Ek besef dit was seker te vroeg. Maar ek het Long Walk to Freedom gelees net voor en na my 12de verjaardag. Dit was die einde van 1995.
Ja, daardie glorieryke jaar van die Wêreldbekerrugby-oorwinning en Nelson Mandela wat in ’n Springbok-rugbytrui op Ellispark sy verskyning gemaak het. Ons as gesin was vir die eerste keer op ’n Kaapse vakansie daardie Desember. Ek was 11.
En waar ons ook al gegaan het, of dit nou die Tygervallei-sentrum, die Waterfront of Stellenbosch was, oral is Long Walk to Freedom geadverteer in al wat winkelvenster was. En toe dit tyd word vir my om ’n Kersgeskenk te kies, was daar geen ander keuse nie: ek wou ’n Long Walk to Freedom hê.
Verlede Dinsdagaand sit ek vroeg in my kar by die Nelson Mandela Foundation in Houghton. Ek is hier om die bekendstelling van Zelda la Grange se nuwe kykNET-reeks, Uitsonderlike Roeping, by te woon. Dit is ses uurlange episodes waarin Zelda terugstap op Madiba se spore om te gaan kyk wat hom gevorm het en om seker so ook te verstaan hoe hy ons gevorm het.
Ek is vroeg, want ’n mens is nie laat vir so iets nie. Dis doodgewone plaasmaniere. Ek sien hoe stop Carien Loubser, vervaardiger van die reeks, ook vroeg. Karen Zoid, verantwoordelik vir die musiek, stap saam in.
Die sekuriteitswagte en personeel van die NMF slaan kykNET-baniere op. Houghton, hier waar Madiba sy laaste asem uitgeblaas het, is stil en boomryk te midde van die stad se gewoel hierdie tyd van die middag en vir ’n wyle wonder ek oor sy laaste maande, af in die pad van die stigting se kantore.
My eerste Madiba-herinnering is sy vrylating. Voor dit was sy naam aan my bekend. Dit was die laat 80’s, begin 90’s. Die winde van verandering het begin waai. En selfs ek, toe net ses, het gesit en kyk hoe hy aan die hand van sy destydse vrou, Winnie Madikazela-Mandela, by die Victor Verster-gevangenis uitstap. Vuis in die lug, glimlag op die gesig.
Long Walk to Freedom is ’n dik boek en is in klein letters gedruk. Dis was ek nou onthou. Ek het ’n jaar aan die boek gelees. Die meeste Xhosa-name kon ek nie uitspreek nie. Baie historiese verwysings het oor my kop gevlieg. Vele belangrike insigte kon ek sekerlik nie ten volle begryp op die ouderdom van 12 nie. En baie van wat in die boek staan, is vandag vir my vergete.
Maar ek het die boek gelees en besef: hier is ’n merkwaardige man, ek lewe in merkwaardige tye.
Die gastelys vir die bekendstelling het my laat wonder hoekom ek daar is. Geharde nuusmanne Tim du Plessis en Pieter du Toit staan en gesels oor die Stellenbosch mafia. Piet Croucamp staan nader en gesels saam. Anele Mdoda waai in, gevolg deur DJ Fresh en Gareth Cliff. Gesoute joernaliste Marianne Thamm en Diane de Beer groet terwyl ek en Kabous Meiring met Zelda ’n vinnige geselsie maak. Later gesels Rozanne Mckenzie en Bouwer Bosch saam.
Die enigste gemene deler is Madiba en Zelda.
My ma vertel dat ek so ’n paar weke na Mandela se vrylating, terwyl ons in die middestad gery het, opgemerk het: daar stap Nelson Mandela. Sy het in haar spieëltjie gekyk. Dit was hoogs onwaarskynlik, byna onmoontlik. Dit was ’n ander swart man, met dieselfde postuur en gelaatstrekke, in ’n blou oorpak.
Nou, terugskouend, lag ek daaroor: almal wou op daardie tydstip sy aandag hê – ’n stappie deur die middestad sou nie moontlik wees nie. Maar Madiba het geweet van aanpas en of dit nou in ’n netjiese grys pak, ’n rugbytrui of ’n Madiba-hemp was, hy het seker gemaak dat mense by hom aanklank vind. Dan is ’n blou oorpak in 1990 in die strate van Pretoria ook nie seker heeltemal so onwaarskynlik nie.
Mandla Mandela, vandag hoof van die Madiba-clan, kleinseun asook lid van die parlement, deel sy indrukke van die reeks met ons. Hy vertel van sy oupa wat hom in Afrikaans aangespreek het terwyl hy die oggendkoerante lees; blykbaar het hy die Engelses vinnig deurgeblaai, maar Beeld en Rapport tydsaam bestudeer. Hy het geglo die Afrikaanse koerante vertel die storie die beste.
Ek sien baie van Madiba in sy kleinseun: sy gemoedelikheid, sy sin vir humor, sy fisiese teenwoordigheid. Asook al sy kompleksiteite.
............
“Vir baie van ons se morele kompas was Madiba die ware noord. Dalk, net dalk, moet ons saam op hierdie reis terug gaan. Om weer ons kompasse te kan instel vir die reis, die lang reis, vorentoe.”
............
In my matriekjaar, 2002, het ek my enigste vlugtige Madiba-oomblik beleef. ’n Danie Theron-beeld is by die Voortrekkermonument ingewy. Ek was daardie jaar junior burgemeester van Pretoria en was daar saam met ’n verteenwoordiger van my skool. Nelson Mandela het by die geleentheid gepraat.
Vele regse groepe het hul ontevredenheid hieroor uitgespreek. Ons het reggestaan vir Madiba se aankoms. Ek onthou dit was laatsomer, Maartmaand, dink ek, en Pretoria was op sy mooiste. Van die monument af kon jy die hele stad sien. Maar ons oë was op die kar wat stop, Madiba wat uitklim, naderstap, glimlag, mense groet en praat. Almal daar, ongeag ouderdom of politieke oriëntasie, was klei in sy hande. Daardie gevoel, om in die teenwoordigheid van iemand merkwaardigs te wees, is moeilik om vas te pen. Madiba-magic sal moet deug.
Voor Mandla het Karen Meiring en Zelda en Sello Hatang van die NMF gepraat. Anele was die seremoniemeester. Skuins voor my het Derek Hanekom gesit. Direk voor my Kurt Darren. Agter my Hannon Bothma. Osbraai op Kromdraai, het ek gedink. Ons kon die eerste episode kyk wat Sondagaand agtuur op kykNET gewys het. Die afwagting, en verwagting, was groot.
Met die aanhoor van sy stem het ek ’n knop in my keel gekry. Bono praat oor hom, Morgan Freeman praat oor hom, oudkollegas praat oor hom. Graca Machel, sy weduwee, praat oor hom.
Maar dis stem wat ek nodig gehad het om te hoor. Zelda wys ons waar hy gebore is. Waar hy grootgeword het. Waar sy aftreehuis gestaan het. Dis haar eerste besoek terug aan Qunu in die vyf jaar sedert sy dood. Sy onthou hulle eerste ontmoeting, die kontras en die emosie. Die musiek vertel soms die storie. Die wye skote gee jou die gevoel van hoekom sy grootwordjare hom help vorm het: dis waar hy dalk die enigste keer in sy lewe werklik vry was. As student, as prokureur, as gevange en as president – nooit weer sou hy weer so vry wees nie. Vir die res van sy lewe was die land se stryd en sy stryd onlosmaaklik deel van mekaar.
Ek besef ons kort weer ’n inspuiting van moed en moontlikheid en menslikheid. Ons is deur die meule in hierdie land. Om die verandering rondom 1994 te kon beleef, was ongelooflik; ’n nuwe generasie smag na daardie verandering.
Waar ons hoog was op euforie, is hulle nou hoog op woede, probeer Kabous daarvan sin maak. Madiba se nalatenis is onder die vergrootglas, niks is meer onseker as die verlede nie.
Vir baie van ons se morele kompas was Madiba die ware noord. Dalk, net dalk, moet ons saam op hierdie reis terug gaan. Om weer ons kompasse te kan instel vir die reis, die lang reis, vorentoe.
............
Lees nog NouNet-menings:
NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis
Kommentaar
Nog 'n hagiografie vir Nelson Mandela. Naas die "outobiografie" van Mandela, wat deur die Amerikaanse joernalis Richard Stengel geskryf en gesatineer is, behoort ook ander bronne gelees te word, bv David James Smith se Young Mandela (London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, 340p).
Ai tog, gaaaap ...