NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

  • 1

Ek loop uit ’n klas waar ons die idee van protesmusiek as innerlike kennis, amper onbewustelike ritme in die psiges van talle Suid-Afrikaners, bespreek het. Neo Muyanga het ons weer herinner dat musiek, klank en ritme vir baie van ons in die land as tweede taal dien.

Ons dink nie veel daaroor na nie, maar tog kan baie van ons ’n harmonie tot ’n deuntjie sing, saam wieg as die ritme oor ’n luidspreker uitbasuin word, en selfs tussen ons landstale vleg om mekaar te vermaak of te verspot.

Ek loop uit die klas en klim in my kar waar die algemene stemme van radio-omroepers my groet, my inlig oor die dag se doen en late, ’n staaltjie oor wat ons ministers kwytraak, waarheen ons oppad is en vir hoe lank ek moontlik in die stad se verkeer gaan vassit.

Kom by die huis en Spotify weet nog voor ek weet, waarna ek wil luister. Soms val ek aan die slaap met die geluide van een of ander fliek, of verhaal wat aan my vertel word deur die luidsprekers van ’n foon. ’n Hele dag kan verbygaan sonder dat stilte, of die idee van stilword, tevoorskyn tree en dit voel vir my asof die dae al hoe meer word, en die stilte al hoe minder.

.....................

“Maar is ons, as samelewing, besig om stilte te verloor? Is die idee van stilte, soos sekere dierspesies, besig om uit die kollektiewe geheue van die samelewing te verdwyn? Kan ons wérklik stil word?”

.....................

Die Nobelprys-wenner vir bakteriologie, Robert Koch, het in 1905 al die volgende stelling gemaak: “The day will come when man will have to fight noise as inexorably as cholera and the plague.”

Het daardie dag aangebreek?

Vir baie beteken die woord, stilte, iets anders: ’n dreigement, ’n wete dat iets nie heeltemal pluis is nie; ’n nostalgiese terugblik op ’n tyd voor tegnologie ons lewe vir ons uitgemeet het; ’n vonnis van verveeld wees; en vir ander weer, ’n ongelooflike, merkwaardige deel van die lewe, iets wat as paadjie tot innerlike kennis of gedagtes dien.

Maar is ons, as samelewing, besig om stilte te verloor?

Is die idee van stilte, soos sekere dierspesies, besig om uit die kollektiewe geheue van die samelewing te verdwyn? Kan ons wérklik stil word?

Stilte nie as klankloosheid nie, maar eerder iets nader aan die idee van rus, die brein kans gee om in te neem, akuut te luister, hartklop aan te voel.

Ek weet die deuntjie klink baie soos die neo-liberalisme van Kaapstad se hippy kultuur, maar ek dink nie dit is waaroor ek praat nie. Ek praat nie oor die gekommersialiseerde idee van in ’n jogaklas sit, ’n paar keer asem te haal en weer met jou dag aan te gaan nie, maar iets wat dieper lê, iets wat so essensieël soos kos, of water is.

En ek wonder of ek die enigste een is wat ’n diep nood het aan stilte, in ’n wêreld wat konstant gons. Die idee van besig wees, van klank maak, van kommunikasie het die harmonie van ’n moderne samelewing geword, en die liedjie val nie maklik op die oor nie.

.....................

“En ek wonder of ek die enigste een is wat ’n diep nood het aan stilte, in ’n wêreld wat konstant gons.”

.....................

Inteendeel, die ritme voel angstig, die pas te vinnig, asof jy net-net nie kan byhou nie. Vra jy die jongklomp en selfs die ouer generasie, is daar ’n gevoel van tyd wat uithardloop, alles wat harder word, vinniger moet plaasvind.

Ek kan nie eers begin tel hoeveel keer ek die sinsnede, “Skuus, die dag het met my weggehardloop”, as verskoning gebruik nie, een wat nie ’n leuen is nie, maar as daaglikse realiteit bestaan.

Dit is wel bekend dat ons, as ’n samelewing tans sukkel met ons konsentrasievermoëns, kognitiewe funksies, sielsgeluk en algemene gesondheid.

Akoestiese ekoloog en skrywer, Gordon Hempton, het onlangs deur Amerika gereis opsoek na stilte, en kon slegs ’n somtotaal van drie plekke in Washington opspoor (een daarvan te midde  van ’n nasionale park), in vergelyking met 21 plekke gedurende 1983. Die statistiek maak dit duidelik, ons is besig om natuurlike stil plekke, en stilte as beginsel, te verloor.

Wat is die inpak van díe ritme? Van konstante klank? Ek dink ons is besig om al hoe minder die tegniek, of idee, van “luister” te beoefen. Ons hoef nie te luister nie. Ons kan kies om ons oorfone in ons ore te sit, ons kan kies wat ons lees, watter TV-kanale ons kyk, met ons gemeenskap oor Facebook te kommunikeer.

Die idee van werklik luister, selfs na dit wat ons nie noodwendig wil hoor nie, is besig om ons te ontglip. Kan die ouer generasie stilbly en luister na wat die 20-jarige omgewingsbewuste kind te sê het?

Kan tieners nog vir ’n uur of twee met hul ouma’s en oupa’s ’n gesprek aanknoop? Die opinies inneem? Dit verwerk? Dit laat rondtol in hul kop en dan terug te kommunikeer? Is dit dan nie hoe werklike kennis geskep word nie? Is dit nie hoe idees verder ontwikkel word nie?

Of val ons terug op ’n toestel in ons hande? Een waar die idee reeds geformuleer lê?

Het Suid-Afrikaners nog die vermoë om te luister? Om stil te bly wanneer die gesprek nie noodwendig vanuit hul ervaring of perspektief geskied nie?

Die land het ’n geskiedenis van geraas, van skree en woed, van praat, oormekaar praat, teen mekaar praat, deurmekaar praat. Is daar nie ongelooflike meriete daarin om te leer om stil te bly nie?

Om werklik te luister na die ritme van die gemeenskap rondom jou nie? Om die steel van ’n selfoon te sien as absolute hongersnood nie?

Of is stilbly, apaties bly?

Jane Brox, in haar boek, Silence: A Social History of One of the Least Understood Elements of Our Lives, argumenteer dat stilte iewers tussen twee pole lê, beide pyn en geluk; mag en magteloos, maar dat stilte deel vorm van ’n eerlike en dieper ervaring van kommunikasie.

Stilte, die element wat aan ons as antisosiaal verkoop word, is juis die element wat ons, as samelewing, toelaat om innig met mekaar te verbind. ’n Paradoks.

Een wat meer bespreek moet word. Een wat meer ondersoek en beoefen moet word. Een wat meer gereeld ’n verskyning moet maak, veral in ’n land waar klank en opinie en stem so belangrik is.

Stilte as deel van die boustene aan ’n toekoms, want dalk is dit net in die stilword waar ons nader aan ons eie gedagtes kan beweeg, nader aan onsself, en dalk, nader aan mekaar.

.....................

Lees nog NouNet-menings:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Skuldlas


Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ja nee, ek smag ook na meer stilte. Maar ek dink ook dis 'n teken dat ek nou oudword. Die musiek op die radio klink vir my ook allervreeslik. Spesifiek die moderne musiek.

    Kom span maar uit hier in die Noordkaap, hier sal jy stiltes raakloop. Groot stilte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top