar se pryse bekendgemaak het, is ek oorval met WhatsApps, kommentaar op sosiale media en ander boodskappe. Die strekking van die boodskappe is min of meer dieselfde, om verskillende redes: Die kommentators is nie gelukkig met die uitslae nie.
Een groep kommentators het gereken ander persone, wat by die naam genoem is, moes eerder gewen het. Dis in hierdie gevalle maklik om te antwoord: Die persone het gewoon nie gekwalifiseer vir die spesifieke prys nie. Daar is vir elke prys ’n stel reglemente wat duidelik maak watter werke vir watter pryse kwalifiseer. Hierdie reglemente is op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap.
’n Ander groep kommentators het kritiek gelewer op die feit dat al die pryswenners wit is. Die Oscars gaan gebuk onder dieselfde kritiek, en so ook ander instellings. Hierdie kritiek verdien om in meer diepte ondersoek te word.
........
Sou dit regverdig wees om ’n inskrywing te bekroon wat swakker is, bloot omdat die woordsmid swart is? Natuurlik nie, en ek glo ook nie die persone wat kritiek gelewer het, wil hierdie uitkoms hê nie.
........
Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie. Vir sommige van die pryse was daar geen skrywers/vertalers van kleur wat ingeskryf het nie. Vir ander pryse het die uiteindelike wenner kop en skouers bo al die ander inskrywings, wit en swart, uitgestaan.
Sou dit regverdig wees om ’n inskrywing te bekroon wat swakker is, bloot omdat die woordsmid swart is? Natuurlik nie, en ek glo ook nie die persone wat kritiek gelewer het, wil hierdie uitkoms hê nie.
Bekronings word nie lukraak gemaak nie. Al nege lede van die Letterkundekommissie lees elke enkele teks wat ingeskryf word. Vir elke prys word een lid van die kommissie aangestel as ’n verkenner wat ’n verslag opstel oor al die tekste wat vir daardie prys ingeskryf is en oorweeg word. Dan word die tekste bespreek. Van daar word ’n kortlys opgestel. Hierdie jaar is die kortlyste vir die eerste keer vooraf bekendgemaak.
Hierna word daar weer in diepte gesprek gevoer oor watter teks behoort te wen. Menings vir en teen tekste word opgeweeg en elke lid van die kommissie word geleentheid gegee om argumente te voer vir of teen spesifieke tekste. Die gesprekke was oor ’n tydperk van drie dae versprei. Voor hierdie gesprekke het elke lid van die kommissie maande spandeer aan die lees van die tekste wat ingeskryf is.
Ek herhaal: Geen bekroning word ligtelik gemaak nie. Daar gaan ongelooflik baie tyd en werk en besinning in.
Die vraag bly egter steeds staan: Hoekom word nie méér swart skrywers bekroon nie? Een deel van die antwoord is dat daar baie min tekste dwarsoor die reeks pryse is wat deur swart skrywers gepen word. Wanneer daardie skrywer die beste werk lewer, word dit bekroon, nie omdat die skrywer swart is nie, maar omdat dit die beste werk is. Dit het al in die verlede gebeur. Hierdie jaar het dit nie gebeur nie.
Ek kan nie namens enige van die ander lede van die kommissie praat nie, maar vir my is dit belangrik dat elke skrywer op meriete wen, ongeag hulle velkleur. Dit verseker dat wanneer ’n swart skrywer wen, geen aantyging gemaak kan word dat dit ’n “affirmative” bekroning was nie.
Natuurlik lê daar nog baie werk voor om te verseker dat alle skrywers gehaltewerk lewer. Ek het al vantevore geskryf oor die yl oes van werke deur swart skrywers wat gepubliseer word. Daar is definitief die afgelope paar jaar ’n groter aantal publikasies deur swart skrywers, maar dis steeds disproporsioneel min in vergelyking met die aanbod deur wit skrywers.
Uitgewers sal enige werk uitgee waarvoor daar ’n mark is. Al is dit die grootste snert, solank kopers koop, sal uitgewers dit uitgee. Aanbod en aanvraag, dis tog ’n eenvoudige ekonomiese konsep. My vraag en uitdaging aan die persone wat kla dat daar nie genoeg swart pryswenners is nie, is dus: Ondersteun julle swart skrywers wat wel publiseer? Koop julle die boeke, woon julle die boekbekendstellings by, adverteer julle die skrywers se werk? Uitgewers sal meer swart skrywers publiseer as hulle weet daar is ’n sterk kopersmark. Koop die skrywers se boeke as julle ’n groter aanbod wil sien.
........
Elke suksesvolle swart skrywer van wie ek weet, het met suiwer deursettingsvermoë gekom waar hulle is.
........
Daar moet ook sterker ondersteuningsnetwerke vir swart skrywers wees. Baie wit skrywers ondersteun mekaar, of hulle is in staat om in kreatiewe skryfkuns te studeer, of hulle kan bekostig om manuskripontwikkelaars te betaal. Enkeles het die finansiële ondersteuning van familie of vriende. Die meeste swart skrywers het nie daai ekonomiese of emosionele netwerke nie. Elke suksesvolle swart skrywer van wie ek weet, het met suiwer deursettingsvermoë gekom waar hulle is.
Is die letterkundepryse nog baie wit? Ja, maar nie omdat daar op die vlak van inskrywings ontvang en beoordeel vooroordele is nie. Daar is ’n hele ekosisteem wat verander moet word lank voordat tekste by bekroning oorweeg word. Die Letterkundekommissie kan net werk met dit wat aan hulle voorgelê word.
Uit hierdie jaar se beoordelingsproses kan ek net dit sê: Daar is nie een enkele teks bekroon waaroor ek meen dat daar ’n skreiende onreg gepleeg is en dat ’n ander teks bekroon moes word nie. Die beste tekste is bekroon.
Lees ook:
Kommentaar
Ek wens uit my diepste wese dat die ras van 'n skrywer, kunstenaar, musikant of sommer enigeen wat 'n prestasie behaal het, uit die vergelyking verwyder sal word. Beoordeel 'n boek, skildery of musiekstuk op die meriete daarvan en nie op grond van die ras of afkoms van die kunstenaar nie. Het ons nie nou al genoeg gesukkel daarmee nie?
Vir my is die woorde op papier (of skerm) die enigste maatstaf wat gebruik KAN word om die waarde van die skrywe te meet. Die rede dat Afrikaans die storm wat rondom die lewe daarvan woed sal deurstaan, is dat dit lankal nie meer eksklusief 'n "witmenstaal" is nie. Dit is die rede dat Afrikaans so ryk en rond is.
Ek stem volmondig met u saam.
'n Nugtere, ewewigtige verklaring: welgedaan!