NouNet-mening: Skuldlas

  • 1

Ek glo nie werklik in voorspellings nie. Ja, die weer kan voorspel word met redelike sukses en jy kan seker ook voorspel wanneer iemand op die verkeerde pad loop en droogmaak, maar die sterre. . . Ek weet nie so mooi nie.

Dit het alles begin in Desember 2017. “Read what your horoscope predicts for 2018!” het die plasing op Facebook gelees. Met ’n skeptiese blik gooi ek ’n houtoog oor die teks wat onder my duim rol. Ek lees goed soos “difficult journey”, “financial struggle” en “lessons to be learned”. Wat ’n goeie voorspelling. Doem en donder.

..............

“Waarom het ek nie hierdie goed op skool geleer nie? Wiskundig kan ek Sin, Cos en Tan om mooi kurwes op grafieke te trek, en ek kan Shakespeare verstaan, ek weet waar Saul vir Oupoot moes skiet en ek weet darem waar goud op die periodieketabel lê. Maar van belasting, lenings, bankrekenings, rentekoerse, dienskontrakte, en aansluitingskontrakte moes ek op die harde manier leer.”

..............

2018 het my onder die agterent geskop soos niemand se besigheid nie. Moeilike jaar, maar met ongelooflike vrugte wat ek kon pluk na die einde van die jaar se kant toe. Met soveel dankbaarheid in my, kan ek terugkyk en dink elke harde klip was so die moeite werd. Groot skuiwe en baie ongerief, was verwikkel in lang slapelose nagte met desperate gebede en einde-van-die-maand Salticracks. Maar die wiel het gedraai.

“Maak nie saak wat nie. Ek lees nie weer die verdomde goed nie!” Klink dit bekend? Desember 2018 kom al die flitse weer op die skermpie verby. Ek weier. Ek sal nie. “Waarom is jy so bang om die goed te lees as jy nie regtig daarin glo nie?” vra die satan se stem in die woestyn. “Dit het mos geen mag oor jou nie. Dit is net woorde!”

Ek gaan 2019 sonder voorspelling in. Dit kan net beter gaan.

Ek kuier by neef en hy haal sy Engele-boek uit. Dit is immers nie voorspel nie, is dit? Hoe werk dit? Jy vra ’n vraag en slaan die boek teatraal oop. Die boodskap op die bladsy is die antwoord op jou vraag.

“Gaan ek darem ’n beter jaar as laasjaar beleef?” Die boek val oop.

“Yes.” Net dit. Een hele bladsy gewy aan die jawoord.

Dalk was ek nie duidelik genoeg nie. “Gaan ek my finansiële probleme kan oplos in hierdie jaar?” So ewe asof die engele gou vir mammon sal gaan raadpleeg oor die goud in die bank.

Die boek gaan oop. Die bladsy wil-wil blaai, maar val dan weer terug. “You wil discover your freedom soon.”

Hoeraaaaa! Daar is hoop vir Suid-Afrika! Dit is so! Die engele het dit self gesê.

...................

“Moet ons regtig Geskiedenis ’n verpligte vak bo LO of Kuns en Kultuur maak, of moet ons nou alles in ons vermoë doen om die volgende generasie al die swaar lesse te spaar?”

...................

Ek dink nie die engele verstaan so mooi Afrikaans nie. Dalk praat hulle net hogere Engels. Tot dusver was 2019 nog net een groot warboel van brande doodslaan tussen belastingskantore, selfoonmaatskappye en die bank wat foute op hul sisteme gemaak het en dit regtig nie wil besef nie. Hulle gee ook nie juis ’n duit om oor hoe dit jou beïnvloed nie. Jy is net ’n nommer, my mens. ID-, selfoon-, belasting-, en rekeningnommer. O, en natuurlik is jy ’n motorregistrasienommer vir e-tol ook. Sommer derduisende rande se tolgeld al het jy twee jaar in die Kaap gebly.

Dan is daar ’n hofsaak ook. Dit is ’n eerste vir my. Moes blitsvinnig sommer baie dinge leer en skuins voor veertig ontmoet ek die Sherrif in my kantoor by my werksplek, besef prokureurs is baie duur, maar broodnodig en ’n kontrak is seker die skelmste ding op hierdie heelal, want jy belê mos nie tyd daarin om die ding te laat lees deur mense wat geld kos nie.

Net so op die drumpel van my nuwe dekade leer ek nuwe vriende ken. Slaaplose nagte en hol kol op die maag. Dit word verpak soos die sjokolades in ’n kerskalender, want elke dag bring vir jou ’n nuwe verrassing. Niemand weet wat môre gebeur nie.

“Welkom in die grootmenswêreld”. Is die amptelike repliek wat jy kry wanneer jy jou treurmare soos ’n voordrag van Langenhoven geoefend voorhou. Jy besef hierdie ervarings gebeur regtig nie net met jou nie. Dit is daagliks die lot van honderde mense wat veg teen die aanslae van die juk wat skuld op hulle skouers gooi. Al hierdie ervarings was net weer ’n inlywing vir ’n nuwe fase in jou lewe. Ek mag nie vloek nie, maar jy is in jou finansieel gekrokte fase.

Waarom het ek nie hierdie goed op skool geleer nie? Wiskundig kan ek Sin, Cos en Tan om mooi kurwes op grafieke te trek, en ek kan Shakespeare verstaan, ek weet waar Saul vir Oupoot moes skiet en ek weet darem waar goud op die periodieketabel lê. Maar van belasting, lenings, bankrekenings, rentekoerse, dienskontrakte, en aansluitingskontrakte moes ek op die harde manier leer. Ek het al meer skoolgeld aan duur lesse in my volwasse lewe betaal, as wat my ouers in twaalf jaar aan my skoolloopbaan betaal het. Moet ons regtig Geskiedenis ’n verpligte vak bo LO of Kuns en Kultuur maak, of moet ons nou alles in ons vermoë doen om die volgende generasie al die swaar lesse te spaar?

Wat van ’n nuwe vakgebied? Nie Rekeningkunde of Besigheidstudie wat fokus op korporatiewe sake nie, maar Finansiële Bestuur en Regsopleiding vir die arme drommel wat uit die Universiteit kom en grootoog sy eerste kredietkaart met ’n glimlag verower. My mens, jy teken jou onskuld weg.

Ons is dit aan ons kinders verskuldig om hul met die regte gereedskap die wêreld in te stuur. As jou skool dit dus nie wil doen nie, maak vriende met prokureurs en finansiële adviseurs. Kuier baie daar. Jy sal jou kind nagte lank se wakkerlê spaar en al die geld wat hy of sy nie hoef uit te gee op die volwasse skool nie, kan oorsese vakansies en spogkarre koop.

Ek onthou vaagweg iets van grootkas en kleinkas. Daar was iewers krediteure en debiteure (watter een ook nou weer die een is wat jou geld skuld, weet ek nie meer nie). Maar asseblief, Me Motshekga, begin by opvoeding in gesonde finansiële en professionele gebruike en jy gaan eendag ’n land hê wat nie geknak gaan onder skuld en swaarkry nie.

..............

Lees nog NouNet-menings:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte


Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die arme skole en onderwysers sal altyd onder skoot wees. Met leerplanne is dit 'n geval van, soveel mense, soveel opinies. Die skool sal ook nooit aan elke individuele kind se behoeftes kan voorsien nie. Die geluk by die ongeluk is, skool is maar net 'n vertrekpunt. Die skool moet mense eintlik net kan leer krities dink. As skole daarin sou kon slaag dan was die stryd half gewonne,

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top