NouNet-mening: Genoeg is genoeg

  • 0

Ons is gelaaide vrouens, vrouens gelaai
Woede, ’n enkele koeël in ons binnekamers.
Keel, koelrond, kop reggeruk
Trek uit, verklee, kaal, ek herhaal kaal en leeg.
’n Leë dop van ’n koeël wat in enige oomblik kan verskiet
En ons skiet totdat daar niks meer oor is nie. 

Ons is gelaaide vrouens, vrouens gelaai
Ons is gewere wat in ’n skare brand
Skandalig soos misdade,
Onheilig soos geregtigheid. 

Ons is gelaaide vrouens, vrouens gelaai
En ons verleen onsself as skild, as spies,
as sirenes en sieners en soms as, soms, as, soms as as.
Skreeuend om die waansin stop te sit.
Monde wat verskuim en verskuif en verwyt.
Monde van voorstaan en vloek
Met ’n woede so wild dat die woorde
Uit vrees uit hardloop.*

Meer as ’n maand gelede het optogte dwarsdeur die land uitgebreek nadat ’n Universiteit van Kaapstad student, Uyinene Mrwetyana, verkrag en vermoor is in Claremont se poskantoor. Die kwessie van geslagsgeweld teen vroue en kinders is landswyd debatteer, bespreek en bespiegel. Soveel so dat  Pres. Cyril Ramaphosa op Donderdag 5 September 2019 skare buite die parlement in Kaapstad aangespreek het. ’n Gesprek het plaasgevind, beloftes is gemaak, en toe het die land weer stil geword, voortgegaan asof die probleem opgelos is.

Plakkate van die #AmINext-optog in Kaapstad, 5 September 2019

Tog, bly díé realiteit aan ons deure klop in verskillende ander voorvalle. Vandeesweek is Nicholas Ninow, of te wel die "Dros-Verkragter", lewenslange-tronkstraf toegedien nadat hy in September 2018 ’n 7-jarige meisie in die badkamer van ’n Dros restaurant verkrag het. Nog ’n geval van ’n 6-jarige meisie van Limpopo is aangemeld wat gesterf het nadat sy deur ’n groep mans verkrag is. ’n Ander man, Radius Masukume, het ’n vrou in Table View gehelp nadat twee mans haar besig was om te verkrag, maar is as gevolg vier keer in die gesig en kop gesteek.

Elke dag verskyn daar ’n nuwe gesig van ’n vrou of kind op ons sosiale media wat smeek om gedeel te word want dalk het iemand iets, enige iets, gesien. Elke dag stap ons nog ’n bietjie vinniger by ’n straat af, strategies met sleutels wat deur ons vuiste steek, want ons weet nie wie om ’n hoek, of in ’n poskantoor, of in ’n restaurant wag nie. Elke dag bly die knop in my keel vorm, want wat moet ek nou eintlik sê? Wat moet enige iemand sê? Die onderwerp is al so deel van ons alledaagse bestaan, dat daar nie veel nuut daaroor te sê is nie. Elke aand wil ek uit die diepste dele van my binneste daaroor skree en protesteer, vuur stook en die land tot stilstand bring, want hoeveel vrouens, kinders en LGBTQIA+ persone se liggame het ons nie al afgewas en neergelê nie? Hoeveel keer het die wind oor ’n vlak graf gewaai om liggaam oop te vlek? Hoeveel publieke badkamers in restaurante bly bloed by die toilet afspoel? Hoeveel keer gaan ons kreuende stemme op dowe ore val? 

Die hartseer realiteit is dat die kwessies rondom geslagsgeweld teen vrouens en kinders nie eenvoudig opgelos of beantwoord kan word nie. Die doodstraf, langer tronkstraf en kastrasie is maar net van die idees wat deur Suid-Afrikaners rondgegooi is. Pres. Ramaphosa het self voorstelle gelewer, insluitende die opdatering van die Nasionale Registrasie van Oortreders, strenger tronkstraf vir mans wat gewelddadig teenoor vrouens en kinders optree, die teenstaan van borgtog en parool vir dié wat vrouens en kinders verkrag en vermoor. “A life sentence must mean a man who perpetrates rape and murder is in prison for life.”, het hy verklaar. Tog, kan ek nie help om te wonder waar die geld en finansiële ondersteuning vir die sogenaamde oplossings vandaan gaan kom? Of gaan dit daar wees en dan ongesiens weer verdwyn? Is tronkstraf werklik die oplossing? Om iemand wat gewelddadig optree in ’n sisteem en ruimte te sit waar verdere geweld teenoor die persoon uitgeoefen gaan word? Verdere isolasie? Verdere misbruik en ontsê van menswees? Ek weet nie. Ek weet nie wat die antwoorde is nie. Al wat ek weet is dat dit iets is waarvoor elke Suid-Afrikaner verantwoordelikheid moet dra.

Met dit bedoel ek dat ieder elk van ons in ons verskillende gemeenskappe optree, hetsy dit skole, kerke, werksomgewings of sosiale sirkels is. En dat ons binne daardie gemeenskappe gesprekke moet voer en met mekaar omgang en dat die klein, alledaagse interaksies saak maak, iets beteken. Een van die eerste woorde wat Pres. Ramaphosa aan die skare buite parlement gelewer het, was dat hy “weet waardeur almal gaan”, en dat hy “weet hoe ons almal voel”. Ek het self in die skare van duisende vrouens gestaan en met diep woede geskree: “Nee”. Dit is juis woorde soos “ek weet waardeer jy gaan”, wat deel van die probleem is. Nee, Meneer die President, jy  weet nie! As ’n manlike liggaam in die land, weet jy nie hoe dit voel om konstant in vrees te lewe nie. Nes ek nie weet  hoe dit voel om ’n liggaam van kleur in hierdie land te wees nie. Jou stelling, “ek weet...”, is deel van ’n groter arrogansie rondom die kwessies van seksisme, Rape Culture en toksiese maskuliniteit.

Geslagsgeweld is nie iets wat in isolasie gebeur nie. Dit is nie net in oomblikke van woede  nie, maar lê in (verkragting) grappies, oomblikke waar ’n man ’n vrou aanraak ongeag hoe ongemaklik sy voel, catcalling, ongevraagde naakte-foto’s of seksuele kommentaar, die idee dat ’n vrou se “nee” as ’n uitdaging tot oorreding aanskou moet word, of dat “seuns maar net seuns is”. Dit is juis in daardie oomblikke waar die verantwoordelikheid op ons almal val. As ’n seksistiese grappie gemaak word, stop die gesprek en vra dat dit nie weer gemaak word nie. Hou die mense om jou aanspreeklik in die maniere hoe hulle met ander omgaan en respekteer; word betrokke as jy iemand sien wat ongemaklik is of as ’n magsposisie uitgebuit word. Dit mag dalk nie soos baie voel nie, maar ek dink  die impak van iets uitwys en ’n gesprek te voer moet nooit, ja, NOOIT, onderskat en vergeet word nie.

Kom ons almal begin by onsself, by ons eie etenstafels en braaivure, en probeer ’n doelbewuste poging maak om hierdie krisis uit ons land te roei. 

Ons ís gelaaide vrouens, vrouens gelaai
En daar is niks meer oor nie.
Skoot leeg, red een skoot.
Woede ons enigste wapen. 

Ons is gelaaide vrouens, vrouens gelaai
Met vuur as julle verknak.
Brandend om die waansin stop te sit.
Brandend om die waansin stop te sit.*

.............. 

*’n Uittreksel uit Antigone (Not Quite/Quiet) | Baxter-teater, 2019
Vertaal en verwerk deur Kanya Viljoen (
oorspronklike gedig: Mandisa Vundla)

.............. 

Lees ook:

#AmINext-optog: ’n perspektief

Lees nog NouNet-menings:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Skuldlas

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top