Dis drie weke vandat die weermag ontplooi is om bendegeweld in bendegeteisterde gemeenskappe op die Kaapse Vlakte te help bekamp. Ek het lank geworstel oor of ek mening moet lewer oor die situasie. Toe ek vanoggend wakker word, het ek geweet ek moet. Ek het heelweek gestry teen daai gevoel wat ek in my maag kry as ek iets uit moét skryf.
Ek is baie verlig oor die feit dat daar uiteindelik na die pleidooi van die mense op die Kaapse Vlakte geluister is, maar ek kan nie help om te wonder of dit ook maar net nog ’n “popcorn solution” is nie.
Hoe gaan die weermag help om die probleme op die Kaapse Vlakte, waarvan bendegeweld maar net een is, op die lang termyn te help bestry? Dit is wat die Kaapse Vlakte makeer, langtermynoplossings om van jare se trauma, geweld en onregverdighede te herstel.
Ek is van mening dat baie meer gedoen moet word om ons gemeenskappe weer leefbaar te maak. Maar wie moet dit doen? Is dit slegs die plig van ons government, wat jare lank hulself blind gestaar het teen die eintlike humanitêre krisis op die Kaapse Vlakte?
Of, kan ons, diegene wat daagliks deur die bullets moet probeer leef, iets doen om ons gemeenskappe weer veilig te maak?
..............
“Maar nes duisende ander mense op die Kaapse Vlakte het ek my eie ervaringe, wat my as jong kind reeds al laat besef het hoe afgryslik bendegeweld regtig is. En daarom het ek besef ek mág kommentaar lewer oor die situasie, want ek weet hoe dit voel.”
..............
Ek is ’n produk van die Kaapse Vlakte. ’n Produk van die goeie en slegte dinge van die gemeenskap waarin ek grootgeword het. Elsiesrivier. Een van die tien distrikte waar die weermag ontplooi gaan word.
Ek woon die afgelope vier jaar nie meer in Elsies nie maar niemand gaan ooit Elsies uit my kan haal nie. Elsies lê te diep. Ek onthou die vreugdevolle dae van kaalvoet springtou in die strate speel, loekwarte uit die bure se bome steel en die laat aande toe dit nog veilig genoeg was om ’n vuurtjie op die veldjie oorkant ons huis te maak, waarin ons aartappels tussen die kole kon gaarmaak.
Maar ek onthou ook die trauma wat ek in Elsies ervaar het. Die kere toe die skote skielik geklap het en ons moes koes in die rigting van die naaste huis, die vrees wat vlak in jou kom sit wanneer jy hoor iemand is weer geskiet en die menigte oop grafte …
Die eintlike rede hoekom ek getwyfel het of ek mening kan lewer oor die situasie, is omdat ek die afgelope vier jaar nie meer aan die trauma van bendegeweld blootgestel is nie.
Maar nes duisende ander mense op die Kaapse Vlakte het ek my eie ervaringe, wat my as jong kind reeds al laat besef het hoe afgryslik bendegeweld regtig is. En daarom het ek besef ek mág kommentaar lewer oor die situasie, want ek weet hoe dit voel.
Net omdat ek nie meer daar woon nie, beteken nie dat ek nie saam met my mense ly nie. Elke dag wanneer ek die nuus van nog ’n jong kind se bendeverwante moord op die nuus hoor, sak my moed en is daar ’n naar kol op my maag. Ek self het my eie rowe wat met elke nuusopskrif oopgekrap word.
Op 15-jarige ouderdom moes ek my 19-jarige broer se lyk op ’n skoolveld gaan uitken. Toe ek 21 jaar oud was, is my kleinneef en vyf ander seuns (almal onder die ouderdom van 17) vlak voor ons huis geskiet deur ’n seun wat hulle ouderdom was.
My kleinneef, Keenan, was maande lank in die hospitaal. Hy loop nou nog met die bullet in hom want dit is te na aan sy ruggraat om uitgehaal te word. Hy mag nie harde arbeid doen nie en kry daarom disability.
..............
“Ons gemeenskappe het totaal en al hul vertroue in die polisie verloor en baie mense is veels te bang om uit te praat juis daarom. Die vrot appels moet eers verwyder word uit die polisiemag voor hulp van die gemeenskap se kant af ingespan kan word.”
..............
Aan die einde van 2015 moes ons dringend my jonger broer, Clayton, na my antie in Calvinia stuur, want die bendelede het hom met die dood gedreig omdat hy nie deel van hulle wou word nie. Oorkant ons was daar ook die moord van ’n 16-jarige seun, Gilmore. Sy eie neef, wat net ’n paar strate weg bly, het hom glo per ongeluk as ’n skollie raakgesien en geskiet. Dis maar net ’n handjievol van die duisende stories wat vertel kan word.
Ek was vir ’n hele ruk kwaad oor die feit dat die krisis op die Kaapse Vlakte nie as krisis aanskou is nie. Ek het gevoel asof die government, maar ook landsburgers wat nie aan bendegeweld blootgestel is nie, ons pyn geïgnoreer het.
Daar is vir jare lank al soveel stories in die nuus oor bendegeweld, en dit is nie net enige stories nie, dis skokkende stories wat jou derms in jou maag laat dans.
Stories soos dié van die twee-jarige Braydon Graff, wat doodgeskiet is in sy ma se arms na ’n dwaalkoeël eers deur sy ma se arm en toe in sy bors gegaan het. Ek kan nie verstaan hoekom daar nie vroeër al ingryping was nie. Daar is nie ’n te kort aan mediablootstelling wat bendegeweld betref nie en daarom was ek convinced dat dit daglig-genocide van my mense is.
Maar ek kon nie besluit wie daaragter skuil nie. En later het ek besef dat dit nie net een entiteit is wat geblameer moet word nie. Dis baie meer kompleks. En om die krisis te probeer red, sal die kompleksiteit van die situasie in ag geneem moet word.
..............
“Skole is nie vir alle kinders ’n veilige en liefdevolle omgewing nie. En dit dra by tot die probleme in die gemeenskappe, want as ’n kind nie in die skoolbanke gehou kan word nie, gaan hy ledig op die hoeke rondhang en dis waar die bendes hulle begin target en intrek.”
..............
Een van die eerste dinge wat genoem was oor hoekom die weermag ontplooi is, is dat hulle veronderstel is om die sukkelende polisiemag te help om die krisis te hanteer.
Daar is te min polisielede om die situasie te hanteer en die weermag bring ekstra hande en voete op grondvloer. Dis great dat daar meer hulp vir die polisie is, maar enigeen wat in ’n bendegeteisterde gemeenskap woon, sal vir jou sê dat hulle nie die polisie vertrou nie – en dit is een van die grootste redes waarom daar nooit getuies is nie, al het die hele straat gesien.
Ek het by myself gewonder wat gedoen gaan word oor korrupte polisielede, want glo my, van hulle is daar ook. Hulle is verantwoordelik daarvoor om case files te laat verdwyn, om evidence op moord-scenes te verwyder en om piempers wat polisiestasie toe kom, uit te wys.
Om nie te praat oor die guns en ammunition wat altyd volop is in die gemeenskappe nie. Kyk byvoorbeeld maar net na ekspolisieman Chris Prinsloo, wat in agt jaar 2 400 guns gesteel en aan gangsters op die Kaapse Vlakte verkoop het.
Ons gemeenskappe het totaal en al hul vertroue in die polisie verloor en baie mense is veels te bang om uit te praat juis daarom. Die vrot appels moet eers verwyder word uit die polisiemag voor hulp van die gemeenskap se kant af ingespan kan word. Eerder bang Jan as dooie Jan. Solank as wat gemeenskapslede se lewens in gevaar is omdat hulle uitspraak lewer, gaan die situasie nie verbeter nie.
Dit het ook duidelik geword dat die skollies nie meer ou manne met baarde is nie, dis jong seuns van so 11 tot 19 wat deesdae met die guns op en af hardloop. En as jy nie self ’n kind het wat vatbaar is om deel van ’n bende te word nie, is dit maklik om vingers te wys na die kinders se ouers. Waar is die ouers dan?
Wel, baie van die ouers staan al vieruur op om van sesuur in die oggend tot vyfuur in die aand in ’n fabriek te gaan werk om kos op die tafel te sit. Dis nie dat ouers nie betrokke in die lewens van hul kinders wil wees nie, maar baie se werksituasies is van so ’n aard dat hulle vroeg uit die huis is en saans laat en moeg by die huis kom.
Ook is daar so baie enkelouergesinne in ons gemeenskappe en ouers sukkel om tred te hou met alles wat deur die dag met hul kinders gebeur het. Baie ouers weet seker nie eens hoe en wanneer hulle kinders deur bendes gelok is nie.
Ek sê nie dis ontmoontlik vir ouers om betrokke te wees in hul kinders se lewens en om te werk nie, al wat ek wil tuisbring is dat dinge nie altyd swart en wit is nie. Bendes prooi veral op kwesbare kinders wat nie veel liefde en aandag tuis kry nie.
By die skole gaan dit ook nie veel beter nie. Baie skole in bendegeteisterde gemeenskappe sukkel geweldig. Skoolbywoning is swak, elke jaar los meer kinders die skool (selfs op laerskool) en opvoeders sukkel met gedragsprobleme in die klasse.
Die kinders word daagliks aan soveel trauma blootgestel in hul gemeenskappe en daar’s so min hulp beskikbaar by skole om die trauma te verwerk – by baie min van ons skole is daar ’n skoolsielkundige beskikbaar. Ook is daar by baie van die skole amper geen buitemuurse aktiwiteite nie en onderwysers is ook nie altyd engeltjies nie, hulle doen en sê soms dinge wat die kinders verdryf.
My broertjie het eenkeer op laerskool huis toe gekom met trane in sy oë, want sy juffrou het gesê hy gaan ook maar net nog ’n skollie word oor sy huiswerk nie gedoen was nie. En dit na ek amper elke dag van sy lewe vir hom belowe het dat wat met my ouer broer gebeur het nie met hom ook sal gebeur nie.
Skole is nie vir alle kinders ’n veilige en liefdevolle omgewing nie. En dit dra by tot die probleme in die gemeenskappe, want as ’n kind nie in die skoolbanke gehou kan word nie, gaan hy ledig op die hoeke rondhang en dis waar die bendes hulle begin target en intrek. Om kinders se belangstelling te behou, moet daar dringend by skole ook ingegryp word.
Dwelm- en alkoholmisbruik, tienerswangerskap, huishoudelike geweld, diefstal en ander sosiale euwels is alles deel van die groter probleem. Alles is interafhanklik van mekaar en solank as wat dié euwels nog daagliks kop uitsteek, gaan bendegeweld ’n probleem bly.
En dit vir my is waar ons, die mense van die gemeenskappe, inkom. As elkeen verantwoordelikheid vat vir sy eie lewe en dié van hul gesinne, kan daar ’n verandering kom.
Ek het eenkeer amper my koejawels verloor toe ’n pa van ’n jong bendelid af in die straat ge-brag het oor sy seun wat “skiet om vrek te skiet”. Hy het aangegaan oor sy seun wat nie misskiet nie. En dit het my naar gemaak, want dis mense soos hy, ouer mense, wat onkundig is en eerder as om bendegeweld teen te staan dit aanmoedig, bloot omdat hy ’n kind het wat ’n bendelid is.
Sulke denkwyses moet verwerp word. Bendes is nie heroes nie, hulle is dom dwase, wat hulle neuste afsny om hulle gesigte te spite, want hulle maak hulle eie mense seer. Hulle eie families, hulle eie kinders, hulle eie gemeenskappe. Hulle eie toekoms.
Daar is ook mense in die gemeenskappe self wat in ’n soort droomwêreld lewe, wat hulself totaal en al blind staar teen die probleme om hulle, omdat dit hulle dalk nog nie persoonlik geraak het nie. En as gevolg daarvan praat en dink hulle nie oor bendegeweld nie.
Die geweld in ons gemeenskappe is almal se probleem.
Of jy nou al ’n familielid weens bendegeweld moes begrawe of nie. As meer mense net saam sal staan, sal ons sterker wees. ’n Oudleerder van my, Raeesah Harris, wat laasjaar gematrikuleer het, het sowat ’n week gelede juis dié probleem op haar Facebook-blad aangespreek. Sy het in ’n inskrywing gepraat oor die feit dat nie nagenoeg Suid-Afrikaners oor bendegeweld op die Kaapse Vlakte praat nie. Sy het genoem hoe opvallend dit vir haar was dat Suid-Afrikaners op sosiale media hulle profile pictures na blou verander het in support van Soedan, maar toe ’n soortgelyke opdrag van die #justicefortheCapeFlats beweging (wat begin is deur drie skoolmeisies wat ongelukkig glo dat net bruin mense deur bendegeweld geraak word) af gekom het, was dit maar ’n handjievol mense wat hul profile-foto’s na oranje verander het.
“While it’s all good and well for everyone to change their dp’s and post about Sudan and Syria to create awareness about what’s happening in war-torn countries, it doesn’t make sense to me as to why the injustices that we face in our OWN country doesn’t get the same attention. There’s a war going on right here, on our doorstep.”
Haar inskrywing het my laat besef dat mense selektief is oor wat hulle raaksien en wat hulle ignoreer. Al kan alle Suid-Afrikaners nie fisies iets doen om bendegeweld te bekamp nie, kan ons help deur nie die mense van die Kaapse Vlakte te ignoreer nie, ons kan help om meer bewusmaking te skep oor die situasie.
Laasnaweek, twee weke na die koms van die weermag, is daar weer tien mense in verskeie distrikte geskiet (twee het gesterf) en onder die tien was daar ’n sesjarige seun.
Die bendes het dit duidelik gemaak dat die weermag hulle nie intimideer nie. Die weermag gaan dus nie ’n permanente oplossing kan verskaf nie. Hulle bied net tydelike verligting en ek kan nie help om te wonder hoe die situasie gaan vererger die dag as hulle moet oppak nie.
Al wat ek weet, is dat ons nie handjies gevou moet sit en wag vir die weermag om dinge reg te ruk nie, want hulle kan nie en hulle gaan nie. Ons self, die goeie mense van die gemeenskappe, gaan die hoof-contributors van die probleem moet highlight en self met oplossings vorendag moet kom. Dit moet oplossings wees wat op die lang termyn verligting vir ons toekoms kan bring.
Onthou, dis wat die Kaapse Vlakte makeer: langtermynoplossings.
..............
Bronne:
..............
Lees nog menings oor die weermag op die Kaapse Vlakte:
Lees nog NouNet-menings:
NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
Kommentaar
Excellent article.
Baie goeie bydrae. Dit is opvallend dat sekere dele in die land destabiliseer word. Bende en ander kriminele bedrywighede word oor die hoof gesien. Ek is ontsettend jammer vir die mense wat op die Vlakte bly. Ek wil nie die politiekery daarin bespreek nie aangesien niemand daaroor sal konsensus bereik nie. Iemand gaan die blaam moet dra/kry. Daar is uiteenlopende menings oor die oorsaak van die situasie op die Vlakte. Ek gee my nie as 'n kenner oor die situasie uit nie, maar wat is die eintlike oorsaak. Is dit dalk die kolonialiste, gronddiewe, apartheidsregering of die dopstelsel op plase wat vir die krisis verantwoordelik gehou kan word. Ek probeer die situasie nie vereenvoudig nie. Ek weet dit is 'n baie ingewikkelde saak en verskeie menings sal daaroor uitgebring kan word. Die situasie op die Vlakte speel hom in ander dele van die land ook uit/af. In die strate van Hillbrow, Sunnyside, Berea/Umbilo, Port Elizabeth, Oos London, Bloemfontein en ander stede metropole gaan dit ook rof. Die probleem is op die Vlakte is dit gekonsentreerd. Volgens my is die grootste bydraende faktor tot die wetteloosheid, geen respek vir siel of gees en lae intensiteit anargie die bevolking/mense se apatieste houding jeens die situasie. Die "social fibre" van die bevolking het verbrokkel. Kyk net om jou en sien wat gebeur. Hoe tree mense teenoor mekaar op. Hoe tree kinders teenoor ouers op en omgekeerd. Daar is ook nie meer selfrespek nie. Die grootse bydraende faktor is die reg tot. Ek het die reg tot dit of dat. Die eise wat gestel word onder die dekmantel van mense regte. Jy het as mens geen reg nie. Jy het voorregte. Jy as kind het geen reg nie. Jy het voorregte. Ek praat nie 'n totale vertrapping van mense goed nie, maar daar is grense en perke wat sosiaal aanvaarbaar is en sekere norme daar stel. (Dit is weer 'n ander onderwerp.). Geen mens het 'n haalbare oplossing nie, want die mense skuif altyd die blaam in stede van om die fout by homself te soek.
As Civic leier stem ek saam dat die bendegeweld op ons Kaapse Vlakte baie kompleks is, ons gemeenskap, die polisie, regering sal moet saamwerk om ons kinders n beter veilige hawe te bied. Skole buite-muurse aktiwiteite soos sport, skole sielkundiges, goeie jeugsentrums binne geteisterde areas sal help om die problem aan te spreek. Ons lewer intervensie dienste aan jeugdiges in Elsiesriver en omliggende areas, maar genoegsame spasie, beperkte befondsing vir meer gekwalifiseerde personeel en om jou personeel te behou, want di blootstelling aan geweld is n realiteit en is van di striemende faktore wat n rol spel. Na, my mening moet selfs ons kerke begin hande vat om die sosiale euwels aan te spreek, ingrypend uit the reik na bendes, kerke nasorg fasiliteite te maak, wat support groepe aanbied om van die probleme aan te spreek. Saam kan ons ons gemeenskappe terug neem en ons kinders se erfenis verseker.
Wangedrag kan nie uitgeskakel word deur magsvertoon van polisie en soldate nie, net soos mense nie gedwing kan word om mekaar lief te hê deur 'n wet af te forseer nie. Daar is 'n oorsaak vir hierdie toestand – een wat identifiseerbaar is en reeds in bogenoemde bydraes omskryf is, naamlik dat kinders moet grootword sonder 'n pa of dalk sonder enige ouers. Ek is absoluut oortuig as hierdie bendelede se grootwordgeskiedenis nagegaan kan word, sal sommige of al die volgende faktore gevind word:
Ontoereikende binding met Ma nà geboorte.
'n Man wat 'n kind verwek het en toe sy verantwoordelikheid versaak het,
of 'n pa wat nie besef dat hy 'n baie spesifieke taak het in die opvoeding van sy kinders nie.
'n Gesinslewe waarin daar geen of te min tyd bestee is aan die bou van stewige gesinsverhoudings.
Gebrekkige dissipline omdat die ouers nie ernstig is oor beproefde lewensbeginsels nie.
Afwesigheid van of gebrek aan oogkontak en fisiese aanraking tussen pa en kinders.
Die gesin is die bousteen van die gemeenskap. Wanneer die gemeenskap siek is, moet die gesin genees word. Genesing kan nie kom deur die kerk, organisasies of sportspanne nie. Net soos 'n mosterdsaad kan groei tot 'n groot boom wat baie skuiling bied, kan een pa die begin wees van 'n proses van verandering. Dit kan gebeur as daar 'n man in die gemeenskap is wat braaf genoeg is om die volgende stappe te neem:
- homself totaal onderwerp aan die gesag van Skepper-Vader;
- die vaste besluit neem dat hy sy plek gaan inneem as geestelike leier van sy gesin;
- toesien dat die gesin elke aand die laaste maaltyd van die dag saam rondom die tafel sal geniet;
- toesien dat geen TV, rekenaar of telefoon die samesyn om die tafel sal onderbreek nie;
- toesien dat hyself en elke ander lid van die gesin die ervaringe van die afgelope dag met die ander aan tafel sal deel en kwessies wat daaruit voortspruit sal bespreek en advies gee;
- die program, aktiwiteite, verpligtinge en reëls van die gesin sal bespreek en reël.
Verder sal so'n man sorg vir remediërende aktiwiteite, soos die volgende:
om sy vrou en elk van sy kinders elke dag minstens twee keer tussen sy arms en teen sy bors te neem terwyl hy
sy waardering uitspreek en die versekering gee dat elkeen aan hom persoonlik behoort;
spesifieke oogkontak maak wanneer hy met een van hulle praat;
wanneer hy moet berispe, sy hande op die skouers van die kind plaas, oogkontak behou en duidelik maak wat die oortreding is en daarna saam met die kind gaan regmaak wat verbrou is sodat hy kan seker maak die kind verstaan wat verwag word;
sal sorg vir 'n stokperdjie vir die gesin.
Die mees ideale stokperdjie waaraan almal sal kan deelneem, is om elke aand nà ete te werk aan 'n konstruksie wat sommer op 'n tafel gedoen kan word. Daar moet genoeg boumateriaal wees, soos houtblokkies, plankies, boksies, blikke, stokkies, klippe en wat ook al op die erf of uit die afval bruikbaar kan wees. Die eerste projek kan 'n blote skuiling wees en dit kan algaande meer kompleks word soos wat die gesin daaraan gewoond raak. Sonder dat dit gesê word, moet elkeen bewus raak daarvan dat die gesin saam bou aan 'n huis of ander struktuur.