NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

  • 0

 

Vir ’n lang tyd is Suid-Afrika beskou as ’n aanloklike bestemming vir baie immigrante om ’n nuwe, meer suksesvolle lewe te begin. Daar is menige faktore wat in Suid-Afrika se guns tel op die kontinent.

Suid-Afrika het een van die grootste ekonomieë en dis net Nigerië en Egipte wat kompetisie is vir ons land.

Verder is dit welbekend dat Suid-Afrika die mees geïndustrialiseerde land is.

Ons bevolking vir 2019 word op net onder 60 miljoen geskat – een van Afrika se top vyf bevolkingsyfers (dis baie potensiële kliënte en verbruikers vir iemand met ’n klein besigheid).

Ons is in die top tien lande op die kontinent in terme van Bruto Binnelandse Produk (BBP) per capita.

Verder is ons ook een van die top tien lande in terme van die Menslike Ontwikkelingsindeks – ’n internasionale instrument om die kwaliteit van lewe te meet.

..........

“Ander Afrikalande, met wie Suid-Afrika gewoonlik ’n goeie verhouding het, het teruggeslaan met geweld teen Suid-Afrikaanse besighede binne hul grense, asook met sanksies.”

..........

Ons dinamiese demokrasie en progressiewe grondwet is nóg ’n rede vir immigrante – veral dié wat onder ’n outoritêre regime moes grootword – om hulle in Suid-Afrika te vestig. 

Maar onlangse gebeure in die land kan veroorsaak dat hierdie trekpleisters nie meer genoeg is vir mense om na Suid-Afrika te verhuis nie. In 2019 word Suid-Afrika weereens geskud met xenofobiese geweld.

Die jongste ontploffings van xenofobiese geweld het in die middestad van Johannesburg en Pretoria plaasgevind en areas is geteiken wat groot bevolkings van mense van Somalië, Nigerië, Pakistan, Bangladesh, Malawi en Zimbabwe bevat.

Meer as 50 winkels en verskeie voertuie is vernietig. Vyf mense is dood en amper 200 mense is gearresteer vir geweld en kwaadwillige skade aan eiendom.

Ander Afrikalande, met wie Suid-Afrika gewoonlik ’n goeie verhouding het, het teruggeslaan met geweld teen Suid-Afrikaanse besighede binne hul grense, asook met sanksies.

’n Paar takke van Shoprite en MTN in Nigerië is geteiken met geweld. Pick n Pay-winkels in Zambië is ook geplunder. Suid-Afrikaanse ambassades in Abuja en Lagos moes sluit nadat hulle dreigemente ontvang het.

Die Sokkervereniging van Zambië het ’n vriendelike spel met Suid-Afrika gekanselleer.

..........

“Migrante verskaf werksgeleenthede nie net vir hulself en mense van hulle land nie, maar ook vir mense in Suid-Afrika.”

..........

Daar word ook beweer dat brandende bande en versperrings geplaas is by grensoorgange tussen Mosambiek en Suid-Afrika wat dit moeilik gemaak het vir Suid-Afrikaners om tussen die twee lande te reis.

Die vernietiging gaan verder ’n negatiewe beeld van Suid-Afrika skep, veral vir beleggers. Beleggers sal oortuig moet word dat dit steeds die moeite werd is om te belê in die Johannesburgse stadskern wat deel vorm van Burgemeester Herman Mashaba se plan om die area ’n ekonomiese hupstoot te gee.

Maar daar is ook ’n paar ander maniere hoe hierdie xenofobiese aanvalle Suid-Afrika se ekonomie en stabiliteit negatief gaan geaffekteer. Veral Suid-Afrikaners sal die impak voel.

Eerstens, immigrante dra by tot werkskepping vir Suid-Afrikaners. Die SA Migrasieprogram het ’n paar jaar terug navorsing gedoen oor immigrante in Suid-Afrika. Die SA Migrasieprogram het met 1 136 migrante wat besighede in Johannesburg en Kaapstad besit, onderhoude gevoer.

Hulle het vasgestel dat dié besighede elk ’n gemiddeld van drie werksgeleenthede skep. ’n Derde van die werknemers was Suid-Afrikaanse burgers. Met ander woorde, migrante verskaf werksgeleenthede nie net vir hulself en mense van hulle land nie, maar ook vir mense in Suid-Afrika.

Tweedens, dis effens goedkoper vir Suid-Afrikaners om produkte te koop by besighede wat besit word deur migrante.

’n Verslag deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings het die prys van produkte by hierdie besighede vergelyk met die prys van produkte by ’n supermark in Johannesburg se middelklas-woonbuurte. Dit het bevind dat ’n blik KOO gebakte bone R1 goedkoper is by ’n Somaliese winkel in Soweto as in Checkers in die stad se meer welvarende areas.

Verder kos ’n pak Parmalat langlewe-melk R73 by van die migrantewinkels in Soweto in vergelyking met R80 in ryker woonbuurte. Dus, as migrante gedwing word om hulle winkels te sluit, gaan Suid-Afrikaners dieper in hulle sakke moet grawe om basiese produkte te koop.

Die land gaan deur ’n taai ekonomiese tyd en die lewenskoste is besig om te styg. Produkte wat verkoop word by die migrantebesighede bied effense verligting aan verbruikers.

Derdens, baie Suid-Afrikaners verdien ’n inkomste deur die verhuur van hul eiendomme aan immigrante, van wie baie nie toegang tot ’n bankrekening het nie.

Dit lei weer tot die dilemma waar hulle nie toegang het tot ’n huislening nie. Boonop kwalifiseer immigrante nie vir gesubsidieerde behuising van die staat nie. Maar immigrante moet tog iewers bly en hulle het persele nodig om hul winkel of besigheid te kan bedryf.

Die antwoord is dus om ’n plek of kamer te huur by ’n Suid-Afrikaanse burger. Dus is baie Suid-Afrikaners verseker van ’n maandelikse inkomste wat tussen R1 000 en R4 000 kan wees.

Laastens, daar word verkeerdelik gedink dat immigrante nie belasting betaal nie. Tog kan niemand binne Suid-Afrikaanse grense BTW (Belasting op Toegevoegde Waarde) vryspring nie. Migrante koop gereeld produkte by groothandelaars. Daarom dra immigrante deur BTW by tot die staat se inkomste.

Wanneer ’n mens hierdie bogenoemde punte in ag neem, is dit duidelik dat immigrante op verskeie maniere positief bydra tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing.

As hierdie punte net beklemtoon kan word en wyd versprei word deur die land, kan dit tot ’n mate die vyandigheid jeens migrante blus.

Dit moet ook beklemtoon word dat baie van Suid-Afrika se probleme nie deur immigrante veroorsaak word nie, maar deur die Suid-Afrikaanse regering self.

Byvoorbeeld die feit dat Suid-Afrika ’n baie hoë werkloosheidkoers het, is nie omdat immigrante “werk steel” nie, maar omdat die regering se beleide (streng regulasies en hoë lone) dit onbekostigbaar maak vir klein Suid-Afrikaanse besighede om te oorleef.

Suid-Afrikaners moet dus eerder hul frustrasies op die regering uithaal deur deel te neem in verkiesings en druk op ons leiers te plaas om broodnodige ekonomiese hervormings te implementeer.     

Lees nog NouNet-menings:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Skuldlas

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top