NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

  • 1

Die air-con op die vlug OR Tambo toe is op full blast, ten spyte van die feit dat dit midwinter is. Voor my sit ’n hy en ’n sy, ’n mynbestuurder en ’n rekenmeester. Hulle is vreemdelinge, alhoewel hulle mekaar se taal glad verstaan: winsgrense en optimisering, menslike hulpbronne en die triple bottom line. Ek weet ons is al drie medepligtiges – die kaartjie beraam 202,58kg se koolstof-uitlatings per persoon tussen Kaapstad en Jozi. Drie keer my gewig in gas wat saampak op die horison van ’n leefbare toekoms op die planeet.

“Waar myn julle?” vra sy. 

“Witbank,” sê hy.

Emalahleni, dink ek, Plek van Steenkool. In die hartjie van die monster. Suid-Afrika is die wêreld se 6de grootste steenkoolprodusent: 93 persent van ons elektrisiteit en 77 persent van al ons energie spruit uit steenkoolverbranding. Die probleem met steenkool is dis so donners vuil: as dit brand, dan brand dit vuil, die vuil sypel die waters en grond in, en as werkers die swart goud uithaal, vervuil die steenkoolstof hul lywe (soos die harte van mynbestuurders sekerlik ook verswart met tyd).

“Maar ek bly in Kaapstad. Ek vlieg elke week in. Vrou hou van die seelug,” sê hy.

“Dis lekker,” sê sy.

202,58kg CO2 om die week mee te begin, 202,58kg om hom mee af te sluit en die bestuur van tonne meer tussenin, dink ek. Die mynbestuurder het reuse rooi ore en ’n bypassende neus. Eers wonder ek of dit van al die hitte in die aarde se maag is. Dan voel ek skuldig dat ek hom so takseer sonder dat ek hom ken. Dan wonder ek hoe gereeld hy in sy myn afgaan, hoeveel meer hy inbring as die mynwerkers as hy elke naweek huis toe te kan vlieg en wat hy van intergenerasietrauma in die myne te sê het. Tshiamo Malatji se gedig “Burial” flits soos ’n ondergrondse ontploffing deur my gedagtes:

Because mine shafts are silent coffins 
Already buried in the ground

I am the son of a miner 
My father’s blood remains in the soil 
In the dirt that crawls into the flesh 
[…] Like termites in the wood
Dust in the corner 
Death in the mines

© Tshiamo Malatji, “Burial”

Ek onthou die onlangse plaaslike klasaksie-skikking van goudmynmagnate vir die tuberkulose en silikose wat hulle mynwerkers sedert 1965 opgedoen het. Daar’s nog ’n beslissing op pad vir steenkoolmyne. Alhoewel geregtigheid uiteindelik haar opwagting in monetêre vorm maak, is dié nasorg ’n bitter troos vir hulle wat op sterwe lê en die families wat reeds hul mense aan die dood afgestaan het. 

Daar’s iets obseen en diep hartseer daaraan om elke dag ’n lig aan te skakel, die ketel te kook, kos te maak, jou foon te charge en te weet dat alles op die uitbuiting van menselewens en die verbranding van versteende oerorganismes berus. Om te besef dat ons die fossiele van ons voorgangers, die bewoners van Gondwana, so seremonieloos saam met mynwerkers offer sodat ons kan leef. En terselfdertyd ons nageslagte in gedrang bring. Iets van kannibalisme, iets van verskroeide aarde in drie tye, iets van onherwinbare verlies.

“Continental or fruit salad?” vra die lugwaardin.

“Continental,” sê hy.

“Continental,” sê sy.

Ek kies dieselfde: ham en kaas en tamatie, elkeen in sy eie Gladwrap, ’n bun in plastiek, mes en vurk in plastiek, botter in plastiek, konfyt in plastiek, op ’n plastiekbord op ’n plastiektafel in ’n petroholic vliegtuig. Die passassiers vermenigvuldig die verwerkte afvalprodukte van fossielverbranding wat als vir ’n oomblik verpak en onvermydelik iewers onafbreekbaar beland.

Die vliegtuigvenster raam die konsentriese grondlae van oopgroefmyne, die damme vol suur mynwater, die uitasem van kragstasies en karre wat elders beland en die weer verinneweer – die sameswering van koolstofdioksied oor kontinente heen.

Hlanikahle in Witbank met steenkoolmyn en rivier vol suur (The Guardian)

Ek onthou die artikel wat ek gister oor koolstofreserwes in die grond gelees het. Hoe ons klimaatsmodelle moet aanpas, want hoe warmer die aarde raak, hoe meer mikroorganismes gaan respireer. Iets van 55 biljoen ton koolstof wat die grond gaan loslaat. Die aarde se asem as payback? Ek onthou die permafrost wat in die noorde ontdooi, die Great Barrier Reef wat half doodverbleik is, die Amasone wat krimp teen ’n tempo van drie rugbyvelde per minuut, sikloon Idai, sikloon Kenneth, die droogtes wat steeds oor Suider-Afrika lê.

..........

“Die probleem met steenkool is dis so donners vuil: as dit brand, dan brand dit vuil, die vuil sypel die waters en grond in, en as werkers die swart goud uithaal, vervuil die steenkoolstof hul lywe.”

..........

Die rooi mynbestuurder kry ’n oproep die oomblik wat ons land.

“Ja … Wat de … Sê vir hulle ek is op pad. Ons sal die gemors moet uitsort.” Hy druk die foon met sy vet wysvinger dood, glimlag effens ongemaklik vir die rekenmeester.

“Ons gaan jou dalk nodig kry,” sê hy.

“Hier’s my nommer. Enige tyd,” sê sy.

Hulle staan op om af te klim. ’n Hele stink wêreld van uithaal en wys waarvan ek min weet. Maar ek was saam hulle op die vlug, het saam die plastiekkos geëet. Ons is saam verantwoordelik hiervoor. Hoe gaan ons die einde van die wêreld verhoed? Hoe gaan ons die grootkoppe fight wat die mynregte besit? Watter register is gepas om die globale rou en oproepe om weerstand te verwoord? Hoe klink die skreeu wat hierdie laatmiddag die raakste vasvang?

Ek skakel my foon aan. Nog ’n artikel oor die ongelyke verspreiding van die effekte van klimaatsverandering in die ontwikkelende wêreld. Nog pollutants in die visse in Valsbaai. Nog tenders vir steenkoolmyne in Queensland. En soos die paniek elke dag op my Facebook en in my hart groei, wonder ek of die mynbestuurder en die rekenmeester ook worry oor waarheen ons op pad is, of ons dalk verdien om uitgewis te word, en hoeveel van ons nageslag oor sal wees om ons kwalik te neem dat ons nie genoeg gedoen het nie.

..........

Lees nog NouNet-menings

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Skuldlas

Hoe skryf ek vir NouNet? Hier is meer inligting:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johann de Lange

    Hierdie dinge hou my ook snags wakker. Pas gelees dat 'n span wetenskaplikes onlangs mikroplastiek gevind het in die yskerne wat geboor is in Antarktika. Hulle noem die ontdekking 'n vuishou in die maag. Ek probeer my koolstofvoetspoor so klein as moontlik hou - vlieg nie, ry min, kook met gas, etc - maar daar is steeds my rekenaar, my ligte, my selfoon chargers en, in die winter die verwarmer. Dié is vir my twee haarlose katte wat elkeen ook sy koolstofvoetspoortjies het. Daar is sóveel waarvoor komende generasies ons sal verwyt. Die kennis, die geld, die oplossings is daar, maar die politieke wil om te verander ontbreek, die verslawing aan tegnologie totáál.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top