.............
Dis nog nie behoorlik ’n week na die nasionale verkiesing nie, en die naverkiesingsbabelaas keil die partye op.
Daar was geen wenners nie. Die ANC het nie gewen nie, DA het nie gewen nie, en met verwysing na MK se uitslae het Suid-Afrika beslis nie gewen nie. Kiesers het stem dik gemaak en die ANC goed oor die vingers getik. Dis hoe dit hoort in enige gesonde demokrasie.
...............
Dis nog nie behoorlik ’n week na die nasionale verkiesing nie, en die naverkiesingsbabelaas keil die partye op.
Daar was geen wenners nie. Die ANC het nie gewen nie, DA het nie gewen nie, en met verwysing na MK se uitslae het Suid-Afrika beslis nie gewen nie. Kiesers het stem dik gemaak en die ANC goed oor die vingers getik. Dis hoe dit hoort in enige gesonde demokrasie. Die DA, lyk dit, het sy alliansievennoot VF+ se kiesers afgevry. So hoort dit in ’n demokrasie, maar hoe gesond dit vir die alliansie se voortbestaan is, moet nog gesien word.
............
Ek wonder hoeveel van die partye doen kritiese nabetragting.
...............
Ek wonder hoeveel van die partye doen kritiese nabetragting. Dis makliker om iemand anders die skuld te gee as om te gaan sit en nadink oor die maniere waarop jy self en jou beleidsvoorstelle jou steunbasis vervreem het.
Ten minste het die meeste partye aangedui dat hulle die uitslae aanvaar. Dis tekenend van ’n gesonde demokrasie. Zuma se MK, daarenteen, maak dreigemente teen almal en nog wat. Dis ongelukkig nie onverwags nie. In die ANC is Zuma se diktatoriale neigings in toom gehou binne die partystruktuur. Nou is daar niemand binne sy party wat sy megalomania kan temper nie.
Natuurlik is nuwe alliansies die enigste manier waarop daar in die toekoms besigheid gedoen kan word, maar wie spring in die bed met wie? Zuma se dogter, Duduzile, het aanvanklik gesê MK stel nie belang in enige alliansie met die ANC nie. Teen Saterdag het haar deuntjie verander na een waar die ANC sonder Ramaphosa wel ’n opsie is. Of anders gestel, ’n ANC waar haar pa se korrupte tjommies in beheer is, kan MK mee saamlewe. Natuurlik.
Indien die DA na ’n alliansie met die ANC kyk, sou ek verwag dat hulle juis nie die korrupte faksie in beheer wil sien nie. Maar hoe lyk alliansievennote wat ideologies pole van mekaar weg is, se onderhandelingsooreenkoms? Die DA se steun het nie regtig gegroei nie, hulle het bloot die kiesers terug gewen wat hulle in 2019 aan die VF+ afgestaan het. Het die Afrikaner Verklaring iets daarmee te make?
Politieke bedmaats is maar altyd effe vreemd. Bitter selde is hulle beleidsieninge dieselfde. Dis veel eerder ’n geval van “my vyand se vyand is my vriend” as dat hulle op natuurlike wyse by mekaar aanklank vind. En die gevaarlikste “my vyand se vyand is my vriend”-alliansie wat ek my kan voorstel? MK en die EFF. Die teelaarde om die land te probeer lamlê met geweld, is hier baie vrugbaar. Ons enigste redding is die hoop dat albei partye se leiers te egosentries is en wil baasspeel. Indien hulle hul hiërargie kan uitwerk op ’n manier wat albei se ego’s streel, dan moet ons ons maar regmaak vir wat ’n paar baie rowwe maande vorentoe kan wees.
En Uncle Cyril? Al daai ANC-LP’s wat nou hulle werk verloor het, sal die mes in hê vir hom. Ek sal baie verbaas wees as hy weer tot president verkies word, om twee redes. Eerstens, soos vroeër genoem, is dit makliker om iemand anders die skuld te gee as om hand in eie boesem te steek. Dis makliker om Ramaphosa te blameer as om te erken dat jare se wanbestuur en korrupsie uiteindelik hulle tol eis. Tweedens lyk hy al geruime tyd of hy nie meer lus het vir hierdie nonsens nie. Hy is skatryk. Hy hoef nie die land te bestuur en te sukkel met ’n party wat soos ’n spul stout kinders tekere gaan nie. Ek vermoed dit sal vir hom ’n verligting wees om ontslae te wees van daai verantwoordelikheid.
............
Waar laat dit ons gewone burgers wat maar net in vrede gelaat wil word om ons eie lewe te lei, hopelik met ’n bekwame regering wat alles laat werk, waar strate heel gemaak en heel gehou word, waar skoon water uit krane kom, waar vullis op tyd verwyder word, waar werkskepping ’n prioriteit is, waar gesondheidsorg en opvoeding van hoogstaande gehalte is, waar elektrisiteitsvoorsiening konstant en voorspelbaar is? Waar laat dit ons?
................
Waar laat dit ons gewone burgers wat maar net in vrede gelaat wil word om ons eie lewe te lei, hopelik met ’n bekwame regering wat alles laat werk, waar strate heel gemaak en heel gehou word, waar skoon water uit krane kom, waar vullis op tyd verwyder word, waar werkskepping ’n prioriteit is, waar gesondheidsorg en opvoeding van hoogstaande gehalte is, waar elektrisiteitsvoorsiening konstant en voorspelbaar is? Waar laat dit ons?
Daar is ’n gesegde wat ’n kano, geen spaan, en ’n rivier van stomende riool insluit. Dis waar dit ons laat.
Dalk is ek onnodig pessimisties, en gaan hierdie verkiesing die een wees waar partye die land se belange voor hul eie stel. En dalk bestaan Kersvader en die tandmuis.
Lees ook:
Nasionale dialoog and aksieplan nodig om verval van ons demokrasie te stuit!
Hoër onderwys en die uitbou van demokrasie te midde van ’n polities omstrede landskap
Kommentaar
Well said (yet again), Bettina.
Goeie beskouing, Bettina, en die skeut humor help soos pleisters op al die seerplekkies wat jy aanroer.