NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

  • 5

Voordat ek gestenig word vir my ongevoelige gebruik van ’n woord wat na ’n baie sensitiewe en emosionele mediese toestand verwys, laat ek vinnig verduidelik. So vinnig soos wat my vier-en-vyftigjarige brein dit kan doen.

Ek is al sedert 2015 amptelik werkloos, maar is op tientalle werksoekwebwerwe geregistreer. Meer as een van my CV’s per week het op ’n stadium hul pad probeer vind, deur die geraas, na potensiële werkgewers. In die begin was daar nog jammer-briefies, selfs ’n Skype-onderhoud of twee. ’n Bietjie vryskutwerk het darem gevloei uit ’n gesprek of drie, maar ten spyte van ’n uitmuntende gesondheidsrekord, meer as 30 jaar se ondervinding en ’n graad, is die telefoon stil. Dit help ook nie om te bewys dat jy darem nie op jou stertvere gesit het vir vier jaar nie. Jy was besig met internetkursusse hier en kortkursusse daar asook ’n goeie skeut gemeenskapswerk op die koop toe.

Maar hoe nader ek oorhel na 60, hoe meer snap ek wat eintlik vir ons gesê word. Dalk is ek breindood, want ek het nou eers, na vier jaar, besluit genoeg is genoeg.

..........

“Boetie, sussie, laat hierdie antie jou ’n ding vertel – op 50 plus kan ons nog dink, en doen.”

..........

So lees ek mos onlangs ek is nie die enigste middeljarige wat so geïgnoreer word nie. Selfs Eskom, wat kniediep in die bollie is, weier vermoedelik om oudwerknemers aan te stel. Kan jy glo dat uitstekend-opgeleide en talentvolle mense die Engels-spreekwoordelike “koue skouer”, na bewering, gegee word (want warm skouers is daar nie by die kragvoorsiener nie – al die kabels is gesteel of verkeerd ingesit)?

Ons ouer garde klim op vliegtuie en gaan werk in die middel van Afrika, die Verre Ooste en gewese kommunistiese lande. Daardie mense sien ons vaardighede raak; hulle gebruik ons jare lange ondervinding. Hoekom kan ons eie land se maatskappye dit nie raaksien nie? Is hulle domastrant, hoogmoedig, of sommer net venynig?

Op ons ouderdom, wanneer ons op Saterdagmiddae met ons kleinkinders behoort te speel, werk ons in vreemde lande en verlang na rugby, sonskyn en braaivleis. Net omdat ons eie land ons nie meer nodig het, of gebruik wil maak van wat ons het om te bied nie.

..........

“Ons kan somme maak sonder ’n sakrekenaar of daai toepassinkie op jou slimfoon. Ons kan spel, ons kan ordentlik oor ’n telefoon praat ... Ons kan ’n debat voer in ’n raadsaal sonder om elke vyf minute op ’n selfoon te kyk.”

..........

Wat moet ons middeljarige (ek haat daardie woord, want dit laat my aan my gesette middel dink) werksoekers nog doen om te bewys ons kan nog ’n bydrae lewer? Moet ons nou op 50 maar omdop en doodgaan? Is daar regtig niemand wat ons nog nodig het nie? Is hulle bang vir ons of ons kennis? Dink hulle ons wil hulle “baby-sit” en vertel wat hulle verkeerd doen? Of het hulle dalk net doodeenvoudig besluit ons breinfunksie bo 50 is heeltemal te stadig om by te hou by hulle vinnige maatskappye?

Boetie, sussie, laat hierdie antie jou ’n ding vertel – op 50 plus kan ons nog dink, en doen. Ons is nie jou ma of pa wat heeldag en aldag vir jou wil vertel wat jy reg of verkeerd doen nie. Ons wil help, ons wil nog iets beteken. Ons weet ons kan. Ons wil nie jou joppie oorvat nie. Ontspan.

Ons kan die internet “surf” dat jou kop draai. Ons kan ’n probleem sien aankom soos ’n snotneus in Aprilmaand na die eerste Kaapse reën. Ons is nie meer liggelowig en naïef nie. Ons reis alleen oorsee, ons klim Kilimandjaro en ons gaan stap die Camino. Ons pak nuwe vaardighede aan, ons begin herwinningsprojekte in ons gemeenskappe. Ons loods veldtogte en ons organiseer konserte. Ons leer minderbevoorregte kindertjies lees – sonder om kwaad te word of iets terug te verwag.

..........

“Ons kan die internet ‘surf’ dat jou kop draai ... Ons reis alleen oorsee, ons klim Kilimandjaro en ons gaan stap die Camino.”

..........

Ons gryp ons mans of ons vrouens vas en ons vry dat die sweet teen die mure spat, al beteken dit nou daar moet ’n ekstra glas wyn of ’n ou pilletjie in die proses bykom. Jy sien, ons weet die lewe raak korter, ons het nie meer “hang-ups” oor selluliet en plooie nie. Dit beteken ook ons ontstel ons nie meer vir niks nie. Ons sal ’n aanwins wees in jou maatskappy. Ons dink jy sal kan doen met kalmte tussen jou werknemers.

As jy bang is vir ons wysheid, is jy dommer as dom. Ons kan jou help om nie dieselfde foute as ons te maak nie. Ons weet jy het genoeg foute wat jy self nog moet maak. Hoekom wil jy nie laat ons jou help nie?

Ons het so baie om nog te kan gee. Ons kom uit ’n era waar ons weet wat is harde werk. Ons kan somme maak sonder ’n sakrekenaar of daai toepassinkie op jou slimfoon. Ons kan spel, ons kan ordentlik oor ’n telefoon praat. Ons weet hoe om navorsing te doen uit ’n boek uit, en met die hulp van die internet. Ons kan ’n debat voer in ’n raadsaal sonder om elke vyf minute op ’n selfoon te kyk. Ons kan mense in die oë kyk en ons kan ferm handdrukke gee. Ons kan respek wys en afdwing.

Ons is die vyftigplussers en ons is nog springlewendig.

 

Lees nog NouNet-menings:

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Skuldlas

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Somers in Skotland

 

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 5

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jy het my simpatie. Werkloosheid op 54 kan seker maklik begin voel asof jy uitgestoot word. Diskriminasie op grond van ouderdom. Ek sal net kan raai. Ek is 34 so hoe sal ek weet hoe voel iemand van 34. Maar ek was self al werkloos. En die werkloosheid onder 50-jariges is veel veel laer as onder die jeug (jeug vir my is 18 - 25). Daar skiet die werkloosheid op na bykans die helfte van 'n hele generasie. Dit vreet aan hulle selfbeeld en selftrots. Dit verniettig hulle verhoudinge met familie en vriende. Ek weet want ek was ook daar.

    Vir werkloses het ek net die grootste empatie en ek sal se - skep moed. Daar is nie "fout" met jou nie. Hou aan probeer. Wie moet ons bedank vir die ekonomiese chaos waarin ons land verkeer? En die werkloosheid? Dit is ons politici wat hierdie land rot en kaal gesteel het. As ons politici net 'n titseltjie vir die land omgegee het, dan was die werkloosheid veel laer.

  • Ek weet hoe dit voel. Ek is op 38 tot werkloosheid "gedwing". Jy het 'n keuse om te loop of te bly maar indien jy bly, sal jy nie maak soos ons sê nie maar maak soos ons maak. Ek het geloop. Was nie lank werkloos nie. 'n Goeie 5 of so jaar. Ek het almal en alles blameer, maar toe selfondersoek gedoen. Met 'n skok agtergekom die fout lê by my. Ek het mos 'n goeie werk, status en voordele gehad. Ek soek dieselfde posisie met al die klokke en fluitjies by die nuwe plek. Aikôna, dit werk net nie so nie. Jy moet iewers begin. Ek het intussen verskeie werke gehad en op 'n dag besluit ek werk vir myself. Ek is nou gelukkig.

  • Avatar
    Riette Salzmann

    Hendie, dis bittersoet. Ek het so lekker gelag vir jou gemaklike skryfstyl, maar jy het tog 'n realiteit aangespreek wat my ook laat wonder wat van ons samelewing se 'common sense' geword het. Ons het immers lewenservaring. Ek hoor altyd die jonges kla dat 'n voorvereiste vir 'n nuwe betrekking gereeld meld dat die werksoeker 'n sekere aantal jare ondervinding moet hê!?

    *Jy kon ook by voeg dat ons oueres nie gaan vra vir kraamverlof nie!

  • Avatar
    Elsie Rautenbach

    Hier in ons mooie SA dink die regering en besighede as jy 50+ is staan jy met jou een voet in die graf en die ander een op 'n piesangskil en eintlik kan ons nog soveel waarde toevoeg en leiding gee. Die jonger geslag het verseker ordentlike leiding nodig want huidiglik kry hulle net leiding om af te breek en af te brand, hulle het geen idee van opbou en instandhou nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top