Nasionale dialoog and aksieplan nodig om verval van ons demokrasie te stuit!

  • 0

Nasionale dialoog and aksieplan nodig om verval van ons demokrasie te stuit!

Ons grondwetlike demokrasie het ons as burgery nou meer as ooit nodig! Ons moet dit verdedig, verdiep en in belang van al ons mense ontsluit. So ook ons Handves van Menseregte, dié bloudruk vir vryheid, vrede, vooruitgang en voorspoed wat in 1996 beslag gekry het. En wat deur vele geprys en geag word as een van die mees progressiewe grondwette in die wêreld.

Laat ek eers vir ’n oomblik stilstaan by ons grondwetlike demokratiese bestel. In ’n ideale wêreld is dit ’n eenvoudige konsep wat ten doel het om die wil van alle landsburgers op alle vlakke van besluitneming wat hul lewens raak, in ooreenstemming met die fundamentele boublokke van ons Grondwet, naamlik menswaardigheid, gelykheid en vryheid, te laat geld. Alle wette van die land en alle ontwikkelingsplanne moet in ooreenstemming met hierdie drie boublokke en die bepalings van die Handves van Menseregte belyn wees.

Na meer as 300 jaar se stryd om aan alle burgers van ons land stemreg te gee, het ons as stemgeregtigdes die reg om ’n kruisie agter ons gunsteling- politieke party se naam te trek. Aan die einde van die stemproses word die kruisies getel en word die politieke mag proporsioneel tot die getal kruisies wat elke deelnemende politieke party gekry het, toegeken. 

Die tweede aspek wat ek wil aanraak, hou verband met ons grondwetlike demokrasie en die Handves van Menseregte. Die politieke party wat die meeste mag het, het die verantwoordelikheid om ’n administrasie te vestig wat uitvoering moet gee aan die bepalings van die handves. Om uitvoering hieraan te gee, het die administrasie finansies nodig, geld wat deur middel van allerlei belastings, staatsinkomste en lenings bekom word. ’n Begroting op grond van bepaalde prioriteite word jaarliks saamgestel en geld word aan die verskillende onderafdelings toegewys met die hoop dat dit effektief aangewend sal word om die lewensomstandighede van alle inwoners te verbeter.

Dit is nou in ’n ideale wêreld. Natuurlik is dit baie meer kompleks – so het ek agtergekom toe ek vir ’n aantal jare publieke administrasie aan die US studeer het en ’n reeks kwalifikasies daarin behaal het.

Die komplekse tegnokratiese en wetgewende onderbou is te verstane, want die administrasie gebruik die belastingbetaler se swaarverdiende geld om publieke dienste soos onderwys, gesondheid, korrektiewe dienste, polisiëring, nasionale sekuriteit, noem maar op, te finansier.

Ons het die afgelope 30 jaar egter gou agtergekom dat baie politici wat ons met politieke mag toebedeel, geen waardering en agting het vir ons Grondwet, ons grondwetlike demokrasie en die Handves van Menseregte nie. Nog minder lojaliteit. Dis elkeen vir homself. Eiebelang en selfverryking het die norm geword.

Om nie te praat van die hoë vlakke van korrupsie, misdaad, ekonomiese verval, agteruitgang in dienslewering, sentralisering van mag en pogings om die grondliggende waardes van ons Grondwet en vryhede en regte wat ons Handves van Menseregte waarborg, ongedaan te maak nie. 

Waar laat dit ons, die burgers wat elke vyfde jaar na die stembus gaan om pligsgetrou ons kruisies te trek? Moet ons die situasie gelate aanvaar, of kan ons die verval van ons demokrasie stuit? Dis reg ... die verval van ons demokrasie!

In my daaglikse handel en wandel bespeur ek by baie mense ’n gevoel van wanhoop. Baie is van mening dat die verval in ons land ons demokrasie, Grondwet en Handves van Menseregte se skuld is. In dié verband het ek soms my hande vol om die pessimiste daarop te wys dat dit nié ons demokratiese bestel is wat slaggate op ons paaie, munisipale verval in dorpe en stede, moord en doodslag en ekonomiese agteruitgang teweegbring nie, maar dat dit die skuld is van diegene aan wie ons die demokrasie bestel toevertrou, vanweë hul gebrek aan begrip oor wat ’n grondwetlike demokrasie en hul verpligtinge teenoor die Handves van Menseregte behels enersyds, en andersyds vanweë persoonlike agendas om politieke mag ten alle koste te bekom vir selfverryking en alles in hul vermoë doen om hul koverte, kriminele en onetiese gedrag te verbloem. (Dit is natuurlik met uitsondering van vele etiese en toegewyde politici wat dikwels onder moeilike omstandighede wel hul bes probeer om gehaltediens aan die burgery te lewer.)

Wat ons as burgery egter moet besef, is dat demokrasie nie ’n eenmalige gebeurtenis is wat elke vyf jaar op ’n bepaalde dag plaasvind nie! Nog minder is die inkmerk wat kiesbeamptes op kiesers se linkerduim gemaak het, ’n formaliteit wat beteken dat ons ons verantwoordelikheid teenoor ons grondwetlike demokrasie nagekom het en as kiesers vorentoe op ons louere kan rus.

Dié tipe denkwyse is onverantwoordelik. Meer nog, dit kom neer op ’n gruwelike ontduiking van ’n grondwetlike verpligting wat vierkantig op die skouers elke landsburger rus. Alle kiesers, ongeag of hulle nou wit, bruin of swart is, het ’n voltydse verantwoordelikheid om ons grondwetlike demokrasie en Handves van Menseregte tot voordeel van alle landsburgers te ontsluit. Dis reg, ons demokrasie is nié ’n eenmalige verantwoordelikheid nié, maar ’n voltydse medeverantwoordelikheid.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ’n nasionale dialoog en aksieplan nou broodnodig is. Om ’n stem uit te bring en ’n kruisie te trek word as die lewensbloed van ons demokrasie geag. Dit is die eerste stap. Die tweede stap is om die mandaat waaraan uitvoering gegee moet word, duidelik uit te klaar. Duidelikheid oor die “fynskrif” vervat in die “kontrak” tussen kiesers en politici! Hieroor moet die burgery dringend praat. Verteenwoordig deur nieregeringsorganisasies, burgerregteorganisasies, gemeenskapsorganisasies moet hulle hul stem laat geld. Die derde stap hou verband met verantwoordbaarheid. Dit gaan hand aan hand met volgehoue druk deur middel van aktiewe burgery om politici deurlopend verantwoordelik te hou vir ondernemings wat nie nagekom word nie.

Dit behels voorspraak, hofaksies, protesaksies binne die raamwerk van die wet, blootlegging deur die media, ondersoeke deur die polisie, aksies deur die openbare beskermer, die Menseregtekommissie en ander verantwoordingspligtige hoofstuk 9-instellings en vele ander instrumente tot die burgery se beskikking wat ten doel het om politici tot verantwoording te roep.

Die belangrikste instrument tot die burgery se beskikking is egter die reg om te stem. Dit is van kritieke belang om politici aan wie ons politieke mag toevertrou, tot orde te roep en van hul politieke mag te stroop indien hulle nie daarin slaag om die waardes en ideale soos vervat in ons Grondwet en Handves van Menseregte tot voordeel van die burgery te verwesenlik nie.

Wat ons egter nie moet vergeet nie, is die rol wat ’n verenigde burgery kan vervul om ’n beter toekoms vir al ons burgers te beding. Dit is die uiteindelike doelwit van ’n nasionale dialoog en aksieplan: Om ons land se inwoners oor etniese, godsdienstige, kulturele en sosiale grense te verenig om ons nasionale belange van vryheid, vrede, vooruitgang en voorspoed voorop te stel. En ons Grondwet en Handves van Menseregte tot voordeel van alle Suid-Afrikaners te ontsluit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top